My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Skete en kwale het soms niks te doen met ouderdom nie – dis in die gene

person holding chickpeas

Photo by cottonbro on Pexels.com

Soms is ouderdom net ’n gerieflike verskoning vir allerhande skete en kwale. Die waarheid is dat selfs die jonger geslag ook pyn en ly as gevolg van oorerflike skete – dis in die gene. Dis ons voorsate wat blameer moet word.

Ek het dit nou weer aan eie bas gevoel, of liewer, aan my mede-huisbewoners se bas, toe ek vir hulle visbredie, ertjiesop met varkvleis en roomkoek in dieselfde week gevoer het. Lekker geëet, albei van hulle en lippe afgelek vir nog, maar die dag ná die room op die koek was pa en dogter albei hondsiek. Jodium intoleransie: een van die kwale wat aan SÝ kant van die familie voorkom‎‎. Ek het heerlik saamgeëet, niks oorgekom nie; Karen was ’n dag lank olik, maar het gou herstel, want sy het anti-histamien geneem voordat sy weggelê het; maar HÝ moes kliniek toe gaan vir ’n inspuiting, pilletjies en ’n kortisoonsalfie vir die bloedrooi jeukende uitslag op sy vel. Want … HÝ het dit nie nodig gevind om anti-histamien te neem nie. Koppigheid is ook in die gene.

Nou moet ek liggies trap in die kombuis vir ’n paar weke en “veilige” voedselsoorte voorsit. Dis half moeilik, want hulle het ook ’n laktose-intoleransie wat ek in gedagte moet hou en ons het juis ’n paar bottels tuisgemaakte bottels jogurt in die yskas wat nie vir ewig gaan hou nie. Gelukkig kook ons net elke tweede dag en die daaropvolgende dag is dit ’n keuse tussen gister se oorskietkos en vandag se “best-of-bread”, met of sonder grondboontjiebotter en jêm. Ons eet nie stroop nie, want beide Karen en ek kan nie te veel suiker inneem nie – skete en kwale oorgeërf by MÝ voorsate. Die gene, jy weet?

DUS eet ons nou maar hoender- en beesvleisgeregte sonder enige toevoegings wat verdere probleme sal voorkom. Eergister (en die dag voor dit) het ons ’n beesvleisbredie geëet, my moerby-resep wat ons gebruik om ontslae te raak van alle groente wat begin oud word en oorskietkossies wat in die vrieskas beland het. Gister (en vandag) het ons heerlike rotisserie-hoender geëet – met erkenning en dank aan George Foreman se vindingryke oondjie. Môre gaan ons terugkeer na ’n ou vertroude stampmielie-en-boneresep. Met beesvleis en ’n stukkie skaap wat ook begin oud word daar in die vrieskas.

Ek het die resep oorgeërf by my skoonma. Met ’n storie daarby. Sy het dit gereeld voorberei vir haar gesin, met groot sorg en baie ure se werk. Onthou, in haar dae moes droë boontjies en stampmielies oopgesprei word op die kombuistafel en sorgvuldig uitgesoek word om te verhoed dat klippies of takkies in die kos beland. Daarna moes die pitte oornag geweek word om uit te swel voordat hulle die volgende dag vir ure lank stadig opgekook is totdat hulle sag was. Dan eers kon die mengsel verenig word met die vleis wat ook apart gekook is.

Dit was ’n liefdeswerk, wat nie altyd na behore waardeer is nie. Veral nie deur haar kleinkinders wat nie hierdie koningskos geken het nie. Die eerste keer wat hulle kennis gemaak het met die dis het my jongste seun, toe  drie jaar oud, haar goed laat verstaan hy en sy boetie hou nie van deurmekaar kos nie en hy gaan nie hierdie kak eet nie. Vuilbekkigheid is ook in die gene.

Gelukkig was daar ’n ander storie ook verbonde aan die gereg. My skoonpa het vertel dat sy skoonma ook al iets te sê gehad het oor haar dogter se kos. Blykbaar het die ouma so nou en dan vir ’n paar weke oorgebly by elkeen van haar kinders, en toe dit tyd geword om aan te skuif na die volgende dogter toe, het ouma gesê dis ook hoog tyd, want die “ryk Nels” (my skoonouers wat nooit te koop geloop het met hulle voorspoed nie) eet mos vandag weer armmanskos; mens sou sweer hulle kan nie beter bekostig nie. Twee beledigings sommerso saamgevat in een sin.

Armmanskos mog dit daai jare gewees het, maar deesdae is dit weer baie gewild. Die lekkerste van alles is dat dit in hierdie dae ’n dis is wat jy vinnig en maklik kan voorberei. Geen nodigheid om die boontjies of stampmielies vooraf uit te soek of te week nie: die pakkies wat ons by die winkels koop is skoon gewas en klaar uitgesoek, en die elektriese stoompot omseil die weekproses. Ek spoel net die droë pitte af en kook dit in soutwater op in die Pot. Ná sowat 20 minute is die boontjies reeds merkbaar sagter en klaar uitgeswel. Dan word hulle vir ’n verdere halfuur saam met die res van die bestanddele gekook om die heerlike vleissous en geurmiddels op te neem. Ek gooi graag ’n takkie of twee vars tiemie en roosmaryn in die mengsel saam met gebraaide uie, seldery en fyngesnyde wortels wat ’n paar minute in vleisekstrak geprut word. En natuurlik speserye na smaak – varsgemaalde swart peper en gerookte paprika is bo aan my lys.

Die lekkerste van alles is dat ek nie heeldag voor die stoof staan en potte dophou om seker te maak dat die mielies en bone nie aanbrand nie. Ek kan rustig voor die tv gaan sit tot opskeptyd.

Gesonde kos ook. Lees maar  bietjie oor die gesondheidsvoordele van beide mielies en boontjies op die internet – dit kan heelwat skete en kwale voorkom, of dan help om dit onder beheer te hou. Dis dien ook die goeie doel om my te help om my gewig onder beheer te hou – lae vet, baie vesel en proteïne. Dit werk, njannieskapêla, swak gene ten spyt.

Gelukkig is niemand in my gesin allergies daarvoor nie – dis nie in stryd met oorgeërfde gene nie. Die enigste intoleransie wat ek bespeur is by my oudste seun wat alle boontjiegeregte as verdag beskou. Sy afsku in boontjies het ontstaan die dag, baie jare gelede, toe ek ’n boontjiebredie gekook het met vars groenboontjies uit ons eie groentetuin. Toe ek sy kos voor hom neersit, het albei van ons gelyktydig die vreemde “boontjie” raaksien wat pootjies in die lug op die wit bord uitgespalk lê. Hy was nie beïndruk met my verduideliking dat die besie-boontjie daar is vir ekstra proteïne in sy voedsel nie. Nie genoeg humor in die gene nie 😔

Follow Dis Ekke

28 Comments

  1. En net so, siedaar water my mond nou vir jou heerlike bredie. Jou huismense (gene ten spyt) is bevoorreg om so ywerige kok in die kombuis te hê

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek dink hulle is net so verbaas soos ek om myself in al my glorie in die kombuis te sien ronddans. Dis een plek wat ek vir meer as 50 jaar suksesvol ontwyk het 😁 Die blog is gister al geskryf en die bredie is vanoggend gemaak – dit was weer eens onverbeterlik!

  2. Amanda

    Heerlike vertelling

  3. Anonymous

    Ek het jare lank njannieskapêla gehoor! Ekhet nou geglimlag want ons familie is net so: een mag nie rys, aartappels of pasta eet nie, ‘n ander hou nie van tamaties of enige kos met klein sade nie … ek is nie baie lief vir rooi vleis nie … een seun hou nie van groen boontjies nie omdat hulle ‘n geluid maak in sy mond 🙂 Tog, eet ons lekker 🙂 🙂

  4. Lekker gelees aan jou gene storie! Wat mens nie alles aan gene kan toedig nie! Soms ‘n handige veskoning.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sê jou – ek het al gedreig ek wil my ouers (jare lank al saliger) hof toe vat oor al die skete wat ek geërf het! Ek moet nog dink hoe ek die saak gaan benader.

  5. Lus is ek nou vir lekker kookkos. Ek doen nie soveel moeite vir my alleen nie. En ek is allergies vir niks. Net verslaaf aan suiker.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My liggaam kan gelukkig nie baie suiker verdra nie. Hartkloppings en hoofpyne volg as ek soetgoed eet. Donker sjokolade is my enigste troos. Vir kookkos en brood sien ek altyd kans.

  6. woordnoot

    Ai jy maak my honger….en ek eet mos nie eintlik nou meer baie nie!!

  7. Interessante spulletjie gene daar by julle 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja Frannie, hoe ons dit soveel jare lank al reggekry het om mekaar nie (per ongeluk) uit die weg te ruim nie … 🤔

  8. Die gene het beslis n groot invloed. Jy is nou beslis n doring in die kombuis. Bly jy het groot sukses met die drukkoker ook.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Ineke, dit help darem om Karen met meer tyd te laat vir haar werk. Weet nie hoe ek die verandering van winterkos na somerkos gaan hanteer nie – dalk moet ek ‘n air fryer aanskaf? 😇 jip, ek reken ek het ‘n goeie verskoning hier beet.

      • Die air fryer werk ook baie goed. Mens kry nie die olie van as dit in olie gebraai of gebak is nie. Skoondogter het een, hom en ‘n ryskooker. Ek hou van rys kooker. Daar is ook ‘n oulike gekookte eier affêre waarin mens ses eiers gelyk kan kook.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Mens kry deesdae oulike toerusting, maar dis wat so lekker is van die elektriese stoompot – dit het baie van die funksies van die nuutste toerusting reeds oorgevat. Dit het ‘n program vir eiers kook en die rys gaarmaak (of koring, samp, polenta – enige graan). O, en ek het gister vir my ‘n air fryer rotisserie convection oven gekoop 😇

  9. Boontjies, is die Brasiliane se stappelvoedsel, feijoada. Baie lekker. Vandat ek met daardie kultuur te doene gery het, wil ek ten minste 1x per week, feijoada, eet. Jou kosse klink baie lekker. Jammer vir die gene, wat soms inmeng.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Danie, ek moes natuurlik nou (nog vroegoggend) eers gaan oplees oor feijoada, cassava en farofa. Ek het selfs gaan leer hoe om dit uit te spreek – Google is ‘n wonderlike onderwyser. Nou hang my lus ver uit en ek dink ek moet begin om die bestanddele bymekaar te maak vir ‘n dag in die toekoms wanneer ek weer ham, bacon en ‘n stukkie varkvleis kan voorberei sonder gevaar vir my gesin.

  10. Goeie griffel! Jy het my amper oortuig om my kombuis meer te besoek, maar ek is nog nie heeltemal reg daarvoor nie! Dis in my gene… my ma het kombuise gehaat.🥹🤣

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Mens moet die regte speelgoed in die kombuis hê! En ‘n goeie helpende hand om die sleurwerk makliker te maak 😁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek sê mos, mens moet die regte speelgoed in die kombuis hê! En ‘n goeie helpende hand om die sleurwerk makliker te maak 😁

  11. Sjoh sjoh sjoh, so tussen jou en Erna kook julle ons almal in belustigheid in… kry ek ook lus vir ordentlike kos, maar die ywerigheid ontbreek nog. Maar wil jy nie die tuis gemaakde jogurt resep deel nie?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My elektriese stoompot het ‘n jogurt funksie – dis soos ‘n incubator wat die melk warm hou vir 8 ure. Dis die enigste manier waarop ek dit kan maak. Is dit wat jy soek?