My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Ouderdom ontsien ook nie die neus en die reuksin nie

selective close up photography of brow dog looking up

Photo by Simon Robben on Pexels.com

My dogter kla elke dag oor haar toe neus, veral wanneer sy wakker word in die oggend. Ek voel jammer vir haar en baie skuldig oor die feit dat hierdie ’n oorgeërfde familiekwaal is. My hele familie van vaderskant af ly onder hierdie probleem. Dit het niks te doen met verkoues en vergrote neusmangels soos wat die dokters my al die jare probeer wysmaak het nie; my neusmangels is verwyder in my middel-twintigerjare en dit het geen verskil gemaak aan die probleem dat ek snags beswaarlik kon asem haal nie. Swak gene, dis omtrent al wat my kinders by my erf en ek voel altyd dat ek om verskoning moet vra vir hierdie erfporsie.

Ek het jare lank neusdruppels en neussproei – op aanbeveling van dokters – gebruik om my neusgange oop te hou, want dis half moeilik om te eet of te praat as jou neus so toe is soos ’n klei-os se gat.  Heel voorspelbaar, het dit uiteindelik gelei tot aanhoudende neusbloeding. Deesdae weet ons van beter. Verskillende diagnoses en behandelings het geen verligting opgelewer nie en dis hoe ek op die Goeie Vrydag net ná die aanvang van die covidpandemie in die trauma-eenheid opgeneem is met onstuitbare neusbloeding en ’n tampon in my neus. Laasgenoemde tot groot verbasing van die mediese personeel.

Op telefoniese aanbeveling van die ONK (oor, neus en keel spesialis) wat reeds weg was vir die langnaweek, is ’n stuk lap so groot soos ’n dubbelbedlaken vasgestamp in my neus met ’n pinset so groot soos ’n koevoet. Ek het ’n drup ontvang om die bloeding te stop en daar het ek alleen in die afsonderingsaal gelê totdat my covid status bepaal is en ek die Woensdag teater toe is.

“Hoe op aarde het jy asem gehaal tot nou toe?” vra die ONK so ewe ná die tyd. Dit blyk dat my neusseptum heeltemal toegebuig was aan die een kant. Gebrekkig. Die oorerflike familiekwaal. Dis tydens die operasie reg gebuig toe die are in my neus gebrand is, en uiteindelik kon ek normaal asem haal. Mits ek nie ‘n masker op het wat my neus toeknyp nie, bygesê. 

Waar was hierdie man my hele lewe lank? Wel, vir ten minste van die eerste helfte van my lewe was hy nog nie gebore nie, maar ek is bly dat ons uiteindelik ontmoet het. Tot vandag toe het ek nog nooit weer gesukkel met ’n toe neus nie. Happiness is … om onbelemmerd asem te haal. Ek wens ek het hom ontmoet voor die dae toe ek moes snak na asem wanneer ’n soen te lank geduur het, wanneer ek in die middel van die nag, alleen en misrabelik koud, regop gesit het op die sitkamerbank om asem te skep. My lewe kon soveel anders gewees het.

Maar ek kan nog steeds nie goed ruik nie. Dit kan dalk ook iets te doen hê met die feit dat ek amper veertig jaar lank gerook het. Of die ouderdom het my neus aangetas. Ek kan nie wyn waardeer nie en die enigste koffiegeur wat ek respekteer is ’n ordentlike gegeurde Italiaanse latte. My gesinslede kan almal goed ruik, ten spyte van toe neuse en so aan. Maar wanneer hulle liries raak oor die reuk van rose of braaivleis wat op die aandlug sweef, of  kla oor die “wanklanke” van die septiese tenk, pleit ek bewusteloos. ’n Selektiewe reuksin kan dus ook soms ’n seën wees. Net soos wat ek onbewus bly van blaffende honde en kragopwekkers in die nag – dit hou verband met my gehoor wat besig is om te verouder. Ek het geleer om met balhorige ore saam te leef en vind dat daar selfs voordele aan verbonde is.

Ek kan sekere reuke baie goed onderskei: kruie en speserye byvoorbeeld – tiemie, roosmaryn, oreganum, anys, kaneel, naeltjies, koljander, kardemom, kerrie – geen wonder dat ek die Indiese kookkuns so omhels op my oudag nie. Ek vrek oor kruie en speserye in my kos. Hierdie reuke kan ek op my tong proe.

Kom my buurvrou die anderdag by ons huis verbygeloop en wil weet wat kook ek wat so lekker ruik. Ek was skoon verbaas, want die kos was nog in die geseëlde pot en die geure verberg, of so het ek gedink, maar toe ek uitstap buite toe, ruik ek ook die heerlike aroma wat daar uit my kombuis kom. Ek dink ek moet môre kerrie-afval kook 🤔😁 en hier buite met my neus punt in die wind gaan staan.

Follow Dis Ekke

20 Comments

  1. Ik heb 2 septum-correcties gehad.
    En nu gebruiK ik dagelijks neusdruppels.

    Mijn ademhaling is een stuk beter.

    Ik wens jou en je familie ook een goede (neus-)ademhaling toe.

    Zonnige groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Rob, dieselfde goeie wense vir jou. Deesdae gebruik ek net so nou en dan ‘n saline sinus rinse en dit werk baie goed vir my.

  2. Ek is bly jy kon verligting kry, al is dit bietjie laat in jou lewe.

  3. Jinne, dit voel soos gister daai neus en die begin van Covid. Hoe het ons nie bekommer nie. Hoe lekker om terug te kyk en jy het verligting. Geniet die reuke!🙏💝

  4. Lekker skrywe met ‘n feel good einde. Ek hou van “balhorige ore! “

  5. Comment by post author

    HesterLeyNel

    Dankie Lewies!

  6. Klink omtrent ‘n foltering wat jy al die jare moes deurmaak en dit omdat niemand behoorlik ondersoek ingestel het om te kyk wat in daardie neusgange aangaan. Ek hou van jou afsluit met kerrie afval en buite staan om dit te ruik.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, dis eienaardig hoeveel herinneringe ‘n spesifieke reuk kan oproep -afval is een van die reuke wat my summier terugvoer na my kinderdae. Ek dink jou reuksin speel ‘n groter rol in jou lewe as wat baie mense besef.

  7. Dankie tog vir mense wat jou lewe posief beinvloed⚘al kon dit gerus vroeer gebeur het. Ek miet biki die balhorige ore onthou in strategetiese tye wanneer ek goed gevra of vertel word wat ek nie wil hoor nie… hopelik kan jou dogter nou gaan vir daai operasie?

  8. woordnoot

    Daai tampon in die neus klink so bekend!! Maar ek moet sê…as jy kerrie afval kook sal ek maar verby hou. Daardie reuk het ‘n paar negatiewe konnotasies vir my, al kook ek soms vir die Oom (met n prop in my neus gedurende die kookproses!)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Marineer jou vleis vooraf vir 2 of 3 ure in wyn of appelasyn saam met jou gunsteling kruie en speserye wat die reuk sal verdryf – ek gebruik vars kruie uit my tuin, gooi ‘n paar naeltjies en star aniseed by en siedaar! Ek hou van hierdie getemperde wilde reuk 😊

      • woordnoot

        Het nou hierdie raad sommer by die resep gaan neerskryf!! Dankie Hester!!

  9. Ai, wat ‘n heerlike storie om te lees wat verskeie emosies by my wek. Laggend stel ek my voor die tampon in die neus en ander se gesigte. Hartseer oor jy al die wonderlike reuke mis. Ek is bly dat dit lyk asof jy ‘n oplossing gekry het. Geniet al die nuwe reuke wat jy gaan ruik.