Hier is die 11de hoofstuk van ‘n bloguitdaging wat handel oor die avonture van die Towerinne en Coronamouna. Die hele wêreld is nog steeds in rep en roer oor die heks genaamd Coronamouna en haar mak spinnekoppe wat die virusballetjies oor die planeet versprei het. Die Towerinne is vasberade om hierdie pandemie die hok te slaan en die spinnekoppe te laat boet vir hulle wandade.
Die Towerinne vertel self van hulle avonture, in die vorm van ‘n vervolgverhaal. Lees gerus die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel:
https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017
Ek, Woordnoot en Positief het opdrag gekry om na Coronamouna en haar drinkebroer-spinnekop Nida te gaan soek en met hulle af te reken. Nida se tweeling-suiplap-broer Arach, is reeds in ‘n vorige hoofstuk vermorsel met ‘n rooi stiletto.
Positief het die twee moeilikheidmakers met behulp van Scrapy se drone opgespoor in Coronamouna se houthuisie, waar hulle ewe vrolik sit en Franjelico suip. Dit kom nou van die Towerinne se gebrassery – dis deur hulle toedoen dat die heks en haar spinnekoppe ook kennis gemaak het met hierdie drankie wat die Towerinne beskryf as engelepiepie. Wanneer hierdie avontuur verby is, sal ons kajuitraad moet hou oor die Towerinne se drinkgewoontes. Dit ruk nou regtig handuit!
Enniehoe, daar staan ons voor die houthuisie en ek hamer aan die deur: “CORONAMOUNA!! MAAK OOP HIERDIE DEUR! En toe val ek sommer met die deur in die huis. Letterlik. Die skarniere was seker nie goed vasgesit nie. Beide Positief en Woordnoot trip oor my ledemate wat skielik met lamheid geslaan is en wyd oopgesprei op die vloer lê en spartel. Ons staar aldrie oopmond na die harige moesie op Coronamouna se gesig, en die harige spinnekop wat styf langs haar op die bank sit. Die ding is amper so groot soos die huisie se voorkamer. Daar is skaars ruimte vir Coronomouna om haar elmboog te lig en die glasie Franjelico by haar mond te bring.
My stembande is ook met die lamheid geslaan en ek beduie in gebaretaal vir Woordnoot om die rol duct tape uit my rugsak te haal. “Plak haar mond toe!” sein ek vir Woordnoot. Ons weet dat Coronamouna die spinnekoppe na willekeur groter of kleiner kan laat word deur net met hulle te praat. Woordnoot verstaan skynbaar gebaretaal en heel gou is die heks se mond gesnoer. Sy is so verbaas hieroor dat sy sowaar die Franjelicoglas by haar neusgat probeer indruk – die bek is toegezip, maar suip sal sy suip!
Ek bevry my een hand van die lamte en ruk my masker af wat ek nog die hele tyd dra, nie omdat die gowwerment so beveel het nie, maar omdat my sinusse nog sensitief is na ‘n onlangse operasie. Ek gooi die masker vir Positief en sy verstaan onmiddellik. Voordat Nida kan reageer, het Positief reeds die masker oor sy snoet getrek en vasgeplak met die duct tape. Hy snak na asem. “KRY VIR JOU! Nou kan jy ‘n bietjie van jou eie koolsuurgas inasem en kyk hoe jy daarvan hou,” tart Positief die spinnekop.
Ons weet almal hoe sleg dit vir ‘n mens is om die koolsuurgas in jou masker die hele tyd weer in te asem, en ons wag in spanning om te sien wat gaan gebeur. Nida se masker beweeg in en uit en trek eintlik so met ‘n tuit soos wat hy asemhaal (ek het nie geweet spinnekoppe het longe nie?!). Hy maak sulke klein snakgeluidjies. Maar die eienaardige ding is dat hy nie die masker probeer afruk nie. Ek kliek hoekom – dis omdat hy ‘n glasie Franjelico in elke poot vashou en hy is nie bereid om ‘n enkele een neer te sit om homself uit sy verknorsing te red nie. Sy drinkende metgesel probeer nou haar Franjelico by haar ore ingooi en let nie op dat Nida besig is om homself te vergas nie. Drinkers! Dis geen wonder dat ons gowwerment probeer het om alkohol te verban nie, maar noudat die drankwinkels weer oop is, suip die hele ou lot hulleself in hulle peetjie in.
Ons drie Towerinne staan en vergaap ons aan die petalje voor ons. “Glug-glug” sê Coronamouna. “Hrrrk-hrrrk” beaam Nida. Beide se bewegings is besig om te verflou en Nida is stadiggies besig om af te blaas soos ‘n moeë partytjieballon. Hy word al hoe kleiner en sy ses oë skiet een vir een so “plop-plop” uit sy kop. Op die ou end bly daar van hom net ‘n verfrommelde skelet met agt lang pote oor. Maar glo my asseblief! – daai Franjelicoglasies bly regop en nie ‘n druppeltjie engelepiepie word gestort nie.
Positief steek kalm twee sigarette aan en gee vir Woordnoot ook een. Ek wil eers beswaar maak, want ek kan sien daai siegrêts is van die ingevoerde soort wat jy teen R80 ‘n pakkie by die verkeersligte koop ná donker in die aand. En my arme sinusse, tog. Maar hierdie Towerinne lê my ná aan die hart – die brawe, kloekmoedige soldatinne wat my bygestaan het in my uur van nood toe ek lamgelê was op die houtvloer van die heks se huis. Laat hulle tog maar hulle ou plesiertjie geniet.
Ek staan op en stof my af. Kyk na die twee drinkertjomme wat prostraat daar sy-aan sy op die bank lê. “Is hulle dood?” vra ek.
“Nida is beslis kapoet,” sê Positief en loop ‘n draai oor sy uitgestrekte bene wat sulke harde krraaak-geluide maak onder haar Doc Martens. Net om sy reaksie te toets. Geen reaksie.
“Ek dink Coronamouna is net poepdronk,” sê Woordnoot. “Of dalk het sy haarself versuip?”
Ek verstom my aan Woordnoot se woordekeuse. Towerinne praat gewoonlik nie so nie. “Ag, los haar. Die Towerinne kan later besluit wat om met haar te doen. Ons moet nou sorg dat ons by die grot kom en kyk of ons kan handgee met die ander Towerinne se poging om Una te red. Arme Una was laas nog in ‘n kokon toegespin en die res van die spinnekoppe hou lekker paartie daar óm haar terwyl hulle haar vetvoer. Dis ‘n hele dronkspul vanaand hier op Rebusfontein.”
Ons drafstap met die bospaadjie langs in die rigting van die grot en daar ver voor ons, sien ons die lig van die Towerinne se fakkels. Dit herinner my aan die geborduurde prent wat altyd in my Ant Stienie se voorhuis op die plaas gehang het – die twee rye spore van ‘n wawiel wat slinger deur die veld (dalk was die touleiertjie ook gesuip) en die onderskrif: Daar voor in die wapad brand ‘n lig. Mag daardie lig vanaand vir Una verlos van die boosheid wat oor haar gespin is.
Vuurvliegie sal verder vertel wat gebeur het.
woordnoot
Jis Hester….ek was vrekbang dat jy op jou pasgopereerde neus gaan val maar gelukkig het jy nie!!! Skuus oor my vreemde tale….spanning doen dit aan my! Goed geskryf…..welgedaan.
HesterLeyNel
Dankie Woordnoot. Jy was van groot hulp en baie braaf.
Una
WoordNoot, dat jy nou so braaf opgetree het! Ek gril my dood vir daai harige moesie.
woordnoot
Niemand weet nie, maar ny braafgeid het maar gekom naddat ek n halwe bottle franjeliko opgelsurp het voor ons beweeeg het. Hester wou hoeka weet hoekom ek so draai.
HesterLeyNel
I rest my case oor die drinkery. Maar soms is die uitkoms goed.
woordnoot
Die troos is dat ons net op Rebus so suie…..want ons kom mos niks daar oor van dit nie…..
HesterLeyNel
Nou hoekom bly sommige mense so half in ‘n trans? Wat het Toortsie en kie ingeneem?
woordnoot
Gif…..sinnekopgif gemeng met iets….Virgo sal die ontleding moet doen
HesterLeyNel
Ja, ek hoop sy reg met ‘n teengif.
Kameel
Soos altyd jou skrywe so geniet. Ek sien mos die prentjies afspeel… en jy daar op die grond is skreeusnaaks… juis omdat ek so lag as iemand val. Toe doen Franjelico vir jou die werk 😂😂😂😂 Welgedaan Hester!!!
HesterLeyNel
Dankie Kameel. Ja, mens sou sweer ek is een van die drinkers in die voorste gestoeltes 🤣
seegogga
MOOI, Hester! Stadig maar seker is ons besig om on Coronamouna n hou op die neus toe te dien!
HesterLeyNel
Ja, ek het haar darem nie ‘n ernstige besering aangedoen nie, want die Towerinne glo mos dat jy jou vyande ook moet liefhê!
Una
Gmph. Nee.
HesterLeyNel
ja, ek sê ook maar liewer niks.
Perdebytjie
Puik Hester! Daardie beentjies wat so kraak onder die Doc Martins, is die beste.
HesterLeyNel
Laat die gedagte aan daardie kraakgeluide jou ook so lekker gril? 🤣
Toortsie
Joe! Uitstekend! En die DRANKprobleem oral op Rebus. Ai.
HesterLeyNel
Ja, dis onrusbarend, voorwaar.
Bondelsgedagtes
Drie hoera’s vir jou Hester! Knap gedaan. Ek kan nie glo die gedroggie suip engelpipi nie!! Verregaande!! So bly Positief en Woordnoot het jou so uitmuntend bygestaan. Julle is dapper helde..
HesterLeyNel
Dankie Bondels. Dit was ‘n ervaring wat ons met verwondering geslaan het.
scrapydo2.wordpress.com
Voorwaar n dapper driemanskap wat korte mette van ten minste een spinnekop gemaak het. Ek was ook bang dat jy op jou neus sou land maar snaaks genoeg menslike reaksies gebeur om die liggaam te beskerm teen sulke dinge. Ek sug n sug van verligting. Nou kan ons met volle aandag aan Una se redding werk. Ek is nie mal oor die oordadige gebruik van sterk drank nie. Ons sal beslis nrehabilitasie sentrum moet inrig om ons maters weer sober te kry. Ek en Chris Cameleon het nounet by Frannie se toringhuisie geland!
HesterLeyNel
Oe! en veral Christa gaan baie opgewonde wees om hom in lewende lywe te sien 😄
scrapydo2.wordpress.com
Eks self ook mal oor hom. Was baie bly dat ek hom weer kon sien en met hom gesels terwyl ons gevlieg het. Die klomp verkleurmannejies konnie stil sit van opwinding nie. Hul gaan hul gate uit geniet!
HesterLeyNel
Is julle sanitêre balletjies gereed vir die spinnekoppe?
Una
🤔
HesterLeyNel
Nog nooit gehoor van ‘n spinnekop wat ‘n histerektomie of vasektomie ondergaan het nie. Of presies wat bedoel Perdebytjie nou met sterilisasie?
Una
Corona het als verander, Hester, so ons gaan nou maar net moet wag en sien wat gebeur.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, klaar gerol en gebol en gepak!
Kameel
Scrapy ons voel dieselfde oor die gedrinkery. Gister ook aan ‘rehabilisasie gedink. Dit het daar by Toweropstal begin en ek het toe al my tong geklik. Mag ek weet wat is die ophef oor die Chris persoon. Lees van hom maar is clueless.
scrapydo2.wordpress.com
Ag hy is n liewe mens. Afrikaanse sanger . Ek het hom gaan kyk en toe na die opvoering het hy my uitgevra oor waar my seun is, dit was op my seun se verjaarsdag die opvoering. Hy skryf toe op sy CD dat my seun lekker moet verjaar en weer gou huistoe kom. Was toe my seun 2005 NZ toe gegaan het. Chris het n pragtige verhoog persoonlikheid ook en sing ook baie mooi.
HesterLeyNel
Dis ‘n bekende Afrikaanse sanger, maar ek is gebore in die Rock&Roll era en ken nie eintlik sy musiek nie. Christa sal jou meer kan vertel.
Kameel
Neem aan sy hou van sy musiek. Ek is ook ‘n rock and roller.
HesterLeyNel
Ek en jy, ja. Ek lê op die naat van my rug en luister na Bob Seger.
woordnoot
Sy song wat hom op die map gesit het se woorde begin “ek dra ‘n rok van crepede chine, met vingers op die tikmasjen…….
HesterLeyNel
Mooi lirieke. Wonder of hy self skryf. Ek gaan hom soek op YouTube.
woordnoot
Hy is eintlik ‘n uitstekende sanger wat met sy stem toor…..luister bietjie as hy Pie Jesu sing saam met Coenie de Villiers..
HesterLeyNel
Ek sal luister. Ek is nie eontlik ‘n Coeniefên nie – en nou gaan die helfte van SA se vrouens my toetakel. Laat ek net gou sê ek hou van Jannie Moolman, Mathys Roets, Johannes Kerkorrel en natuurlik Koos Doep. Ek luister wel soms Afrikaanse musiek.
woordnoot
as ek dit nie mis het nie, sing Jannie saam met hom en Coenie Pie Jesu….ek weet daar is n derde oersoon maar kan nie onthou wir dit is nie. Ag en Hester….ek luister ook maar min afrikaanse musiek. Het net baie meer daarmee te doen gekry toe ek die gedigte uitgesaai het
Tannie Frannie
“Ek het nie geweet spinnekoppe het longe nie?!” – skerp, Hester, skerrrppp! En steeds hang die arme Una daar teen die rotswand…
HesterLeyNel
Nou maar sie! Die ander Towerinne moet wikkel en haar daar uitkry – ons is op pad om te help. Dan moet die spinnekoppe ook nog gesteriliseer word. Scrapy het so pas geland met Chris Chameleon en sy verkleurmannetjies aan boord. Daar is groot opwinding in die lug.
Una
Eet verkleurmannetjis dalk spinnekoppe?
HesterLeyNel
Ek dink so. Die natuur is wreed. Sug. Maar eerder dit as om ‘n lickdown van ‘n spinnekop te ondergaan. Jy behoort te weet, Una.
Una
Juk.
woordnoot
Jip…dis hulle stapelvoedsel
HesterLeyNel
Ek laaik verkleurmannetjies!!!
Dr Christa van Staden
Inderdaad! Baie goed geskryf, ek het lekker gelag. Dink self die drankprobleem moet hokgeslaan word.
HesterLeyNel
Dit begin nou vir my lyk asof die drankprobleem onder die Towerinne beperk is tot ‘n geīsoleerde groepie, want skielik ontken almal dat hulle drink 🙄
Dr Christa van Staden
Ek pleit onskuldig, ekke drink glad nie. Maar ek stem, jy moes dalk lankal met rehabilitasie gedreig het …
HesterLeyNel
😄🍷
Una
Watwou, as ek ongekokon kan kom sal ek weer induik in die wingerdsappies.
HesterLeyNel
Jy sal dit nodig hê – om net weer jou ekwilibrium te herstel.
Una
Dis soos toe ek op ń sekere Maandag oggend ook in ń sekere ry voor ń spesifieke winkel gestaan het.
HesterLeyNel
Dit was met die heropening van die winkel nè?
woordnoot
EK is daar…. sal jou altyd ondersteun
Una
Los ons Frangelico net uit! Dit het ons al uit menigte situasies gekry…uit en in… Hik.
HesterLeyNel
Hahaha, meer in as uit.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Voor in die wapad brand ‘n lig…vuurvliegie wat vlug van die taak om nou verder oor ‘n poepdronk Coronamouna, toegekokonde Una, klein chameleontjies met sanitiserbolletjies op hulle tongetjies om die virusse te teiken….en dan is daar ‘n nuweling besoeker wat ons maar by haar skrywe gaan noem, Rooikop….o my vy, ek gaan eers whiskey drink en ‘n twakkie trek…
Puik my Hester Sintester mater! Ek is genoop om my beste te loop snoer.
HesterLeyNel
Jou beste is altyd hoogstaande kwaliteit en ons wag in spanning 😍
Una
Hester, briljant! So Nida is nou uit die pad, en Coronamouna is stil-gedrink! Uitstekend. Julle los self die grootse Corona-situasie op Rebus op sonder dat ons onder lockdown geplaas word. Party Towerinne dreig nou wel met ń alkohol-“ban”, maar ek vir een steur my nie daaraan nie. Frangelico is deel van ons geskiedenis, en bewaar die ou wat daaraan karring! Ek wag vir julle. Toorts gaan my nou wel op ń banting dieët moet sit, maar dis reg! Rebus bo!!!!!
HesterLeyNel
Una, die rebelste rebel wat ek al teëgekom het. Hierdie vrou laat haar nie intimideer nie 😎💗
Una
Dankie Hester, ek het nodig om te hoor ek doen iets uitermatig goed.😉
Positief
Towerinne doen skynbaar alles (uiter) matig goed. Bahalwe Hester – haar storie is puik. Arme Woordnoot wat nou sommer ook moet rook, so vir die senuwese. Sorry Hester vir die sinusse hoor
HesterLeyNel
Ag ek is seker Woordnoot sal jou vergewe dat jy haar verlei het en my sinusse is erger dinge gewoond. Ons hier op die Suidkus kry elke dag te doen met septic tanks en die vragmotors wat dit kom uitpomp.
Positief
Vergelyk jy sigaret rook met suridge? Ooooh ons gaan kwaaivriende wees
HesterLeyNel
Hahaha, ek sien ek gaan my bewoording versigtiger moet kies 🤣🤣🤣
Positief
LOL, vir seker