
Hierdie blogpos is deel van die fiktiewe Kuier-Safari toer wat deur 14 bloggers onderneem word. Elke Towerin moet haar mede-Towerinne onthaal in haar tuisdorp en meer leer oor haar streek en provinsie. Ongelukkig woon nie een van die Towerinne in die Noord-Kaap nie, maar ek het in Namakwaland grootgeword in die sestiger-jare. Ek het dus besluit om die Towerinne saam met my te neem op ‘n 4-daagse bustoer “down memory lane”, wat ek in die werklike lewe onderneem het veertig jaar nadat ek Namakwaland se stof van my voete afgeskud het. Alle fotos gebruik is private eiendom, behalwe waar spesifiek anders aangedui.
Lees vorige bydraes deur die verskillende skrywers by hierdie InLinkz skakel http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928.
Kaapstad
Ná ons lekker kuier saam met Trommeltjies, het ons by die luuksueuse Fountains Hotel in Kaapstad ingeboek. Ons is vroeg bed toe om goed uit te rus, want ‘n trek van vier dae per bus vanaf Kaapstad tot in Springbok en terug, is gewaarborg om selfs die mees gesoute reisiger uit te put.

Die plan was om die eerste dag teen die Weskus af te ry tot in Lambertsbaai en dan oor te slaap in Clanwilliam. Hierdie strook is natuurlik nie deel van Namakwaland nie, maar hoekom dan nou nie ‘n paar interessante plekke langs pad besoek terwyl ons is elke geval daarlangs moet ry nie?
Na ‘n heerlike ontbyt en ‘n laaste wuif in die rigting van ou Tafelberg, het ons in die pad geval. Net daar by Malmesbury, waar ons links gedraai het in die rigting van Darling, was my gemoed reeds vol van herinneringe aan my grootworddae. My pa het in die Swartland grootgeword en en hy het sy hele lewe lank die Swartland-bry behou. Julle wat dalk ooit ‘n toespraak van Jan Smuts aangehoor het of moontlik geluister het na die spraak van die aktrise Trix Pienaar, sal presies weet hoe klink hierdie bry. Indien nie, bel vir Toortsie en luister na haar brgy – sy prgaat ook met daargdie “uvulêre triller”.
Ons sou later in die toer weer terugkeer na Malmesbury omgewing en ‘n bietjie meer oor die streek gesels. Vir nou was ons op pad na die Weskus toe.
Darling
Darling is natuurlik baie bekend vanweë die dorp se veldblomreservaat en staan sommer bekend as die “blomme-dorp” van die Weskus. Maar daar is ‘n ander rede waarom ons vandag die dorp besoek. Dit is ook die tuiste van Evita se Perron, die museum, restaurant en teater wat behoort aan die satirikus Pieter-Dirk Uys, wat veral bekendheid verwerf het vir sy politieke kommentaar oor die apartheidsera. Ons het tee gedrink in die restaurant en die museum met sy apartheids-memorabilia besigtig, asook die sementbeelde van bekende politieke persoonlikhede in die Boerassic Park. Daar is letterlik duisende fotos van hierdie venue beskikbaar op die internet (google net “Boerassic Park images”) en ek gaan net die volgende drie byvoeg wat reeds genoeg sê oor apartheid.
Yzerfontein
Ek het Yzerfontein leer ken in die dae toe ons in Kaapstad gewoon het (1988 tot 1993) en ons gereeld daarheen gery het net om snoek te gaan koop. Ons het gewoonlik vroeg op ‘n naweeksoggend reeds die visskuite ingewag en die vissermanne het sommer net daar by die hawe vir ons die snoeke gevlek. Vandag nog is dit een van my gunstelingvisse en ons koop gereeld Weskus-snoek wanneer dit hier beskikbaar raak in die winkels in KwaZulu-Natal. Ons braai dit graag op die rooster, bak dit in die oond of braai dit in die pan. My ouers was lief daarvoor om smoorsnoek te maak (gaargemaak in ‘n pan saam met uie en tamaties). Die grootste lekkerte is om die stukkies vis so van die rugstring af te suig.
Yzerfontein het ‘n pragtige uitsig oor Tafelberg en natuurlik op Dasseneiland, een van die 34 onderwaterberge aan die Weskus wat bo die oppervlakte van die water uitsteek. Dasseneiland is bekend vir sy groot kolonies dassies, voëls (veral pikkewyne) en ook skilpaaie.
Saldanha
Ons volgende stilhouplek was bo-op ‘n koppie wat ‘n asemrowende uitsig oor die hawe van Saldanha bied. Op die koppie staan twee unieke rotse wat bekend is as Adam en Eva. Saldanha is natuurlik bekend daarvoor dat ‘n militêre akademie daar gehuisves word. Die gebied word as ‘n natuurbewaringsarea geadministreer en is ryk aan die natuurlike Weskus fynbos en wildslewe, wat besigtig kan word vanaf wandelpaaie. Saldanha se beskutte hawe is ook bekend as die hawe waarvandaan ystererts wat in Sishen ontgin is, uitgevoer is.
Paternoster
Geskiedenis leer ons dat Vasco da Gama, die Portugese seevaarder, op soek na ‘n nuwe seeroete tussen Europa en die Ooste, in 1497 by die monding van die Bergrivier aan wal gestap het. Die baai, wat vandag bekende is as St. Helenabaai, het hy die “Baai van die Heilige St. Helena ” genoem. Dis hier waar die Onse Vader -Pater Noster – gebed vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse bodem gebid is. Paternoster is ‘n pragtige toeristedorpie.
Een van die Towerinne, ek gaan nie sê wie nie, het dit goed gedink om ‘n pakkie bokkoms by die padstal te koop en het dit op die bus uitgedeel as ‘n versnapering. Diegene wat nie gewoond is aan die skerp visreuk nie, het effens groen om die kiewe geword. Die res van ons het gelag en saamgeëet, want is dit dan nie een van die reuke wat die Weskus so diep in jou hart laat kruip nie?
Laaiplek en Velddrif
Ons het net vinnig aangedoen in Velddrif en Laaiplek, ‘n hengelparadys geleë op die oewer van die pragtige Bergrivier. In die lente is die veld hier oordek met natuurlike veldblomme (dis nou mits dit ‘n goeie reënjaar is) en toeriste stroom dan hierheen.
Lambertsbaai
Die lewe in die Lambertsbaai wat ek as kind geken het, het gedraai om die vis- en kreeffabriek. Ek onthou hoe het die reuk van vis en die olie van die vissersbote letterlik oor die dorp gehang, veral wanneer die mis dig was. Die fabriek is mettertyd afgeskaal en toegemaak, en etlike jare terug reeds is dit omskep in ‘n aartappelfabriek. Daarmee saam het die “charm” van die dorp vir my effe verlore gegaan, want aartappel ruik nie na veel nie. Tog is dit nog steeds ‘n pragtige plek wat baie toeriste lok. Ons het ‘n rustige koppie tee hier gedrink, bedien met ‘n toringhoësny lemon meringue-tert, terwyl ons die seemeeue op die dakke van die geboue dopgehou het.
Clanwilliam
Die laate deel van die rit het ons in relatiewe stilte afgelê en net die omgewing beskou. Ek dink die Towerinne het begin moeg word en ek het benoud gewonder hoe hulle sou reageer op die volgende dag se lang rit. Maar eers het daar ‘n heerlike aandete op ons gewag by die pragtige Clanwilliam Lodge waar ons die aand oorgeslaap het.

lekkervurig
Een van ons gesin se lekkerste vakansie onthoue is Lambertsbaai, die hawe, die mense, Muisbosskerm, die Plaaskombuis, die see, ag dit was net hemels lekker.
HesterLeyNel
Ek sou graag so ‘n kuier-kuier trippie wou doen daar teen die Weskus af. In die somer, natuurlik. Maar dan wil ek sommer dwarsdeur kuier tot daar in Alexanderbaai op die Namibië-grens. Al wat my weerhou is die wete dat ek dan weer al die pad moet terugry!
lekkervurig
Mens moet eintlik so rondom die land toer doen, daar by julle begin en dan om en op en Botswana oor tot hier bo by ons en dan weer af na julle….
HesterLeyNel
En oorslaap net waar jy wil, kuier so lank as wat jy wil …
lekkervurig
Jip – jy kan onderweg terug laaaank by my kom uitspan, die gastehuis is altyd reg met kos en handoeke en, en, en ….
HesterLeyNel
Dit klink heerrrrlik, soos wat Toortsie sê
lekkervurig
handdoeke… bloos
HesterLeyNel
Bloos jy oor een verlore d?
lekkervurig
Ek is bang vir die taal polieste
HesterLeyNel
Haha
travel460
Nee wat, niks moeg nie, ek het elke oomblik hiervan geniet en ingedrink, dankie Hester. Weskus-snoek, hoe water my mond nou so hier vroegoggend.
HesterLeyNel
🐟 🐟 🐟
Positief
Was dit ek wat die bokkoms so uitgedeel het? Ek vrek oor daai sout en skerp visreuk. Bokkoms in die Kaap is nes ‘n toffieappel op die skou, jy moet dit net hê, anders is helfte van die “trip” verlore
Toortsie
Hier gee sy sekf haar ‘game’ weg! 😂
Positief
Ek is mos maar so oop en eerlik
HesterLeyNel
Só ken ons jou en dis mooi eienskappe.
Toortsie
Ek hou daarvan. 😊
HesterLeyNel
Jip 🤣
HesterLeyNel
Ha … ek het gedink iemand gaan byt aan my aas en daar gee jy jouself weg! Ek vrek self oor die reuk van soutvis en bamboes – die hele Weskusreuk en ek het al daaroor geblog. https://www.hesterleynel.co.za/2015/03/05/die-reuk-van-my-jonkwees/
Toortsie
Om een of ander rede gooi my doon my kommentare weg!
Toortsie
Foon
HesterLeyNel
Ja, daai doon-foon is ‘n aaklige foon 🤣
Toortsie
😂 Met my is enige iets moontlik.
HesterLeyNel
Jy’s nie in my spambox nie – ek het gaan kyk.
Toortsie
Dis iets met my foon, maar nou us dit weer reg.
Toortsie
Weet julle dat die koringboere van die Overberg anders bry as die koringboere van die Swartland?
Swartlanders se r klink soos ‘n g, terwyl die Overbergers die r agter in die keel maak, ek dink ons tril die kleintongetjie.
Woorde met baie erre en g’s is baie moeilik om uit te soreek, bv geregistreerd. Moeilik!
HesterLeyNel
Ek probeer my nou voorstel hoe geregistreerd uit jou mond sal klink 😁 Nee, ek het nie geweet daar is ‘n verskil in die bry nie. Interessant. As kind het ek ook so gebry agter my pa aan, maar dit gelukkig later afgeleer. Ek het wel nog ‘n probleem om ‘n woord met “gr” daarin reg uit te spreek en ek moet mooi dink wat ek sê, anders kom “die gras is groen” uit as “die glas is gloen”.
Toortsie
En interessant genoeg, as ek Engels praat, bry ek nie.
HesterLeyNel
Seker omdart die Engelse “r” so effe doodgedruk word teen die verhemelte. Maar dankie dat jy my gebel het om my te laat hoor hoe klink geregistreerd 🤣 Ek het dit nou vreeslik geniet.
Toortsie
🤪 Ek dink ek praat Engels meer voor in die mond? Dalk is ek meer gespanne as ek Eng praat?
Dit was kekker om jou stem te hoor. 😊
Toortsie
Yzerfontein! Ai! Ek het een keer daar gaan kuier vir ‘n vriendin. 😁 As die snoekskuite ingekom het, was ons daar!
HesterLeyNel
Daar is niks lekkerder as vars snoek op die kole gebraai saam met varsgebakte brood, regte plaasbotter en korrelkonfyt nie.
Toortsie
Heeerrrrlik
HesterLeyNel
😜
trommeltjies
Lambertsbaai en muisbosskerm is mos sinoniem, heerlikste kuiers daar gekuier. Clanwilliam in veldblom tyd is ń miernes, ek en vriendin het twee jaar agtermekaar ń stalletjie daar gehad. Die interressantste mense daar ontmoet. Kyk ek hou van die weskus maar ek eet nie snoek of bokkoms nie.
HesterLeyNel
Nee! Dan het jy nog nie die regte Weskus-ervaring gehad nie. Probeer weer.
HesterLeyNel
Wil jy nie vir ons vertel van ‘n besoek aan muisbosskerm nie? Ek sien nou in die kommentare dat sommige Towerinne nog nooit die Weskus besoek het nie. Ekself weet van muisbos, maar siende dat my hele familie allergies is vir jodium en nie skulpvis kan eet nie, het ons nooit daar gekuier nie.
trommeltjies
Ek maak so
HesterLeyNel
Dankie 😁
Toortsie
My broer was in Saldanha in die vloot en ons het een keer vir hom daar gaan kuier.
HesterLeyNel
Ek ken Saldanha nie eintlik nie. Ons was soms in daardie omgewing vir uitstappies, maar ek het hoër op in die noorde van Namakwaland grootgeword en ken die kus van Hondeklipbaai af tot bo by Alexanderbaai heelwat beter.
trommeltjies
Yzerfontein bring ook lieflike herinneringe terug, ń vriendin het ń strandhuis daar en ons het menige nheerlike kuiers daar gekuier. Jy kon van die stoep af sien as die skuite inkom en het dan vinnig af gestap hawe toe om die spulletjie dop te hou.
HesterLeyNel
Dit is darem ‘n besondere ondervinding wanneer jy die skuite so kan dophou en dan die opwinding van die vissers wat hulle visse probeer verkoop. Heerlik!
Toortsie
Het ons nie by die Muisbosskerm gaan eet nie?
HesterLeyNel
Nee, hierdie was mos eintlik net ‘n vinnige deurry op pad Namakwaland toe. Ons sou te lank vasgehaak het by Muisbosskerm. Dalk sal een van die ander bloggers graag van hulle besoek en ete daar wil vertel. Trommeltjies ken dit goed – ek sal haar vra.
Toortsie
Dankie Hester, dit was ‘n lieflike dag. 😊
HesterLeyNel
Dit was heerlik om dit saam met die Towerinne te beleef. Dankie almal.
perdebytjie
Dis nou ‘n wêreld wat ek nog nooit besoek het nie. Dankie vir die heerlike toer, Hester. Ek was glad nie moeg nie en kon nog ure na alles kyk, veral nadat ek goed gesout is van daardie geurige bokkoms!
HesterLeyNel
Dis ‘n plesier en ek het gesien die Towerinne was besonder dors nadat die bokkoms verorber was. Geen wonder dat die Frangelico so vinnig begin min word het nie.
perdebytjie
Daar was hopeloos te min drinkgoed.
HesterLeyNel
Wel, ek hoop julle het goed gestock vir dag 2, want ons gaan deur ‘n droë wêreld ry.
trommeltjies
Ai nee, wat van al die wyn wat verorber of liewer gedrink is.
HesterLeyNel
😉
perdebytjie
Wyn maak mens éérs dors!
HesterLeyNel
Bwahaha
scrapydo2.wordpress.com
Dankie hoor, nou het ek heerlik ontspan en net geluister en gekyk na alles. Dis vir my ook heel nuut. Name gehoor al maar dis ook al. Nou weet ek bietjie meer. Hoe is die klimaat in daardie geweste?
HesterLeyNel
Die dae is baie lekker in die somer mits die wind nie waai nie – daai wind maak jou rasend wanneer hy die fyn wit seesand in jou oë en tot binne-in jou klere waai. Die water is maar altyd koud – dis mos ‘n koue seestroom wat daar verbykom. In die winter raak dit vrek koud, veral as die fyn motreëntjie uitsak en die mis hang so dik oor die aarde dat jy jou hand nie voor jou oë kan sien nie. Dis dan wat die see ruik soos regte see – jy ruik die sout in die water, die visse in die see en die seewiere wat op die strand uitspoel.
scrapydo2.wordpress.com
A dankie, nou het ek die gevoel gekry.Kan glo dat daardie sand jou sal seermaak as die windso waai. Dis hier waar ek nou is ook aan die weskus en met tye ruik dit ook soos jy sê regte see. Water is ook heeltemaal te koud om jou tone in te steek.
HesterLeyNel
Toe ons jonger was, het die koue water nie saak gemaak nie. Ons het heerlike dae by die see deurgebring, maar die ouer gebeendere verkies maar die warmer Suidkus-waters.
scrapydo2.wordpress.com
Netso!
trommeltjies
Vriend van ons sê altyd die wind is gebore in die weskus. Baie winderige plek
woordnoot
Dankie vir hierdie…dis tipies Weskus. Dit laat mens sonder woorde, daar is te veel om in te neem. Ons het een aand in Lambertsbaai oorgeslaap en na die eiland toe gestap waar die voeëls is, maar die reuk het hierdie stadsjapies vinnig laat omdraai. Ek het ook al ‘n naweek is Saldanha oorgebly in ‘n gastehuis wat soos ‘n kasteel lyk, maar ek wil liewer vergeet van daai een! SIen uit na die volgende dag, Hester!
HesterLeyNel
Dankie Woordnoot. Jip, daardie gwano-reuk skrik baie mense af. my pa het altyd sakke gedroogde gwano bestel om in sy groentetuin in te werk by ons huis in Springbok en dan het ons dae lank die reuk van seevoë-akkies in ons neuse gehad!
woordnoot
O my soul!!! My stadskindertjies sou verhuis het as ek dit sou waag!
HesterLeyNel
🤣🤣 Op die platteland was ons gewoond aan koei- of perdemis in die groentetuin. Almal het dit gebruik.
woordnoot
Hier in Pretoria kom daar so nou en dan ‘n lorrie wat hoendermis verkoop…ek het nie ‘n groentetuin nie…
Bondelsgedagtes
Wow was die Fountains Hotel nou ‘n bederf. Sulke weelde ken ek nie eintlik nie so ek het my behoorlik verlustig hierin. Ek sal oor die kos nie eers praat nie, njammies.
Ek looooooooove Parternoster, dink ek sal daar gaan aftree.
Wat die bokkoms aanbetref kan julle myne maar kry, gee net nog n happie snoek aan asb. Die lang ryery was ook lekker hoor, ek kan my mos verkyk aan als en lekker stories en prenkies in my kop bou. Baie dankie vir hierdie lekker kuier
HesterLeyNel
Dit is ‘n fantastiese plek. Ek het (werklik lewe) lank rondgetrippel in die ontbytsaal en kon nie besluit wat ek moet eet nie. Hulle diens is van die boonste gehalte.
Kameel
Dit het my sommer nou op lekker paaie teruggeneem. Baie lag op Lambertsbaai toe ek vir drie weke by my sus Rika gaan kuier het. Die Swartlandse neef wat gesels en ek kannie ‘n woord verstaan nie. Ete by Muisbosskerm. Clan William met sy blommeskou….en natuurlik oor die Sederberge Wupperthal toe. Ooooo dis heerlike onthou. Dankie Hester.
HesterLeyNel
Ek is bly jy het dit geniet. Ja hoor, daai klomp Swartlanders kan die taal gooi sodat jou brein later uithaak. Ons was een jaar in Goudini vir ‘n werkskongres. Laat een nag het ‘n kombi met Swartlandse boere opgedaag – ook vir ‘n kongres – en ‘n klompie van ons wakker geklop. Die manne het toe klaar gewerk en nou wou hulle paartie hou. Teen vier-uur die oggend het ons almal in ‘n kring gesit en Springbokbiltong geëet. So tussen die kouery deur het ‘n bottel KWV die rondte gedoen en elkeen moes ‘n proppievol brandewyn drink wanneer die bottel(s) verbykom. Die volgende dag het ons verbasend min werk gedoen gekry. Hartlike, van-die-aarde-mense en hulle kán gesels, maar ná so ‘n paar proppies brandewyn neem die gesprek mos maar sy eie loop en maak dit nie meer saak as jy dit nie kan volg nie.
trommeltjies
Wupperthal laat mens nou net met ń pyn in die hart, om te dink al daardie pragtige huisies is nou net murasies na die brand. Die ongelooflikste hoenderpastei by die Louis Leipoldt huis (restaurant) ge eet.
HesterLeyNel
Ja, dis ‘n baie seer saak daardie.
Kameel
Ag nee…die kerkie…doemenie se huis…die poskantoortjie en skoenfabriek alles????
HesterLeyNel
Groot verwoesting met die onlangse brande daar. Google sê “Fire razes historic Wupperthal Moravian Mission Station in Western Cape. A fire devastated Wupperthal, near Clanwilliam, on Sunday December 30 2018, leaving an estimated 200 people homeless. … The blaze that swept through to Wupperthal Moravian Mission Station also destroyed the clinic and parsonage of the minister.” So, so hartseer.
Kameel
Nou is my hart baie seer….dit was so ‘n spesiale plek.
trommeltjies
Wupperthal laat mens nou met hartseer dink aan die pragtige plekkie wat was, vol historise geboue en ń ambience soos min. Nou net murasies en pyn
HesterLeyNel
Ai.
Kameel
Ag nee is Wupperthal nie meer nie!!!
A. Shepherdson
That’s what I call an impressive mountain!
HesterLeyNel
Yes, Cape Town’s Table Mountain is the most well-known landmark in South Africa. We are immensely proud of it.
VirgoC
Maar mense, dis die mooiste fotos en jy laat my nou sommer so smile deur so verlang-traan
HesterLeyNel
Dankie Virgo. Ons het die fotos geneem in 2010 op ‘n toer deur Namakwaland toe ek my dogter gaan wys het waar haar ma grootgeword het. Ek is daar weg in 1971 en hierdie was die eerste keer in 40 jaar wat ek weer die landstreek besoek het. Dit bly darem maar ‘n mooi wêreld.
VirgoC
🌻🌻 praat jy
Tannie Frannie
Iewers in ‘n laai of ‘n kas het ek die mooiste kiekie van Gewese Liefling by Muisbosskerm, glas wyn in die een hand en ‘n heel kreef in die ander…
HesterLeyNel
Plaas hom – ek is seker die Towerinne sal meer te sê hê oor die man as oor die kreef!
Tannie Frannie
😀
aj vosse
Ek het my vakleerlingskap of VOS Langebaanweg gedoen!
Ek ontou ‘n paar van daai dorpies… Saldahna se bank het so nou en dan ‘n besoek gekry… die hotel op Langebaan… en Velddrif…
Dwarsdeur Darling en so nou en dan Hopefield gery. Weskus Highway… pasop vir die speitkops… wetters! Reguit by Yserfontein verby!
Maar, ek was heel dikwils bo op die berg by Aurora!! Wag staan vir ‘n week… twee bottels rum saam… en kos en alles!! (Die lugmag het die kos gegee…) (Ek het kos gemaak… dan las die ander dop by!! – Ja, shaaim… ek suip al lang jare!!)
Nou val ‘n ding my by… as die wind gewaai het van die see se kand dan het die mense gepraat van Anna van Saldahna…
Oukei… no loop ek maar weer aan… voor al die herhinderinge my na drank laat smag! En snoek… en Haanepoot… en kreef… en vliegtuie… en mooi Swartlandse nooiens… daar by die hotelle… ja… ek loop, NOU dadelik!! 😉
HesterLeyNel
Hahaha. Ja, so het elke ou maar sy besondere herinneringe.