Ja, ja, ek verstaan ’n mens is veronderstel om daagliks in jou dagboek te skryf, oor jou daaglikse wel en wee. Dis net, my daaglikse lag en huil word so onderbreek deur eksterne faktore. Ek gaan in die vervolg nie meer verskoning maak vir my afwesigheid nie, want … vat nou die weer as goeie voorbeeld. Die weer is iets waaroor ek op daaglikse basis land en sand aanmekaar gesels. Maar kyk nou mooi:
Donderdag het ek vertel hoe lekker dit by die strand was

en Vrydag het die reën weer losgetrek

Reën is in die somer feitlik ’n daaglikse gebeurtenis by ons, iets wat ek nie graag op hierdie platform oorvertel nie, want een dame het my lelik ingevlieg toe ek geweeklaag het oor die dak wat lek, die nat handdoeke, die TV wat niks opvang nie behalwe sulke veelkleurige blokkiespatrone, die internet wat stop en staart soos ’n ou Ford mouterkar, die septiese tenk wat oorkook, die tuin wat oorstroom en die nuwe plantjies wegvoer, ens., ens.
Wat my onderkry is dat ek altyd simpatiseer met mense in die dele van die land wat ly onder droogte, maar Boetman, as ek my mond oopmaak oor die reën, word my strot uitgeruk. Weet hierdie mense watter skade die water hier veroorsaak – huise wat verkrummel, plakkerskampe wat oorstroom, mense wat meegesleur word in riviere wat afkom, dele van die paaie wat wegspoel, suikerrietlande wat verspoel, waterpompe wat meegesleur of toegespoel word sodat ons almal sonder water sit vir dae lank? En dit gebeur nie net so af en toe soos af blyk uit die beriggewing in die koerante nie. Die media rapporteer net die ergste rampe. Ons leef hiermee saam op daaglikse basis.
Net so tussen hakies, ek het groot geword in Namakwaland waar reën meer kosbaar was as goud. Ek ken van droogte en die swaarkry wat dit meebring. My meegevoel met jou droogte is eg en opreg. So, gaan kerm jy oor jou droogte in jou stofstraat mevrou, en ek sal op ’n duin sit en klaagliedere aanhef oor bogrond wat deur die water in die see in gespoel word. Beide jou droogte en my oorstromings raak albei van ons se sakke – onthou dit.
Noudat ek daardie stukkie gif uit my gestel gekry het, moet ek vertel dat Saterdag ’n heerlike dag by die strand sou gewees het, maar Siya (nie die rugbyspeler nie) het kom uithelp in die tuin en ons het almal hard gewerk. Ons werk tans daagliks in die tuine van beide die eenheid waar ons tans woon en die een waarheen ons binnekort trek. Die een moet netjies agtergelaat word en ander een moet ’n bietjie reggeruk word.
My kruietuin moet verskuif na die nuwe blyplek toe en die potplante daar word almal uitgehaal om nuwe grond te kry en oorgeplant te word. Hulle staan al drie jaar in dieselfde potte en oorleef op genade. In Saterdag se onverwagte hitte was dit nogal harde werk, maar ook welkome afleiding van die beurtkrag waarmee ons daagliks getref word. Hier gedy die mos en bossies op die plaveisel as gevolg van die baie reën en ons moet elke nou en dan gif spuit, en dan die hoëdruk waterspuit uitruk om die plaveisel skoon te spuit. Dis nou wanneer ons water in die krane het.
Vanoggend reën dit steeds, en ek en Karen het besluit dis die ideale geleentheid om die linnekas uit te pak. Dis ’n taak wat ons al lank uitstel en daar is duvets, duvet-oortreksels, tafeldoeke en lakens wat ons reeds jare lank nie meer gebruik nie. Ons het uitgepak en sewe swart sakke volgestop. Die dame van die hospice se liefdadigheidswinkel sal dit in die week kom oplaai. Toe het ons sommer die linnekas weggegee. Dis eintlik ’n linneboks wat dubbele diens doen as ’n bed en wat ons nou nie meer wil saamsleep nie. Ons het ’n ander buurman wat dit kan omskep in ’n bruikbare kas vir sy vrou.
Ek het nou onlangs geskryf oor die dinge wat ons gee en ontvang in hierdie klein gemeenskap. Ons het so pas ’n ongebruikte TV persent gekry van ons ander bure af. Hulle gebruik dit nie meer nie en hulle weet ons is van plan om een te koop vir die Brombeer se nuwe slaapkamer. Die lewe lewer daagliks sy eie verrassings op.
Toe is ons na die ander eenheid se motorhuis toe. Ons help die vorige eienaar wat baie van die werk reeds self gedoen het, met die laaste goed wat weggepak en weggery moet word sodat daar spasie is vir ons eie besittings. Dis harde werk, want hulle het jare lank daar gewoon en dinge het die manier om aan te teel. Ons loer nou daagliks in om gordyne te was, skoon te maak en weg te pak. Ek moet sê dis ’n bevrydende gevoel om die rakke so skoon en netjies te sien, en te weet dat jy ontslae geraak het van ’n hele klomp onnodige bagasie wat jare lank saamgedra is.
Intussen is Kersfees op hande en Karen is steeds besig om nog liggies op te sit. Sommige van verlede jaar se liggies het afgesterf, nuwes het bygekom (dinge het die manier om aan te teel!) en ek noem liewer nie die feit dat al hierdie liggies voor die einde van die maand weer afgehaal moet word nie 😏 Dit lyk al mooi en die bure laer af in die straat het ook nou gees gevang – ek het geweet dit gaan weer ontaard in ’n kompetisie.
Ek is ook ingelig dat ons geskenkies moet gaan koop (iets wat ons jare lank al nie meer doen nie), want die Beurtkat het hierdie jaar sy eie krismissokkie wat gevul moet word (foto heel bo).
Anne
Ek verstaan hoe jy oor te veel reën voel, maar vandag het ons 17mm reën gekry wat my so lekker laat voel: die lug is vars en skoon en – meskien – sal ons een van die dae weer ‘n grasperk sien 🙂
HesterLeyNel
Jy weet ek hou altyd duim vas vir reën in droë streke 💞
daisyopdiestoep
Ja, ek kan my verstom aan ons weer. Ek kan nie glo sommige dele is droog soos woestyne en ander nat soos tropiese reënwoude nie. Wat ook al, ek is altyd bly oor reën en gee nie om wie my stenig of nie stenig nie. Jou strandfoto lyk te aanloklik. Sterkte met al die oppak, inpak, uitpak, uitsorteer en skoonmaak.
HesterLeyNel
Dankie Daisy 🤗
Bondelsgedagtes
Sterkte met Al die uitdagings en reen en komplikasies Hester. Steur jou glad Nie aan ander Se klaagliedere nie, almal dink mos dit gaan erger by hulle as ander..
HesterLeyNel
True
Aletta - nowathome
So ‘n trekkery is nie ‘n grap nie! Meng dit met ongure weer, Beurtkrag en ‘n lekkende huis, kan net moeilik wees! Vasbyt dit sal ook verby gaan!
HesterLeyNel
Ja, hierdie trek en hierdie jaar blyk raak nou te lank uitgerek.