So ry ek en my dogter een bitter koue Augustusmaand per luukse toerbus deur die Knersvlakte op ‘n kruistog om die beroemde lente-blomme van Namakwaland te sien.
Dis koud. Dis vrek koud. Die lug is grou, met geen beduidenis van reën nie, maar die wind waai ysig deur ons ribbes, ten spyte van die feit dat ons laag op laag klere aangetrek het, met dik woljas en hoed om ons uitrustings af te rond. Dit laat my dink aan wat my buurman altyd sê: as hy hierdie die tyd van die jaar sy vrou sonder klere wil hê, moet hy haar afskil soos ‘n ui.
Dis toe nou een van daardie jare wat die blomme besluit om onder die grond skuil te hou en jy moet soek vir ‘n kleurtjie langs pad. Die natuur laat hom nie voorskryf wanneer hy blomme moet verskaf en wanneer nie. Gelukkig is die toergids ‘n man wat sy Namakwalandse veldplante ken en hy kan ‘n vetplantjie so groot soos ‘n man se duimnael bespeur, oor ‘n ver afstand, uit ‘n bewegende bus.
Nog belangriker, die toergids is ‘n roker. Nee, hy is ‘n stoker. Van siegrêts. Getrou aan die aard van stokers, sal hy ten minste eenkeer elke halfuur ‘n plantjie raaksien wat ons moet bekyk en daarvoor moet ons stilhou sodat die brawe plantgeesdriftiges kan uitklim. Die brawes onder ons is ook almal rokers wat die Knersvlakte kaalgat sal aandurf vir ‘n trek aan ‘n ou siegrêtjie. Ons val letterlik uit die bus met bene wat stokstyf is van die koue en voete wat rinkel soos ysblokkies in ‘n glas. Dan klappertand ons vir ten minste vyftien minute (of so lank as wat dit vat om ‘n siegrêt in te asem), terwyl ons daardie vetplantjie begluur, van alle kante af; ons bespreek sy voortplantingsgewoontes, sy voorsate, nasate en hele familiegeskiedenis. Ek het nog nooit weer ‘n toergroep teëgekom wat so onderhoudend kan gesels oor ‘n klein ronde blaartjie waarvan jy net ‘n oortjie onder ‘n klip kan sien uitsteek nie. Ook nie ‘n klomp mense wat ‘n bolling rook kan uitblaas wat so blou-blou oor die Knersvlakte hang tot die volgende laag yswind dit kom wegvoer nie.
Daai dag het ons van Vredendal af gaan draai in Springbok en terug tot by Vanrhynsdorp, ‘n rit van oor die 700 kilometer en drie pakke sigarette per persoon ver. Vir sommiges was daar ook ‘n paar six packs tussen-in, maar hulle het sommer in hulle sitplekke gebly om te drink. Daar was bitter min blomme om af te neem, maar baie klippe en die pragtige rotsformasies wat daar voorkom. In daardie wêreld vergaap jy jouself, met of sonder roke of drinke, vir minute lank aan die wonderskoonheid geskep deur grond-erosie en die natuur self.
Voor slaaptyd plaas ons die fotos en daaglikse geselsie vir Pa op Facebook. O, sê hy, effe sarkasties, en wat het julle geëet?
Wel, middagete in Springbok het bestaan uit die heerlikste bord gekookte kos: gebreekte stampmielies met gebraaide pampoen en murgsagte skaaptjops. In Vanrhynsdorp, vir aandete, het ons onsself vergryp aan ‘n vuurwarm stuk steak wat nog lê en sis op die ysterbord, saam met gestoofde soetpatats en ‘n bak vol slaaie.
Jammer, geen fotos van die kos nie, ons was sò honger van bustrappies op- en afklim om die natuur te gaan bewonder dat die kamera vergete gebly het oor etenstyd.
Griet
Ai ek wou so graag al die wereld gaan bekyk het… en nou is ek sommer bleddie honger ook.
bosveldnimf
Pragtige grondformasies.
perdebytjie
Ek het nou geskaterlag, Hester! Jy het dit fantasties beskryf! Fotograwe is deesdae amper erger as rokers en dit kan self ‘n pyn raak in so ‘n groep.😄😄
HesterLeyNel
O, ek dink ek gaan ‘n selfie-stok aanskaf vir die volgende bustoer. Dis mos nou die “in” ding. Ek gaan solank my duck lips pose oefen.
perdebytjie
Ja, en almal steek daai stokke orals in…iets ysliks!
HesterLeyNel
Ek lees gereeld op die internet van mense wat seerkry en self grusaam sterf terwyl hulle ‘n selfie op gevaarlike plekke neem.
perdebytjie
Ja, ek het ook al daarvan gesien. Neewat, die enigste stok waarvoor ek ruimte laat, is ‘n kierie en dis eers oor ‘n paar jaar.
HesterLeyNel
Ek dra altyd my kierie saam as ek gaan stap, maar gebruik dit eerder as ‘n afskrikmiddel vir lastige honde – mense hier rond beskou dit mos as ‘n hond se “reg” om sonder leiband op die strand te hardloop.
Kameel
So dis julle bustoer wat daardie jaar Namakwaland so onder ‘n rookkombers toegemaak het dat tot die son nie kon deurkom nie? 🙄
Ooooo Hester ons laaste Namakwaland trip was dit so ysig koud…. en ons het gekamp van allè dinge.
HesterLeyNel
Eina pyne. Ek sal jou later vertel hoe het ons gekamp daar in my grootwordjare.