My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Breyani is trooskos wanneer die lewe druk1️⃣0️⃣

biryani rice in a bowl

Photo by dhiraj jain on Pexels.com

Breyani maak ’n verskil aan jou gemoedstoestand, glo my. Gister was eintlik ’n lekker dag, weersgewys en ons het die ‘aftyd’, op ons afgedwing deur Peskom, gebruik om te ontspan. Ons het ook nie water in die krane gehad nie, dus het die huiswerk agterweë gebly. Gelukkig het ons genoeg gekoopte bottels water gehad om mee te kook, so ek het die stoompot nadergetrek om ’n indrukwekkende pot breyani te kook. Ek het ál die voorbereidings gedoen: die hoenderstukke het ek in melk-kefir en ‘n mengsel van daardie manjifieke breyani-speserye en -kruie ingelê om in die yskas te rus terwyl die elektrisiteit af is, net gereed om die pot aan te sit wanneer die krag weer aankom om 13:00. Google gerus die resep vir Breyani in instant pot.

Karen het vir my ’n hele hoender uitgehaal die vorige aand om te ontvries en in die oggend stukkend te sny. Ek weet uit ondervinding dat hierdie gesin baie vinnig ’n groot pot breyani kan kafdraf. Dis mos ’n heerlike trooskos, veral vir mense wat die vorige aand op handdoek-patrollie was.

Ek het kefir gebruik wat ons altyd in die yskas het, omdat ek nie jogurt gehad het nie. Ek koop slegs Woollies jogurt en dan gebruik ons van daardie jogurt een of twee koppies om ons eie jogurt te maak. Ek was egter lanklaas op die Groot Inkopietoer en die kefir moes maar hierdie keer instaan.

Ons gebruik net melk-kefir en ons plantjies is kerngesond. Ons het dit al vir weke lank gevries (wanneer ons baie jogurt het) en dan weer ontvries en ontdooi om te gebruik tydens ’n jogurt-droogte. Kefir is baie gesond en hoewel dit nie so lekker is soos om jogurt wat jy by die lepel kan opeet nie, is dit heerlik in souse en marinades.

Die kruie kom natuurlik meesal uit my eie tuin en ek maak ruim gebruik van my gevrieste dhanya, pietersielie, tiemie en roosmaryn wanneer ek breyani kook. Daarby voeg ek lepelsvol speserye (wat nie brand nie!) ’n lepel olie waarin ons rissies ingelê is (wat so effentjies brand dat die Brombeer dit nie eens agterkom nie), en suurlemoensap. Geurig! Lieflik saam met lang korrel witrys.

Ons het maar buite gaan sit en wag vir die krag om aan te kom en die bure het kom saamkuier op die tuinbankie. Die man wat die houtwerk doen het opgedaag om sy leer te kom haal wat hy laas nog laat staan het in die huis waarheen ons trek. Ons het dit goed gedink om almal saam te stap en die huis weer te bekyk – ‘ons’ sluit verskeie van die bure wat toe al saamgedrom het om die tuinbankie ook in. Die houtwerkman het sy leer gevat en by die huis oorkant ingedra. Die res van ons het die eenheid van bo tot onder bekyk en bespreek, ge-oe en ge-aa en besluite geneem oor hoe die meubels ingepas moet. Heel gesellig. Op dié manier het ons die beurtkrag-ure omgekry.

Wanneer alles vooraf in gereedheid gebring is, vat dit minder as ’n halfuur om die breyani in die stoompot te kook. Baie belangrik vir my, want my etenstyd is twaalfuur en ek raak ernstig omgekrap wanneer ek honger bly. Nou ja, wat kan ek sê van die ouderdom en ’n verswakkende geheue wat my weer eens in die steek gelaat het. Ek het die oomblik wat die krag aangeskakel is die hoender in die pot gesit en die pot se menu ingestel vir die eerste kookslag van 15 minute. (Die vleis word eers gekook en dan word die rys in die pot gegooi om die laaste tien minute saam te kook.) Gerus in die wete dat die pot sy werk sal doen het ek by my lessenaar gaan sit en die tyd verwyl met … ek kan nie onthou wat nie. Ek het op ’n stadium daar van bo af vir die Brombeer gevra of die pot al sy piep-piep geluid gemaak het en by sy ontkenning het ek weer aangegaan met … wat ook al ek op die rekenaar gedoen het.

En toe word ek honger. Kyk op die horlosie en daar het meer as ’n uur reeds verloop sedert ek die pot aangeskakel het. Ek storm by die trap af om te gaan kyk wat die probleem is en sien dat ek alles reg gedoen het, maar ek het nie die pot se ‘start’ knoppie gedruk nie. Toe staart hy nie op nie. Die hoender is nog rou. Verslaentheid in die huis. Ons moes elkeen ’n paar cream crackers eet om te bedaar tot tyd en wyl die kos gereed was. Dit was ’n baie laat middagete en natuurlik het ons toe te veel geëet en gaan slaap. Getroos. Darem. Want dis wat breyani doen.

En 19:00 het die krag weer afgegaan. Nie ’n baie produktiewe dag nie, maar ek was baie moeg van al die ontspanning en het vroeg gaan slaap.

Vandag is die berg handdoeke wat ons eergister gebruik het om die vloed te keer eerste prioriteit. Dis alles gewas en buite opgehang, ’n reusetaak, want omdat ons nie gister water gehad het nie, kon ons nie die handdoeke inlê in seepwater nie. Weet jy hoe ruik vuil handdoeke wat ’n dag lank oorgestaan het? Jy moet allerhande boererate inspan om die reuk uit te kry. Nou sukkel ons maar so rondom Eskom beurtkrag (load shedding) deur om klaar te kry.

Natuurlik werk die weer ook saam met Peskom en die reënwolke het opgesteek. Ons het met een oog op die weer reg laat geskied aan die oorblyfsels van die breyani en toe maar weer die wasgoed van die draad af gehaal. Oral hang winddroog handdoeke, en noodsaaklike kledingstukke wat ook gewas is, op hulle beurt in die tuimeldroër. Intussen is dit eintlik ’n werksdag en ons probeer ons bes om met die wankelmoedige selfoonsein wat die gevolg is van beurtkrag die nodige maandeinde-werk af te handel. Net nog ’n dag op kantoor, en ons krag is geskeduleer om weer 17:00 af te gaan nadat ons reeds vanoggend ook af was 🙄

Follow Dis Ekke

12 Comments

  1. Ek is bly julle kon die handoeke was!

  2. Hoe lus is Ek vir breyani. Het dit nog nooit self gemaak nie. Mmmmmmmmm, ai dis omtrent ellende met Peskom en Put sonder water!!!!

  3. Al wat ek kan sê is ” good things come to those who wait”. Bly die trooskos het die werk gedoen. Mwah.💝🌻

  4. Ek geniet jou griffels, al is dit meestal oor al die dinge wat daar verkeerd loop. Jy het so ‘n lekker verteltrant!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Dina. Jy bedoel ek is ‘n goeie klaer! Dalk is ek familie van die Bybel se Jeremia 😁😉

      • Iewers moet jy dit uit jou sisteem kry… nêrens beter as op ‘n blog met vriendinne se simpatieke ore nie.😃

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis waar!. Daar gaan darem baie dinge in my lewe perfek reg ook, maar daaroor kan ek nie vir myself lag nie! Dit klink te veel na spog!

  5. Sjoe. Jou breyani resep klink heerlik. Ek het jare gelede vir n rukkie in Durban gebly en dit daar leer ken. Mis dit. Ai ou eskom. Mens werk maar om dit, maar party dae is frustrerend. Moes lag vir die crackers om te kalmeer. 😂😂 Ek Ken ook hangry mense.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit veroorsaak massiewe hoofpyne vir my en sielsangs vir my huisgenote, want ek moet erken dat ek ‘n bietjie irrasioneel raak wanneer ek nie op tyd kan eet nie. My dogter herken die simptome onmiddellik en sorg dat sy altyd vir my iets te ete en panados byderhand het.