My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Huweliksherdenking 50 jaar later

Update: nie niemand, nie ‘n enkele persoon nie, ook nie my kinders nie, het agtergekom dat ek baie sleg tel nie. Wowser!!! Ek sal hierdie post maar weer plaas aan die einde van hierdie jaar 😁😁😁

Geagte Brombeer, baie geluk met ons huweliksherdenking vandag. Volgens my berekening van 31 Desember 1976 tot 31 Desember 2026 is dit 50 jaar vandag gelede. Nee, ek het nog nie vergeet nie en daar is nie baie mense wat dit nog sal onthou nie, want die meeste mense wat saam met ons voor die kansel gestaan het, is reeds dood, behalwe die strooimeisie en die strooijonker. En ek.

Ja, ek weet ons was heelwat langer geskei as wat ons getroud was. Dit beteken egter nie dat ek hierdie rampspoedige troudag vergeet het nie. Rampspoedig, ja, want

  • Ons het albei ingestem tot die dominee se voorstel om die The Prince of Denmark’s March (Trumpet Voluntary) in die kerk te speel, maar dit was dalk, op die keper beskou, nie so ‘n goeie besluit nie. Ons het vergeet om die res van die deelnemers hieroor in te lig. My broer wat my moes inbring het buite die kerk se deur viervoet vasgesteek en gewag vir Mendelsohn se troumars om aangehef te word. Ek moes hom amper by die paadjie afsleep na die kansel toe. Die gaste kon nie besluit of hulle moes opstaan of bly sit nie. Die bruidegom het verward rondgekyk en kon nie besluit wat nou eintlik sy rol by hierdie geleentheid is nie. Dalk moes ek liewers iets van die Moody Blues gekies het.
  • My skoene het my gedruk. Ek wou nie geld bestee op ‘n paar wit skoene wat ek net ‘n halfuur sou dra nie en jy het aangebied om vir my ‘n paar te leen by een van ons menige vriendinne. Soos met alle take wat die bruidegom moes verrig, het jy dit uitgestel tot op die nippertjie.Jy het daar opgedaag met die skoene, net betyds vir die foto’s voor die troue, met Annatjie se trouskoene. Sy het ‘n nommer 5 gedra. Ek dra ‘n nommer 7. Jy was nooit onnosel nie, dus moet hierdie vergryp toegeskryf word aan die ou doppie wat jy en Lukas gaan drink het terwyl Annatjie die skoene gepoets het. Jy het net daar by jou dood omgedraai – jy weet dit, nè?
  • Dis dieselfde ou doppie wat jou sommer saam met die dominee laat gesels het terwyl hy die formulier probeer lees het. En toe jy moes “ja” sê, was jou stem weg. Jy het dit eers weer gevind toe ek jou onderlangs ‘n skop gegee het. Ja, en toe gil jy die “ja” uit sodat die gaste gedink dis ‘n jubelkreet.
  • Jy het die trouring laat val, jou klutz. Ek het gelukkig die ring uit die lug geskep (goeie reflekse) en ek het dit toe maar sommer sonder seremonie vir myself aangesteek. Toe het ek en die dominee daaroor gegiggel totdat die gaste ook begin saamlag het.
  • Toe ons die register moes teken, was jy so sopnat gesweet dat jy nie die pen kon vashou nie en ek moes jou help om jou inkklad te versprei.
  • Ek dink die fotograaf was ook uit vir ‘n doppie so op die Oujaarsdag, want hy het op die stoel geklim om ons hande met die nuwe ringe van bo-af af te neem, maar toe val hy deur die opvoustoel, so amper op die nuwe bruid. Sy het geblaas van boosaardigheid en die bruidegom het sy pret uitgetrompetter.

Die huwelik self was nie minder rampspoedig nie, maar ons het dit darem 16 jaar gemaak en ons het drie kinders uit hierdie deal gekry. Dankie daarvoor. Ek het nie die egskeiding berou nie, maar ek het wel gerou oor die huwelik wat feitlik van die begin af gedoem was. Ek sou dit graag anders wou gehad het. Ek huil vandag ‘n bietjie daaroor dat ons nie gelukkig saam kon wees nie. Ek was nie die vrou wat jy nodig gehad het om jou gelukkig te maak nie. En jy het my genees van die idee om ooit weer te trou.

Die egskeiding was amper beter, maar ek wens regtig jy het toe maar liewer weer getrou. Ek sou jou graag gelukkig wou sien saam met iemand wat jou kon liefhê. Gelukkig het ons mekaar darem nie (fisies) te lyf gegaan gedurende ons egskeidingsjare nie, maar ek wens ons het beter oor die weg gekom.

Ek wens ons kon aan ons kinders ‘n beter ouerhuis besorg het.

Ek het jou nooit dood gewens soos baie ander vrouens met hulle mans doen hoewel hulle dit nooit sal erken nie en ek was spyt oor jou ontydige dood. Ek wens dit was onder beter omstandighede. Ek wens ek kon my kinders daardie skok bespaar het.

Ek weet jy het in ‘n lewe na die dood geglo en ek hoop jy het dit behaal. Ek hoop jy is gelukkig en ek wens jou alles wat mooi en goed is vir die nuwe jaar wat voorlê. Dankie dat jy my vandag weer laat lag het, al was dit met trane wat rol.

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. woordnoot

    Hester…..

  2. Anonymous

    Beautifully written. I am so glad that in this age of AI written drivel I can still find something where human emotions bleed into every word and kept me captivated to the end.

  3. Ik begrijp het niet 💯 procent maar mijn hoedje af dat je een huwelijksverjaardag herdenkt na een scheiding. Ik doe het je niet na in 2026 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😊Ons het drie kinders gehad Joke en is geskei toe hulle nog baie jonk was. Jac het later jare weer in ons huis kom woon nadat hy baie siek geword het. Ons kinders, veral my dogter, was altyd in die huis en dit was makliker om na haar pa om te sien terwyl sy by my gewoon het en ek gewerk het. Nou is ek oud en sy kyk na my, terwyl ons by my oudste seun woon. Ek dink kinders sorg dat selfs ‘n egskeiding nie ‘n gesin so maklik uit mekaar kan dryf nie.

      • Mooi gedaan van de kinderen. Ja ze willen het gezin samen houden.

  4. Happy New Year, dear Hester! Oh, what a lovely post & so wonderful photos. I’m happy for you & your marriage that lasted so long.🌹🌹🌹🥂🍾🎄❤

  5. Mensig, nee wat, wat n ramp van die begin af. Beste is dat in die begin stadium het mens dit nie so gesien het nie. Tog vermoed ek dat daar darem seker ligpuntjies was. Mooi nuwejaars wense vir jou en jou familie om jou.

  6. Hester, it is good to hear from you again! These memories that you have shared are precious in the way they show the strength of family ties. You have wonderful children – and that is what counts in the long run.

  7. Wat ‘n tuimeltreinrit is hierdie vertelling – een oomblik giggel ek saam met jou en die dominee en die volgende oomblik maak jou woorde my skrynend hartseer. 🌹

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hierdie dag was die voorspel tot ‘n baie hartseer tydperk in my lewe, Frannie, maar ek sal nooit sal nooit ontken dat daar goeie oomblikke was nie. Dan is daar steeds na al hierdie jare oomblikke wat die woede opborrel – ek het nooit besef hoe diep ek dit onderdruk het nie, tot so ‘n mate dat ek op hierdie stadiun nog steeds gerou het net omdat ek ‘n verhouding nie kon laat werk nie; ek kon tot met die skryf van hierdie blog nie eens rou oor die dood van hierdie man wat die pa van my kinders nie. Toe ek hierdie publiseer het, het ek vir die eerste keer met die herlees daarvan gereageer met trane en nie met woede nie. Nou, drie jaar na sy dood! Jirre, die dinge wat mens jouself aandoen !!!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.