My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ma het Oë soos ‘n Border Collie

Border Collie

Ma het oë soos ‘n Border Collie. Net so sê my seun. Na aanleiding van wat? Ons was besig om TV te kyk en my kinders is verbaas dat ek alles op die skerm kan raaksien, sonder ‘n bril, ná my katarak- en lensvervanging. Dis een ding waaraan sy nie gewoond gaan raak nie, sê Karen, om haar ma sonder ‘n bril te sien.

Ek het lank voor haar geboorte begin om bril te dra, en dis hoe sy my lewenslank geken het. Ek het soggens eerste ding my bril opgesit sodat ek ook die wêreld om my kan sien. Ek sou dalk vergeet om my tande in my mond te sit voordat ek by die hek uitgaan (ek doen dit gereeld en dan moet iemand terug hardloop om my glimlag te gaan haal), maar ek het altyd ‘n bril opgehad.

En nou sien jy dat jou ma mooi blou het? vis ek vir ‘n kompliment.

Ma het oë soos ‘n Border Collie, sê Corné. Dis my beurt om verbaas te wees. Is dit nie ‘n skaaphond nie? Ja, sê hy. Het jy al gesien hoe beheer ‘n skaaphond ‘n trop skape net deur vir hulle te kyk? Jy het daardie selfde kyk.

En hy gaan voort om te beskryf hoe dit voel om die ontvanger van daardie “kýk” te wees. Hy kon homself die moeite ontsien het, want ek weet presies hóe daardie kyk jou laat voel. Dis ‘n kyk wat ek oorgeërf het by my eie ma en sy het dit van haar ma (my ouma) af gekry. Dis ‘n kyk wat jou stokstyf laat word, en dan krimp jy in tot tot jy ‘n staat van onsigbaarheid bereik, net voordat jy wegsmelt tussen die vloerplanke. Want as jy daardie kýk gekry het, het jy geweet jy het drooggemaak.

Nou wonder ek of my seun onthou van die dag wat hierdie Border Collie se kýk heelwaarskynlik een dag lank gelede sy lewe gered het. En mý gered het van lewenslange waansin.

Corné was in Sub A, dus was hy ses of sewe jaar oud. Ek het voltyds in die middestad van Bloemfontein gewerk. Ek het hom elke weeksdag gedurende my etensuur by die skool gaan haal en huis toe geneem. Ek het altyd vir hom voor die skoolhek gewag. Daardie dag is ek opgehou in ‘n vergadering en die skoolklok het reeds gelui toe ek daar aangekom het. Kinders het by die hek uitgestroom en ouers het buite in hulle motors ongeduldig op mekaar en hulle telge geskel terwyl hulle probeer het om parkeerplek te kry.

Dit was in die middel tagtigerjare en reëlings rondom dissipline en die kinders se veiligheid was maar slapgat, om die minste te sê. Daar was nie ‘n skolierpatrollie soos in my skooldae nie en Bloemfontein se verkeer was in elk geval nog altyd ‘n gevaar vir mens en dier. (Sal nie help om met my te stry nie; ek het jare lank daar gewoon).

Met my aankoms by die skool het ek besef dat ek met my gesukkel om parkeerplek te kry, aan die verkeerde kant van die pad was. Corné het aan die oorkant van die straat voor die hek vir my gewag. Ek het destyds met ‘n Toyota Sprinter TRD (Toyota Racing Development) gery en ek het besef dat hy onmiddellik die brul van my motorenjin sou herken. En dan sou hy oor die straat hardloop…

Here…asseblief.

Ek het nie die motor afgesluit, of die handrem opgetrek, of die motordeur toegemaak, of enige van daardie onbenullige takies verrig voordat ek self tussen die motors deur begin hardloop het nie. Ek het net gekyk na die wit kuif wat wapper in die wind en die wyetand glimlag aan die oorkant van die pad.

STAAN! het ek gebrul, terwyl ek reguit in sy oë gekyk het. Hy het net daar bly staan, stokstyf geskok, en na my gestaar. Ek het geweet sy instink was om na my toe te kom, maar ek het my vinger gelig en oogkontak gehou: BLY! EK KOM JOU HAAL!

Dis die breedste pad wat ek ooit in my lewe oorgesteek het.

Aan die ander kant het ek my hand vir hom uitgehou en ons het omgedraai na my motor toe. Toe eers het ek besef dat elke motor op daardie pad doodstil bly staan het — geen klank van enjins wat brul nie, geen getoeter en geen geskel nie. Ons het hand-aan-hand oor die straat teruggeloop en eers toe hy veilig agter in die motor was, met die deur stewig toegemaak, het die verkeer in beweging gekom.

Ek het agter die stuurwiel ingeskuif en my kop in my hande laat sak.

Mamma, het ek verkeerd gedoen? het ‘n klein stemmetjie van die agtersitplek af gevra. Nee, Corné, jy was soet en het mooi na my geluister. Dis Mamma wat ‘n fout gemaak het.

‘n Fout wat jou lewe kon gekos het. En myne sou vernietig.

Maar nou weet jy, jou ma sal dalk nie ‘n trop skape kan beheer nie, maar sy sou ‘n goeie spietkop gewees het, want sy kan ‘n straat vol Bloemfonteinse motorbestuurders tot stilstand kýk.

Follow Dis Ekke

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.