My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Lentedag laat my altyd met ’n gevoel van melancholie

Lentedag laat my altyd met ’n gevoel van melancholie wat ek net nie kan afskud nie. Niks sentimenteel nie. Dit gaan oor die weersomstandighede: die koue temperature, die snerpende wind, die futlose ou sonnetjie … ek het al tot vervelens toe hieroor gekerm in vorige blogs12015 ’n Soete Lentedag22016 Dis heerlike lente, die winter’s verby 32017 Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o42019 Perfekte alibi vir niksdoen. Die afgelope vier jaar het ek dus maar gemaak asof Lentedag nie bestaan nie.

Tradisioneel het ons mos nog altyd Lentedag gevier op 1 September. Hierdie jaar het ek besluit om die astronomiese aanwysings te volg en Lentedag te vier op 23 September. Google sê:

Vandag is dus Lentedag hier by my huis en gelukkig het ek ’n foto van ons pragtige amarillablom om te bewys dis lente. Natuurlik is dit nog steeds koud, die wind waai en die sonnetjie het geen fut nie, maar nou ja 🙄

Hier by die Laer Suidkus van Natal waar duisende mense van ander provinsies gereeld heen stroom om “vakansie by die see” te hou, ervaar ons nie regtig lente nie. Ook nie herfs nie. Hier is net twee seisoene: blêrrie koud en blêrrie warm. Ordentlikheidshalwe noem ons dit winter en somer. Daar is nog twee sulke halfwas “seisoene” wat ek dalk ook moet noem: die reënseisoen wat gewoonlik gedurende die blêrrie warm periode voorkom, maar soms tred verloor met tyd om ons bibbernat en verwese te laat in die blêrrie koue seisoen ook, en dan die windseisoen wat die oumense die “Augustus-winde” genoem het, maar wat in hierdie omtes strek van 1 Julie tot 15 Januarie. Sodra die skole oopmaak vir die nuwe skooljaar, ± 15 Januarie, en die vakansieseisoen amptelik verby is, breek die heerlikste strandweer aan.

Dis natuurlik net die walvisse en die Vaalies wat dink die beste seisoen hier rond is gedurende die Junie-/Julie -skoolvakansie. Die walvisse is koudbloedig en die Vaalies weet nie van beter nie.

Selfs ons plantegroei help nie veel met die onderskeid nie. Ons plante is feitlik deur die bank immergroen, soms minder groen, soms ’n stowwerige groen, maar darem altyd groen. As jy nou weet waarvoor om te kyk, sal jy oplet na die winter-blomseisoen wanneer die koraalboom, frangipani, alwyn, hibiscus, Brasiliaanse peperboom en Australiese sambreelboom vroliker lyk as gewoonlik. In die somer blom hulle steeds, maar dan sien jy ook verskillende soorte lelies, jasmyn, Yesterday, Today and Tomorrow en varkore wat meer baldadig is as gewoonlik.

Hierdie was (is) ’n besondere blêrrie koue winter, een wat jy slegs kan oorleef met warm winterspajamas wat jy dag en nag kan dra. Dis ’n eerste vir my. Gewoonlik slaap ek in kort pajamas in die winter en deur die dag trek ek sweetpakke aan. Hierdie winter trek ek steeds sweetpakke of jeans met ’n dik trui daarby aan … bo-oor my langmoupajamas. Ek loop rond met ’n paar fong kong Ugg stewels wat ek in die huis en buite in die straat dra saam met dik wolsokkies. Ons weet almal dat dit eintlik pantoffels is, maar ons gaan almal Pick n Pay toe met ons stewels. Selfs op Lentedag. Enniehoe, ek wou maar net gesê het dat ek een en almal ’n lieflike Lentedag toewens.

En natuurlik wou ek met die blom spog. Dankie vir die foto Oudste.

Geniet die dag.

Follow Dis Ekke

Footnotes

26 Comments

  1. Pragtige Amarilla. Ek het jou skrywe nou baie geniet.. Baie goed geskryf. Hoop die weer settle gou.

  2. Ek het ook jou skrywe geniet en verstaan hoe jy voel, al het ek net vir ‘n jaar im Amanzimtoti gewoon 🙂 Wat ‘n mooi blom!

  3. Prachtige amaryllis. Lente, wij hebben herfst 🍂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ons moet ook nou ‘n beurt kry 😁 ons het ‘n baie koue winter gehad.

      • Ja? Hoop dat het hier niet te koud wordt met die hoge energieprijzen.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek dink die koue by julle is baie erger. Ons verwarm nie eintlik ons woonhuise hier nie – dis nie regtig nodig nie. Ons trek net meer klere aan en so nou en dan word ‘n kaggel of gasverwarmer aangeskakel.

        • Ja een heel verschil hé tussen jullie en ons ons

  4. woordnoot

    Ek voel jou pyn met blêrrie koud. Ek het nog nooit so koud gekry soos die afgelope winter. Ek dink dis jy wat die raad gegee het van skipants onder jou langbroeke of jeans? Wel, ek het dit vandag op lentedag gedoen tsv 27 grade buite en dit was heerlik warm. Het nie eers die watersak aangesit nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Sien jy nou, dis hoekom ek soms weier om my pajamas uit te trek voordat die son hoog genoeg sit om die aarde warm te maak.

      • woordnoot

        Ja nee….ek het thermal long johns vir die skotse trip gekry maar gaan dit maar so lank inwy…sodat dit gemaklik pas🤣🤣

  5. Dink net toe ons jonk was was 1 Sept lentedag. Bome is vol bloeisels en ons trek ons geblomde somer rokkies aan vir die dag. Die swembad maak oop en dis Heerlike lente. Vandag het die weer so aangeskuif dat mens geen tou daaraan kan vasknoop nie. Jou pragtige ammaryla laat my terug verlang na my oudste suster wat altyd ‘n paar potte met hulle gehad het wat in volle blom was. Elke pot ‘n ander kleur. Ek het baie simpatie met jul en die weer wat so ‘vreemd’ is. Sterkte met koue!

  6. Ek hoop die lente kom vinnig aan. Ons het nou herfs..🤞, teenoorgesteld van daar. Ons is dalk as dit so aanhou offisieël uit die 40’s uit tot vlg jaar🙏🙏

  7. Hester jy skrywe die melankolie so mooi weg….ek het nou kon sweer jy sit langs my en gesels. Jou amarilla is spiggerig, myne is jaloers en maar effens. Mwah. Geniet lente. Wat braai julle vandag? Of dra ons voortrekkerrokkies en kappies? 😉Hier by my erg tradisioneel met pap en tamatie sheba en tjoppies so al om al die rugby.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hier is dit vrek koud en ons is hard op soek na ‘n plumber wat ons verstopte drein kan kom oopmaak. Ons hardloop heen en weer oor die pad om te gaan piepie by die bure. Gaan nou die verwarmer aansit en tv kyk.

  8. Donderdag is vier bloedrooi Amarillas uit ons tuin gesteel!! Jou blomme is pragtig.