Ons het die Maandagoggend nadat ons die naweek tyd saam met die Chef en sy gesin spandeer het, Weskus langs gery om blomme te kyk. Dit was reeds die vyfde dag van ons “blommetoer” en ons moes darem nou ’n plan maak om daai blomme te sien. Ons het heerlik saam met die familie gekuier, eers Saterdag in die restaurant waar die Chef werk Saterdagmiddag, en Sondag het hy vir ons en sy hele Kaapse familie potjiekos gemaak by sy huis. Groot eet is mos deel van die vakansie. En net voordat ons weg is, het ons ’n boks vol eetgoedjies ook by hulle gekry – net die ding wat nodig is om die hol kolle in die mae aan te vul voor die volgende ete. Dankie aan ons familie daar in die Kaap vir die lekker kuier, en die boks lekkernye 🤗

Net voor Malmesbury het ons weggedraai van die N7 af om Darling te besoek, daar waar ons die heerlike koesisters geëet het. Al langs die Weskus af verby Yzerfontein en Langebaan, deur Saldanha en Paternoster waar Oudste hom soos ’n wafferse seevaarder gedra het op die dek van ’n restaurant, tot by Velddrif wat eintlik Karen se mikpunt was vir die dag. Oor die bokkoms, sien?


Daar by die waterkant in Velddrif, by ’n klein winkeltjie wat ook dien as kroeg (of is dit andersom?) het Karen haar droomdag beleef – sy het twee bosse bokkoms gekoop. Karen het hierdie toer voorheen saam met my gedoen (in 2010) en presies geweet wat sy wil hê. En daardie bokkoms, nie verpak nie, net so lewendig drooggemaak en heel, het al die pad in die kar saamgery tot in Citrusdal daardie aand waar hulle in die kothuis se kombuis opgehang is. Daarvandaan al die pad tot in Nababeep het hulle saam met ons in nog twee verblyfplekke oornag. Hulle het stelselmatig al minder geword, maar die reuk het nie verbeter voordat almal opgeëet is nie.



Oudste was nie baie gevat met die bokkoms in die motor se kajuit en in die verblyfplekke nie, maar ek het net gelag. Ons is mos by die Weskus en hier ruik dit na souterige mis oor die see, bamboes op die strand en die afval van visse en ander seediere. Die reuk van my jonkwees.
Het ons darem blomme gesien? O ja, baie, plate en plate van hulle. Te pragtig uitgestal vir ons besoek. Daar is hierdie jaar soveel duisende foto’s van die Weskus en Namakwaland se blomme op sosiale media dat ek nie gaan meedoen aan die stormloop nie, maar dit was die mooiste mooi. Net om te wys dat ons hulle wel gesien het, plaas ek hierdie een foto (heel bo aan die blog) wat vir my die toonbeeld van eenvoud in sy mooiste kleure is.
Daardie aand slaap ons in die Posmeester se huis daar in The Old Village net buite Citrusdal op die familieplaas Modderfontein waar ’n dorpie in die kleine ontwikkel het voordat Citrusdal later laer af in die kloof aangelê is. Daar is vyf kothuisies wat uitgehuur word vir toeristeverblyf, asook ’n restaurant en ’n lokaal waar kunsuitstallings gehou word. Die plaas het 140 jaar aan die McGregor familie behoort en baie van die ou geboue is gerestoureer. Ons het net betyds gearriveer om aan Eskom se verpligte “ligte-uit” sessie deel te neem, maar daaraan sou ons onsself nie steur nie. Nadat ons die McGregors se begraafplaas besoek en ‘n pragtige foto van Citrusdal in die laagte met die majestueuse berge in die agtergrond geneem het, het die kinders ’n vuurtjie aangepak om ’n vleisie te braai. Ons het genoeg proviand in die Kaap gekoop en in ons koelboks saamgery. Laataand het ons by kerslig aangesit om te eet.




mijnnikonenik
De braai is daar zoals bij ons barbecue of nog erger. Heel veel braai weet ik nog.
HesterLeyNel
Afrikaners hou daarvan om te braai en buite saam te kuier. Dis net te koud op die oomblik, so ons braai buite en eet binne 😁
Anne
Familie-tyd saam is so belangrik!
HesterLeyNel
Dit word al hoe belangriker op my ouderdom. Ek is gelukkig dat my kinders soveel tyd saam met my spandeer, en nie net met vakansies, maar sommer in die alledaagse lewe ook.
Tannie Frannie
Daardie ete by kerslig vang innige herinneringe vas!
HesterLeyNel
Dis waar Frannie. Soms doen Eskom ons ‘n guns!
woordnoot
Na ek hierdie gelees het, het ek n oorweldigende begeerte om die Namakwa te gaan besoek!! Dankie dat jy als so mooi deel, my bucket list het nou nog n inskrywing gekry!
HesterLeyNel
Dankie Woordnoot, ek is bly oor my bydrae tot jou bucket list 😊