Om te eet is ’n integrale deel van vakansie hou en vandag wil ek eers gesels oor koesiestes. Koekisters of koesisters is iets wat ek lanklaas geëet het, maar ek het ingehaal op die agterstand tydens ons onlangse vakansie – Namakwaland Blommetoer 2023. Epies! En hierdie jaar het ons blomme in oorvloed gesien, anders as met ons vorige blommetoer in 2010. Hierdie was ’n goeie reënjaar in die Noord-Kaap. Ek sal later meer vertel. Maar die koesiestes, dis waaroor ek wil gesels.
Dit was natuurlik meer as net ’n toer om die blomme te sien. Dit was ook ’n geleentheid om al my kuikens weer bymekaar te hê en saam te kuier. Oudste, Karen en ek het vanuit Durban en Johannesburg gevlieg om herenig te word met die Chef en sy familie wat in die Kaap woon. En waar ons bymekaarkom, word daar geëet, met mening.
Die koesiestes het my aandag gevang toe ons kleindogter, Lexi, voorgestel het dat ons die Kasteel de Goede Hoop (Castle of Good Hope) moet gaan besoek. Die Kasteel is in die 17de eeu met behulp van slawearbeid gebou as ’n fort, buite die hawegebied van Kaapstad en met die bekende Tafelberg in die agtergrond. Die fort word nou bedryf as ’n historiese monument en is baie bekend vir sy militêre museum.
Plaaslike kunstenaars se werke word gereeld ten toon gestel in die vierkant binne die Kasteel en ons was baie opgewonde toe ons die bordjie Achmat Soni Art Exhibition raakgesien het. Achmat Soni is welbekend vir sy unieke handelsmerk van Islamitiese Kuns en Arabiese teks. Hier is ’n paar van die foto’s:




Ons het ’n baie interessante gesprek gevoer met die wel ter tale toergids. Oor kuns, slawerny, apartheid, en die Kasteel se geskiedenis. Die oonde wat in die Kasteel se dik mure ingebou is, sou dit nou werklik brood-oonde gewees het soos wat algemeen aanvaar word? Dis net … die oonde is taamlik ver geleë van die indrukwekkende eetsaal af en die “kombuis”-gedeelte, wat net bestaan uit ’n sement toonbank, is darem bitter klein. Of sou dit dalk die soort oonde wees wat in krematoriums gebruik word? Die toergids maak die deur van een van die oonde oop, en daar staan ’n foto van Hendrik Verwoerd 😏 Is dit dalk simbolies van die begrafnis van die destydse Apartheidsbeleid wat ons almal nou graag agter die rug sou wou kry? Dit laat mens dink, wat het geword van al die duisende slawe wat help bou het aan die kasteel, hier is nie ’n begraafplaas in die nabyheid nie en wie sou destyds moeite gedoen het om slawe te begrawe? En die asse dan? Seker maar ingemessel in die mure van die Kasteel, wat beteken hulle is nou part and parcel of the castle. Permanent deel van ons geskiedenis nou, om nooit vergeet te word nie, en altyd te onthou wanneer mense onderdruk word. Ons het juis vroeër die oggend die ou Slawekwartiere (Iziko Slave Lodge) aan die bo-punt van Adderleystraat besoek, ook nou ’n museum en die moeite werd om te besoek.
Toe was dit tyd vir die lafenis van rooibostee en koffie in die kafee wat in dieselfde lokaal is. Ek het die spyskaart met die prentjie van die koesiestes op die bord daar die toonbank bekyk en besef dis net die ding om my op te kikker, maar helaas was die koesiestes nog nie gereed nie en sou eers heelwat later beskikbaar wees.

Die dame wat daar toesig hou, het darem tyd gehad om vir ons van die oorsprong van koesiestes te vertel. Dink nou aan die koeksisters of koesisters van Hollandse oorsprong wat so welbekend is in Suid-Afrika. Dis ‘n soet deeg wat uitgerol en gesny, en dan gevleg word om in diep olie gebak te word voordat dit oomblikke lank in ’n yskoue, suikersoet stroop gedompel word. Die resultaat is ’n bros soetigheid wat drup van die stroop en sag is aan die binnekant.
Die slawe het die koesiestes hieruit ontwikkel. Hulle het saans die oorblywende deeg na hulle kwartiere geneem, waar hulle heerlike Oosterse speserye, soos byvoorbeeld kaneel bygevoeg het, asook stukke gemmer. Dan het hulle dit in bolletjies uitgerol, in olie gebak en met gedroogte klapper bestrooi het. Die resultaat – vingerleklekker! Kyk na hierdie resep wat die Chef op sy webtuiste geplaas het. Hy noem dit sweet and sticky Cape-Malay koesisters verwysende na die etniese oorsprong van die slawe. Dis koesiestes dié Seuna. Die Afrikaanse woordeboeke het nog nie hierdie spelling opgeneem nie, maar glo maar wat jou ma jou vertel – dis wat die Kapenaars dit nog altyd genoem het.
Siende dat ek toe moes vertrek sonder koesiestes, het die Chef vir my ‘n verrassing beplan en sy broer opdrag gegee om die volgende oggend koesiestes te gaan koop by die Rustic Elegance, ’n winkel in die Onder-Kaap Courtyard agter MBT Petroleum in 5th Ave Parow. Die Sondag toe ons by die Chef en familie gaan eet het, butter chicken curry potjie!, het ons met ’n dosyn koesiestes arriveer. Wat ’n treffer!
Daarna het ons weer koesisters raakgeloop in Darling by die Evita Perron Café, maar hierdie keer was dit meer in die styl van die Hollandse koesisters, nie gevleg nie, maar bros aan die buitekant, vol stroop aan die binnekant met stukke gemmer in die deeg. Kyk net na hulle – dit lyk soos miniatuur dolosse.

Koeksiters, koesisters, koesiestes – hulle is almal ’n stukkie hemel in die mond.
Nog so ‘n paar foto’s in die kasteel geneem, net vir die lekkerte van saamwees.



Anne
Now I am drooling!
HesterLeyNel
I don’t really have a sweet tooth, but some things I just cannot resist.
Rushda Madumbo-Ganie
Thank,Thank you! For the superb review!!Our Valued customers at Rustic Elegance is the key to our success and we strive not to disappoint.
HesterLeyNel
You’re very welcome! It’s truly a pleasure to share our positive experiences and we look forward to visiting you again soon.
scrapydo2.wordpress.com
Wow, dis nou ‘n lekker soet vertelling. Ek drool ook nou sommer toe ek die koesietes sien. Bros, stroopsoet en heerlik. Bly jul het die vakansie ter dee geniet. Groete van huis tot huis.
HesterLeyNel
Dit was heerlik Scrapy. Dis ons eerste behoorlike vakansie in baie jare en ons was daarop uit om onsself te geniet.
scrapydo2.wordpress.com
Dis ook nodig gewees. Ek onthou dat ek en Bertus(seun 12 jaar) na sy Pa se dood Kaapstad toe gevlieg het. Ek’t ‘n kamer in ‘hotel bespreek en van daar af met ‘n gehuurde kar die omgewing verken het. Hy was eintlik nog te jonk maar het steeds dit geniet om heeltemaal weg te breek van alles af en net te ontspan en te geniet.
HesterLeyNel
Jy begryp so goed. Ons het beslis hierdie wegbreek nodig gehad om weer energie op te bou.
scrapydo2.wordpress.com
Dis goed om heeltemaal weg te kom van die alledaagse om sodoende weer met volle mag die lewe aan te pak.
Lekkervurigeaffêre
Lekker spoegbek van lus vir daai soetigheid ek en toer lekkerder saam. Hester Sintester se foto laat my skaterlag. Ek is so bly om te lees hoe lekker julle toer was.
HesterLeyNel
Een van die lekkertes van vakansie is dat jy na die foto’s kan kyk en die hele toneel speel weer voor jou af. Mooi herinneringe.
Lekkervurigeaffêre
💝🌻
Rob Alberts
Wat een prachtig en smakelijk verhaal!
Zomerse groet,
HesterLeyNel
Dankie Rob 😊
perdebytjie
So ‘n lekker beskrywing! Ek is mal oor die klein bros koeksisters en ek wonder altyd oor die spelling… koesisters, koeksisters, koeksusters( beslis verkeerd en dubbelsinnig), koesiesters( eerste keer wat ek daarvan hoor). Dankie vir die oulike foto’s!
HesterLeyNel
Dankie By, dis lekker om die vakansie so te herleef op my blog.
Bondelsgedagtes
Nou kwyl my bek….
HesterLeyNel
Probeer die Chef se resep, jy kan nie verkeerd gaan nie!