My vreugdes en frustrasies

My eiers

Towerinne se rehabilitasie in Kamp Goldilocks

Image by Eveline de Bruin from pixabay.com

Rehabilitasie is nou die voorland vir sommige van die Towerinne wat deelgeneem het aan die verwoede stryd teen Corona daar op Rebusfontein. So amper het dinge baie skeef geloop tydens ons veldtog teen die pandemie weens die Towerinne se onbeheerste verbruik van Frangelico (beter bekend as Engelepiepie).

Hier is die 15de hoofstuk van ‘n bloguitdaging wat handel oor die avonture van die Towerinne met Coronamouna en haar mak spinnekoppe wat die virusballetjies oor die planeet versprei en ‘n pandemie veroorsaak het.

Die Towerinne het met hulle gewone chaotiese doeltreffendheid en ‘n bietjie hulp van Chris Chameleon daarin geslaag om Una te verlos uit die kokon wat die spinnekoppe vir haar gespin het. Die Corona-virus-balletjies is uit hulle bestaan uit gesteriliseer en Lorenzo het die grot en al wat spinnekop is murtu geblaas met dinamiet. Sonell het vir Coronamouna met ‘n slinkse set in ‘n kênfroetbottel gevang en deur ‘n time warp gegooi om vir ewig in die buitenste duisternis rond te tuimel in haar bottel. Dis nou dieselfde time warp waardeur Broodina gestap het sekondes voordat Lorenzo die lont aangesteek het.

Dus is die wêreld nou ontslae van Corona en die Towerinne is ontslae van Broodina (of so hoop ons 🤔) Dit beteken die meerderheid Towerinne dink dis tyd om fees te vier in egte Towerinstyl. Gelukkig is daar nog enkeles onder ons wat nugter en wakker is en ons weet watter gevaar die Towerinne se gefuif soms vir hulleself kan skep. Ons is diep bekommerd en besluit dat die uitspattige Towerinne ‘n tydjie onder grendel moet deurbring ter wille van rehabilitasie.

Sonell en VirgoC het ‘n rehabilitasie-sentrum van staaldraad opgerig en ‘n paar tente opgeslaan daar op die dorpsmeent. Hulle noem dit Kamp Goldilocks. Dis waar die Towerinne opgeneem gaan word vir rehabilitasie. Ons hou daarvan om ons eie probleme op te los sonder inmenging van buite.

Toortsie, Kameel en Camilla slaap nog vas en is reeds opgeneem vir behandeling. Frannie sit by hulle en lees vir hulle voor uit Lidi de Waal se Die Varkievrou en Sonell hou ‘n wakende oog daar in die tent. VirgoC loop op en af buite die kampdrade en kou haar naels. Ek, Christa en Lorenzo staan nader om te hoor wat die plan van aksie is. VirgoC verduidelik dat sommige van die Towerinne hulle so vergryp het aan die Engelepiepie dat hulle nou heeltemal onkapabel is. Ons moet hulle oorreed om hulleself vrywillig aan te meld vir rehabilitasie.

“Dis happens when women drink too much,” sê Lorenzo wysneusig en let nie eens op dat VirgoC hom ‘n baie vuil kyk gee nie. Hy reken omdat hy die enigste man in die dorp is, kan hy die septer swaai.

Scrapy is reeds besig om Chris Chameleon en sy weermag in die Elon Musk vuurpyl te laai om hulle terug te neem na die beskawing. Die res van die Towerinne strompel moeg deur die kamp se oop hek en gaan vlei hulleself neer op die matrasse in die tente.

“Kyk! Hulle het self deur die hek geloop. Dis mos die soort gedrag wat in enige hof aanvaar kan word as vrywillige aanmelding vir rehabilitasie,” beduie ek, en sluit die kamp se hek. “Christa, kan daai robothond met sy drone dophou wat hierbinne aangaan terwyl ons planne beraam om die Towerinne te versorg gedurende hulle rehabilitasietydperk? Ons mede-Towerinne het nou ons sorg nodig.”

VirgoC is die een met die meeste ondervinding van siekeversorging en sy gryp onmiddellik pen en papier om neer te skryf wat ons benodig. “Meditasie, oefening, essensiële olies vir massering” mompel sy, “voedsame maaltye, Omega 3 kapsules, baie vrugte en groente, vrugtesap en Oros.”

“Bananas! De happy fruit,” sê Lorenzo, “it helps to increase de serotonin in de body to make you happy. The Tove-rins need to stay happy in rehab”.

Ek staar hom verbaas aan. Waar kom hy aan hierdie kennis? Het ons nou vir Wolf aangestel as skaapwagter? En ek wil graag sien hoe oorleef hierdie spulletjie op piesangs en Oros. Ek begin ook knibbel aan my naels – asof ek nou nodig het om óók ‘n slegte gewoonte aan te leer.

“Hester,” skree Christa en waai haar skootrekenaar bo haar kop rond terwyl sy van haar huisie af aangehardloop kom, “Toortsie het wakker geword en sy gesels op Whatsapp met Seegogga. Hulle is besig om te reël dat daar drank en grawe afgelewer word in die kamp. Ek dink hulle het snuf in die neus gekry oor ons rehabilitasie-planne en wil probeer om te ontsnap. Of anders het hulle dalk net lus vir ‘n groot paartie.”

“Nou waar is Seegogga? Was sy dan nie betrokke by die reddingspoging nie?”

“Seaghogga is home with de box of wine dat she got from Riebeek Cellars,” sê Lorenzo. “She said on Whatsapp. Now dey will have wine wif de cannabis biscuits dat Firefly made.”

Maskas, die man het sweerlik voorheen vir Interpol gewerk. Hy is ‘n walking encyclopedia waar dit die Towerinne se besigheid aangaan. Ek en VirgoC en Christa is skoon sprakeloos.

“Ons het versterkings nodig,” sê ek. “Waar is Kameel? Het ons haar in die kamp toegesluit? Sy is mos nie ‘n paartieperd nie!”

“Camilla is in de camp,” sê die Encyclopedia Britannica ewe behulpsaam.

Ek snork net. “Christa, kan jou robothond ‘n lys maak van almal wat binne die kamp is en almal wat los rondloop hier buite. Dan dink ek dis tyd dat ons hulp van buite af ook kry. Ek dink ek moet vir Silwer en sy motorfietsbende kontak? Daai manne weet hoe om hierdie spul wederstrewige vrouens vas te vat. Ek wonder of dit nie dalk ‘n goeie idee is om vir Abrie ook te laat weet van die gebeure hier nie. Dis mos hy wat die Towerinne voorgestel het aan die man met die monnikskleed. Ons het ‘n bietjie damage control nodig, voordat die koerante en tv-nuus uitvind wat in Kamp Goldilocks aangaan. Dink net aan die hoofopskrifte: “Towerinne in rehabilitasie.'”

“Too late,” sê die Encyclopedia en wys met ‘n bewende voorvinger na die blou Uno wat met ‘n geknars van wiele op die gruis by die ingang van die dorpsmeent stilhou.


Die Towerinne vertel self van hulle avonture, in die vorm van ‘n vervolgverhaal. Una gaan sorg vir die volgende aflewering. Lees gerus die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel:

https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017

Follow Dis Ekke

103 Comments

  1. O jitte, ek lees en sien prentjies. Hierdie Kamp Goldilocks gaan epiese fantasmagorie afgee. Lekker geskrywe, voel of jy hier by my by die kaggel kom vertel het.

  2. Hester, jy kan my so laat lag met jou spesiale Hester -woorde. Dit pas soos ‘n snoesige wolkous in hierdie winter weer. Miskien moet ek dit tog binne waag, ek is baie goed met masering en essentiele olies….

  3. Hestertjie, nou ja toe, hier gaan ons! Jy het ń presiese uitleg gegee van wie waar is en wat hoe gedoen is. Danksy die Encyclopedia weet ek ook nou dat Erna se beskuitjies reeds ge-arriveer het, en Seegogga oppad is. Oros. Gmph. Ek dink dis ń absolute fenominale idee om Silwer en die manne oor te nooi! Die towerinne weet presies hoe om hulle te gedra voor so ń netjiese klomp motorfiets entoesiaste.

  4. Wonderlik saamgebring en heerlike kinkels vir die vervolg aangebied. Ek kan nie wag om verder te hoormwat aangaan nie. Ek lief hoe die WhatsApps saamgebring is in die storie. Mens gaan kop moet hou as jy verder wil skryf. Uitestekend!

  5. Ahaa! Kameel is BINNE. Hoe gaan ons die ander binne kry? Antonio kan maar byite bly, hy is te wysneuserig. Om te loop en uitlap wat ek en Seegogga vir mekaar privaat whattsapp. Genade!

  6. Ek moes net keer om nie kliphard te lag nie.

  7. Ag Hester jy skryf so lekker. Wonder wat alles hier gaan uitbroei. Die Undertaker vir Toorts klink na regte medisyne. Kan verstaan dat jy naels begin kou!!!

  8. O Griet, soos liewe Heksie sou se en world daar staan haar mankolieke perd en vra:”wat wil jy he Levinia?” Hier kom n ding. Ek voel dit so aan my rumatiek vingers. Ons sal beslis daardie klomp bikers moet laat kom.

  9. woordnoot

    Ja nee nê….die Towerinne kan nie eers n serijaaaaaas ding soos rehabikilitasie, rekabilasie, ag wat is daai groot woord nou weer? doen sonner fyn beplanning nie.. Grawe, Undertaker en Oros????

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Net jammer niemand hou ooit by die planne nie.

      • woordnoot

        Eish…dalk moet ons n lesingkie of twee inwerk by Camp Goldilocks. Iets soos STAPPE OM JOUSELF TE BEHEER…..of, ag nee dit klink simpel

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Selfbeheer is nie in ‘n Towerin se aard nie. Hulle kort ‘n stel unieke reëls.

        • woordnoot

          Mmmmm….jip. anders is hulle nie meer Towerinne nie!!!!

  10. Uitstekend geskryf !! Ek het dit nou so geniet, Hester.

  11. Baie geniet Hester, maar ekvis so bky eks nue binne nie. Riebeeck Cellars is baie lekkerder as Oros. ( Het julle gehoor hoe Toortsie lag en giggel?