Die besoek wat ons op die ingewing van die oomblik aan Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville gebring het, was deur en deur die moeite werd, maar nou moes ons die Knersvlakte aanpak op reis na Kamieskroon toe waar ons slaapplek bespreek het vir die nag.
Ons het vir oulaas bo aan die Vanrhynspas gestop en ’n foto geneem van die Knersvlakte wat in hierdie goeie reënjaar ’n ongelooflike gedaanteverwisseling ondergaan het. Ons moes teruggaan deur Vanrhynsdorp waar ons weer op die N7-hoofweg kon aansluit. Op pad daarheen het ons ’n paar keer stilgehou om nog foto’s te neem van blomme langs die pad.
Gewoonlik is die Knersvlakte ’n dorre, waterlose landskap en op die oog af is daar absoluut geen lewe nie. Daar groei egter ’n magdom endemiese vetplantjies, veral vygies, onder die wit kwartsgruis wat die gebied bedek. Die gruis weerkaats die sonlig en en is nie so warm soos die donkerder rotse en grond wat hierdie gebied omring nie. Dit is belangrik vir die plantegroei wat moet oorleef op ’n gemiddelde reënval van 100 mm per jaar. Hierdie droogtebestande plantjies is baie gewild in Suid-Afrika en oorsee, en kan by kwekerye aangeskaf word waar hulle uit saad gekweek word. Dit is teen die wet om die plantjies self uit hulle natuurlike omgewing te verwyder.
My kinders het hulle verwonder aan hierdie landskap wat vanjaar groener lyk as gewoonlik. Ek en Karen het in 2010 hierlangs gereis en het heelwat foto’s geneem, want ons toerbusleier het ons attent gemaak op die klein plantjies wat onder die wit kwartsgruis groei.
Ons was nou op weg na die landstreek wat ek gewoonlik “Namakwaland proper” noem en wat strek van Garies tot by die Oranjerivier – die grens tussen Suid-Afrika en Namibië. My grootword-wêreld. Ons is verby Nuwerus en Bitterfontein (daar waar die treinspoor ophou) en met die Knersvlakte agter ons, het ons ’n paar keer langs die pad stilgehou om nog ’n paar foto’s te neem.
Ons het net voor vyfuur Garies bereik. My ma se geboortedorp. My oupa en ouma het ’n huis gehad in die hoofstraat, net skuins oorkant die skool. Ek onthou ons vakansiekuiers by hulle, die huis met die soldertrap en die hoë agterstoep waarvandaan jy kon uitkyk na die rivier toe. Ek was nog ’n klein tjokkertjie toe beide grootouers oorlede is en kan nie onthou of daar ooit water in die rivier was nie, maar ek onthou hoe het ek en my oudste boetie met ouma se leë soutblikke in die droë rivierloop gespeel. Die foto bo aan die blog is van die bekertjie wat Karen gekoop het ter aandenking van ons tweede Namakwalandreis. Ons kon ongelukkig nie lank in die dorp vertoef nie, want ons moes nog gaan soek na ons verblyfplek daar naby Kamieskroon.
Tussen Garies en Kamieskroon het ek die afdraaipad na Leliefontein gesien waar my oupa in die twingerjare in ’n padwerkerkamp gewoon het. My ma en haar boertjie het altyd in skoolvakansies by hom gaan kuier en sy het ons baie stories vertel van die padwerkers en die lieflike omgewing van die Kamiesberge. Oupa was ’n groot storieverteller en ’n platjie wat sy kinders daarvan oortuig het dat Leliefontein die einde van die wêreld was – sou jy verder reis deur die berge, het jy gevaar gestaan om van die wêreld af te val. Ons het so pas verby die einde van die wêreld gereis, sê ek vir my kinders, en hulle kyk my aan asof hulle ma so ’n bietjie koekoes is.
Ons was reeds ’n bietjie moeg van die lang reis en die afdraaipaaie wat ons gevolg het, en het die aanblik van die Kroon van Kamieskroon waardeer.
Kort daarna het ons net voor Kamieskroon afgetrek op die grondpad wat ons sou lei na die plaas No-Heep waar ons in een van die kothuisies van Verbe Akkommodasie sou oornag.
Die son was besig om te sak oor Gertjie se Huisie. Hierdie kothuisie het nie elektrisiteit nie, maar is gerieflik ingerig met ’n binneshuise vuurherd en braai, asook ’n stoof / yskas / geyser wat met gas werk. Die ligte werk met behulp van son-energie. In die slaapkamer was ’n dubbel- en ’n enkelbed.
Ons het by die meeste van die verblyfplekke waar ons oorgeslaap het, al drie gerieflik in een slaapkamer geslaap, een badkamer gedeel en saam om die kombuistafel geëet. Vir ’n hegte familie-eenheid is dit die ideale tyd om in ’n beperkte ruimte te kuier en te herkou aan die dag se belewenisse terwyl foto’s afgelaai word en ons met die ander deel van ons familie op WhatsApp gesels. Net hierdie een keer was daar nie ’n telefoonsein in die akkommodasie nie, maar daaraan het ek my min gesteur, want ek het my verwonder aan die inhoud van Gertjie se Huisie – die boeke, ornamente, foto’s, ornamente en meubels wat met soveel trots en noukeurigheid uitgestal word. Dis beter vermaak as wat die wi-fi my kan bied. Dis presies net hier waar ek my volgende wittebrood gaan hou, verklaar ek plegtig en my kinders staar my aan asof ek nou ál my varkies kwyt geraak het.
Teen daardie tyd was ek al halfpad dood van die honger en het nie gewag vir die beloofde brood en eiers nie, daar was immers ’n bottel tuisgemaakte vyekonfyt op die kombuistafel. Ek het my roosterbrood wat ek saamgebring het daar van Niewoudtville se waterval af uit die koelboks gehaal, die vyekonfyt dik opgeplak en die brood afgesluk saam met koffie. Jip, ek het weer leer koffie drink op hierdie toer, na soveel jare van kafeïn-weerhouding. Ek het daardie konfytflessie letterlik beroof van sy inhoud en as Karen nie gekeer het nie, het ek sowaar die botteltjie uitgelek ook. Dis die heerlikste vyekonfyt wat ek in my leeftyd geëet het. Toe het ek nog ’n koppie koffie gevra en die tuisgemaakte beskuit op die tafel beetgekry.
Daarna het ek my beurt in die warm stort geneem en skuins ná agtuur was ons almal in die bed. Ons was poegaai. Ons het immers deur die Knersvlakte gekom.
woordnoot
Jimmel Hester…dis eintlik die mooiste deel van ons land want daar is die meeste verrassings weggesteek wat mens net moet ontdek! Ek geniet hierdie reis ongelooflik@
HesterLeyNel
Dis die moeite werd Woordnoot, al is die afstande soms skrikwekkend.
woordnoot
Het in 2003 die 1e keer met die noordkaap en sy wye genade kennis gemaak. Dalk kom my voorgeslagte van daar want regtig…as iemand my daar n blyplek aanbied stoot ek my furniture met n kruiwa soontoe🥰
HesterLeyNel
Ek dink daar is heelwat oud-Namakwalanders wat hierdie jaar heimwee het en wil “huis toe” gaan.
Kameel
Ooo Hester my hart klop warm terwyl ek hier lees. Die mooiste mooi wêreld in blommetyd.
HesterLeyNel
Die blomme is besonders ja, maar daai wêreld is vir my maar altyd mooi, selfs in droogtetye, want die mense wat daar woon is sulke méns-mense.
Anne
Ek geniet hierdie toer saam met julle. Die blomme lyk so mooi hierdie jaar.
HesterLeyNel
Dit is vanjaar besonder mooi Anne. Ek wens ek kon langer tyd daar deurgebring het.
Lekkervurigeaffêre
Ek is so bly dat ons saam kan kyk en beleef. Hierdie was beslis emmersvol genot en saamwees vir jou. My mond water vir lekker vyekonfyt. Die blommeprag van jou omtes is vir my by mooi verby. Dankie dat jy jou reis in prente en mooi warrel met ons deel.
HesterLeyNel
Jy sou dit so geniet het om die Namakwalanders in hulle natuurlike omgewing te ontmoet.
Liza
Hierdie is die lekkerste saamwees en vakansie. Geniet elke stukkie en bêre jou memories veilig!
HesterLeyNel
Dit was heerlik Liza. Ons is al terug by die huis en ek is besig om die foto’s uit te sorteer en ons herinneringe neer te skryf. Dis soos om ‘n rugbywedstryd weer oor te speel in die kroeg nadat die toeskouers al huis toe gegaan het 😁
Bondelsgedagtes
Sjoe dis beautiful ❤️ Ek verkneukel my aan die name van die plekke. Wonder watse storie skuil daar agter. Dankie vd saam Reis geleentheid, eendag gaan ek ook kyk
HesterLeyNel
Die storie agter “Knersvlakte” is glo dat die Trekkers op hulle Dorslandtrek op pad Namibië toe (destyds Duitswes-Afrika) se wawiele so gekners het op die kwartsgruis daar in die vlakte. Weet nie hoeveel waarheid daarin steek nie.
Bondelsgedagtes
Ek dink ek sou op my tande gekners het🤣
HesterLeyNel
Hahaha, ek het ook al so stilletjies in my gedagtes gewonder oor die brawe vroue wat so saam met hulle mans hierdie dorre land binnegevaar het – hulle het letterlik die woord “vasbyt” hul eie gemaak.
scrapydo2.wordpress.com
Dis te heerlik om so terug te gaan en ook te dink aan al die avonture wat jy as kind beleef het. Baie, baie dankie dat jy so lekker vertel en fotos wys ook.
HesterLeyNel
Soms moet mens herinner word aan jou herkoms. Ek is bly ons het, letterlik op die ingewing van die oomblik, besluit om die lang rit aan te pak.
scrapydo2.wordpress.com
Uitstekend, goed vir jou gees en ook kinders se ontdekking van vroëe dinge wat jy beleef het.
amandacl
pragtige foto’s van ‘n wêreld wat ek glad nie ken nie
HesterLeyNel
Dankie Amanda. Dit maak my hart warm dat mense my geboorteland so geniet.