My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Die vonk wat die vuur in my weer aangesteek het

a triple head dragon sculpture in a park

Photo by Сергей Христинич on Pexels.com

Met hierdie vonk het ek kennis gemaak in die vroeë sewentigs. Ek was ’n bloedjong bankamptenaartjie en hy ’n ewe bloedjong beampte van die hof oorkant die plein. Vonk van Vuuren. Nee, hy het nie rooi hare gehad om by die Van Vuuren te pas nie, maar die res van die pakket was prima.

Hy het eendag uit die bloute met ’n skamerige glimlag ’n klein pakkie oor die navraetoonbank in my rigting gestoot. You’re the Fire van Yardley. Die heel eerste keer wat ’n man vir my parfuum gekoop het. Ek het die botteltjie in my etensuur oopgemaak in die ruskamer – die geur van sitrusskil en oosterse speserye, gemeng met ’n sagte blomgeur en ’n ondertoon van welriekende hout het my oorrompel. Min het ek geweet dat hierdie vonk vyftig jaar later weer ’n vuur in my sal aansteek. ’n Drakevuur wat alles verskroei. En dit in my eie kombuis waar my koskook-lesse nog volstoom voortgaan.

Ek is baie lief vir kos met die warm geure van kaneel, naeltjies, neutmuskaat, gerookte paprika, peper, anys, koljander, komyn en ek vul die geure gereeld aan met vars roosmaryn, pietersielie en tiemie uit my tuin, asook fyngekapte knoffel, gemmer, borrie en mosterd wat in olie geberg word. Laasgenoemde staan een rak van my yskas se deur vol. En dan … maak nie saak watter kombinasie ek gebruik nie, alles word aangevul met ’n teelepel van die bevrore suurlemoene wat ons net so heel rasper en vries, skil en al.

Mens sou nou dink dat juis hierdie geure die vonk (Vonk) van my herinneringe sal aansteek en my laat gryp na You’re the Fire, maar nee – jeugliefde is, helaas, vlietend van aard. Dit was die stokvis wat ek in die pan gegooi het wat daardie Vonk en die Vuur en Yardley se You’re the Fire vir die eerste keer in vyftig jaar weer soos die feniks uit die asse laat herrys het.

My huismense hou nie van vis nie (die jodium-intoleransie) en my vis-etes is gewoonlik ’n one-man show. Ek gooi dus ’n stukkie vis in die pan saam met uie en soetrissie. Ek verdra nie die soort rissies wat jou mond laat brand en jou maag laat wegkrimp uit pure vrees nie – dis my dogter se afdeling. My kos moenie aan my byt nie. Ek voeg net so ’n bietjie geurmiddels by. Maar daar in “my” yskasrak staan ’n bottel van Karen se ingelegde rissies – ek ruik daaraan en dis heerlik geurig, so met ’n ondertoon van iets wat brand en ’n bietjie kerrie. Ek mik mooi om net ’n paar druppels van die olie in my vispan te gooi, maar die bottel is glad en gly in my hand. Daar beland toe heelwat meer van die olie in die pan as wat ek gewou het. Maar die reuk is hemels!

Die eerste hap van die vis was nader aan die warmplek as aan die hemel, maar dis nogal lekker en ek val met mening weg. Halfpad deur die bord bars ek in vlamme uit – holy-bloody-chilli-moly, lanklaas sulke hot flushes gehad. My mond is aan die brand, ek kan voel hoe gloei my wange en my lippe voel geswel. Maar ek eet voort totdat ek noodgedwonge moet hardloop vir ’n glas water. Dis die lekkerste vis wat ek nog ooit gaar gemaak het.

Dis Vonk van Vuuren se You’re the Fire wat my so straf, beduie ek ná ete vir Karen, en toe moes ek haar die storie vertel van die vonk wat die vuur aangesteek het.

Gister het ek ’n beskeie teelepeltjie van die rissie-olie in die osso buco-sous gegooi en selfs die grommende man hou daarvan, maar dalk moet ek volgende keer net so ’n halwe teelepeltjie gebruik is die algemeen aanvaarde voorstel.

En só word die rissie-olie in my yskas herdoop tot You’re the Fire.

Follow Dis Ekke

31 Comments

  1. Sit ek nou hier en chuckle…

  2. Vonkerige, vurige Hester Sintester😄

  3. Annie brand!

  4. This is a delightful story from beginning to end!

  5. Ek het nou heerlik gelag! Ek dog water maak daai vuur nog erger… ek praat nou van die rissievuur.

  6. Rissie olie = paprika olie of papers! Graag gelezen af en toe moeilijk 😂

  7. Lekker lag ek nou! My nooiens van was van Vuuren!! 😀

  8. O toggie, toggie daai gly van bottel het behoorlik vuur veroorsaak. Jy skryf watertand lekker. Watter skryfskool het jy nou weer ingeskryf toentertyd? Klink of hul jou goed gehelp het.

  9. woordnoot

    En skielike klink die vis etery na ‘n hele avontuur! So het “ongelukke” al ‘n hele paar wonderlike herinneringe geskep!

  10. Bhahahahaaaa, my kos byt my nie ek byt my kos…. jy laat my altyd so lekker lag. Janee, ek hou ook nie van bytterige rissie nie. Maar dit klink darem of als goed geeindig het. Jinne Hester, ek het nie geweet jy skryf hyg romans nie…..

  11. Was amper nervous om te lees en nou lag ek lekker🌻🌶️🐲