Ons was vandag by die strand. Jippieee! Vir die eerste keer hierdie seisoen. Vir diegene wat nie weet nie, ek woon ongeveer 1½ kilo’s van een van die Suidkus se Blue Flag strande af. Nou hoekom gaan ek nie meer dikwels strand toe nie? Wel jy weet, die lewe loop soms ander draaie as wat ’n mens beplan, maar die grootste sondebok in hierdie geval is die Weerburo wat aanhou om sulke swak weer te voorspel. Ek is seker dat, sou hulle beter weer voorspel, sou die wind al opgehou het met waai, en die reën sou Kaap toe getrek het, en die temperature sou gestyg het tot bo vriespunt. Onthou, vriespunt, wat my aanbetref, is 20°C. Niks onder dit is aanvaarbaar nie.
Ag en daar was ander probleempies ook, soos die sinus-infeksie wat my agtergelaat het met water in my oor – agter die oordrom – en ’n ONK wat eers net voor Krismis terugkeer van ’n konferensie af. Nou kan ek nie hoor nie, ek kan nie swem nie en ek kan nie in die wind op die strand rondloop nie.
Vanoggend het die weervoorspelling aangedui dat toestande redelik goed is vir ’n kans om strand toe te gaan. Op pad terug van die haarkapper af, het ons op die ingewing van die oomblik besluit om ’n draai te ry by Southportstrand. By die huis is Peskom in elk geval besig om die eerste van twee sessies beurtkrag toe te pas (4½ uur elk) en môre gaan dit weer reën. Oormôre ook, en ’n paar dae daarna tot volgende Dinsdag.
Op pad strand toe het ons gou by die winkel in die dorp aangedoen om iets te soek vir ontbyt en Karen het by die kar aangekom met twee pakkies tjips (vir haar) en ’n gekookte eier (vir my). Jip, ’n gekookte eier😲 Ek het nie gevra nie, net aangeneem die bakkery se krag is ook af. Daar sit ek toe by die strand en eet my brekfis met groot smaak, sonder sout en sonder roosterbrood. Sien hooffoto. Wel, jy kan nie met elke maaltyd ’n gourmet ete verwag nie, veral nie nie wanneer beurtkrag elke nou en dan toe slaan nie. Ons het môre weer twee sessies, maar hopelik sal ons ’n kansie kry om ’n bord boerekos voor te berei.
Ons het al langs die strand af geloop. Laagwater. Die water het baie ver teruggetrek en ons het opgelet dat die strand toegespoel is met ’n breë strook sand. Die gewone skulpies, seekakkies en klippies was merkbaar afwesig. Die rotse wat ons kon sien, is nou ’n hele ent weg van die gewone hoogwatermerk af, heelwat dieper in die see. Ons was ongelukkig nie aangetrek om waterlangs te reis nie, anders sou ons die saak van nader bekyk het. Maak nie saak nie, dit was mooi en die water warm. Kyk net hoe lekker swem die vakansiegangers.


Karen het skulpies gesoek, maar het net ‘n kreefdop in die klein sloepie gekry. Ook maar ’n piepklein krefie wat seker nog aan sy ma gedrink het. Sjym.


Al wat ek vermis het was die geluid van die see. Mens kan nie die seewater hoor klots teen die klippe as jy ’n oordrom vol water saamdra nie. Hierdie saak moet reggestel word, voor Krismis. “All I want for Christmas …”

All I want for Christmas is a grommet in my ear A li’l grommet in my ear Do you hear me Doctor Dear? Gee, if I could only have a grommet in my left ear Then I am sure life would be much easier to bear
Anne
Hester, die weer is so deurmekaar: ek het nog nie in ons swembad geswem nie 🙂
HesterLeyNel
Tog, as ek terugkyk op my facebook posts vir die afgelope agt jaar, lyk ons weer elke Desember so sleg, met elke Kersdag die misrabelste koue en nat weer van die jaar. Ek weet nie hoekom ek my so graag verbeel dat dit hoogsomer moet wees nie.
Bondelsgedagtes
AG hoe lekker. Kon jy darem daardie see reuk ook kry? Mag daai golf in jou oor vinnig breek sodat jy Kan swem en hoor en all….
HesterLeyNel
Dankie! Nee, ons see ruik na niks. Hier is mos nie seebamboes of vis so na aan die strand nie. Dis niks soos die Weskusreuk nie.
Bondelsgedagtes
Waaaaat???? Ek dog die see ruik orals dieselfde. Ek is so lief vir daardie reuk. Vir my is die geluide en reuk van die see deel van sy charm…
HesterLeyNel
Nee dit is nie 😔 Ja, ek verlang altyd terug Weskus toe wanneer ek vis ruik, veral wanneer ons snoek braai (wat ons by Food Lovers Market koop).
ekmyselff
Strand toe, klink goed en lyk goed
HesterLeyNel
Dit was heerlik! Soos ‘n mini-vakansie na ‘n jaar se harde werk.