My vreugdes en frustrasies

My eiers

Die groen bus kuier in die Noord-Kaap – Dag 3

Die Towerinne se giggelgroen bus

Hierdie blogpos is deel van die fiktiewe Kuier-Safari toer wat deur 14 bloggers onderneem word en is ‘n vervolg op Die groen bus ry tot in Springbok – Dag 2. Alle fotos gebruik is private eiendom, behalwe waar spesifiek anders aangedui.

Lees vorige bydraes deur die verskillende skrywers by hierdie InLinkz skakel  http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.


Ons is nog steeds in die deel waarna ons verwys as die “wyer Namakwaland.” Vandag het ons rondgekuier tot daar in die Hantam Karoo in die suid-westelike deel van die Noord-Kaap. Ons het van Vredendal af gery deur Vanrhynsdorp tot in Nieuwoudtsville waar ons ‘n wyle vertoef het. Ons het middagete geniet in Loeriesfontein voordat ons weer dieselfde pad terugry het. Op pad terug doen ons toe eers aan by die Kokerboomwoud en daarna het ons in Vanrhynsdorp gekuier voordat ons teruggekeer het na Vredendal waar ons ‘n tweede nag sou oorslaap.

Die Van Rhynspas en die Knersvlakte

Om in Nieuwoudtsville te kom vanaf Vanrhynsdorp, moes ons deur die Vanrhynspas daar in die Bokkeveldberge ry. Dit was effens reënerig ook nog. My swak hart wat nie van hoogtes hou nie! Die rit tot in Nieuwoudtsville was erg genoeg, maar die terugrit was senutergend. Lorenzo het egter die groen bus soos ‘n wafferse bergbok deur die elmboogdraaie gestuur, tot groot verligting van die Towerinne. En die uitsig het opgemaak vir al die hartkloppings!

Die fotos hier onder wys waar ons ‘n paar minute lank stilgehou het in die pas en ook die pragtige uitsig oor die Knersvlakte wat ons daar van bo af gehad het. Onthou, ek het gesels oor die Knersvlakte wat ons van grondvlak af beskou het in Dag 2 van die toer. Jammer oor die fotogehalte, maar die dag was effe dynserig.

Nieuwoudtsville

Heel eerste het ons aangedoen by die pragtige ou NG Kerk waarvan die hoeksteen gelê is in 1906. Die kerk het ‘n oulike stukkie geskiedenis: £8,000 van die £11,300 wat die gemeente vanaf 1885 gespaar het om die kerk te laat bou, het verdwyn voordat die bouer betaal kon word. Binne drie jaar het ‘n aantal mense weer hierdie som geld bymekaar gekry en ter ere van hulle is daar ‘n “skuldmonument” opgerig net buite die kerk.

Daar word beweer dat dit die destydse tesourier van die kerk is wat saam met die geld verdwyn het in 1909. Die storie: Blykbaar is hy “begrawe” in Nieuwoudtville, maar is later gesien in SuidWes-Afrika (Namibië). Toe hulle sy graf gaan oopmaak het, het hulle die oorblyfsels van ‘n vark in die kis gekry. Toe ek nou die fotos weer so beskou, het ek gewonder of die vark destyds ook in die ou lykswa aangery is begraafplaas toe.

Die pragtige waterval in die Doornrivier is 7 km noord van Nieuwoudtville op die Loeriesfonteinpad. Rondom die waterval is digte plantegroei, waaronder die melkbos waarmee ek in Springbok se omgewing grootgeword het. Ek haal hier aan uit ‘n ouer blog waarin ek oor ‘n melkbos geskryf het:

Ek breek ‘n takkie af en verwonder my aan die taai wit melk wat oor my vingers drup, en in die reuk van die melkbos herken ek die voetpaadjies van my kinderdae. Daar is niks, NIKS, op hierdie aarde wat so lekker ruik soos ‘n droë melkbos wat aan die brand gesteek word om ‘n vuurtjie te begin nie. Die melkbos brand nie soos ander hout nie, hy ontplof met so ‘n swoesj-geluid en dan moet jy gereed staan om die fyn veldhoutjies op die smeulende as te gooi om die vuurtjie aan die brand te kry. Die reuk van die melkbos se brand bly egter hang in die lug, lank nadat die asse reeds weggewaai het. Daar langs die melkbos raak ek weer tien jaar oud en ek ruik die veldvuurtjies wat ons aanmekaar geslaan het om ‘n taai, soet tameletjie te maak in ‘n ou jêmblik wat ons saamgedra het. Ek onthou die reuk van die Gold Dollar Blue sigarette wat een van die klein Kotze’tjies eendag by hulle pa gesteel het en wat ons skelm gerook het daar agter die groot plat klip. Dis dieselfde klip wat ons gesmeer het met die knolle van die Pietsnotte wat ons uit die los Namakwalandse grond opgegrawe het. Ek onthou hoe ons op ‘n ou stuk kartonboks teen die gesmeerde klip afgeseil het.

Hester Ley Nel

Ons het aangehou in die rigting van Loeriesfontein tot by die plaas Matjiesfontein, waar ons middagete geniet het. Ons is die keuse aangebied tussen tamatiebredie en kerrie-afval, wat gekook is in ‘n kookskerm buite die restaurant. Dis ‘n moeilike keuse en daarom was daar ‘n derde item op die spyskaart, genaamd Bietjie-Bietjie, wat bestaan het uit ‘n bietjie tamatiebredie en ‘n bietjie kerrie-afval. Ek het laasgenoemde gekies en dit was fantasties. Wat het die res van die Towerinne geëet?

Hierdie restaurant het ook ‘n mooi geskiedenis. Dit was blykbaar vroeër jare eers ‘n perdestal en toe ‘n plaasskooltjie. Of was dit nou andersom? In elk geval, die kinders het nog skool toe gekom met hulle perde. In die restaurant was daar talle oudhede uitgestal waaroor almal eers ge-oe en ge-aa het.Matjiesfontein is ‘n móét vir elke persoon wat daardie deel van Namakwaland besoek gedurende die blommeseisoen. Ek weet die Towerinne sal graag daardie skouspel wil sien.

Kokerboomwoud

Op pad terug het ons by die bekende Kokerboomwoud aangedoen. Kokerbome is is nie regtig bome nie, maar eintlik ‘n vetplant wat aan die aalwynfamilie behoort. Lees gerus meer hier oor hierdie geharde plante wat ‘n bekende gesig in Namakwaland is. Namakwalanders sweer altyd dat ‘n kokerboom kan groei op een sandkorrel en ‘n mondvol spoeg; dit was dus hartseer om te sien hoe hierdie lieflike plante gely het gedurende onlangse droogtes, tot so ‘n mate dat van die bome verplant is in ‘n poging om hulle te red van ‘n sekere dood. Voorheen het hulle weelderig gegroei teen die hange van hierdie koppies. Ons sou later die dag ‘n geleentheid kry om klein kokerboompies te koop in Vanrhynsdorp.

Vanrhynsdorp

Op pad terug van die Hantam af het ons by die Vanrhynsdorp succulent nursery gestop. Hier het die Towerinne gesien hoe lyk die vetplantjies wat in die Knersvlakte gevind kan word. Hulle het hulleself behoorlik vergaap en die beursies uitgepluk. Let mooi op na die name op die kaartjies by elkeen van die plantjies.

Die Keldery – Vredendal

Die Keldery is geleë op die Spruitdrift-wynplaas aan die buitewyke van Vredendal. Daar is ‘n pragtige restaurant wat ‘n mooi uitsig bied oor die wingerde en die Maskamberg. Ons was egter hier om wyn te proe (en te koop) en ek weet regtig nie of ek te veel moet uitwei oor die Towerinne se kaskenades tydens hierdie geleentheid nie. Kom ons sê maar net dat ‘n diamantbroodjie of twee in die slag gebly het.

Môre gaan ons die Sederberge invaar. Ek hoop die Towerinne het hoofpynpille in hulle handsakke.

Follow Dis Ekke

36 Comments

  1. Watter heerlike dag was dit nou! (Bwahahaa – die giggelgroen bergbokbus)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Gelukkig is die Towerinne se bus nie so groot nie. Ons is met ‘n toerbus daar op en af en daai grote bus is bestuur deur ‘n kleine vroutjie. Ek weet nie hoe my senuwees dit gehou het nie.

  2. Lieflik – ek is absoluut versot op die kokerbome wat op ‘n sandkorrel en bietjie spoeg kan oorleef 😉 Rerig van my gunsteling “undercover” bome x

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die kokerboom is vir my sinoniem met Namakwaland. Ek dink ek was baie verbaas toe ek agtergekom het die res van die land se mensde weet nie van kokerbome nie.

      • My swaer het vir my een uit Springbok gebring, dit staan al vir jare in ‘n pot maar dit gaan maar sukkel sukkel met my ou boompie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Hulle groei nie maklik in ander dele van die land nie Elané. Hulle is gewoond aan uiterste hitte en koue, droogte en arm grond. ‘n Mens se instink is om hulle te beskerm en voed, maar dit is juis wat veroorsaak dat hulle nie wil groei nie.

        • Ja, ek sweer my tuinier en die man die dood voor die oë as hulle waag om met water naby my kosbare boompie te kom. Hy bly darem lewe maar sukkel met die groei deel.

  3. Nou was ek uiteindelik ook op Loeriesfontein. Ek het kostelike onthou van ‘n insident op Vanrhynsdorp. Dit was vrek warm en ons het koeldrank by die kafee wou koop. ‘n Dronkie kom in gedrentel en klim in die yskas. Hy kry warm, chaos in die plek soos hy verwilder word. So tannie met ‘n geel rok het hom met ‘n besem verjaag, straat af. My kind en haar vriendin reken toe dis die Wilde Weskus!

  4. Ag was al daardie plantjies nie te mooi nie! Ek hou nie eintlik van vetplante nie maar hierdie kleintjies was te dierbaar. Natuurlik is die veld steeds vir my ‘n vergaping, dankie Hester!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Soos wat ek my vergaap het aan al die groen plantegroei van Natal en die Oos-Kaap 😁 Wat ek mis, is die oop vlaktes en die klipkoppies. Ek sien nie meer baie daarvan hier waar ek nou bly nie. Maar ‘n mens kan seker nie alles hê nie, want dan waardeer jy later niks.

  5. Wat een mooi historisch en natuur-historisch verhaal

    Vrolijke groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Rob. Ja daardie streek se mense is bekend vir hulle stories en dis altyd ‘n plesier om daar rond te kuier.

  6. Dis so lekker om in daar rond te kuier Hester. Kokerbome is net besonders. Maar dan weer daardie hele wêrelddeel is besonders met sy ruwe skoonheid. Die ou wat die geld gesteel het is werklik die vark in die verhaal!!!

  7. Wat ń lekker toerdag Hester, het dit baie geniet. Ek is mal oor Kokerbome, daar is so ń oer element aan hulle. Weet jy Bondels ek het ook nooit ń liefde gehad vir vetplante nie, maar hierdie droë tye in die Kaap het my leer lief word vir hulle. So met tyd saam het ek hul uniekheid ontdek, mooi blommetjies het verskyn en my oorrompel. Dis sulke dankbare sterk plante. Dankie dat jy ons na die kwekery geneem het. Onder my sitplek is daar heelparty plantjies wat my tuin gaan verryk met hul teenwoordigheid. (Natuurlik het ń paar klippe ook hul weg daarheen gevind)

  8. Ek raak skoon aangedaan as ek oor al hierdie spesiale plekke by jou lees, Hester. Soveel om my manlief heen terug te bring…

  9. Jou skrywe oor die melkbos is regtig iets besonders.

  10. Kerrie-aval! Ek het jou ge-join! Flippit, nou lek ek behoorlik lippe af.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek maak so een of twee keer per jaar nog ‘n yslike pot kerrie-afval wat my gesin verslind 😊 Dis mos nie iets wat almal eet nie, maar ons is mal daaroor.

      • Ek is in!!! Stuur ń uitnodiging en ek is daar.

        • woordnoot

          As jy regitg wil, kan jy by my kom kerrie afval eet. Ek maak ‘n mean afval, maar ek eet dit nie. Vra maar vir Elize…

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Daar’s uitnodiging wat jy nie van die hand kan wys nie!

  11. Ek stem, jy skryf in mens se hart in

  12. woordnoot

    Dankie Hester…dit was ‘n awesome rit. En ek is dol oor die name vir die plantjies…dis so eg Namakwalands

  13. Oeg nee, net nie afval nie. Ek was seker in std 4, toe my tannie afval maak. Vir dae lank het die huis na afval geruik. As kinders moes ons alles eet, so afval moes ons eet. Vir dae het die hele huis na 2dehandse afval geruk, ons al 3 was siek soos honed. Nou sit ek my mond nie daaraan nie en die reuk laat my hardloop. Tamatie-bredie vir my dankie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Afval kan nogal ‘n reukie veroorsaak as jy die vleis nie ‘n bietjie dokter met kruie nie. Ek kook afval hier in ‘n kompleks waar die huise baie na aan mekaar is en die bure kom niks agter nie.