Is afgetrede persone nie veronderstel om vooruit te beplan vir hulle dae van salige niksdoen nie, anders sal hulle mos verveeld raak? vra ‘n werkende siel vir my. Wel, ek is is ‘n afgetredene en besiger as ooit tevore, sê ek. En ek het nie ‘n cooking clue waar my dae heen vlieg nie.
Jy kan tog nie heeldag vakansie hou nie, sê hy. Wel, blykbaar kan ‘n mens, sê ek, want ek het ná my aftrede om vir ‘n jaar lank vakansie te hou by die see. Om te rus, en te beplan wat ek vir die res van my dae as afgetredene wil doen. Ná veertig jaar se werk het ek dit verdien. Ons het toe daardie jaar so lekker vakansie gehou dat ons amper tien jaar lank aan die Suidkus aangebly het. Liewe ouers sê hy, wat het jy elke dag gedoen? Wel, ons het myle ver langs die strande gestap, in die see en getypoele geswem, skulpe opgetel, vis gevang, natuurreservate besoek, by elke klein restaurantjie gestop om te eet, koffie te drink en met wildvreemdes te gesels.Blaai maar net deur hierdie blogtuiste en kyk na ons foto’s, dan sal jy sien hoekom het amper tien jaar se dae weggevlieg sonder dat ons dit agtergekom het.
Die regte lewe gebeur daar by die see ook en soms woon jy begrafnisse by, word self siek en beland in die hospitaal en help om ander siekes te versorg. Tussenin moet jy darem ook wasgoed was, kosmaak, skottelgoed was, inkopies doen en so nou en dan bietjie strandhuis skoonmaak. En die familie kom kuier, of ons spring op die vliegtuig om vakansie te gaan hou op ander plekke. Jy weet, selfs afgetredenes hou van ‘n paar dae vakansie op ander plekke so nou en dan.
So, tien jaar later het ons besluit dis tyd om weer by die “regte” lewe aan te sluit en Oudste Seun kry opdrag om ‘n huis te soek in die stad waar hy werk. ‘n Ouer huis met karakter en lekker groot vertrekke wat ruimte bied vir ons almal. En ‘n swembad. En seunskinnertjie koop ‘n huis wat ons vir twee jaar besig hou met restourasie – hier word afgebreek en daar word opgebou, geverf, nuwe kaste ingesit, stowe en kombuistoerusting installeer en tuin gemaak.
En ons word moeg. Want, intussen gebeur die regte lewe ook nog: soms woon jy begrafnisse by, word self siek en beland in die hospitaal en help om ander siekes te versorg. Tussenin moet jy darem ook wasgoed was, kosmaak, skottelgoed was, inkopies doen en so nou en dan bietjie die huis skoonmaak. En die familie kom kuier, of ons spring op die vliegtuig om vakansie te gaan hou op ander plekke. Jy weet, selfs afgetredenes hou van ‘n paar dae vakansie so nou en dan.
Hierdie afgetredene word veral moeg in die winterkoue. Ek gaan vroeg slaap, so by nege-uur in die aand, en ek slaap laat in die oggend, so tot nege-uur in die oggend. Hierdie koue maak my moeg. Vanoggend staan ek traag op en drink my pille saam met my eerste koppie tee. Toe drink ek my eerste koppie koffie saam met my ontbytbroodjie. Toe beweeg ek traag uit die bed, want vandag is stortdag.
Ek stort en was hare net so elke derde dag. Tussenin doen ek ‘n lappiebad in die wasbak of ‘n bidetbad by die toilet, want die gesig en die gebied tussen die groottone moet darem skoon bly. Toe ons hierdie huis gerestoureer het, het ons die een badkamer heeltemal oorgedoen met die oog op die veiligheid van afgetredenes wat traag is vir bad.
Dié werkie het ons in die somer gedoen en nooit daaraan gedink dat dit blêrrie koud raak hier in die winter nie. Dus is daar nie ‘n ingeboude verhittingstelsel in die badkamer nie. En nou is die begroting nie meer so vriendelik nie. So vanoggend sleep die afgetredene haar trae lyf uit die warm bed, gang af badkamer toe vir ‘n behoorlike stort en seunskinnertjie loop agterna met die gasverwarmer.
Dis koud in daai badkamer, verwarmer ten spyt. Ek bibber myself skoon binne tien minute, hare gewas en alles. Gelukkig is my hare kort geskeer, nommer twee, want om lang hare te was en en te stilleer op so ‘n bitterlik koue dag, sou net te veel gewees het vir ‘n afgetredene se gestel. Tien minute later sleep ek gang af terug slaapkamer toe, dik toegerol in my Woolies kamerjas, handdoek om die kop en slippers in die hand. Gelukkig is daar matte in die slaapkamers. Seunskinnertjie kom agterna met die verwarmer wat nou diens kom doen in die slaapkamer wat bekend staan as Die Sauna. Die kinders wat nog jonk is – middel-veertigs – het gou geleer hoe koud afgetredenes kry.
So sit ek in my gemaklike stoel in my warm kamerjas met nog ‘n kombersie oor die knieë, en die handdoek nog steeds om die kop, en snak na asem wat langs pad weggeraak het. Ek sit en luister na rock muskiek uit die 70’s en raak dalk weer so ‘n bietjie aan die slaap. Dioe kamer is nou so lekker warm. Tienuur kom die meisiekinnertjie in en lig my in dat selfs afgetredenes hierdie tyd van die oggend al aangetrek is. As toegewing vir die wrede ontnugtering, maak sy my bed op en trek my compression socks vir my aan. Sommige dinge is net makliker vir diegene wat nog in hulle veertigs is en sokkies aantrek is harde werk op ‘n hoë ouderdom. So teen amper elfuur is my hare droog en ek is behoorlik aangetrek, beroom en bepoeier, en ek maak my kamer aan die kant. En ek drink ‘n tweede koppie koffie.
Dis toe dat ek besef ek het nie al die werk (die soort waarmee ons geld verdien) vir die week afgehandel nie en ek begin om die laaste paar webtuistes se opdatering af te handel, en die nodige lêers van die rekenaar af te laai.
En toe arriveer my bord kos. Ek eet in die Die Sauna in die winter, want daai kombuis is ‘n straf uitgedink vir afgetrede heidene. Saam met my laaste skeppie rys, maak seunskinnerjie alarm; die karre gaan nou wegspring vir F1 Sprintresies by Silverstone. Ek gryp my warm bersie en ‘n klein boksie tjoklits, en seil gang af na die kamer met die vuurherd. Seunskinnertjie kom agterna met die gasverwarmer vir ekstra hitte vir die afgetredene.
Ons moedig die Italiaanse drywertjie in die Mercedes aan, lamenteer die stadige gang van die rooi Ferrari en byt ons naels ter wille van die twee Papajas wat ook op die baan is. Die Italjanertjie wen, maar die afgetredene wag nie om hom op die podium te sien nie; sy reeds is op pad terug kamer toe om die laaste werk af te handel. Die seunskinnertjie kom agterna met die gasverwarner. Ek doen die werk met oë wat begin skuins hang en ‘n rukkie later rol ek myself toe in die warm blou bersie, skakel musiek aan op You Tube en binne minute slaap die afgetredene soos ‘n babatjie.
‘n Uur later is dit opstaantyd en ek grawe onder in my kas vir ‘n pakkie koekies, want seunskinnertjie die gasverwarmer kom gryp want die karre staan alweer reg daar by Silverstone vir die kwalifiserende rondtes. Ek luister net gou klaar na die Righteous Brothers se Unchained Melody daar op You Tube voordat ek en die blou bersie weer gang af trek.
Die meisiekinnertjie raak moeilik vir die twee F1 geestriftiges, want ons moet glo begin tasse pak. Visstokke, ekstra bersies en warm klere wat nie in die tasse gaan pas nie, moet môre reeds ge-Pudo word om in Uvongo te wees wanneer ons daar aankom. Meisiekinnertjie is die enigste een wat glo aan beplanning. Ja, hier rondom die afgetredene word alweer beplan vir ‘n vakansie. Die groot probleem is glo om ‘n inpakplekkie te vind vir al die baie goed wat die afgetredene elke dag benodig, selfs wanneer sy met vakansie is.
Ek sit en skribbel nou in my dagboek met een oog op die horlosie, want slaaptyd kom nader.
En só vlieg my dae verby, sonder veel aktiewe beplanning van my kant af. Dis minder moeite en minder teleurstellings oor dinge wat skeefloop.
Vat liewer sommer net die lewe soos hy kom.










seegogga
Mmm klink baie of jy baie besig is met niksdoen…. gelukkig is dit een vd dae weer somer. Geniet d vakansie!
HesterLeyNel
Dankie Seegogga. Ons sien so uit om weer ons tone in die seesand te gaan druk. Maar hierdie laaste paar dae van inpak en regpak raak ook stresvol. As ons eers op die lughawe is, sal die helfte van die stres wegval.
Lekkervurigeaffêre
Besige koulike jy, mens kan sommer lees en voel hoe jy opgewonde is oor julle komende vakansie.
HesterLeyNel
O ja my lief. Kan nie wag om my boude op daai vliegtuig se sitplek te kry nie. Kan jy glo, my dogter is besig om klein pakkies van al haar kruie te verseël en in te pak? Ons is nie groot uit-eters nie, en hou van ons eie kos, so sy maak seker sy kan kook daar in die goed toegeruste kombuisie. Nou bly ek maar onder haar voete uit hier in my warm kamer.
perdebytjie
Ek het nou hierdie blog baie geniet! Jy beskryf dit so goed en ek kan daarmee saamstem… afgetredenes se dae is heeltemal te kort.
HesterLeyNel
Dankie By. Ek dink ons het maar net nie die soort geaardheid wat jou laat stilsit nie. Ons voorgeslagte het nog die geheim geken van op die stoep sit en koffie drink en pyprook terwyl hulle doer in die doerte in staar. Ek is te kriewelrig van aard.
Anonymous
Ah dis so kostelik dat seunskinnertjie die verwarmer so oral agter jou aandra. En lyk my Karen hou jou ook mooi dop en sorg dat jy behoorlik versorg word. Klink my julme is al drie al reg vir daai vakansie, ai jy gaan dit geniet. Onthou om vir ons fotos te stuur
HesterLeyNel
Ja, hulle kyk goed na my en die vakansie is iets waarna ons nou al ‘n rukkie lank uitsien. Someone? Ek probeer om agter te kom wie se skuilnaam dit is 🤔
Lana Wood
Kon die prentjies voor my sien afspeel. Jou seun met gasverwarmer al agter jou aan, te kostelik.
HesterLeyNel
Dit is nogal kostelik dat hy deesdae so bedaard en geduldig is. Hy was nie so in sy jonger dae nie en moes dit langs pad aangeleer het.
Anne
Deesdae voel my dae ook te kort en ek wonder hoe ek ooit voltyds gewerk en drie kinders groot gemaak het. My oudste seun vertel my: “We all turned out okay” 🙂