My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Nou het ek die perfekte alibi vir niksdoen

“Dis die see en die son se skuld. Jy het ‘n lekker alibi vir niksdoen,” sê Kameel netnou vir my toe ek – vir die soveelste keer – verskoning vra omdat ek so min skryf deesdae. Dis tog só waar. En tog nie die héle waarheid nie. Die see en son sou nie veel beteken het sonder die teenwoordigheid van my nabymense nie.

Ek lamenteer lankal die feit dat my dae so vinnig verbyskiet, my lewe so ietwat oppervlakkig en nutteloos deurgebring word – onproduktief is die woord. Maar ná vele oorweging en nadenke het ek nou besluit dis geheel en al nie die waarheid nie. Na soveel jare se gejaag om te werk, te sorg en dáár te wees, het dit nou tot my deurgedring dat dat ek voorheen wel gewerk en gesorg het, maar ek was nie dáár nie. By my mense. En ek het geen voorsiening gemaak vir me-time nie.

Dis hoekom ek die hele tyd ná my aftrede, SES JAAR GELEDE, nog skuldig en kriewelrig voel. Ek is nie bésig nie en dit voel nie reg nie. Maar dit ís reg. Dis heeltemal reg as ek – vir ‘n verandering – binne die spoedgrense ry; ek hoef my nie te haas nie. Dis maar reg as die botter skielik opraak en ons sommer maar margarien op die brood smeer. Dis absoluut en heerlik bevrydend rég as ek besluit om laat te slaap, heeldag saam met my mense te kuier, en dan my bed eers weer op te maak wanneer ek wéér gaan slaap.

Ek kyk nou sommer in die middel van die dag of vroegaand reeds tv saam met my man. Bloodline op Netflix is op die oomblik ‘n trekpleister. Ek speel Candy Crush sesuur in die oggend. Ek lees – en ek het baie om in te haal – ek is besig met my vyfde boek sedert ek ‘n week gelede toegang gekry het tot die Libbystelsel. Jip, en ons loop weer kilometers elke dag. Die son en die see roep. Ek het nou ‘n alibi.

Die foto hierbo is Sondag – Lentedag – geneem. Dis die eerste lentedag in baie jare wat dit werklik vir my na lente gevoel het. Ons was vroegoggend by ‘n kerk om fotos te neem vir hulle webtuiste. Ja, daar word tog werk gedoen so tussen-in. Daarna het ons kampstoele in die karretjie gegooi en ‘n pizza gaan verorber op die walvisdek. Laatmiddag het goeie vriende kom kuier en ons het wafels gebak en tussen die vyf van ons twee liter roomys opgeëet. Dis nou behalwe die ander toppings wat by die roomys gevoeg is. Skynbaar voel ek ook nie meer skuldig oor my dieet nie 😁 Moenie dat die kardioloog dit hoor nie.

Lenteblommetjies. Hierdie fotos het ek geneem om ‘n nuwe kamera in te stel. Sommer buite in die kompleks se tuin.

Die punt is – ek voel nie meer skuldig oor my tydsbesteding nie. Ek is nou behoorlik geretaaier. Ek het ‘n alibi vir niksdoen.


Lees ook ‘n Soete Lentedag, Hol-la-dri-o-ha, hol-la-dri-o en Dis heerlike lente, die winter’s verby.

Follow Dis Ekke

29 Comments

  1. Dit klink vir my heeltemal reg soos jy hier skryf en die nuwe kamera doen sy ding ook reg. 😁

  2. Hey tou, die nuwe kamera is defnitief ingestel! Jou lewensstyl klink eksie perfeksie, ek salueer jou op jou perfekte alibi.

  3. Hester, it is SO difficult to get one’s head around slowing down and actually ENJOYING certain activities after having led a very busy working life. You have hit the nail on the head in this post and have every right to enjoy whatever you are doing now that you are retired. I love your photographs too.

  4. Ek wil net sê: “Ek wens ek was jy”

  5. woordnoot

    Jy mag maar..jy het mos immers jou deel vir volk en vaderland gedoen!!!
    Bloodline….oe! Ek het daai reeks gebinge kyk…regdeur die nag eenkeer maar vir my defence..ek het eers na twaalfuur begin kyk! Enjoy!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek probeer om nie meer as twee episodes op ‘n slag te kyk nie, want ek kry rooimiere as ek so lank moet stilsit en dan begin ek neul soos ‘n kind.

  6. Lucky fish!

  7. Splendid photos, dear Hester! You in blossom are amazing. I have updated my design site http://www.artkusudama.com Visit it if you are curious to see what sort of articles I make. 🙂

  8. Blijf maar niks doen als je ons lekker verrast met foto’s van je nieuwe camera.

  9. Jy is bevoorreg, geniet dit, elke dag, slurp die mooi en die lekker van “niks doen” op.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie ekmyselff, ek is definitief besig om die laidback lewenstyl aan te leer. Ons het vanoggend ‘n kliënt gaan sien, vyf minute se ry van ons af en net vir ‘n halfuur, maar ek voel sommer violated. Moet dalk eers strand toe gaan om te ontspan.

  10. Dit liewe Hester is wat jy retaaier noem. Geniet!!!

  11. Welkom by die wêreld van behoorlikafgetredenes…dis wanneer jy nie meer skuldig voel oor jy “niks” doen nie. Dis sover die lekkerste tyd in my lewe. Ek doen wat ek wil, wanneer ek wil en hoe ek wil, sonder enige skuldgevoel.Geniet jou alibi!
    Fantastise mooi foto’s met jou nuwe kamera!

  12. Ek hoor jou deeglik. Geniet elke sekonde. Ek gaan my beurt kry en net dan neffens jou kom inskuif en saam lekker kry….een dag

  13. Goed gestel!
    Pragtige fotos, geniet dit