My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Ek wou graag die dag in die tuin spandeer7️⃣

Vetplante in die tuin. Succulents

Ek wou graag in die tuin gewerk en gordyne gewas het vandag. Natuurlik het die wind, die gebrek aan water en die internet wat teen ’n verstommende spoed gehardloop het vir ’n paar uur, korte mette gemaak van my voornemens. Die Brombeer het dus alleen die tuin aangepak, want:

  • Ek kan nie waag om in die wind te loop met hierdie oor wat steeds meer water in het as ons krane nie.
  • Daar het ’n pyp gebars in die straat en die water wat wel inkom is sjokoladebruin. Ek wil wit kantgordyne was. Go figure.
  • Die internet het skielik besluit om ná twee dae se oorverdowende stilte vir ’n paar uur lank te galop soos ’n resiesperd en ek het noodgedwonge alles opsy geskuif om te werk. Dis maandeinde. Nou het ons weer spoed verloor en kruip teen ’n slakkepas.

Die tuin. Ja, op die oomblik probeer ons twee klein tuine onder beheer bring, die een voor ons huidige eenheid, en ook die een by die eenheid waarheen ons gaan verhuis. Laasgenoemde het baie verwaarloos in die lang maande wat die plek leeg gestaan het. Met al die water, en die reën wat weer voorspel is vir die naweek, gaan albei huise binnekort toegegroei wees. Of geen plante hê nie.

Ek het gister die Brombeer ge-taxi om sakke grond, kompos en beenmeel te gaan koop. Bruin water is nie skadelik vir plante nie. Karen het gehelp om sakke te sleep, blombakke en water aan te dra na sy tuinstoel op die patio toe waar hy sit en werk. Hier is hy besig om steggies van die vetplante in te lê.

Man wat in die tuin werk

Beide tuine bestaan grootliks uit potplante, met hier en daar nog plantjies wat in die grond groei. Die Brombeer is besig om die ander eenheid se oorvol blombakke leeg te maak en die lelies uit te plant. My fokus is op my pragtige vetplante waarvan sommige in die grond geplant is. Ek wil graag steggies inlê om saam te vat. Ek maak dus aanspraak op al die potte wat leeg gemaak word. Op die foto heelbo kan julle ’n paar van die steggies sien wat nou moet wortel skiet. Daar is ook al ’n bak vol spekboomsteggies. Ja, ek het gesê ’n bak vol. Waar plant ’n mens ’n bak vol spekbome in ’n tuin so groot soos ’n posseël? Maar dit help niks jy argumenteer met die Brombeer nie. Hy glo daaraan om báie van alles te plant. Oormaat is die enigste maat wat hy ken. En ek gaan nou bewys lewer hiervan. Kyk maar net na die foto’s van my kombuiskruie wat hy meesal bakke in bakke groei op die patio, omdat dit te wild rank in die tuin.  

Ek hou daarvan om vars kruie in my kos te gebruik, maar soms vanweë weersomstandighede of omdat die tuin ingeneem word deur peste en plae wat beteken dat ons die plante moet spuit, is dit nie altyd moontlik nie. Ek het dus bottels gedroogte kruie en ook pakkies vol kruie wat ons fynkap en vries in die bakkies wat bedoel is vir ysblokkies: soet basil, dhanja (koljander), pietersielie, ens. Ons tap ’n bietjie water saam met die kruie in die bakkies bakkies en wanneer dit hard gevries is, gooi ons handevol blokkies in plastieksakkies in die vrieskas vir gebruik in bredies, sop en pastas.

En daar buite in die bakke in die tuin lyk dit op die oomblik só:

Kyk hoe welig groei hierdie tiemie. Ek gebruik op die meeste een of twee spriete in ’n pot kos. Maar die Brombeer hou nie van klein bakkies in die tuin nie. Dus het ek ’n enorme bak tiemie wat seker sal hou tot in die jaar toet.

Tiemie in die tuin. Thyme.

Hierdie is ’n kerrieboom wat al jare saam met ons rondtrek van tuin tot tuin. Ek hou aan met raas dat die boom kleiner gesnoei moet word, want ek gebruik op die meeste een jong spriet in ’n pot kerrie. Dis al wat nodig is vir die heerlike kerriegeur om deur te slaan en ek verkies die jonger spriete, want die blare kan sommer in die kos gelos word – dis nie nodig om te staan en blare uitvis voordat ons eet nie. Die boom is vanoggend “kort gesnoei” volgens die Brombeer se standaarde.

Kerrieboom in die tuin (curry leaves)

Hierdie knoffel behoort eintlik aan die eenheid waarheen ons nou trek, maar daardie tuintjie is reg langs die patio en ons onderhou dit, want ek gebruik graag beide die blommetjies en die blare in my kos.

Knoffel in die tuin (garlic)

Die pepermentblare is bedoel vir Karen se tee. Dis een geur waarvoor ek geen ooghare het nie. Ek gooi suurlemoen in my tee. Karen onthou selde om van die blare te pluk vir haar tee, maar die plante word sorgvuldig versorg.

Peperment in die tuin. Pepperment.

Hierdie roosmarynstruik is ’n steggie wat die Brombeer so ’n rukkie terug ingelê het. Ons het ook nog ’n ander bos roosmaryn, want ek is mal oor die lieflike geur in my tuin en in my kos, en het selfs ’n gedroogte bos roosmaryn in my kamer. Dit is ook ’n mooi struik waarmee jy ’n modderige kolletjie in die tuin kan bedek. Saam met die nuwe steggie roosmaryn groei die oorblyfsels van die krulblaar- pietersielie. Die Brombeer het ’n grote bak vol van hierdie pietersielie gesaai, maar die meeste daarvan het gevrek – te veel reën gekry.

Pietersielie en roosmaryn in die tuin

Die oreganum het ek oorspronklik in die voortuin geplant waar dit ’n welige grondbedekker was, maar elke hond wat kom kuier, het sy been daar gelig. Ek het ’n paar plantjies gered en in ’n bak gesit op die patio waar hulle beskerm word teen onwelkome plassies. Hierdie kruie gee ’n heerlike reuk aan my vleisdisse en ek deel dit beslis nie met hond se kind nie.

Oreganum in die tin

Die platblaar-pietersielie groei nog welig. Ek het reeds die helfte van die plantjies geoes en die ander uitgedun. Ons sal nogtans moet éét om voor te bly. Het ek al gesê ons is nie die enigste mense wat uit hierdie kruietuin eet nie? Die bure is almal welkom om te deel in die oes. En daar is nog sóveel oor.

Pietersielie in die tuin

Wel, hopelik het ons môre beide internet en water. En son ook, ja. Natuurlik sal daar wind wees 🙄

Follow Dis Ekke

7 Comments

  1. Vars kruie is altyd die beste 🙂

  2. Oe wow dis so mooi gesond, Lus vir die oog en mond. . Ek is mal oor vars kruie. Hoop internet is more reg

  3. ‘n Kerrieboom! Hoekom het niemand hierrond nog ooit daaraan gedink nie?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek woon in die hart van kerrieland en hier koop jy curry leaves by elke winkel. Maar ek weet darem dat die Kapenaars ook kerrie eet – soet kerrie gemaak met droëvrugte soos wat ek my kerrie-afval kook.

  4. Hester, ik kom bij jou wonen! 😍 Ik heb het water in de mond lopen van al die lekkere kruiden. Wat een (letterlijk) heerlijke tuin heb je! En een kerrieboom… ik ben jaloers. Die zal hier wel niet willen groeien, ben ik bang… Maar goed: ik heb verder natuurlijk niet écht reden om jaloers te zijn, want ik ben heel tevreden met mijn eigen kruidentuin. Afgelopen week heb ik nog, voordat het hier ging vriezen, heel veel peterselie geoogst (en boven de kachel gedroogd), en rozemarijn, en oregano, en tijm… en wat ruikt het dan heerlijk in huis!