Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

My eiers

Die groen bus ry tot in Springbok – Dag 2

Kaart van Namakwaland verkry van Wikipedia

Hierdie blogpos is deel van die fiktiewe Kuier-Safari toer wat deur 14 bloggers onderneem word en is ‘n vervolg op Die groen bus besoek Namakwaland – Dag 1. Alle fotos gebruik is private eiendom, behalwe waar spesifiek anders aangedui.

Lees vorige bydraes deur die verskillende skrywers by hierdie InLinkz skakel  http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.


Vandag ry ons op die N7 hoofweg deur die mees Noordwestelike hoek van die Noord-Kaap tot in Springbok. Namakwaland begin eintlik eers daar by die Groenrivier duskant Garies, hoewel die dele ten suide daarvan ook dikwels deur toeriste-organisasies ingesluit word by die verwysing na hierdie streek.

Namakwaland word begrens deur die Atlantiese oseaan in die weste, Namibië net oor die grens van die Oranjerivier in die noorde, Boesmanland in die ooste (dis nou die gedeelte rondom Pofadder waar Lekkervurig later met ons gaan kuier) en dan die gebied suid van Garies.

Hierdie is my Namakwaland

Namakwaland is baie bekend vir sy asemrowende wilde veldblomme en dis gewoonlik wat mense sou verwag om op ‘n blog soos hierdie te sien. Kyk maar op die internet, google net Namaqualand wildflowers of West Coast wildflowers om hierdie fees vir die oog te sien – daar is duisende fotos. Maar daar is nie elke jaar blomme nie, net wanneer dit ‘n goeie reënjaar is, en dit gebeur maar min. Die Namakwaland wat ek hier wys is die natuur soos wat dit gedurende 95% van my kinderjare gelyk het. Dit is hoe ek my Namakwaland onthou. En dis mooi.

Knersvlakte

Ons ry vroegmôre reeds deur ‘n deel van die Knersvlakte, ‘n heuwelagtige gebied wat met wit kwartsgruis bedek is. Die klimaat is halfdroog, met lang droë somermaande en ‘n minimum reënval in die wintermaande. Omdat die gebied geïsoleer word deur die voorkoms van kwartsgruis, vind ons daar plantspesies wat uniek is aan en beperk is tot hierdie geografiese gebied. Die Knersvlakte is geklassifiseer as ‘n “Succulent Karoo”-gebied en is bekend vir die klein, kompakte vetplantjies wat natuurlik daar groei (sien die foto van die wit gruis hieronder en kyk of jy die klein plantjies kan raaksien). Ons kyk later in die toer weer na hierdie gebied.

Nuwerus

Ons ry net by die dorpie verby en skiet sommer fotos deur die bus se venster. Ek onthou dat twee van my broers soms kom rugby speel het in Nuwerus en hulle het altyd gesweer dat die Nuwerussers met opset duwweltjies oor hulle rugbyveld gestrooi het. Dit het hulle altyd die voordeel verleen, omdat hulle meesal kaalvoet geloop het en dik, harde voetsole ontwikkel het. Ek reken die klomp boertjies het net die japies van die groter dorpe ore aangesit omdat hulle groter en sterker was.

Bitterfontein

In hierdie dorpie hou die spoorlyn vanaf die Kaap op. Kyk maar, op die foto kan jy presies sien waar die spoorlyn ophou. Wanneer ons weggegaan het met skooltoere, het ons altyd met die posbus gery van Springbok af tot by Bitterfontein, waar ons dan op die trein geklim het. Dit was destyds nog stoomlokomotiewe wat die treine aangedryf het. Ons het altyd by die treinvensters uitgeleun om te sien wat buite aangaan en teen die tyd wat ons in Kaapstad aangekom het, was ons gesigte pikswart van die steenkoolroet. Dan het ons ‘n badkamer gehuur op die Kaapse stasie (ja, een met ‘n regte bad en warm water) om eers die stof af te was.

Garies

Garies is die plek waar my ma as jong kind grootgeword het. My ouma Hessie het, behalwe hulle woonhuis, nog twee huise gehad wat sy bestuur het as losieshuise, asook ‘n klein winkeltjie.

Ek het gesoek na en ‘n huis gekry soos my ouma s’n – die huisies in die hoofstraat was almal volgens dieselfde resep gebou. Daar was die hoë agterstoep en die groot bome in die agterplaas digby die droë rivierloop. Daar was ook ‘n waenhuis en stoor soos dié waar my oupa altyd ‘n pypie gerook het. Dalk is dit hier waar ek en my oorlede boetie in die sand gespeel het.

Kamieskroon

Die Goegap Natuurreservaat is geleë in die Kamiesberge. As jy ooit eendag wil gaan veldblomme kyk, moenie hier verbyry nie. Die dorpie is geleë aan die voet van die Kamiesberge en as jy die “kroon” op die foto hieronder sien, weet jy jy is naby jou bestemming.

Net so slap links van Kamieskroon af is Hondeklipbaai geleë. Dis ‘n klein kusdorpie waar ons baie kreef uitgetrek het en bokkoms gemaak het. Ek het die heerlikste vakansies van my lewe daar deurgebring. Net so ‘n bietjie hoër op teen die kus het ons dieselfde luilekker tye deurgebring in Port Nolloth.

Springbok en omgewing

Ons bestemming vir vandag. Dis die omgewing waar ek grootgeword en gematrikuleer het. My pa was ‘n argitekbouer wat vir die Okiep Copper Company (OCC) gewerk het, wat beteken dat ons, behalwe in Springbok self, op een of ander stadium ook in al die omringende myndorpies gewoon het: Nababeep waar ek gebore is, Concordia waar ons vir 2½ jaar gewoon het terwyl ek in Okiep se laerskool was, Carolusberg waar ek gedurende my hoërskooljare gewoon het (dis hier waar Simon van der stel sy bekende kopermyn geopen het).

Hierdie foto van Springbok het ek op google maps gekry – net om te wys in watter geharde omgewing ons gewoon het – daar waar ek die rooi kruis gemerk het, dis die koppie aan die voet waarvan my pa ons woonhuis gebou het.

Foto verkry vanaf Google Maps

Ons het nie aangedoen in die myndorpies nie, want daar word nie meer koper gemyn nie en die dorpies het vervalle geraak. Springbok is ‘n groot, vooruitstrewende dorp, maar ek het net nie kans gesien om na voetspore in die stof te gaan soek nie. Ek weet dat waar mensehande besig is, dinge gedurig verander en ek wil graag my herinneringe ongeskonde hou. Die natuur – dit is waar ek my aandag wou bepaal.

Die N7 loop nog ‘n entjie hoër op tot by Noordoewer waar die Oranjerivier die grens vorm tussen Suid-Afrika en Namibië. Na die Atlantiese Oseaan se kant toe op die kaart sal julle opmerk dat die diamantmyndorpe van Kleinzee en Alexanderbaai ook nabygeleë is. Ons het egter na ‘n heerlike middagete by die Kokerboom Hotel teruggedraai na Vredendal se kant toe, waar ons vir die volgende twee aande gaan slaap.

Rotsformasies en veldfotos

Langs die pad het ons natuurlik ‘n paar keer stilgehou om fotos te neem van die omgewing. Ek het hierdie klompie fotos gekies as herinneringe aan wat ons gesien het. Die eerste foto wys hoe ‘n plant vasberade vasklou aan die onderkant van ‘n rots waar dit koel is en waar dit heelwaarskynlik leef op dou wat deur die nag vorm. Die foto regs is ‘n voorbeeld van erge gronderosie wat plek-plek voorkom.

Hier is ‘n paar voorbeelde van besondere rotsformasies.

Follow Dis Ekke

31 Comments

  1. Wat ‘n wonderlike beskrywing!

  2. Ek is tjoepstil van verwondering. Hester, dankie. Dis ‘n grootse omgewing waar jy getoë is.

  3. Ek is in totale verwondering…my soort wêreld! Dankie Hester, dit was nou ‘n besonderse toer.

    • HesterLeyNel

      Dankie Bytjie. Ek dink jy sal in jou element wees in daardie harde wêreld.

      • Ek hou van harde wêreld…seker omdat ons as kinders gereeld by my ouma-hulle op die plaas gekuier het in die dorre Kimberley distrik.

  4. Besonders en beslis insiggewend van hoe dit eintlik is. Baie dankie hoor. Ek het n vriendin wat vir n tyd op Kleinzee gebly het. Ons het nog met briewe gekorrespondeer.
    Wat het van daardie ou van Garies geword wat die “vrot” melk so bymekaar gemaak het? Ek het amper ook geval daarvoor. Bure van ons het voluit daarop ingegaan doer die tyd.

    • HesterLeyNel

      Adriaan Nieuwoudt. Sover ek weet woon hy nog in Garies – die mense daar is baie mal oor hom. Ek het hom ontmoet, jare gelede. Hy het ‘n baie charismatiese persoonlik en ‘n mens kan nie help om tot hom aangetrokke te voel nie. Dit help natuurlik ook dat hy blêrrie handsome is 🙂

      • Handsome of te not….hy het ons uit baie geld uit….’n helse knou vir ons toekoms gegee. En ek moes jare der jare net vrotmelkglase gebruik. Mens koop nie nuwe glase wanneer die motorhuis bokse en bokse glase het wat wag om gebruik te word nie. Wip my sommer weer van voor af!!!

        • HesterLeyNel

          Ja, dit was ‘n lelike ding. Ons bure is destyds net so sleg gevang. Ek het gelukkig nie deelgeneem nie.

  5. Hester, wat ń wonderlike ‘stap’ saam met jou deur jou kleintyd plekke. My mond is ook stil as ek so na die fotos kyk en dink dat dit jou wêreld was.

  6. Hestertjie, dit was nou kos vir my siel. Die groot ooptes, klippe, velde en stilte. Om op daai klip hoog bo alles te sit en net in te asem, wat ‘n voorreg. Het jy gehoor hoe sing die wind sy lied? En gesien hoe die groot voël sweef in totale vrede? Het jy gesien hoe buig die gras in totale verwondering? En die piepklein veldblomme se uitbundige glimlaggies? Wonderskoon…

  7. Ag, dis so lekker omsaam te toer!

    • HesterLeyNel

      Raak jy nie lam van die lang sit in die bus nie? Namakwalanders is gewoond aan groot distansies en die toer wat ons hier op dag 2 gedoen het, was maklik 700km.

      • Ek is mos ‘n ou toeris. Ek geniet daai rotsformasies. Ek kyk en kyk en kyk. Daai hope klippe wat verskil lyk soos groot emmers klippe wat die Here daar kom uitgooi het.

        • HesterLeyNel

          Nader aan Noordoewer, voordat jy die grens (Oranjerivier) oorsteek, ry jy tussen ‘n reeks koppies deur wat pikswart is en jy sien nie ‘n sandkorrel tussen hulle nie. Die gedagte is natuurlik dat dit lawaklippe moet wees, maar ek dink nie daar is ooit ‘n teken van ‘n vulkaan gevind nie. Ek het ongelukkig nie fotos daarvan nie. Moet gaan google. Die koppies wat jy hier sien is meesal granietsteen.

  8. Dit was nou so ń lekker toer in jou kinderspore. Jy het my nou lus gemaak vir ń verkennings toer. Dink ons moet ons tentjie gaan pak en pad vat. Ek is mos ń klip mens, enige mooi klip of rots fassineer my totaal en al.

    • HesterLeyNel

      My dogter is net so mal klippe en neem oneindig fotos van rotsformasies.

  9. Ek lief daardie wêrelddeel. Die name roep soveel herinneringe op. Al daardie klippe is om jou aan te verkyk. Tot by Augrabies is dit wonderwêreld. En dan is die mense van die lekkerste mense met hulle stories en sêgoed. Ag dankie Hester vir die lekker onthou.

    • HesterLeyNel

      Dankie Kameel, ek is bly jy hou van my wêreld.

  10. Dit is so pragtig en my hart verlang nou baie diep, 🌻

    • HesterLeyNel

      Dit kan nie maklik wees om jou lewe deur te bring in andermansland as jy so verknog is aan jou eie land nie. Sterkte.

      • Dit is nie, raak makliker met tyd. Mens kom seker in roetiene, maar daar is net dae wat dit mens erg vang. Dink die seer daarvan raak beter, seker ook te doen met hoeveel vrede mens in jouself voel. Wel ek dink so. Die fotos en die skrywe voel mens dan sommer binne jou roer. Ek dink eintlik dis blessing om dit so te ervaar soos op blog, laat mens die mooi en belangrikheid onthou en almal hier skryf so in mens se siel in🌻

        • HesterLeyNel

          Dis waar, blogs laat die herinneringe weer leef.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: