En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van 'n berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
Eugene Marais
Daar in die waterryke Natal waar die nat reënweer in die laaste jare van ons verblyf sy bekoring verloor het, en Karen dikwels gekla het dat sy aan vrotpootjie ly, het ek nooit gedink dat ons die eerste klanke van reëndruppels op die sinkafdak met soveel uitgelatenheid sou begroet nie.
Die eerste paar weke in Gauteng kon ons doodeenvoudig nie glo dat die son elke dag skyn nie. Ek het soggens vroeg my gordyne oopgepluk om net seker te maak die son is nog daar aan die hemelruim. Selfs die winterkoue het ek, toegewikkel in warm baadjie en langbroek, met plesier aanvaar. Maar ná drie maande het ons begin mor, want die mens is nou maar eenmaal ‘n ondankbare wese. Ons het begin wonder of die vaal grasperke ooit weer groen sou word; of ons plante, saamgebring uit Natal, sou oorleef in hierdie klimaat; of ons droë sinus-kanale weer sal herstel van die aanslag. Nee, ons verlang definitief nie terug na daaglikse reënstorms, bulderende rivier en die klap van branders nie, verseker ons mekaar – ons soek net ‘n bietjie reën. Genoeg om die grond nat te maak, waterdromme op te vul, die swembad aan te vul, en die droë smaak van stof te verdryf.
Die Gautengers het gesê dat die reën wel sou kom, net ná Oom Paul se verjaardag, maar dit was al ‘n maand gelede.
En gisteraand toe die donderweer begin rommel, het ek nie eens ‘n oog geknip nie. Ongelowige Thomas. Maar dit het gebeur, die reën het musiek gemaak op die sinkdak en ons het deur die huis gehardloop, van een venster na die ander, om te sien hoe die tuin nat word, die water in die drom onder ons kamervensters val en hoe die geute skoon water uitgiet in die swembad. Tipiese stadsbewoners ten tye van streng waterbeperkings.
Ons hoop hierdie is nie ‘n one hit wonder nie en dat die reën uitbrei oor die res van die land waar dit so droog is. Maar vir eers geniet ek die selfsug van water op ons eie erf.
Lekkervurigeaffêre
Ek is dansvrolik bly saam met julle vir die reën. Kyk nou net hoeveel water is geoes. Geniet die lekkerte en varsheid wat die hemelwater bring.
HesterLeyNel
Dankie mater
Joke
Jullie hebben regen gekregen. Spijtig dat ik die van hier niet naar jullie een beetje kan sturen.
HesterLeyNel
Dit sou lekker gewees het Joke!
Anne
Ons het ook van die lang verlange reën gekry: dat die gras en bome nou groen is voel soos ‘n wonderwerk!
HesterLeyNel
Wonderlik! Dit lyk nog maar taamlik vaal hier in ons wêreld.
scrapydo2.wordpress.com
Lekker man. Baie bly dit reën. Ek’t grootgeword op die Hoëveld met sy donderstorms en heerlike reënbuie. Hier is dit winterreën en dit is weer heeltemaal anders. Waar bevind julle julle?
HesterLeyNel
In Kempton Park. Dit kos nou weer aanpassing na soveel jare aan die Suidkus.
scrapydo2.wordpress.com
My skoonfamilie woon of het in Kempton Park gebly. Ek het kontak met hul verloor en weet nie of hul nog daar bly nie. Daardie omgewing is ook maar nie goed vir die sinusse nie.
HesterLeyNel
Ja, ek en Karen kla albei oor die droë sinusse.
Tannie Frannie
Ons opgewondenheid oor reën is diep vasgelê – selfs hier, waar my reënmeter ‘n yslike sandputdeksel is wat soms amper oorloop, bly die reën iets om oor te jubel.
HesterLeyNel
Dis waar Frannie. Ek het in Namakwaland groot geword (barre, dorre aarde) en daardie mentaliteit sal seker altyd by my bly. Aan die ander kant, wanneer reën te lank aanhou, soos wat dit maar by die kus gebeur, ontstem dit my – ek het son ook nodig, baie son.
shadowwhisper
Niks lekkerder as daardie eerste ordentlike Gauteng lente reen nie. Soms is hy laat maar as hy hier is, is die glimlag op my gevreet die hele dag. Ek verkies winter en reen dae. (Hier waar ek bly in Magalieskruin, Pretoria is die somers vrek warm, gemiddeld lae 40s maar 48 grade kom kuier gereeld)
HesterLeyNel
Eish, dis nogal ietwat warm Wolfie.
trommeltjies
Sjoe, jy laat my nou ver terug dink – Laerskool, kunswedstryd en die dans van die reën. Oor en oor is daar ingeoefen. Tog vul dit my steeds met die wonder van die reën se dansende druppels.
HesterLeyNel
Is dit nie eienaardig dat ek nie kan onthou waar ek twee minute gelede my motorsleutels neergesit het nie, maar ek onthou die Afrikaanse en Nederlandse gedigte wat ek op skool geleer het – woord vir woord?
Anonymous
Uiteindelik reen dit nou in die Noorde ook! Luv die gedig.
HesterLeyNel
Ek hoor so! Lieflik.
amandacl
Dit het ook by my kinders op die plaas langs die Vaalrivier gereën. Ons bid ook vir nog, die weiding het dit bitter nodig
HesterLeyNel
Dis vir my moeilik om te begryp, want die afgelope drie jaar in Natal het ons amper doodgereën. Snaakse klimaat. Ek hoop die uitkoms is op hande.