My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Ek skryf hierdie brief aan die Brombeer in jou … 1️⃣5️⃣

Brief aan die Brombeer

Die Brombeer en Genis

… omdat ek nie weet of hy al ’n posbus aan die anderkant gekry het waar die brief afgelewer kan word nie. Miskien kan hy wel nog sy Facebook en WhatsApp boodskappe lees 🤔

Hallo Brombeer, ek stuur gou vir jou ’n laaste brief om te sê dit gaan goed met ons kinders. Hulle is baie hartseer omdat hulle nie behoorlik kon groet nie, maar ek glo jy weet hoeveel hulle jou gaan mis, veral die daaglikse geselsies op WhatsApp en die stout grappies op Facebook. Ek ook, want nou het ek niemand wat al my simpel grappies verstaan en waarmee ek kan baklei nie, en ek moet my eie tee maak in die oggend. Jy is so skielik weg en Karen sê niemand anders in hierdie huis mag doodgaan sonder om vooraf kennis te gee nie. Ek neem aan ek moet nou per geregistreerde brief kennis gee aan jou dogter van my beplande afsterwe 🙄

Die kinders het gister jou as gaan afhaal by AVBOB – ja, jy het mos altyd gespot met Almal Sterf Behalwe Ons Boere, so ons het hulle gekies om die laaste eerbewyse te toon. Hulle het vir ons die titatium-plaatjie gegee wat jy soveel jare in jou rug rondgedra het en ons het dit by jou asse gevoeg in die klein kissie wat hulle vir ons gegee het. Daai kissie is nogal in ’n fênsie groen velvet sakkie gesit en jy het ewe plegstaties jou plek ingeneem in my bedkassie se laai, langs my ma se soortgelyke kissie. Ja, dis nou eintlik hoekom ek hierdie brief skryf om vir jou te beduie dat ek en jy nou weer “roomies” is na soveel jare, (en jou skoonma reg langs jou vir geselskap). Dis net ’n voorlopige rusplek, want ek en Karen het besluit om die kontrak op te neem vir nog ’n jaar se verblyf hier in Coffin Dodgers Park. Ons trek die 29ste in by die ander eenheid.

Jou kinders wil graag van jou assies gebruik om remembrance pendants of armbande te laat maak sodat hulle ’n stukkie van hulle pa saam met hulle kan dra op hulle lewensreis. Ek het voorgestel dat hulle jou titanium gebruik om die juwele te maak, want blykbaar kan niks daardie metaal vernietig nie 😏 Hulle dink daaroor. Karen sê sy wag nou eers vir my om te dood te gaan sodat sy ’n pendant kan laat maak waar sy al drie van ons se assies in kan sit, joune, myne en jou skoonmoeder s’n, dan kan ons almal saam met haar rondreis. Dit klink alles vir my ’n bietjie “gross”, maar jy het gehelp om jou kinders groot te maak en ek dink daardie soort sentimente kom van jou kant af 🤔

Jou goeie vriendin het ook gevra vir ’n bietjie as om in ’n ring vir haar te sit. Ons het gedink jy sal nie omgee om voort te leef op die vinger van ’n baie aantreklike blondine nie. Daar is so baie mense in ons klein gemeenskappie en ook van heinde en verre uit ander oorde wat versoeke deurgestuur het vir foto’s van jou en hulle het die pragtigste boodskappe gelaat op jou WhatsApp en Facebook. Te veel om in hierdie brief te noem. Jou skielike dood was ’n groot skok vir almal, want ons het gedink jy is indestructible.

Ons het agterna met die dokters gepraat en hulle sê dat dit op die einde ’n bloedklont was wat jou dood veroorsaak het. Hulle het gesê dat hulle bekommerd was oor die operasie, veral omdat jy ’n intoleransie opgebou het teen die narkose. Dit was van die begin af ons grootste vrees ook. Hulle het ook gesê dat hierdie operasie dalk kon veroorsaak dat jy nooit weer normaal sou kon loop nie (normaal in jou geval, wat in elk geval reeds ’n schlepp was met die krukke en die pyn wat jy voortdurend gehad het), die pad na herstel sou moeilik gewees het, met nog meer pyn oor baie maande. Niemand is bly dat jy weg is nie, maar ons dink jy sal die eerste een wees om saam te stem dat daar ’n mate van troos is in die feit dat jy nou geen pyn meer verduur nie.

Nou sit ek natuurlik met die tameletjie van jou boedel. Siende dat hierdie my laaste brief aan jou gaan wees, wil ek jou net vertel dat ’n boedel ’n yslike schlepp is. Ons gaan Januarie ’n prokureur sien wat ons deur die proses gaan help, want ons moet nou eers die besonderhede van jou boedel bymekaar kry voordat die prokureurs wat jou ma se boedel behartig, daai een kan afhandel. O, die pyn wat sekere van haar ander erfgename nou moet verduur … nee, ek gaan niks uitlap in hierdie brief nie, maar jy sal weet waarvan ek praat 😏 Dit verskaf nogal ’n bietjie pret aan hierdie kant.

Nou dan sê ek nou maar koebaai “roomy”, mooi loop en kyk tog asseblief in die vervolg waar jy loop!

PS Jy het altyd gesê jy kan nie wag om te sien wat “agter die blou skerm” aangaan nie. Het jy nou al gearriveer en is jy tevrede? As jy dalk vir Genis daar sien, gee hom ’n drukkie 🤗

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

28 Comments

  1. Hester. ..🤗💐

  2. Mooi geskryf, Hester. Ek dink aan julle.

  3. Mooi afskeidsbrief.

  4. Ai Hester… ‘n mooi afskeidsbrief.

  5. Tipiese hesterleynel geskrif. Met empatie en humor. Ons het meer daarvan, nodig. Dankie!

  6. John den Dopper

    Baie mooi en dat hy rus in vrede !!

  7. Ach Hester… Wat een mooie afscheidsbrief. Baie mooi 💗

  8. Liewe Hester dis hartseer maar tog ook vol emosie van omgee. Ek dink aan jou en wat nog alles verder voorle. Sterkte vir jou en Karen. Stywe druk en baie liefde.

  9. Dink aan julle Hester! <3

  10. Ai, Hester, dis nou ‘n mooi en finale manier om uit jou hart te skryf, vir ‘n finale groet. Daar gaan nog baie verlang en dink wees… maar ek weet dat om te skryf, sy eie genesingskrag het. Sterkte vir jou en die kinders.

  11. Sjo, dis nou mooi en hoe jy dit skryf…. drukkies en sterkte