My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Die Brombeer is dood. As ons aanhou om dit te sê … 1️⃣4️⃣

… gaan die waarheid insink: die Brombeer is regtig dood. ’n Onnodige, voortydige en voorkombare dood wat ons absoluut verslae gelaat het.

Hy het Maandagoggend vroeg opgestaan, nie opgelet dat daar water op die vloer was nie, gegly, geval en sy heup gebreek, wat later gelei het tot sy dood. Water op die vloer as gevolg van die onophoudelike, gietende reën wat ’n lekplek in die dak veroorsaak het. Ons het die lekplek telkemale gerapporteer, altyd opgestaan en die vloer drooggemaak wanneer dit begin reën het, handdoeke en matte oopgesprei om juis hierdie soort teëspoed te voorkom. Die dak is voorheen “reggemaak“, maar swak vakmanskap het veroorsaak dat die lekplek weer oopgemaak het. Die eienaar van die eenheid wat ons gehuur het, het belowe dat die dakgras weer vervang sou word in Mei / Junie van hierdie jaar, maar van hierdie belofte het dadels gekom en ons het besluit om te trek. Ons nuwe eenheid was beskikbaar vir die einde van hierdie maand en ons sou almal oor twee weke ingetrek het. Maar die dood het ons voorgespring. Nou gaan daar net twee van ons trek.

Ons het gehoop dat die somerreëns, wat onvoorspelbaar is en nooit op dieselfde tyd opdaag nie, ons die kans sou gee om uit te trek voordat die “nat-handdoek-dril” ’n aanvang sou neem. Die reëns was egter vroeg. Ek en Karen het die gewone beveiliging met handdoeke en plastieksakke toegepas, die hele naweek, maar daardie één nat kol het nie een van ons raakgesien of juis net daar verwag nie.

Die Brombeer was my voormalige eggenoot, die pa van al drie my kinders, wat saam met my en sy enigste dogter ’n huis gedeel het. In ons gemeenskap was hy bekend as Karen se pa en Hester se man, hoewel almal bewus was daarvan dat die regte betiteling eintlik eks-man moes wees. In ons huis het ons geleef soos ’n gesin wat vir mekaar sorg, maar ons het ook elkeen ’n eie, private leef-area en leefstyl gehad – die uitvloeisel van ’n ooreenkoms wat as tydelike maatreël ingestel is, en wat ons noodsaaklikerwys moes volhou vir die volgende twee dekades. Tot die dood ons permanent geskei en die ooreenkoms finaal beëindig het.

Maandagoggend vroeg het hy geroep en Karen het wakker geword, gaan kyk wat aangaan. Ek het gehardloop om die buurman wat kennis van eerstehulp het te gaan roep en ’n halfuur later is hy en Karen in die ambulans weg hospitaal toe, waar hulle onmiddellik x-strale geneem en bevestig het dat sy heup wel gebreek was. Hy het feitlik die res van die dag in die hoësorg-eenheid in die trauma-afdeling deurgebring. Ek het vir Karen huis toe gebring en ons het sy tassie gereed gekry om later by hom af te lewer. In die trauma-afdeling is daar nie besoekure nie, maar ons is net ná eenuur weer ’n paar minute by hom toegelaat waar hy in ’n waas van pynmedikasie oudergewoonte gek geskeer en met die verpleegsters flankeer het, baie vrolik en opgewek. Hy het die hospitaalpersoneel en-prosedures baie goed geken – hy is al telkemale daar opgeneem. Ons is met geruste gemoed daar weg en het vriende en familie in kennis gestel dat dit goed gaan met hom, dat ons wag op die datum waarop hy geskeduleer is vir sy operasie.

Ek kon nie sy selfoon by hom los nie, want dit word nie toegelaat wanneer pasiënte onder pynmedikasie is nie. Ons het gaan slaap sonder om weer met hom te praat Ooit weer. Net ná vieruur die volgende oggend het Karen my wakker geskud. “Ma, die hospitaal het gebel om te sê pa is dood. Hoe kan my pa dood wees? Bel die hospitaal en sê vir hulle hulle maak ’n fout.”

Ek het gebel, gevra dat hulle moet seker maak dat hulle die regte pasiënt se doodstyding oorgedra het, aangedring op ’n verduideliking, gevra wat ek veronderstel om my kinders te vertel? Hulle het bevestig dis hy, versoek dat ons om agtuur by die lykshuis moet wees om met die dokters te praat. Ons was voor agtuur daar en het ’n verduideliking gekry, van sy hart wat te swak was om die las te dra, van die bloedklont wat ontwikkel het, van die gevaar dat hy in elk geval nie die operasie sou oorleef het nie omdat hy oor die jare ‘n intoleransie opgebou het teen die narkose-middels, van die lang pad na moontlike (gedeeltelike) herstel en die pyn wat hy sou verduur het gedurende die komende jare en maande, die moontlikheid dat hy nooit weer sou kon loop nie … Ons was te verslae om alles behoorlik in te neem.

Ons moes wag vir die begrafnisondernemer om op te daag sodat ons sy lyk kon gaan uitken. Ek was bereid om dit te alleen doen, maar Karen is as naaste bloedverwant aangeteken op sy lêer by die hospitaal en sy moes saamkom. Ons het hom onmiddellik herken. Ek het my hand op sy wang gesit en sy wenkbroue platgesgestryk, vir Karen geknik. Hy is dood, my kind. Jou pa is dood. Alle hoop dat daar ’n administratiewe fout was, is uitgestryk. Ons het net stil omgedraai en weggedraai om die reëlings vir sy verassing te gaan tref.

Die gedagtes wat agterna deur jou kop vloei: ongedane sake, woorde wat nie gesê is nie, gedagtes wat nie verwissel is nie, sorgsaamheid wat dalk tekort geskiet het, selfverwyt, woede oor die noodlot, die pyn oor my kinders wat seer het, wat voorheen al seergekry het en waaraan ons almal deur die jare gewerk het met net een doel voor oë – dat hulle moes weet hulle ma en pa was lief vir hulle, alles sou doen om hulle te beskerm en te ondersteun.

Sy dood was so onnodig. As ons tog net seker gemaak het die hele vloer as droog, as ons net twee weke vroeër getrek het, as die dak betyds reggemaak is, as … as …

Hoekom ons in die eerste plek geskei is? Dis nie ter sake nie en niemand anders se besigheid nie.

Hoekom ons weer as gesin saam was? Daar was verskeie redes: ek het kort tevore twee keer hard kennis gemaak met kanker, hy het sy werk verloor as gevolg van personeelbesnoeiing in die staatsdiens, het velkanker opgedoen en ‘n ou rugbesering het weer kop uitgesteek. Die kinders was jonk, het reeds gesteier onder al hierdie aanslae, Karen het skaars haar pa geken (sy het by my groot geword gedurende die jare waarin ons apart gewoon het en die boeties het die laaste paar jaar by hulle pa gewoon) en nou het hulle besef dat daar die moontlikheid was dat hulle een of albei ouers kon verloor as gevolg van siekte. Daar was net een uitweg – ons moes hulle in gesinsverband saamsnoei om ons kinders weer te leer ken, om hulle lewens heel te maak en die drie sibbe weer saam te snoer. Ek kon voortgaan met my heeltydse werk, omdat hy by die huis was om toe te sien dat alles daar reg verloop.

Was alles maanskyn en rose? Ver daarvandaan, want beide van ons het geweet dat ons nooit weer die verhouding tussen ons sou kon herstel nie. Te veel water het in die see gerol en ons het mekaar ontgroei. Die kinders was wantrouig teenoor die ouers se samesyn op hierdie voorwaardes en het tussen mekaar geen gemeenskaplike gronde gevind nie. Ons het soms deur diep waters gegaan, maar ons het uitgehou, volgehou, mekaar nie vermoor nie (ten spyte van die feit dat ma, pa, drie kinders en ‘n baie moeilike ouma op een stadium saam in een huis gewoon het). Fun and games was ‘n satire wat ons met smaak aangehang het.

En stadigaan het die gety verander. Snaaks genoeg het dit begin met ’n vakansie by die see. Die see heel baie wonde. Daaropvolgende vakansies wat die kinders saam by ma en pa kom kuier het, en een ’n lank begeerde kleinkind saamgebring het. Die kinders wat histeries gelag het omdat ma en pa nog steeds haaks was, maar nog steeds in dieselfde huis gewoon het. Karen wat soms haar begeerte uitgespreek het om weg te loop en op haar eie eiland te gaan woon. Daaroor het ek gelag, want van een ding is ek vandag seker – my kinders sal nie wegloop nie. Hulle het grootmense geword waarop ons kon staatmaak. Die sibbe het mekaar gevind. En vir mekaar kwaad geword. En weer goed geword. En weer kwaad geword … 🙄

Nou is hy dood. Sommer net so.

Hoe finaal is die dood? vra ons vir mekaar terwyl ons sy besittings uitsorteer en lag oor sy gewoontes om alles op te gaar. Weet hy dat ons in sy kaste rondkrap en gaan hy vies wees omdat ons sy goed rondskuif, want “’n ding het ’n plek, jy weet?!” Het julle al daaraan gedink dat ons nou ’n hele fliek kan kyk sonder dat iemand tussenin praat? As daar ’n hemel is, wat sou hy nou besig wees om te doen? “Hy speel bingo op sy laptop” antwoord Karen, want sy rekenaar het onverklaarbaar ophou met werk – sy kon dit nog nooit weer aan die gang kry na sy doodstyding nie.

Totsiens Jac Nel. Die lewe gaan voort aan hierdie kant. Doen jy nou maar jou eie ding daar aan die anderkant. Ons weet jy is sonder pyn vir die eerste keer in baie jare, dat die lewe soms ondraaglik seer was vir jou, veral vroeg in die oggend, dat jou ongeduld grootliks gespruit het uit die feit dat jy nie meer behoorlik kon loop nie, nie kon vis vang en swem nie, dat die lewe wat jy voorheen so geniet net nie meer vir jou beskore was nie. Ons weet jy is op ’n beter plek. En ons is dankbaar dat ons soveel meer jare gekry as waarvoor ons gehoop het om ons gesin heel te maak. “This very disfunctional family which functions quite well” sê ons oudste seun.

Maar die huis is stil. En ons klein gemeenskappie hier in die kompleks huil oor ’n vriend wat hulle verloor het. Die huis is stil. En die Beurtkat soek na jou – elke dag.

Follow Dis Ekke

35 Comments

  1. My vriendin daar by die see. Ek salueer jou en Jac se besluite die gesin ter wille. Ek salueer jou wat ‘n beermamma was om Brombeer te akkommodeer vir die baba bere. Baie liefde en bravo, bravo vir ‘n eerlike groet en huldiging. Lief vir jou. Drukke vir jou en al die krose.

  2. Oh Hester – what a shock for you all. My thoughts are with you and your children. Look after yourselves.

  3. Hoe aangrypend verwoord jy die skrynende hartseer… So jammer oor die leemte wat julle nou verduur.

  4. Ek weet nie eintlik wat om te sê nie, dis ‘n storie wat my hart stil laat. Die lewe, die keuses en die gevolge. Ek kan nou na baie jare van skeiding verstaan dat sulke uiteindes somtyds onvermydelik is. Ek is jammer vir julle verlies, die skok en dit wat ongesê gebly het. Mag hy nou rus vind in ‘n pynlose ewigheid waar julle weer herenig sal word. Ek stuur liefde.

  5. Ai Hester! So skielik! Sterkte!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Seegogga. Ja, skielik word al die clichés soos “bring flowers while you can” die naakte waarheid. Mens weet nooit wat om die draai wag nie.

      • Ja, dis erg. Daar is altyd selfverwyt, skuldgevoelens met die afsterwe van iemand naby, selfs al is jy onskuldig en het jou bes gedoen. Dis maar die lewe en hy werk nie altyd soos mens droom nie.

  6. Mijn oprechte deelneming bij het overlijden van je ex-man ‘Brombeer’

  7. Sjoe, Hester dis omtrent ‘n skok vir julle almal. So’ n onverwagse dood is moeilik om te verwerk. Baie sterkte daar vir julle familie.

  8. Sulke tye moet daar nie ‘n LIKE knoppie wees nie. Baie jammer oor julle hartseer.

  9. Hester, nee…. Wat een schok voor jou en Karen en de rest van de familie. Met tranen in de ogen heb ik je verhaal gelezen. Moedige mensen. Ik lees ook veel liefde voor elkaar, ondanks alles. Gecondoleerd met dit onverwachte verlies, heel veel sterkte voor jou en Karen en de andere kinderen, en een stevige knuffel vanuit het hoge noorden. Ik denk aan jullie! ❤️

  10. Liefste Hester, die lewe het met jou net sulke vreemde draaie geloop as met my. Ek onthou ek het lank terug eendag na ‘n stemboodskap van jou geluister en toe ek nou die skrywe lees, was dit of ek jou hoor praat. Ek voel jou verslaentheid maar ook jou opstaan en aangaan “want dit is wat nou moet gebeur.” Dis wie jy is, die een wat opstaan en doen wat nodig is en wat reg is. As jy moet kook, koop jy die regte pot, kry resepte en doen dit baie goed. Jy is amazing en ek eer jou vandag. Julle het ‘n huis gedeel al was julle nie meer “saam” nie. En al was hy nie jou Brombeer nie, gaan jy hom mis. Sterkte met die rou proses – dis ook nodig. Maar ek weet julle sal okay wees, julle weet hoe om saam te staan en heel te word saam. Dink aan jou en stuur vragte liefde en drukke

  11. Dit was nou voorwaar skielik. Ek is so jammer oor julle verlies.

  12. Dit is ‘n dramatiese ontwrigting, so jammer vir julle.

  13. woordnoot

    Sjoe….hierdie is moeilik om te lees. Om te sê ek is jammer klink net so leeg. Maar ek is jammer, dis soos jy sê onnodig en onvoorsien. Ek het soveel respek vir hoe jy jou situasie hanteer het. Mag jy en Karen en die res van die familie vrede ervaar in die tyd wat voorlê. Mag die Brombeer sag rus. En sy familie troos vind.

  14. Ek is regtig jammer oor julle verlies, ek het eerlik nie ander woorde nie. Ek dink aan julle en bid dat troos julle vind🤲

  15. Ai, Hester. Die hartseer én die skrik so saam maak dit nog moeiliker. Baie sterkte.

  16. Hester ek lees nou eers, ek is so so jammer vir julle verlies so skielik