My vreugdes en frustrasies

My eiers

Sykouse, tights, pantyhose, skinny jeans, leggings en jeggings

Christa se blog oor sykouse het my gedagtes oor ver paaie laat draf tot daar doer in my jeugjare. Dit lyk nie asof vroue juis meer sykouse dra nie, behalwe by spesiale geleenthede. Deesdae is kaal bene en langbroeke ewe aanvaarbaar, selfs in die kerk en by die werk. Nie soos in die jare toe ek grootgeword het en later toe ek begin werk het nie – nee toe was ‘n dame nie behoorlik gekleed indien sy nie ‘n paar sykouse aangehad het saam met haar deftige rokkie of romp nie. En ek het dit geháát – elke enkele sykous wat ek moes laat pas, sonder plooie om die enkels en sonder lere wat jou voorkoms ontsier het.

Ek kan amper nie glo dat sykouse soveel lange jare die modetoneel oorheers het as bedekking vir vrouebene nie. Voor die 1920’s is kouse gedra onder lang rokke om ekstra hitte te verskaf en hierdie kouse is gemaak van dikker materiaal, soos katoen of wol. Toe roksome begin lig het ná die 1920’s het vroue vleeskleurige kouse, gemaak van sy of rayon gedra en by die aanbreek van die 1940’s het nylon kouse die modetoneel begin oorheers. Eienaardig genoeg het die benaming “sykous” gekom om te bly, lank nádat kouse van egte sy ‘n luukse artikel geword het. Vandag praat ons nog steeds van sykouse.

Die sy vir vroëre jare se kouse is merendeels ingevoer uit Japan, en WW2 het ‘n tydelike einde gemaak aan daardie handelsbetrekkinge. In 1940 is dus begin om “sykouse” te vervaardig van nylon, maar einste WW2 het ook gesorg vir ‘n groot tekort aan nylon kouse, want nylon is daardie jare gebruik in die vervaardiging van valskerms, asook koord en toue wat gebruik is op vliegtuie. Die dames moes hulle nylon kouse mooi oppas en net by spesiale geleenthede aantrek.

Dit laat my nou dink aan die staaltjie van Daantjie Bok wat my ouers so graag vertel het. Gedurende die oorlogsjare (voor my geboorte) het my ouers op ‘n plasie (plot?) gewoon in die omgewing van Brakpan. My pa se dogters uit sy eerste huwelik het nog by hulle gewoon. Op die plasie was daar ook diere, onder meer ‘n hansbok wat sommer Daantjie Bok genoem is. Stoute bok wat hom aan geen reël gesteur het nie. Die sussies het graag mooi aangetrek vir naweke se pret-geleenthede en het gesorg dat hulle ondergoedjies, alles van nylon in daardie jare, skoon gewas en drooggemaak is vir die naweek. Dis waar Daantjie Bok eendag sy kans gevat het om aan die ondergoedjies te knibbel. Teen die tyd dat die jong meisies lont geruik het, was daar net halwe onderrokkies en kouse sonder voete op die wasgoeddraad. Die ouers het altyd geskaterlag by hierdie herinnering, maar ongelukkig het ek nooit gehoor hoe die sussies daaroor gevoel het nie.

Ná die oorlog was dameskouse weer meer vrylik beskikbaar en het dit standaard drag geword. Min vroue het ooit op straat verskyn sonder sykouse. As kind het ek my altyd verwonder aan my ma se ragfyn kouse met die donker naat agter die been. Daardie soom moes altyd reguit wees. Skewe nate was net nie aanvaarbaar nie. Die kouse is in posisie gehou deur ‘n kousgordel of kousophouer (suspender belt) – ‘n rekbare gordel wat om die lyf onder haar klere gedra is, met knippies waaraan die kouse vasgemaak is. Ek moes soms help om die knippies op die regte plekke vas te heg aan die boonste band van die kous.

Nou moet ek eers vertel van Mevrou Smit se ondervinding met die kousophouer. Rokke was daardie jare ‘n betaamlike lengte. Die some het gereik tot op of net onder die knie. Die dun kouse moes hulle deel bydra om die winterkoue van die bene weg te hou. As bykomende beskerming het die dames langmoufrokkies gedra en ‘n lekker warm broekie onder die kousophouer. Mevrou Smit, die dame van die skoenwinkel in die Kaap waar my ma al haar skoene bestel het, het eendag gebieg dat sy op ‘n bittere koue dag vergeet het om ‘n broekie aan te trek onder die kousgordel. Sy het haar fout eers agtergekom toe sy op die perron gestaan en wag het vir die voorstedelike trein. “Tannie Ley, die koue wind wat vanoggend onder my rok ingewaai het, het my onderdele in ‘n ysblok verander.”

Toe ek hoërskool toe is en oud genoeg was om te begin kouse dra, het ek verseg om my lyf in ‘n kousgordel te wikkel. Tot op daardie stadium was my enigste kennismaking met kouse die swart tights wat deel was van ons skooluniform. Dit was dik swart kouse met ‘n broekie (soos pantyhose). Ons het dit verpes, want hoewel dit in die winter ‘n mate van beskerming gebied het teen die winterkoue, is ons gedwing om dit vir twee volle kwartale elke jaar te dra. Dit beteken dat ons dit moes begin aantrek nog voordat die winter behoorlik toegeslaan het en ons moes dit ook nog dra lank nadat die somer reeds weer aangebreek het. In Namakwaland! Dit was warm en bitter ongemaklik. Bowendien was dit (volgens ons ouers) buitensporig duur en jy het dalk twee paar gekry aan die begin van die winter, wat moes hou vir albei kwartale. Die kouse moes elke dag gewas en opgehang word nadat jy dit aangehad het. Sou jy per ongeluk ‘n leer opdoen, het dit nie beteken dat die geleerde paar vervang is nie. Ons het maar die lere probeer keer deur eers seep en later gom aan te wend op die stukkende plek. Dan moes jy met naald en gare inspring om die leer toe te werk. Het die ongeluk by die skool plaasgevind, het jy gewoonlik die oop gaatjie probeer verbloem deur Indiese (swart) ink in jou vel te vryf daar waar die gaatjie ontstaan het.

Dis die tyd waarin sokkies hoogmode geraak het. Nie die soort sokkies wat jy aantrek nie – die soort waar jy jou lyf gaan wikkel op die dansbaan. Dit was in dieselfde era wat die minirokke hulle verskyning gemaak het. Wat sykouse aanbetref, het dit ons met ‘n dilemma gelaat, want die rokkie se soom was nooit laag genoeg om die kousband en die knippies van die kousgordel te verberg nie. Jy moes jou sit, staan en wikkel ken om nie jou kaal bobeen ten toon te stel nie. Daar was toe reeds wel kouse beskikbaar wat ‘n rek in die kousband gehad het. Dit was veronderstel was om die kouse op te hou sonder ‘n gordel, maar glo my, as jy langerige bene gehad het, was die kouse ver te kort en hulle het ook maar afgesak. Dit het dieselfde plooierige voorkoms tot gevolg gehad as die sykouse wat die ou tannies met ‘n perskepit bo hulle knieë vasgedraai het. Pantyhose (broekiekouse) was in ons geweste nog onbekend, hoewel dit blykbaar in 1959 reeds oorsee beskikbaar was.

Ek was een van die rebelse tieners wat die idee van die minirok omhels het, maar in sykouse het ek my nie laat indwing nie. Dit het verwoede Sondagoggend-gevegte in ons huis veroorsaak. Ek sou onwillig, en tot groot ontsteltenis van my ouers en die hele gemeente, by die kerk opdaag in ‘n mooi rokkie, met sandale 😲 of as dit baie koud was, met kort sokkies aan 🙄 maar ‘n sykous het my nie gesien nie. Gelukkig het hierdie fase nie lank geduur nie, want pantyhose het hulle verskyning gemaak op die winkelrakke net voordat my pa, die ouderling, se reputasie geruïneer is deur sy moeilike dogter.

Universiteit en my vroeëre jare in ‘n beroep het nie veel verligting gebring nie, want dames het nie langbroeke op kampus of by die werk gedra nie. Daardie ellendige sykouse (pantyhose) het om elke hoek en draai geleer en ek het permanent ‘n ekstra stel plus ‘n botteltjie kleurlose naellak in my handsak gehad. Ek was al ‘n moeder van ‘n kind of twee voordat langbroekpakke uiteindelik in volle glorie aanvaar is in die werkplek en ek het nie baie tyd verloor om ontslae te raak van die pencil skirts en slooprokkies nie. Ná afloop van die 1980’s het ek rokke gedra net op high days en holidays.

Langbroeke was nie net ‘n uitkoms by die werk nie – dit was ‘n lewensredder op alle gebiede. Langbroekpakke vir werk. Mooi langbroeke en bloese vir uitgaan. Denims vir die res. Ek het tot op hede nooit minder as ‘n halfdosyn denims in my klerekas nie. Skinny jeans. Ek verpes ‘n broek wat om my bene flap en die sypaadjies skoonvee. En dan die nuwe soort sykouse – leggings en jeggings. Daar is niks gemakliker nie. Heerlik in die winter, want as dit regtig koud is, kan jy sommer ‘n sweetpakbroek of gewone denim bo-oor aantrek. Ek dra soms verskillende lae klere sonder dat mense dit agterkom.

En ek het nie ‘n enkele pak sykouse in my kas nie.

Follow Dis Ekke

20 Comments

  1. Ek het hierdie baie interessant gevind. Ek en sykouse kom ook nie goed op die weg nie. Pantyhose was gewoonlik te kort en ek hou in elk geval om sandale te dra. Nou dat ek afgetree is vind ek tekkies en kouse is gerieflik om my voete warm te hou in die baie koue weer. Toe ek nog skoolgegee het, het my kollegas my geterg wanneer ek met skoene opgedaag het in die winter: now we know it is REALLY cold, want ek het verkies om sandale selfs deur die winter te dra – sonder sykouse!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Snaaks hoe die koue voete net kouer word so saam met die ouderdom. Ek hou nie eintlik van tekkies nie en verkies warm stewels saam met dik sokkies.

    • Og ja alles soooo bekend. My suspender het eendag in die middestad van Jhb gesnap en daar sak my sykous tot op my enkel. In ‘n winkel se deuropening gestaan en die kontrêpsie reggestel. Ek hou van sykouse in winter onder my langbroeke… my bene voel warmder. O ja, ek het ook eendag vergeet om ‘n panty werk toe aan te trek…. dit was baie ongemaklik… veral omdat ons net twee dames met omtrent 15 ingenieurs saamgewerk het.

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        En die manne het die heeldag lank gewonder hoekom jy so bloos? 😀

        • Jip…. mag mos nie langbroek gedra het nie… en rokke was nie lank nie. Baie baie ongemaklik gewees!!!

  2. Ag lekker gelees.

  3. Oe janee ek haaaaaait sykouse. Het ook niks in die kas nie. Lekker dik sokkies vir die winter asb en waar moontlik kaalvoet in die somer. Vir ordentlikgeit sal ek sandale of plakkies dra in die somer

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het nou op my oudag ‘n softie geword en loop glad nie meer kaalvoet nie. Elke stofkorrel op die vloer maak my sagte voetjies seer. Dra heeldag plakkies of sandale. Uiteindelik het ek skoon voetsole en seepgladde hakke & tone.

  4. Lekker ou dae. Die lere was altyd n probleem want dis meestal as jy n nuwe paar aan het hak hy iewers en dan moet jy maar net lak smeer wat dan aan jou vel vassit. As jy saans kouse uittrek kan jy nie verstaan hoekom die kous so klou en seermaak nie. Ons het ook dieselfde kleur broekiekouse gekoop. As een been geleer het het jy been afgesny en dit saam met n ander een watse been nog reg was aangetrek.

  5. Oe daardie ellendige sykousnate wat so moeilik was om reguit te hou!

  6. Ek het hierdie geniet. Self dra ek graag kneehighs of sokkies onder my langbroeke..

  7. Ek het nog altyd sykouse gehaaaaaat. Ek het daarom altyd “ooptoon” sandale gedra, sonder sykouse, kerk toe, werk toe , dans toe. 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daardie opsie was nie beskikbaar vir my generasie nie. In 1971 (toe ek begin werk het) was sykouse, hofskoene en sindelike soomlengtes nog verpligtend.

      • o, die sindelike roklengtes was veral ‘n sonde. Bid jou aan, as dit vandag moet terug kom, sal meeste jong dames eerder tuis bly as om te sit en roksome tot die regte lengte werk met ‘n naald, gare en regte soomsteke wat nie aan die regte kant wys nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Eeew, dis nare goed wat jy nou van praat. Ek het in jare – dekades eintlik – nie meer naaldwerk gedoen nie, maar ek onthou nog daardie marteling.