My vreugdes en frustrasies

Blommetoer-2023

Rotskoppies, sandvlaktes en blomme

Doney in a field full of wild flowers

Donkies tussen die blomme op Jakkalsfontein

Ons het vroeg die oggend vanaf Gertjie-se-Huisie op die plaas No-Heep naby Kamieskroon vertrek. Die foto hier onder is geneem om 07:40 en die son het net begin kop uitsteek om die rotskoppies van die Kamiesberge op hulle beste te vertoon. Vandag was ons op pad na die nabygeleë Springbok, Carolusberg en Nababeep.

Die Kamiesberge bestaan uit ’n reeks granietkoppies wat deurmekaar geskommel en inmekaar gevleg is. Hierdie tipe rotskoppies kom wydverspreid in Namakwaland voor, alleenstaande en in reekse, en styg onverwags uit ’n skuins of ’n feitlik gelyke omliggende vlakte. In hierdie omgewing waar baie granietsteen voorkom, neem die koppie soms ’n koepelvormige struktuur aan, omdat die harder granietrots meer bestand is teen erosie en uitsteek bo omringende sagte rots wat vinniger vergaan.

Gronderosie vind vinnig plaas in hierdie omgewing wanneer die bogrond verspoel of deur die hewige oostewinde getakel word. Die uiterste temperature wat wissel van helwarm in die somer tot bibberkoud in die winter, is ook ’n faktor wat bydra tot die erosie van die sagter rotse. Grondbewaring en slim boerderymetodes is van die uiterste belang om die negatiewe invloed op die omgewing teë te werk. Die foto’s hier onder is geneem tussen Kamieskroon en Springbok.

Ek is gebore in Nababeep, maar ons het kort daarna Springbok toe verhuis waar ek 1958 in die laerskool begin skoolgaan het. Ek het ook ’n rukkie skoolgegaan in O’kiep. Gedurende my hoërskooljare het ons in Carolusberg gewoon en ek het weer in Springbok skoolgegaan waar ek matrikuleer het. Só lyk die wêreld waarin ek grootgeword het.

Die vlakte waar die koppies ontstaan, bestaan uit ’n growwe klipperige sand en word na verwys as ’n semi-woestyn. Op die oog af lyk dit asof niks in hierdie kaal grond kan groei of leef nie, maar kyk mooi na hierdie foto’s wat langs die N14 geneem is (die pad vanaf Springbok wat in Pofadder / Upington se rigting gaan):

Die Suidoostewind wat my gedurende my skooljare sleg geïrriteer het, word deesdae ten goede aangewend om elektrisiteit op te wek. Ons het met die N14 langs gery tot by die Kangnas Wind Farm, ongeveer 50 km oos van Springbok. Só lyk die windvlakte (sien jy die wit daisies?):

Die reënvalsyfer in hierdie omgewing is baie laag, en juis daarom is dit ‘n wonderwerk en ’n groot gebeurtenis wanneer die wilde veldblomme ná goeie reëns voortbars uit die dorre aarde. Dit gebeur nie elke jaar nie.

Ons het hierdie jaar baie mooi blomme gesien in die “groter Namakwaland” (Nieuwoudtville en Vanrhynsdorp omgewing), asook aan die Weskus, maar was ongelukkig net te vroeg om die plate veldblomme te sien wat die volgende week opgeskiet het in hierdie gebied, veral daar na Nababeep se kant toe. Ek onthou hoe ons sommige jare deur ’n see van blomme met die skoolbus gery het tussen Carolusberg en Springbok. Maar jy kan nie die blomme bestel om by jou agenda te pas nie en dit wat ons wel gesien het, was nog steeds pragtig.

Die foto’s hier onder is in Springbok geneem teen die koppie waar die pad na Matjieskloof lei. Kyk net, ‘n hele plaat Piet-snotte (die liggeel blommetjies).

Die foto van die donkies heel bo en die foto’s hier onder is geneem op die plaas Jakkalswater, op pad tussen Springbok en Nababeep, waar ons oorgeslaap het in die gastehuis. Let op die rotskoppies in die agtergrond en kyk hoe mooi groei die gousblomme in ’n skeur in die klipplaat wat deel vorm van die koppie agter die gastehuis. Dis dankbare aarde hierdie.

Follow Dis Ekke

15 Comments

  1. Dis pragtige foto’s, Hester.

  2. woordnoot

    Jôjó……dis wragtig pragtig!

  3. Sjoe, baie interessant en pragtige foto’s!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Bytjie. Ek het al baie gewens dat Google bestaan het in die dae toe ek daar grootgeword het. Ek leer nou eers my wêreld behoorlik ken en verstaan, voorheen het ek net aanvaar alles hoort maar net so.

  4. Amanda Claassens

    dankie vir die toer deur jou wêreld

  5. Hester, ek reis so lekker saam met julle!

  6. Jinne maar dis mooi. Dankie Vir die heerlike saam reis

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie dat jy saamreis. Ek wens ek het daardie omtes meer waardeer in my jongdae. Ek sou nie so ver weg gegaan en so lank weggebly het nie.

  7. Ag dis mooi jou grootword omtes en die blomme. Ek het leersandale op Springbok gekoop jare gelede. Dra hulle nog. Dis nou Hestertjies gedoop.💝🌻