My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Ouderdom word ongerieflik wanneer sien én hoor ’n probleem is  

woman wearing silver colored earring

Photo by Agung Pandit Wiguna on Pexels.com

Ek dink om te hoor was nog altyd vir my ’n probleem, van kindsdae af, want my ma het my gereeld aan die oor gegryp hóór jy my?! wanneer sy met my gepraat het. Ek het nooit geweet hoe om daardie vraag te antwoord nie, want hoe kon ek haar nie hoor wanneer sy reg voor my gestaan en hard gepraat het nie?

Ek het eers veel later verstaan dat daar ’n verskil is tussen hoor en luister. My ma wou gehad het ek moes lúíster, maar ek dink nie sy het besef dat ek dalk nie so goed hóór nie. My standerd 4 (graad 6) onderwyser het hond se gedagte gekry en ’n eenvoudige toets gedoen deur sy hand voor sy mond te hou wanneer hy met my praat. Ek het mettertyd onbewustelik geleer om lippe te lees en die gewoonte aangeleer om mense stip in die oë te kyk wanneer hulle praat. Dit word soms (verkeerdelik) vertolk as buitengewone belangstelling in hulle geselskap, want ek hoor wel wat hulle sê, maar ek het nog steeds nie geleer om te luister nie – daarvoor raas my kop te veel. Enniehoe, saam met die klanke wat ek wel kon hoor, het liplees my deur die lewe gesien sonder ’n gehoorstuk of te veel probleme – totdat covid en maskers deel geword het van my lewe. My vriende (en telebemarkers) weet lankal reeds dat ek nie goed kan hoor oor ’n telefoon nie, maar die res van die samelewing was onbewus daarvan dat klanke my maklik ontglip.

Hoekom het ek nooit die probleem aangespreek nie? Baie mense dra immers gehoortoestelle met groot sukses. Behalwe die uwe. Sy kan nie saamleef met toestelle wat nie in die see kan swem nie nie. Of wat suis in die wind op die strand nie. Buitendien, ek kan luister na rock ’n roll musiek sonder hulp, ek hoor en herken die klanke van my huismense se stemme sonder ’n probleem, en bonus! – ek lê nie snags wakker wanneer die bure se honde blaf of hulle katte kattemaai nie. Daar is besliste voordele aan selektiewe doofheid.

Maar toe het covid en maskers deel van ons bestaan geword. Sonder waarskuwing het die getjommel van bankamptenare, winkelkassiere, mediese personeel, karwagte, biblioteek assistente – kortweg, die res van die samelewing, vir my ’n beproewing geword. Dit was net nie meer vir my moontlik om alleen winkel toe te gaan, my dokter te gaan spreek, of my hare te laat sny nie. Gelukkig het ek ’n oplossing gevind in my dogter wat my oral vergesel en as tolk optree wanneer nodig, maar selfs al voel ek veiliger en beskut teen allerhande kieme wanneer ek my masker dra, is ek tog nou verlig dat ek weer ’n meer normale lewe kan hervat, want daar was die dae wat selfs my én Karen se spanpoging om te kan hoor net nie suksesvol was nie.

Dis wat gebeur het die dag toe die spietkop my afgetrek het net daar voor Shelly Beach. Pandosie het nog ewe behendig om die slaggate in die pad gedans toe Karen skielik gil:

Stop! Stop! Daar’s ’n spietkop.

Sowaar, daar staan hy en beduie met die wit handskoentjie dat ek op die skouer van die pad moet stilhou.

O f… vrek, sê ek vir Karen, dis ’n 60 km sone.

Ek hou stil, sit gou my masker op, skakel die enjin af en trek die sleutel uit sodat Karen my lisensie uit die aangehegte plastiekhouer kan haal. Die man staan hier by my venster en beduie ek moet die venster oopmaak. Wag! Wag net, beduie ek, hierdie venster kan nêrens heen gaan as die enjin afgeskakel is nie. Uiteindelik is die sleutel terug in die gat en ek rol die venster af. Prop my lisensie in sy hand en wonder hoekom hy so frons onder die masker. Hoe vinnig het ek gery wonder ek? Hy sê iets, en ek draai my kop na Karen toe. Sy het ook nou ’n masker op en probeer om saggies te praat.

Hy’t gegroet, vertolk sy.

Good morning Officer, groet ek ewe vriendelik terug en sy frons ontspan ’n bietjie. Hy sê weer iets en ek draai my kop na Karen toe.

Hy wil net na die kar kyk, sê sy.

Okay, you’re welcome Officer, sê ek met ’n stralende glimlag. Ek is gewoond daaraan dat mense hulle verwonder aan Pandosie wat nogal ’n aardige brulgeluid maak vir so ’n klein karretjie.

Hy kyk my aan asof al my varkies nie op hok is nie en loop voor om die kar. Dan kyk hy op en sê iets, beduie met sy vingers soos iemand wat muggies doodskiet in die lug. Ek kyk vir Karen en sy rol haar venster af, praat met hom en dra die boodskap oor.

Ma moet die flikkerligte aan- en afskakel.

Oh okay, lag ek ewe vriendelik en skakel die ruitveërs aan. Oh sh… sorry Officer, sê ek en ek probeer die hefboompie links van die stuurwiel.

Sy frons verdiep en hy kyk my nou baie wantrouig aan. Hy wys na die ligte en sê weer iets. Ek draai my kop en kyk vir Karen.

Ma moet die ligte aansit, sê my dogter.

Waar sit daai knoppie? vra ek benoud en bestudeer die paneelbord.

Ek kan nie onthou nie, sê Karen in ’n benoude stem. Haar kop raas ook nou lekker. Ek toets al die hefboompies en vind die ligte. Kyk triomfantlik na die geregsdienaar.

Ma, moet die hoofligte aansit.

Trap die briek.

Sit nou weer die flikkerligte aan.

Ek swaai my kop heen en weer tussen my martelaar en my dogter soos ’n olifant met ’n seer oor. My senuwees is nou besig om uit te rafel. Mens dink mos nie aan die werking van jou kar terwyl jy bestuur nie – ná al die dekades wat ek agter ’n stuurwiel deurgebring het, reageer jy outomaties en jy doen wat gedoen moet word sonder om te dink.

Uiteindelik staan hy weer langs my venster en beduie na my stuurwiel toe.

Ma moet die toeter druk, sê Karen toe ek weer my kop in haar rigting draai.

Ek kyk hom mooi in die oë. Officer, sê ek kalm, I don’t use my hooter in traffic. Die waarheid is dat ek nou skielik geen idee het waar die toeter is nie. I may be hard of hearing, but I am a very good driver, and everything on this car is in perfect working order, but you are making me real nervous! Dit lyk asof hy hom wil vererg, maar beduie tog dat ek maar kan ry. So met die wegtrek druk ek liggies die toeter en waai vir hom, nou weer in volle beheer van my senuwees en my vervoermiddel. In die truspieëltjie sien ek hoe hy sy kop skud.

Follow Dis Ekke

31 Comments

  1. Jy weet mos ek dink in prentjies ,🤣🤣 ek het dit nou erg geniet

  2. Amanda

    Ek het die apparate maar dra dit nie graag nie
    Dus kan ek só goed identifiseer met jou kostelike vertelling

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Amanda. Ek weet van vele mense wat ook nie hulle apparate wil dra nie en ek neem hulle nie kwalik nie. Ek is dus nie alleen in my veronderstelling dat dit nie altyd gemaklik sal wees nie.

  3. woordnoot

    En ek moet die hou inkry.. want ek werk in die industrie waar ons almal help om te hoor!😁. Maar ek moet bieg.. tydens hierdie paar weke se varkgriep het ek ook maar gesukkel om te hoor! Ek het maar my apparaatjie gaan uithaal….sometimes a girl’s gotta do what a girl’s gotta do…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Het daai pes jou ook getref? Ek het die afgelope tyd nie vreeslik baie op WP gekuier nie en het tred verloor van hoe dit met almal gaan.

      • woordnoot

        Jip….ek is vandag by dag 23.. Begin nou eers voel dat ek nog deel is van die lewe. Natuurlik het April se covid baie bygedra tot die situasie. Ek is ook maar eers nou weer op WP. Het iewers in my koorsigheid gesien dat daar n KLOMP mense my begin volg het…ek moet dit nog gaan bekyk…

  4. Jy skets dit so mooi. Ek is so so bly die maskers is af. Ek het so gesukkel om mense te hoor

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Woestynkind., dit was ‘n moeilike reis vir my. Mens voel so uitgesluit en hulpeloos as jy nie ‘n gesprek kan volg nie.

      • Precies Hester! Je hebt het wel met humor beschreven – ik heb zitten gniffelen (ken je dat woord?) – maar het is serieus lastig als je mensen niet kunt verstaan door die mondkapjes. Ik vond het hier, met die Denen die toch al niet goed articuleren hier, een ramp. Ik hoop maar dat we niet wéér een tijd krijgen dat die akelige mondlapjes weer voor moeten…

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          gniffeln = giggel in Afrikaans (chuckle) 🤣 Ja, ek het maar swaar asem gehaal ook onder die masker en dit het my moeg gemaak wanneer ons in die winkels rondgestap het. Dis ‘n verligting om daarsonder te gaan, maar ek dra dit wel nog in plekke waar daar siek mense is – hospitaal of apteek – ingeval dit tog help om die kieme en virusse weg te hou.

  5. My man weier om sy apparate te dra. Ons twee kan mekaar hoor, maar nou wonder ek of hy hulle sal dra wanneer ons kinders van Noorwee volgende week kom kuier … jou beskrywings is so goed dat ek alles kan ‘sien’ wat ju beskryf 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Anne. Ek het simpatie met jou man, want ek vind dit ongerieflik om enigiets in my ore te druk, selfs die oorproppe wat ek gebruik wanneer ek swem. Dit maak my ore seer. My huismense se stemme kan ek gelukkig altyd goed hoor, selfs wanneer ons in verskillende vertrekke is.

  6. Bwahahah, Hester – jy het nou behoorlik ‘n volledige draaiboek geskryf, wat ek geweldig geniet het.

  7. Anonymous

    Lekker gelees aan hierdie lamentasie van jou! Ek deel jou hardhorendheid, myne is ouderdomverwant. Ek het ‘n apparaatjie maar gebruik dit net wanneer ek TV kyk. Moet sê, soms is daar ‘n ligte frons van irritasie op my huisgenoot se gelaat as ek nie nie lekker hoor nie. Dan sis sy “Jy lyssster nie as ek praat nie”!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Lewies, is dit jy? wat hier by my verskyn as Someone? Ek en my huidgenoot (wat kastig nog perfekte gehoor het) skakel deesdae die onderskrifte aan wanneer ons ‘n fliek of reeks kyk, anders kan ons nie die draad van die storie volg nie. Hoekom mompel mense so? 🤔en die akteurs het die slegte gewoonte om hulle rug op die kameras te draai wanneer hulle ‘n dramatiese monoloog lewer.

  8. Jy het dit kostelik beskryf. Ek het nou heerlik gelag! Ek het ook my apparaatjies. Die nuutstes is so klein, mens sien en voel hulle skaars.
    Die maskers het mens regtig ontneem van natuurlike sosiale verkeer.Gister het ek die eerste keer gesien hoe lyk my gunsteling kelnerin by ons koffiewinkel… het haar nie herken nie.😀😀

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O nee, ek ken daardie gevoel wanneer vreemde mense met my gesels asof ons ou kennisse is! Ek het my huisdokter in PnP raakgeloop en gewonder hoekom die man so vriendelik is met my totdat Karen my in die ribbes gepomp het “dis ma se dokter daai”.

  9. Ek het dit geniet en verstaan heeltemal. Julle is baie blessed daai lappe is nou af, wie weet dalk eendag hier ook🤞

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Al wat my bekommer is die feit dat die pes weer en weer uitbreek in verskillende lande net wanneer mens begin dink dis nou oor. Ek het beslis deesdae ‘n probleem met mense wat oor my asem haal – all in the mind, I know.

      • Hulle sal aan en aangaan met dit, wees bly julle het nou vryheid van dit. Afstand werk vir my ook met mense, haat mense wat in my nek asemhaal🌻🌻

  10. Ek kan dink hoe ongemaklik dit vir jou is… was… met die maskers. Beide my ouers het gehoortoestelle. Ouma is halstarrig om dit te dra, en as ons harder praat omdat sy dit nie ingesit het nie, sal sy kla: “Hoekom skree julle op my.” Ek vermoed sy sien iets in ons gesigte raak wat soos skree “klink”? 😂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek ken daai storie. My een oor hoor nog perfek, maar ek het van my kinderdae af probleme gehad met die ander oor. My mense weet hulle moenie op my skree nie – praat net by die regte oor 🤣

  11. Ai, het ek nou die geniet, want as iemand my iets vra, kan ek beslis nie altyd vir hulle sê hoe ek dit dan nou doen nie.Ek moet altyd gaan nadink. So, ek sal ook so iets oorkom, soos jy. Ek sukkel ook met my gehoor en moet my kop altyd half skuins draai om iets te hoor. So, baie keer sê iemand iets en dan hoor ek dit nie, maar oor ek dan half dom voel. smile ek net. So, beland ek dalk nog dieper in die sop of hul idee dat ek dom is. Eish.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek ken ook daai verleentheid – ek vra gewoonlik een keer die persoon om te herhaal wat gesê is en die tweede keer knik ek net my kop. Ek wonder soms watter stelling ek beaam het 🤣 gelukkig is ek goed grys en word baie dinge vergewe.

  12. Ek leef met twee apparaat draers in die huis. Dis erg as hulle appparaatloos televisie kyk, my ore kan dit nie hou nie. Dis weer vir hulle erg as ek duidelik praat, dan hou hulle apparaat ore nie daarvan nie. Dilemma. Hester jy vertel so lekker, ek was die bekdrywer in Pandosie om die spietkop se verwarring gade te slaan.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die arme man. Ek probeer om my in te dink hoe hy gevoel het toe hy gekonfronteer is deur ‘n verontwaardige ou heks. Ja, die apparaatjies. My seun het vir my ‘n stel oorfone gekoop wat ek kan gebruik om my musiek of audioboeke te luister. As ek nie gou genoeg oorskakel na oorfone toe oor middagslapietyd nie, is Jac baie vinnig om kapsie te maak, maar hy dink niks daarvan om die tv kliphard te speel tot laatnag nie. Ek druk net my goeie oor in die kussing in en ignoreer die klank.