My vreugdes en frustrasies

Reis, Travel

Die reuk van melkbos

Ek is ‘n Namakwalander, gebore en getoë, maar is in 1971 daar weg om te gaan werk in die stad. Ek het vir baie jare nooit weer my pad huiswaarts gevind nie; ‘n mens raak mos so besig daarmee om ‘n lewe te maak, dat jy later vergeet om dit te lééf.

Sowat veertig jaar later begin my meisiekind neul dat sy wil gaan kyk waar haar ma grootgeword het. O ja, en sy wil die Namakwalandse blomme gaan kyk, so sy bespreek vir ons plek op ‘n blomme-toer, per bus deur my geboorteland. Ek was ‘n bietjie skepties, want ek weet uit ondervinding dat ‘n mens gewoonlik teleurgesteld is as jy probeer terugloop op ou voetspore en jy vind uit dat die pad toegewaai het, niks is meer dieselfde nie. Ek weet ook, uit jarelange ondervinding, dat Namakwaland nie sy blomme uitstoot wanneer dit jou plesier nie; Namakwaland doen dinge op sy eie tyd. Oor laasgenoemde was ek een honderd persent reg, ons het byna g’n niks blomme gesien nie.

My dogter loop egter bo-oor al my argumente soos ‘n wafferse bulldozer. Toe ek weer sien, sit ek op ‘n bus in ‘n bitterlike koue en reënerige Augustusmaand en ek bid dat die busdrywer (en al sy passasiers) dit lewendig maak teen die Van Rhyns bergpas uit. Ons het dit lewendig gemaak tot bo in Nieuwoudtsville en in die gietende reën is ons per voet vort om die waterval te bekyk. Daar aangekom, ‘oe’ en ‘aa’ almal oor die water wat stort na benede, net ek bly skoon verstorwe staan en staar na ‘n geil plaat groen melkbosse. Ek breek ‘n takkie af en verwonder my aan die taai wit melk wat oor my vingers drup, en in die reuk van die melkbos herken ek die voetpaadjies van my kinderdae.

Daar is niks, NIKS, op hierdie aarde wat so lekker ruik soos ‘n droë melkbos wat aan die brand gesteek word om ‘n vuurtjie te begin nie. Die melkbos brand nie soos ander hout nie, hy ontplof met so ‘n swoesj-geluid en dan moet jy gereed staan om die fyn veldhoutjies op die smeulende as te gooi om die vuurtjie aan die brand te kry. Die reuk van die melkbos se brand bly egter hang in die lug, lank nadat die asse reeds weggewaai het. Daar langs die melkbos raak ek weer tien jaar oud en ek ruik die veldvuurtjies wat ons aanmekaar geslaan het om ‘n taai, soet tameletjie te maak in ‘n ou jêmblik wat ons saamgedra het. Ek onthou die reuk van die Gold Dollar Blue sigarette wat een van die klein Kotze’tjies eendag by hulle pa gesteel het en wat ons skelm gerook het daar agter die groot plat klip. Dis dieselfde klip wat ons gesmeer het met die knolle van die Pietsnotte wat ons uit die los Namakwalandse grond opgegrawe het. Ek onthou hoe ons op ‘n ou stuk kartonboks teen die gesmeerde klip afgeseil het.

Eers toe my dogter roep dat ons moet teruggaan bus toe, besef ek dat die trane teen my ken afdrup.

Daarvandaan ry ons ‘n kort entjie om by die plaas Matjiesfontein te kom waar middagete vir ons wag. Ons gly-gly deur die modder tot in die ou skoolgeboutjie wat nou ‘n restaurant huisves en die gasvrou bedien ons met ‘n dis wat Bietjie-Bietjie genoem word, omdat daar twee soorte kos op die bord is, ‘n bietjie tamatiebredie en ‘n bietjie kerrie-afval. Jirre, watter jaar laas het ek kerrie-afval geëet?

Matjiesfontein boereplaas, Nieuwoudtville

Bietjie-Bietjie Kerrie-afval en tamatiebredie in een boord

Kookskerm op Matjiesfontein, Niewoudtville

Ek stoot my mes en vurk eenkant toe en tel die beentjies met my vingers op om die vleis en sous af te suig. Die reuk van die melkbos klou nog aan my vingers en ek kan sweer my verbeelding speel my parte, maar daar is ook die reuk van ‘n veldvuurtjie in my neus. Na ete gaan wys die gasvrou vir ons die oop kookskerm net buite die restaurant waarop die Bietjie-Bietjie in groot potte gekook word, op ‘n vuur wat gestook word met hout uit die veld op die plaas. Die reuk van die vuur hang rondom die kookskerm en die klipgeboutjie.

Daardie aand sit ek vir Pa twee foto’s saam met ‘n eenvoudige boodskap op Facebook: “Vandag het ek getjank oor ‘n melkbosvuur en Bietjie-Bietjie geëet”.

 

Follow Dis Ekke

10 Comments

  1. klip

    Dankie. Dis pragtig. Ek smeek my pa ook al jare om iets van Namakwaland te vertel. Eish. Mens se kinderdae sit in jou bloed.

  2. Sug. So mooi! So bly jy het jou herinneringe beleef en gedeel.

  3. Melkbos is nieuwe voor mij en Bietjie-bietjie heb ik ook nog nooit gegeten.

    Wat s het recept voor Bietjie-bietjie?

    Nieuwsgierige groet,

    • HesterLeyNel

      Dankie vir die inloer Rob.

      Die gifmelkbos (Euphorbia Mauretanica) is ‘n bos wat wild groei in die veld in Namakwaland. Dit bevat ‘n wit, gomagtige melk (latex) wat ‘n kenmerkende reuk veroorsaak as die droë bos aan die brand gesteek word.

      Bietjie-bietjie is eintlik twee soorte bredie wat so saam in een bord geskep word: tamatiebredie wat gewoonlik met skaapvleis en groente gemaak word en dan afval (die skaap se pens, pootjies en kop) wat saam gekook en gewoonlik gekerrie word. Dis die kos waarmee ons grootgeword het.

      Die resepte is beskikbaar by
      http://www.boerekos.com/tag/tamatie-bredie/
      http://www.boerekos.com/recipe/kerrie-afval-potjie-skaap-pens-en-pootjies/

      • Dank voor je recepten!

        Ik ga daar eens in mijn keuken mee stoeien.
        Ik zal er wel iets anders van maken.
        Sinds enige tijd eet ik geen dieren meer.

        Smakelijke groet,

        • HesterLeyNel

          Ja, die Suid-Afrikaners is lief vir hulle vleis. Ek eet deesdae meer vis en soms hoender.

      • Het gifmelkbos (Euphorbia Mauretanica) is een nieuwe plant voor mij.
        Vroeger leerde ik dat de mensen in ons dorp krutjes verzamelden.
        Krutjes is de eigen naam voor dennenappels, de vruchten van een dennenboom Pinus sylvestris. De vruchten werden gebruikt in de kachels, om te stoken.
        De mensen met weinig geld hoefden dan geen dure steenkolen te kopen.

        Tijdens carnavalstijd heet ons dorp dan Krutjesgat en de inwoners krutjesraopers.

        Nu woon ik al weer even in Amsterdam-ZuidOost. Maar het blijven mooie herinneringen.

        Vriendelijke groet,

        • HesterLeyNel

          Die vure gemaak met dennebolle (soos ons dit noem) en mieliestronke is ‘n ou gebruik hier op die platteland. Nog vroeër is miskoeke (beeste se manure) drooggemaak en vure is daarmee gestook. Elke vuur het sy eie reuk. Ons is lief daarvoor om vleis te braai op oop vure gemaak met verskillende soorte hout en dan gooi ons handevol kruie by: gedroogde roosmaryn, tiemie en lourierblare. Die lekker reuk trek so saam met die rook in die vleis in.

  4. dennebolle; een prachtig woord. Wat is Taal toch mooi.
    Vuur met kruiden of sinasappelschillen ruikt lekker.
    Ik houd van de geur vuur!
    Het turen in vlammetjes of gloeiende sintels ontspant mij.
    Een lekker geurtje erbij maakt mij ook nog eens vrolijk!

    Zonnige groet,

  5. bitcoin casino

    Great post.