Oorerflike skete en kwale sal jou volg al die dae van jou lewe. Dis die een les wat my ouers my nooit geleer het nie en waarvan ek maar so mettertyd moes kennis neem. Ek noem dit die “sondes van my voorvaders” wat my agtervolg en ek het al hierdie onderwerp aangeraak in ’n vorige blog:
Indien ek so ’n bietjie meer common sense gehad, sou ek hierdie verband al verstaan het die oomblik toe ek op 18-jarige ouderdom besef het dat die bier wat ek gedrink het, en wat my ’n hewige sooibrand en hoofpyn gegee het, twee van my oorgeërfde kwale te voorskyn laat kom het. Die sooibrand het ek by my pa geërf en die migraine by my ma. Double whammy.
My pa se toe neus, soos my ma se voortdurende gekla oor ’n seer keel en oorpyn wat ek in my jeug afgemaak het as oumens-kwale, het ek in dubbele mate oorgeërf en my eie gemaak toe ek begin ouer word het. My mangels is vroeg reeds verwyder en die neus-kwaal is opgelos in ’n operasie sowat drie jaar gelede, maar toe klap die oorpyn my, soveel so dat ek nou reeds met my derde grommet binne drie jaar spog. Vir die laaste een het ek twee dae in die hospitaal deurgebring om behandeling teen pyn en ontsteking te kry.
Ná heelwat navorsing is bevind dat die oorontsteking veroorsaak word deur … wait for it … acid reflux, oftewel dan die common sooibrand. Ek moes my dieet aanpas, maagpille drink en ná drie weke weer aanmeld vir ’n vars grommet.
Hierdie keer het die desperate (en baie dapper) oor-neus-en-keelspesialis die operasietjie in sy spreekkamer gedoen, omdat ek botweg geweier het om weer narkose te ontvang. Hy is bygestaan deur my ewe dapper (en ewe desperate) dogter wat my verbied het om ’n aks te roer of ’n geluid te maak. Dit was ongelooflik blêrrie seer, veral toe die water uit my binne-oor dreineer is, maar ek het doodstil gelê en net met my oë gevloek. Die oorpyn is weg, maar ek moet gaan vir ’n gehoortoets, want my gehoor is aangetas.
Eintlik was ek lankal ’n bietjie doof, maar het dit nie juis as ’n kwaal beskou nie – ’n bietjie selektiewe doofheid werk soms in ’n mens se guns. Soms werk dit ten goede mee as mens ’n verskoning het om pad te gee uit vervelige geselskap. Hierdie laaste marathon-pynperiode het egter die probleem so erg aangehits dat ek slegs TV kan kyk wanneer daar onderskrifte is. Ek kyk nou volksvreemde programme wat vertalings in skrif byvoeg.
Vanoggend is Karen vol klagtes oor ’n seer rug, hoofpyn en opgeswelde kliere, laasgenoemde as gevolg van mangelontsteking. Die rug het sy by haar pa geërf. Sy is onlangs deur ’n (ander) oor-neus-en-keelspesialis ingelig dat die acid reflux die kroniese mangelontsteking veroorsaak, wat die hoofpyn en opgeswelde kliere tot gevolg het. Maagpille help om die mangel-kwaal onder bedwang te hou.
Ek het nou maar liewer nie iets gesê oor haar kroniese toe neus nie en sy het nog niks gemeld van seer ore nie, maar oorerflikheid is ‘n helsim. Ek kyk met groot belangstelling toe om te sien of sy ook die ingroeitoonnaels geërf het. Indien wel, sal dit so ’n bietjie later toeslaan.
Noudat ek daaraan dink: my ma het mos ook in latere jare so ’n afgewaterde dieet gevolg met geen uie, knoffel, ander kruie of speserye nie. Sy is gediagnoseer met Prikkelbare Derm-sindroom. Terwyl sy by ons gewoon het, moes ons altyd haar maaltye apart voorberei. Dalk moet my volkie maar hulle kinders leer om vroegtydig te besin oor hulle eetgewoontes, want die common sooibrand mag dalk ’n wyer kring van oorsake en nagevolge hê as wat ons ooit besef het.
Die sondes van die voorsate, nè?
Lekkervurigeaffêre
Nou laat jy my kommer, my voormense is so vroeg heen dat ek min van erflike einas se oorsprong sal weet. Weet wel wat ek self voor gesorg het en in paaiemente van pyn en spasmas betaal wanneer al die ander mense in droomland ontspan. Sterkte my mater. Groetnis.
HesterLeyNel
Dis dalk beter so, want dan gaan haal jy nie die bobbejaan agter die berg elke keer as ‘n nuwe simptoom opduik nie.
kethuprofumo
♥️♥️♥️🌷
seegogga
Ai as ons maar almal van kleinsaf leer reg eet het. Maar so verander die dokters jaarliks hulle voorskrifte van hoe dit behoort te gewees het. Sterkte mer jou ore!
HesterLeyNel
Dankie Seegogga. Ja, ek raak ook soms moedeloos met die “moets” en “moenies”.
woordnoot
Jip..my eks skoonma het altyd gesê dat die lewe pure terugbetaling is. Gaan maar vir daai apparate. Dit stimuleer die brein en daai brein wat jy het kan nie ophou werk nie!!
HesterLeyNel
Ek gaan môre vir my gehoortoets, Sal jou laat weet wat die uitslag is.
woordnoot
Goeie nuus Hester…en onthou…ek is hier as jy vrae het en vir die ondersteuning sou dit nodig wees as jy dalk apparate moet kry. Na wie toe gaan jy?
HesterLeyNel
Dankie vir jou ondersteuning vriendin. Die ENT het my verwys na ‘n baie gewilde oudioloog net oorkant die privaathospitaal waar ek gewoonlik behandeling ontvang. Sy het die toetse gedoen en my mediese fonds het reeds goedkeuring gegee vir die klein toestelletjie wat binne-in die oor geplaas word (net my linkeroor, want die ander een hoor darem nog). Ek het egter eers Vrydag teruggaan na die ENT toe vir ‘n laaste ondersoek om seker te maak dat die grommet in plek en oop is, en dat die ontsteking opgeklaar het. Hy behandel nog steeds my sinus-aandoening wat in elk geval chronies is. Ek sal môre met haar kontak maak vir ‘n afspraak om die opvolgtoets te doen en dan te kyk watter grootte die toestel moet wees.
woordnoot
Ek is so bly jy het reggekom. Jy moet my tog op hoogte hou met die pad wat jy nou stap met die apparaatjie. Dis altyd goed om die draers se terugvoer te kry.
HesterLeyNel
Maak so!
Bondelsgedagtes
Eish, oud word is nie vir sissies Nie… Bly jou ore is Nie meer seer nie
HesterLeyNel
Dankie Bondels. Ek voel so nou en dan nog ‘n ongemak, nie regtig pyn nie, maar toegeslane oor, veral wanneer dit kwaai reën of baie koud is. Ek hoop maar dit gaan weg. My ma het op haar oudag elke dag ‘n gebreide mus gedra om haar ore te beskerm – spaar my tog dit asseblief.
ekmyselff
Oudword is nie maklik nie… ek moet tog bietjie my ma uitvra oor grootouers se gesondheid
HesterLeyNel
Dis altyd goed om jou ‘n volledige familiegeskiedenis van kwale vir jou dokter te gee, want dan weet hulle waarvoor om uit te kyk.