Ek is al van vroegoggend af honger, maar in Vanrhynsdorp het ons mos kokerbome gekoop. En konfyt. Dis nou al twaalfuur, etenstyd en ek is hartlik siek vir peanuts, rosyntjies, koekies en chips. Ma, sê Karen, ek dink ons moet sommer gou Nieuwoudtville toe ry, dis baie naby, dan kan ons sommer daar gaan eet. Wel, ek kan seker die groot honger inhou vir nog ’n halfuur. Eet solank nog ’n koekie.
Die halfuur het ’n volle uur geduur, want kyk net na die fees van blomme wat ons langs pad gesien het. Die ekstra onbeplande rit en gebrek aan kos het skoon vergete gebly.
As ons net gou by die waterval ’n draai gaan maak, kan ons by die kerk stop en kos daar koop, sê my dogter. Ja, ek weet, hulle verkoop van die lekkerste pannekoeke in die land. Ongelukkig is pannekoek nie my voorkeurvoedsel wanneer ek regtig honger is nie. ’n Handvol peanuts dan, en ons ry na die waterval toe. En net daar word my dag sommer baie beter. Ons stop reg langs ’n stalletjie waar die vriendelike vrou, besig is om roosterkoeke om te draai oor die lekker warm vuur. My ma se roosterkoeke saam met die braaivleis, onthou ek skielik, dis waarmee ek groot geword het.
Daar is gebraaide wors om saam met die roosterkoeke te eet, en kookwater in die ketel. Met ’n roosterkoek in die een hand en ’n beker rooibostee in die ander, lyk my wêreld sommer heelwat beter. Die tee waarvan rooibostee gemaak word, word gekweek in hierdie omgewing.
Ek doop my roosterkoek in my tee – dis nie die maklikste ding om te kou sonder jou eie tande nie – en eet sommer die helfte van Oudste se wors ook. Ek kry nie die hele roosterkoek geëet nie en pak dit weg vir aandete, want my kinders mag dalk net vergeet om my vanaand te voer. Maar ek is nou sterk genoeg vir die kort staptog na die watervalle. Ja, daar is twee watervalle hierdie jaar, want dit was ’n goeie reënjaar.
Kyk hoe staan die melkbosse sê ek vir Karen, hulle het so pas begin blom.
Met ons vorige blommetoer het ons hier geland op ’n koud, reënerige dag, maar vandag blom die melkbosse goudgeel en ek onthou weer die geur van melkbos daar van my kinderdae af. En nes voorheen, maak dit my skoon bewoë.
By die groot waterval klouter Karen soos ’n bergbok op om die waterstorting van bo af te bekyk. Ma, sê my seun, kyk vir Karen. Maar ma se gedagtes is elders. Ma, sê hy weer en sy stemtoon styg baie effens, sien jy wat jou dogter doen? Ek kyk op en sien genoemde dogter staan bo ’n stewige afgrond, en toe klouter ek ook op. Ma!!! sê my seun en bly net daar onder staan. Oudste ly aan hoogtevrees.
Die eerste drie foto’s is by die groot val geneem, die laaste een by die kleiner val.
Dit was tyd om kerk toe te gaan. Die NG Kerk is van sandsteen gebou, soos so baie van die geboue wat nog steeds in die dorp te sien is – selfs die preekstoel is van sandsteen gebou. Die binnekant is Victoriaans. Die kerk, wat in 1906 gebou is, is tot monument verklaar.
Op ons vorige toer het die gids vir ons ’n storie vertel van die geld wat bymekaar gemaak is om die kerk te bou. Die geld het toe op ’n dag voete gekry saam met die destydse koster. Einste koster het op ’n dag skielik te sterwe gekom en is plegstatig begrawe, maar die geld het nooit weer opgeduik nie en die gemeente moes weer van vooraf geld insamel met pannekoekverkope en so aan. En daar was ’n skinderstorie dat die koster se oorskot beslis nie in daardie kis was nie. Dis hoorsê en ek kan nie instaan vir die waarheid van daardie storie nie.
Die pannekoeke is werklik voortreflik, sê my kinders.
Ons het by die vulstasie gestop vir petrol. Ek weet nie regtig wat die storie van hierdie motor is wat in die muur ingebou is nie, maar het dit ietwat eienaardig gevind dat die voorkant en die agterkant twee verskillende registrasienommers het 🤔
Dit het nou begin laat word en ons moes nog sowat 250 kilometer ry tot in Kamieskroon, waar ons sou oornag. Daar was nie tyd vir gaan eet nie en vanaand se honger sal maar gestil moet word met die brood en eiers wat ons in die koelboks saamry.
Die foto van die Knersvlakte wat vanaf die Vanrhynspas tussen Nieuwoudtville en Vanrhynsdorp geneem is, wys die pragtige landskap waardeur ons nou moes reis. Ek vertel later meer.
Lekkervurigeaffêre
Sjoe ek dou ook van kos kon vergeet in daai mooie omtes. Lus het ek nou vir roosterkoek. 🌻💝
Kameel
Oooo Namakwaland is net die mooiste mooi wêreld. Kannie dorpe se name onthou nie dus wonder ek oor die waterval… Augrabies?
HesterLeyNel
Nee skat, ek was baie ver van Augrabies af. Nieuwoudtville is baie nader aan die Kaap, geleë op die Bokkeveld Plato.
seegogga
Was die roistwekoekw dalk by Bagdad? Heerlike plekkie in die middel van niks.
HesterLeyNel
Dit was in Nieuwoudtville by die ingang van die paadjie wat lei na die watervalle. Roosterkoek is een van daardie dinge, soos rooibostee, wat jy nogal dikwels teëkom.
Anne
Wonderlike landskap en blomme orals. I kan amper die vreugde voel toe jy die roosterkoek ontdek het 🙂 🙂
HesterLeyNel
Ja, dit was daar op die regte tyd Anne. Wanneer ek honger word, raak ek mislik en ongeskik met myself.
amandacl
Daardie kerk is manjefiek! Nog lieflike foto’s, ek reis heerlik saam
HesterLeyNel
Ek het opgelet dat ons heelwat kerke afgeneem het en dat elkeen sy eie unieke geskiedenis het – so deel van die mens se bestaan in daardie jare.