My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Om in ’n klein gemeenskap te leef … 8️⃣

people doing group hand cheer

Photo by Dio Hasbi Saniskoro on Pexels.com

Om in ’n intieme klein gemeenskap te leef, bring soms uitdagings mee, maar daar is ook baie voordele. Terwyl ek kook (‘n lekker yummy beestertbredie) luister ek hoe kwetter die inwoners soos ‘n klomp voëls rondom my huis. Aan die voorkant is Karen besig om Kersfeesliggies op te sit en agter op die patio wys die Brombeer sy opgedateerde potte vol plante af. Die honde het saamgekom en die Beurtkat begluur die nuwe kat by die huis langsaan. In die voortuin sit ‘n Giant African slak en eet sy stuk appel. Karen is bekommerd dat hy diabetes gaan opdoen van al die vrugte wat hy verorber.

Ek het Karen se groot beker met gegeurde rooibostee (gemmer en sitrus) uit die yskas gehaal en deel glase uit. Die kat-ouers het ryskoekies saamgebring en nog iemand het hawermoutkoekies oorgestuur. Seker omdat hulle hond hier kuier – sonder hulle. Karen het vir haar ‘n stukkie hoendervleis uit die yskas gevoer en haar huis toe gestuur. Dis wat gebeur wanneer jy in so ‘n gemeenskap leef; almal werk en kuier saam en sien om na mekaar se diere.

Ons gesels oor ons Groot Trek einde Desember en almal bied hulp aan. Dis lekker om te weet ons gaan nie die groot werk alleen aanpak nie.

Ons het ‘n besige dag agter die rug. Dis maandeinde vir die twee werkende siele in die huis. Dit was ‘n langerige “kantoordag” en ons was vroegoggend al aan die gang. Ek het met die opstaanslag gaan stort en hare gewas, want ons was bang die water verdwyn weer tussen neus en ore op hierdie sonnige dag. Karen het die nuwe huis se gordyne gaan afhaal en begin was – “make hay while the sun shines”. Ons dink dit gaan môre weer begin reën. Die eienaar het haar gordyne net so gelos en ek mag uitkies wat ek wil hou. Die res sal ek saam met haar familie vir haar aanstuur.

Dis wat ons hier rond doen – die goed wat ons nie weer gaan gebruik nie, word uitgedeel. Dis beter as om elke keer die hele pakkaas op te pak en daarmee te trek. My gordyne wat ek saamgebring het van Gauteng af, hang in ‘n ander huis en ek het nuwes hier gemaak. Langs pad het ons al meubelstukke weggegee wat ons nie gebruik nie en ander in hulle plek ontvang. Selfs van die Kersliggies wat Karen nou opsit, het ons uit verskillende oorde ontvang, meesal van mense wat getrek het. Ek het onlangs ‘n paar stukke van my kombuistoerusting (slow cooker, broodbakker, ens.) weggegee toe ek my nuwe elektriese stoompot en lugbraaier aangeskaf het. Dis wat jy doen in ‘n gemeenskap wat nou saamleef, en glo my, jy kry weer alles terug, met rente, in ‘n ander vorm. Hoekom dan vasklou aan goed wat jy nie meer gebruik nie?

Natuurlik is daar nadele ook. Een daarvan is dat jy nie altyd privaatheid het nie, en in elke gemeenskap is daar altyd een of twee mense wat nie lekker inpas nie of sommer dwars trek. Ons sorteer mekaar maar uit. Ons het al geleer om ons voordeur toe te maak in die middag wanneer ons wil slaap – mense respekteer slaaptyd in hierdie gemeenskap waar die meeste mense al ‘n bietjie ouer is. Ons kuier nie oor etenstyd nie en wanneer dit donker word verdwyn elkeen by sy eie huis in. Soms wanneer hier nuwe inwoners opdaag, moet hulle eers die ongeskrewe reëls leer en dan gaan dit sommer weer klopdisselboom.

Soms gaan dit nie so goed nie, want die inwoners kry kuiermense en sommige huise word uitverhuur in vakansietye. Natuurlik is daar diegene wat lawaai of te vinnig ry ten spyte van die spoedbeperking. Dan word daar eers weer ‘n bietjie vuur gespoeg.

Nog ‘n nadeel is dat almal alles weet van almal. Wanneer hier ‘n situasie ontstaan wat iemand geheim wil hou, weet die hele gemeenskap natuurlik onmiddellik daarvan. Die voordeel is dat ons omsien na mekaar: almal weet dat die Brombeer graag rondloop en kuier en dat ek kwaad word as hy vergeet om te sê waarheen hy gaan (‘n reël wat ingestel is vir sy eie beswil, nie omdat ek omgee as hy by die weduwee wil gaan kuier nie). Omdat dit geen geheim is nie, weet ek presies waar hy kuier elke dag, want ek word vinnig ingelig. Gaan ek en Karen winkel toe of kom ander afsprake na, is ons nooit bang om hom alleen by die huis te los nie, want almal loer in om te sien hoe dit gaan terwyl ons weg is.

Hierdie soort lewe is nogal ‘n verstommende ondervinding wanneer jy die eerste keer daarmee te doen kry. Vroeër jare het ons in die stad gewerk en saans almal agter ons hoë hekke en elektriese heinings vir mekaar weggekruip. Ons het vir twaalf jaar in dieselfde huis gewoon en nooit regtig die bure leer ken nie. Hier word jy teen wil en dank deel van die gemeenskap. Dit laat jou dink, nè?

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. Dit is wonderlik om sulke ondersteuning te hê, mense wat regtig omgee is skaars. Ek is erg bly jy Gaan genoeg hande hê as jy trek

  2. An interesting commentary on communal life, Hester. I have enjoyed reading this.

  3. Dit klink amper of ons ook in so ‘n gemeenskap bly! Ons straat se bure ken ook almal mekaar, party kuier tot saam! Lekker gelees Hester!

  4. So realisties met die positiewe en nadele. Kan ‘n uitdaging wees, maar ook ‘n vreugde… ons is gemaak om goed te wees vir mekaar.

  5. Mis ek daai gevoel, dit klink heerlik en het dit baie geniet🌻

  6. De voordelen wegen op tegen de nadelen, vind ik. En ja, jij weet dat ik erg van mijn privacy houd, maar ik zou een woongemeenschap verkiezen boven het door hekken en andere ‘barrières’ van mijn buren en omgeving afgescheiden te zijn. Dus: ik zie ons echt nog wel een keer gaan verhuizen naar zo’n gemeenschap…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die geel huis sal julle mis wanneer julle trek Anuscka, maar ek verstaan dat jy ook ‘n bietjie ergenis het van die buurvrou.

  7. Wanneer ek na Esther Perel luister, praat sy gereeld van hoe ons deesdae van ons maat verwag om vir ons te gee wat ‘n hele gemeenskap voorheen sou. Klink vir my asof jou gemeenskap net die regte plek is om te bly.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink ons het almal begin nouer saamtrek gedurende covid, want ons was absoluut op mekaar aangewese. Almal het saam kwarantynreëls nagekom en mekaar uitgehelp met inkopies, ens – en die geselskap elke dag (elke huisgesin van hulle voorstoep af) het ons sanity die wêreld se goed gedoen. Ek kan glo dat die grendeltydperk baie stres geplaas het op verhoudings waar gesinne of paartjies alleen moes aanpas en sommige mense sukkel steeds om weer aan te pas by die “normale” leefwyse waaraan ons nou nie meer heeltemal gewoond is nie, veral omdat die meeste mense nog steeds van die huis af werk.