My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Elektrisiteit het nog altyd ’n groot invloed op my lewe gehad

gray electric post on green field under white clouds and blue sky

Photo by Brett Sayles on Pexels.com

Deesdae is dit die gebrek aan elektrisiteit wat my grootliks beïnvloed, maar laat ons nou nie te veel kla vandag nie …

Ek het voorheen reeds geskryf oor Dora wat vir ons gekook en huis gehou het in my kinderdae. Dora, my ma se tydgenoot, was ’n harde werker, maar sy het geen ooghare gehad vir toerusting wat met elektrisiteit gewerk het nie. Ek, daarenteen, kon nooit my hande afhou van toerusting wat so gewillig allerhande take verrig wanneer jy die ekektrisiteit aanskakel en die regte knoppies druk nie. Siestog, sy het dit só waardeer dat ek ná skool pligsgetrou gehelp het met die takies in die huis dat sy met liefde die kos gekook het op die ou swart koolstoof, en die wasgoed gestryk het met daardie swaar strykysters wat sy ook op die stoof warm gemaak het. Elektriese strykysters het eers later deel geword van ons lewe, en ek besit twee van hulle, hoor? Maar Karen gebruik hulle – ek het nooit geleer om ordentlik te stryk nie.

Vir my was dit pure plesier om wasgoed te was in my ma se ou Westpoint wasmasjien wat daardie jare reeds met elektrisiteit gewerk het. Ek kon ’n hele middag verwyl deur te staan en kyk hoe die vuil wasgoed in die wasbalie rondskommel, om dan deur die rollers gevoer te word om die water uit te droog. ’n Wasmasjien en tuimeldroër (saam met ’n yskas en elektriese stoof natuurlik) was hoog op my lys van prioriteite toe ek taamlik laat in my lewe tot trou gekom het. Skoon wasgoed op die wasgoedlyn is nog steeds ’n lus vir die oog, maar deesdae hanteer Karen ons twee outomatiese wasmasjiene soos ’n dirigent van ’n simfonie-orkes. Ons het twee masjiene omdat ons net by geleentheid elektrisiteit en minder dikwels ook water het – wanneer albei beskikbaar is, moet jy vinnig was om klaar te kry.  

My ma het een van daardie stofsuiers gehad wat so regop gestaan het op sy voetstuk. Daar was ’n hefboom onder op die voetstuk wat jy moes trap om die handvatsel te laat sak sodat jy die stofsuier onder die meubels kon instoot. Ek het met plesier op daardie elektriese besem gery. Die lekkerste deel van stofsuig het ek altyd gelos vir laaste – daar waar die toevoer van elektrisiteit my empower het om kaalvoet oor die luuksheid van die woltapyt twist, shake en rock ’n roll saam met Elvis, Chubby Checker, Cliff, die Beatles, die Rolling Stones en die Stacatos.

Elektrisiteit het ook ons polisher aangedryf. Ons het nooit gepraat van ’n poleermasjien of vloerwakser nie, dit was ’n polisher, fienies en klaar. Ook met so ’n regop handvatsel en die hefboom onder op die voetstuk. Een keer ’n week, gewoonlik op ’n Vrydagoggend terwyl ek nog by die skool was, het Dora handeviervoet die blokkiesvloere in die gang en slaapkamers, en die linoleum in die badkamer en kombuis bygekom met wit Cobra Polish. Spieraangedrewe. Dan het ek ná skool die polisher aangeskakel en die vloere blink gevryf met die sagte viltborsels onder die voetstuk, terwyl ek op my skoolsokkies agter die polisher aan oor die vloer gesweef het op maat van my ma se musiek – langspeelplate van Caruso, Mario Lanza, Slim Whitman en Bing Crosby. Ek was nooit ’n wafferse danser nie, maar ek kon musiek waardeer.

My dogter het hierdie liefde vir gerieflike toerusting by haar ma geërf. Sy het, nadat sy begin werk het, getrou met elke Moedersdagviering vir haar ma nuwe kombuistoerusting aangekoop, alles wat met elektrisiteit werk: menger, broodbakker, rotisserie-oondjie, ’n verskeidenheid braaipanne, wafelpanne, broodroosters, ens., maar sy het altyd daarop aangedring om dit namens my te gebruik. Ja, dis waar dat ek eintlik verkies het om in die tuin te werk, of op my rekenaar te speel, maar nogtans. Meer onlangs het ek begin om vir haar nuwe toerusting te begin gee as geskenke, maar sy hou nie daarvan dat ek dit namens haar gebruik nie: bv., die moderne industriële-sterkte stofsuier en die hoëdruk-waterspuit. Maar dis oukei, sy sorg darem dat my vloere en matte gesuig word, die huis se vensters gewas word, en sy was ons kar (wat ek meesal namens haar bestuur).

Nog meer onlangs het ek mos ook vir Karen die elektriese stoompot gekoop waarmee ek myself leer kook ( ’n onderwerp waaroor ek nou al tot vervelens toe geskryf het) en Karen het gedwee die kokery in my hande gelos. “Ma is nou die kok”. Maar  ek het nog nooit voorgegee dat my gesonde verstand gesonde brieke het nie en terwyl ek nou die kok is, koop ek toe for good measure ’n air fryer / toaster / convex oven, rotisserie alles-in-een op die kredietkaart wat Karen namens ons bestuur. Wanneer die elektrisiteit aan is, moet ons spring om kos te maak, is my verskoning.

En Karen se reaksie is: “Dis oukei, ek gaan dit tog alles eendag erf.”  Positief, nou sal jy weet hoekom ek so hartlik gelag het vir jou storie oor jou ma se leerjas en die geluk by die ongeluk.

Nou gaan ek kook dat dit bars. Oom Cyril beter net vir Eskom uitsorteer en die elektrisiteit laat vloei in hierdie huis.

Follow Dis Ekke

18 Comments

  1. Lekker lag ek nou vir jou dansery agter die polisher en stofsuier. Ons het ook so ‘n polisher gehad en dit was altyd vir my die mooiste om te sien hoe word die vloer so blink, asof mens ‘n towerstaffie geswaai het.
    Geniet jou elektriese ware. Een vd dae is dit terug koolstoof toe.

  2. My ma ook een gehad, Hoover. Omw, jy het my lekker laat smile en onthou nou🌻

  3. Jy skryf my hart warm. Ek sien jou dans agter jou masjien. Jy bring heerlike memories op van my kleinstyd onthoue ook. Klink vir my of julle ‘n wenspan is wat oor en weer goed bestuur vir mekaar. Dis kostelik..

  4. Ons het so regop geel Electrolux stofsuier gehad. As kind was ek nooit onwillig om die wonderbesem te gebruik nie! Hier by my stofsuig ek sommer die stof op tot groot vermaak van my Elisa, wat onwrikbaar in die swiesh-swoesh van tradisionele grasbesems vir stoepe glo. Binnenshuis is die rooi stofsuier haar beste tjom, sy bestuur hom soos blitsig soos Louis Hamilton, matte, teëls. Die Watervalbende voortvlugtig as sy lostrek. Dis noe as Eishkom en die diewens ons elektrisiteit gun.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, die liewe Eishkom. In my kinderdae het mense se krag net af gegaan en af gebly omdat die munisipaliteit se rekening nie betyds betaal is nie. Nou lyk dit my daar is ‘n hele rits amptenare wat bakhand staan en wag vir geld voordat die krag herstel word.

    • Ek onthou ook ‘n geel Electrolux uit my kinderjare. En ‘n matwasser. En my ma se swaar stoompot waarin sy melktertmengsel gaargemaak het terwyl die tertkorse in die oond gebak het.

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        My ma was nooit juis ‘n bakster nie, maar ek onthou die dadelpoeding met glanskersies in wat sy op die stoof gekook het. Ek kwyl sommer.

  5. woordnoot

    Ons het graag al die elektriese wonders beproef. My herinnering aan die balie wasmasjien is net die dag (ek was seker so ses) toe ek my ma wou help om lakens duer die rollers te sit en my hand per ongeluk ook deurgly. Toe wip die rollers se kassie oop en ek is ongedeerd. Nogal oulik vir daardie tyd! Ek wens ek kan weer so balie wasmasjien hê met rollers, want hemel, as die wasgoed daar deur gerol het, het mens omtrent glad nie gestryk nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My een boetie het ook sy een voorarm tussen die rollers gekry (wou mos speel met die wasgoed terwyl my ma dit uitdruklik verbied het!), maar sy het aangehardloop gekom en hom bevry. Ek was toe so drie jaar oud, so ek onthou nie hoe sy die arm daar tussen die rollers uitgekry het nie. Ons het daai selfde wasmasjien al die jare gebruik totdat al ons kinders, ek inkluis, uit die huis getrek het en my pa afgetree het. Toe het hulle al die ou meubels verkoop – onder meer ook die ou Lewis yskas wat ons my hele lewe lank gehad het. Ek was toe omtrent 19.

      • woordnoot

        AI dis lekker memories!

  6. Heerlik om so terug te onthou. Laat my net besef hoe ek, ten spyte van swaarkry tye eintlik ‘n wonderlike kinderlewe gehad het. Verruil dit vir niks.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis waar, weet jy? Ons was inderdaad bevoorreg en ons het dit wat ons wel gekry het soveel meer geniet omdat dit nie volop en afgesaag geraak het nie.

  7. Ek lag lekker vir julle wat so names mekaar. Dit klink na n besonderse verhouding