My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

’n Oordosis skok my terug na die werklikheid

deer behind grass

Photo by Magda Ehlers on Pexels.com

Ek praat van die oordosis van klank en buitensporige lawaai wat so sonder seremonie neffentjies my oordromme afgelaai is. Ek het toe, nadat die infeksie in my oor opgeklaar het, gegaan vir ’n gehoortoets, en dit met lof gedruip. Enkele weke later was ek die eienaar van twee piepklein gehoorapparaatjies wat binne my oorskulpe wegkruip. Niemand sal eers daarvan weet as ek hulle nie daaromtrent inlig nie, en mits my gedrag in die openbaar dit nie duidelik maak dat iets eienaardig aan die gang is in my kop nie.

Die oudioloog het verduidelik dat sy die aanvanklike volume ’n bietjie laag gaan stel, omdat ek nie juis meer gewoond is aan klank rondom my nie. Ek moet eers weer gewoond raak daaraan om te kan hoor, want anders sal die oordosis van klanke my oorweldig. Sy was reg ook – skielik kon ek die ellendige kolganse hoor kwaak tot daar onder by die rivier, onwillig die nuus luister saam met die buurvrou wat haar TV so hard stel, skindergesprekke aanhoor wat nie vir my ore bedoel was nie … Watse klokkies lui so? vra ek vir Karen en sy kyk my aan asof ek die laaste een van my varkies verloor het. Ek luister na Gregoriaanse musiek, ma, dis die klank van die driehoekies wat ma hoor. Huh? En hier het ek nog altyd gedink dis net ’n klomp manstemme wat dreunsing sonder begeleiding.

Nogtans was die eerste paar dae met my opgezoepte ore ’n fees. Ek kon TV kyk sonder onderskrifte, my eie telefoon beantwoord en selfs hoor wanneer die bure my buite die huis groet.

En toe besluit ek om Mall toe te gaan vir inkopies. Op pad soontoe het ek het nogal gedink dat Pandosie se enjin ’n bietjie lawaaierig is deesdae maar ek kon selfs met daardie gedreun in die agtergrond hoor wanneer Karen met my praat, en ons het nog gelag oor die episode met die spietkop wat ek nie kon hoor nie. Hierdie keer sal ek kan hoor wanneer een hulle my weer voorkeer, skerts ek.

Ek sou nie so vrolik gewees het as ek geweet het wat by die Mall op my wag nie. Wat ek vergeet het, is dat my tuisomgewing eintlik buitengewoon stil is. Die beloofde oordosis het my getref met die stilhouslag in die Mall se parkeerarea waar twee karwagte kliphard gestaan en gesels het (hoekom skree mense vir mekaar as hulle binne spoegafstand is?) totdat ek hulle gesteurd aangekyk het. Hulle het ietwat verskrik stilgebly en weggeloop. Amper soos wat my kinders kleintyd suutjies weggesluip het wanneer hulle die KYK gekry het.

Binne die gebou was daar ’n kakofonie van lawaai wat my soos ’n vloedgolf getref het. Die ongelooflike harde musiek wat by oop winkeldeure uitborrel. Mense wat lag en gesels. Winkeltrollies wat met piepende skreeugeluide oor die teëls gestoot word. Kindertjies wat gil. Word kinders deesdae erg mishandel – ek dink regtig hulle stemmetjies word al hoe skriller. Die man wat kliphard op sy selfoon staan en tier oor iemand wat sy parkeerplek afgevat het, het my laat gryp na my eie selfoon. Nee, ek het hom nie met my foon nie gegooi nie, ek het beter selfbeheer as dit. Die gehoorapparaatjies word uitgereik saam met ’n app op jou selfoon waarmee jy die volume kan beheer, en ek het my verbouereerde frustrasie uit op die sleutels uitgehamer – skakel die noise reduction funksie aan! stel die volume af! Sjarrap net, asseblief!

Uiteindelik was my gehoor, en my senuwees, min of meer onder beheer en ons is by die groot kettingwinkel in om kruideniersware te koop. Karen draai om op soek na melk en eiers, en ek bly staan voor die broodtoonbank om een van daai lang Franse brode te koop. Net toe kom daar ’n spul aankondigings oor die luidsprekerstel reg bo my kop. Hoekom moet hulle die specials uitgil? Is almal op hierdie planeet dan doof? Al wat ek kon doen was om my hande oor my ore te druk (die Franse brood nog in een hand). Dit het Karen se aandag getrek en sy het kom hoor wat aangaan. Vir wie wil ma nou moer met die brood? Altyd so simpatiek, my dogter.

Nou verstaan ek hoekom babas begin gil die oomblik wat hulle gebore word in hierdie wêreld waar oorverdowende lawaai hulle inwag. Geen mense se ore kan dit hou nie! Ek dink ek gaan maar op lae volume opereer vir ’n baie lang tyd. Dit beteken ek gaan voorlopig nie na my gunsteling rock-n-roll musiek luister nie.

Is die hoortoestel die moeite en die geld werd? Ja! O ja, beslis! Om te kan hoor beteken

  • Om aan ’n gesprek te kan deelneem. Het jy (in jou doofheid) al opgelet hoe mense bo-oor jou kop gesels asof jy óf nie bestaan nie óf bloot te onnosel is om te verstaan wat hulle sê?
  • Om alleen dorp toe te ry, inkopies te doen, banksake af te handel, ’n permit uit te neem, ’n voorskrif by die dokter te kry sonder die hulp van ’n tussenganger.
  • Om die telefoon te beantwoord sonder ’n geskarrel vir oorfone.
  • Om musiek te luister of TV te kyk sonder om jou huisgenote (en die bure) te irriteer met die harde klanke. En sonder om die plot te verloor.
  • Om te kan bepaal uit watter rigting ’n sekere klank kom. Het jy al ooit paniekerig in swaar verkeer gesit en wonder uit watter rigting die polisiemotor of ambulans op pad is? Is dit voor of agter my? Moet ek aftrek? Watter kant toe?
  • Om te kan onderskei tussen sekere klanke. Was daardie harde slag ’n botsing of net die buurman wat teerpale aflaai?

Daar is ontelbare wyses waarop jou lewe negatief beïnvloed word as jy nie behoorlik kan hoor nie.

En wanneer jy die oordosis geluide nie meer kan hanteer nie, skakel jy eenvoudig die klank af 😜

Follow Dis Ekke

18 Comments

  1. Hester ek het dieselfde ondervind. As ek winkels toe gaan, sit ek nie my gehoortsukke in nie en hoop maar ek moet met niemand kommunikeer nie. My gehoor is waarskynlik nie so sleg soos joune nie, maar dis heerlik om nie meer te liplees of in iemand se spasie te kom met jou regteroor amper teen sy/haar mond.
    Geniet jou nuwe klank!

  2. Skies Hester maar ek kon dit nie help om te lag vir jou woordprentjies wat jy so kleurvol skilder! Ek dink ek kan nog goed hoor, maar deesdae raak dit in elk geval n sirkus as mens TV kyk. Musiek te hard en praat te sag, moet heeltyd harder of sagter stel. En vir n mall se lawaai het ek glad nie krag nie. Ek is saam met jou bly jy kan weer hoor

  3. Bwahahaa vir jou kind se vraag oor die Franse brood!

  4. Mijn gehoorapparaten gebruik ik heel weinig.
    De stilte is mij lief geworden.

    Stille groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek hou ook meer van die stilte Rob, maar ek het gevind dat hoe meer my gehoor verswak het, hoe meer het ek myself onttrek van familie en vriende. Ek sal maar aanhou om myne buite die huis te dra.

  5. Amanda

    dankie tog die apparate kan sekere klanke uitskakel, anders het myne in die laaier gebly. Sterkte met die aanpassing

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Amanda, wat my bang maak is dat hulle sê jou gehoor verswak vinniger wanneer jy nie die apparate gereeld gebruik nie. Ek moet sê, die oefening het my linkeroor goed gedoen – of is dit dalk my verbeelding, maar ek dink tog ek hoor nou weer meer klanke selfs sonder die toestel.

      • woordnoot

        Dis ongelukkig so, dat jou gehoor verder verswak as jy dit nie dra nie. Maar jy het dit mos darem nou gekeer!

  6. Die gehoor is maar ‘n probleem as mens in lawaai of tussen mense wat saam praat moet luister. Ek doen ook soos die ander, los die gehoor by die huis as mens gaan inkopies doen of soos in jou geval sit klank betyds sagter. Met skoolhou was dit ook ‘n nagmerrie met kinders wat altyd besig is om te gil en te jil. Toe ek begin het was die tegnologie nog nie so goed dat jy die apparaatjie sagter kon stel nie. Dit sal maar tyd vat vir jou ore/gehoor om aan te pas by die geraas om jou. Dis egter als die moeite werd.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek hoop so Scrapy. Ek vind dat my oggendroetine van aantrek al hoe langer uitrek omdat ek al hoe meer bykomstighede moet gebruik om my te help sien, hoor en pynlike toonnaels te vermy. Dis erger as in die dae van my jeug toe ek nog ‘n vreeslike uitgerekte skoonheidsroetine gevolg het!

      • Nou praat jy, skoonheidsroetine was ‘n fees maar hierdie aanhangsel byvoeging maak dat mens hard moet konsentreer om alles by te voeg, sug! Gelukkig het dit darem ook sy voordeel om jou lewe te vergemaklik. Sterkte vir jou, het regtig simpatie met/vir jou.

  7. Oe, Rots vertel dieselfde ding en stel fluks affer aan sy ore as hy die gedruise binnegaan. Ek is jammer vir oordosisse, maar saam met jou verheug oor al die plusse wat jou nuwe hoor vir jou bied.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir jou mededoë, maar ek wens regtig iemand het al die truuks vir my geleer voordat ek dit in die openbaar gewaag het.

  8. woordnoot

    Ek lê soos ek lag, saam met jou. Nie vir jou nie! Ek dink soms dat die skok om uit te vind wat jy vir die laaste hoeveel jaar nie meer gehoor het nie, nou weer hoorbaar is, is deel van die aanpassing. Maar die voordele is soveel beter. Trots op jou! Gebruik maar daai app….