Om kop bo water te hou is ’n Afrikaanse spreekwoord wat beteken dat ons veg om oorlewing. Nee, hierdie is nie ’n bedelbrief nie … lees verder voordat jy oordeel.
Liewe Dagboek, ek het nie gister in jou geskryf nie, omdat ek die hele dag in die water was. Nee, nie in die swembad- of in die see-water nie. Ek was net hier, in hierdie Little House of Horrors. Maar laat ek begin by die begin, as ek die begin kan vind.
Dalk moet ek met P-Eskom begin. Wanneer Peskom die krag afsit, wat baie gereeld (of is dit ongereeld en onverwags?) gebeur, loop alles skeef in hierdie huis. Ons probeer ons bes om by te hou by Peskom se skedule wat so veranderlik is soos die weer. Ons probeer om ’n roetine te volg om skades te voorkom wanneer die krag aan en afgeskakel word, wat insluit dat ons die geyser afskakel voordat die krag afgaan om te verhoed dat die power surge wat volg wanneer die krag weer aankom, die element beskadig. Wanneer die krag afgaan, begin die water uit die geyser drup, omdat die overflow nie behoorlik werk nie, sê die Brombeer. Daarom sit ons ’n emmer neer daar waar die geyser drup.
In alle geval, eergisteraand voor slaaptyd was daar ’n hewige donderstorm (wat baie lawaai en geen water opgelewer het nie) en daar was ook die verwagting van load shedding later in die nag, daarom is die geyser vroegtydig afgesit. Gisteroggend vroeg wou Karen die geyser se emmer gaan leegmaak en die wasmasjiene aanskakel om gordyne te was. Die emmer staan op die rak onder die geyser. Nog ietwat deur die slaap het sy die emmer vol water omgetiep bo-op die wasmasjiene wat onder die rak staan waarop die emmer staan, reg onder die geyser. Jy kan nie met nat wasmasjiene was nie, dus is die gordyne nie gewas nie en moes sy boonop die vloer opdroog.
Ná hierdie ondervinding wou ons gaan stort, maar skielik daar was geen water in die krane nie. Die Mislike Paliteit en Peskom is blykbaar besig met ’n kompetisie om te kyk wie kan ons lewens die meeste versuur. Karen het maar voortgegaan om haar krismisliggies op te hang, maar die kragprop wat die elektrisiteit moet voorsien vir die liggies, het skielik die gees oorgegee en afgesterf. Ons moes dorp toe ry om die kragprop te vervang en ek wou ’n suurlemoen koop vir my tee. Skielik was daar nie ’n enkele suurlemoen beskikbaar nie en ons het van winkel tot winkel gegaan. Terug by die huis was dit alweer tyd vir Eskom se volgende load shedding en ek het sommer gaan slaap.
Gedog ’n vroeë middagslapie sal my goed doen, maar load shedding het geduur tot ná my hangry hour en ek moes kos bymekaar skraap vir middagete. So tussen die geskarrel deur het ek nie oog op die horlosie gehou nie en ons het die water-uur misgeloop. Wanneer die water uit ons krane verdwyn, word ons watertenks drie maal per dag vir ’n uur aangeskakel, mits daar elektrisiteit is, en as jy die water-uur misloop, moet jy wag vir die volgende beurt. Ons kon dus nie stort of skottelgoed was nie en moes dus wag vir die aandsessie.
Ons het die middag spandeer deur binne die kompleks te gaan loop, want dis naweek en ons het soms ’n bietjie ontspanning nodig. Om deur die kompleks te loop is altyd ’n plesierige affêre, maar dit neem baie tyd op, want ons beweeg so gesels-gesels aan, speel met die honde en katte, en verneem na almal se welstand.
Die weduwee wat alleen woon het ons nader geroep, want sy het ’n probleem met haar selfoon en ontvang nie haar Whatsapp-boodskappe nie. Die skedules vir loadshedding en die water-uur word op die kompleks se Whatsapp-groepie aangekondig en haar dag is al baie deurmekaar. Karen is die go-to persoon in die kompleks vir selfoonprobleme en ons het amper ’n uur by haar spandeer want sy wou darem ook opvang met al die nuus in die kompleks.
Net langs haar woon die go-to man wat houtwerk doen vir almal in die kompleks en ek wou met hom praat oor die raam vir die vuilgoeddrom van die nuwe eenheid waarheen ons binnekort trek. Alles word hier toe gehamer of omhein om die ape buite te hou. Toe kuier ons nog ’n uur om sy vrou se naaldwerk te bewonder – sy maak haar eie Kersversierings en sakkies waarin Kersgeskenke gegee word, van die mooiste materiaal. Ons was net betyds terug by die huis vir die volgende water-uur en ek het eerste gaan stort in die boonste badkamer terwyl Karen en die Brombeer verder gekuier het voor die huis.
Karen het net ná my gaan stort en sy was nog besig, toe hoor ek net die Brombeer brul van die onderste vloer af. Ek kyk by die balkonreling af en sien die vloer onder my is vol water. Hy sê die water van ons badkamer af borrel onder by sy stort uit. Ek gil op Karen om die stort toe draai, jaag die Brombeer by die huis uit (ek is bang hy gly en val op die gladde teëls) en begin handdoeke bo van die balkon af gooi. Karen spring onder die stort uit met conditioner nog in haar hare en sê sy het ’n probleem – sy was besig om beenhare te skeer en net een been is klaar … Jammer, maar die kalf is in die water, ek bedoel die put, ons moet die elektriese / elektroniese toestelle op die onderste vloer beveilig.
Ons storm by die trap af en Karen sê ons moet hulp kry. Vinnig. Die water loop al anderkant by die binnedeur van die motorhuis in. Die Brombeer is skoonveld weg. Ek is klaar in my pajamas maar storm die straat af by die bure in en gee hulle amper ’n oorval: “Is M hier? M moet dadelik kom help.” Hulle dog iemand het seergekry of gaan dood, want hulle dogter, M, is van beroep ’n carer vir siek en ou mense. Ek verduidelik vinnig en heel gou is M daar met haar eie mop en handdoeke.
Van die ander kant van die kompleks, tweede ry van ons af, kom die jong dogtertjie aangehardloop, ook met ’n mop in die hand. Dit verklaar die Brombeer se algehele afwesigheid. Hy gaan kuier graag by die behulpsame dogtertjie se jong enkelma (Karen se ouderdom) want sy bederf die ‘oom’ vreeslik met koekies en koffie. Hy vertel my dus nie altyd waar hy gaan kuier nie, want ek ‘skel’ mos altyd oor sy gewig.
“The oom said he needs to use our toilet urgently (hy drink ’n waterpilletjie wat hom laat hardloop) and told us what happened.” Nou toe, dis geen wonder die weduwee het so aanmekaar gesels nie, die Brombeer het vroeër baie daar gekuier. Ek moet hom aanpraat, jy kan nie ou vriende verwaarloos nie. Dankie hoor, vir die inligting en die hulp.
Uiteindelik is die watervloed gestuit, die teëls opgedroog en ’n totale ramp afgeweer. Ek bedank ons helpers en vra die jonge dogter om die oom huis toe te stuur vir aandete. Karen gryp die nat handdoeke en gaan hang dit buite op. Net toe kom die Brombeer by die deur ingestap en sê “Kyk hoe reën dit nou”. Uit die bloute, dis hoe ons reën hier val. Karen kom sopnat en baie verontwaardig ingestap – ek verstaan haar probleem, hare vol conditioner, een ongeskeerde been en nou nog natgereën ook.
Ek staan in die kombuis, besig om die toonbank skoon te maak toe iets my byval: hoekom het ons nie die wet & dry stofsuier gebruik om die water op te suig nie? Dit sou mos baie minder moeite gewees het. Op my vraag kyk Karen my aan asof ek van lotjie getik is – “My splinternuwe Bennett Read???” vra sy verontwaardig, asof ek ’n onordentlike voorstel gemaak het.
Ek gaap my dogter so aan dat ek my splinternuwe botterpot bo van die toonbank af vee sodat jy net botter sien spat op die (nou baie skoon) teëlvloer. Ag liewe herder, en daar is nie water in die krane nie. Handdoekrol. En die ander botter is gevries. Ek háát margarien. Ek gaan bed toe.
In die bed luister ek na Karen se stemboodskap aan haar broers: “Dis die spook in hierdie huis wat ons so verwens”. (Die vorige eienaar is hier oorlede, in die Brombeer se slaapkamer). “Pa sê mos dis sy spesiale vriendin, en sy verwens ons omdat ons gaan trek, want sy kan mos nie saamgaan nie”. Ek sal moet ’n plan moet maak met die Brombeer se vriendinne.
Liewe Dagboek, dis nou alles my verskoning waarom ek nie gister in jou geskryf het het. Klink dit vir jou na ’n “die hond het my huiswerk opgeëet storie”? Dit is nie, hoor, dis net deel van ons daaglikse lewe hier. Ons wag vir die loodgieter wat belowe het om vandag te kom. Hy was vroeër die week hier soos ek reeds vertel het, want ons het toe ook die verstopping in die pype rapporteer. Hy het net ’n klossie hare uit die onderste stort getrek (my hare, want die Brombeer het nie hare en Karen gebruik altyd die boonste stort) en gesê dis die oorsaak van die verstopping. “Bulls…t!” sê die Brombeer, “ek het vir hom gesê dis die boomwortels wat weer in die waterpype groei. Maar hulle weet mos altyd beter”. Ja, ek ken ook sulke mense.
Daar is ’n waterbessieboom wat tussen die patio se plaveistene groei. Die wortels probeer altyd om die waterpype binne te dring, maar die boom mag nie uitgehaal word sonder KZN Nature Reservation se goedkeuring nie en ja, wel …
vuurklip
Die arme, arme dagboek. Jy sal haar vir terapie moet vat. Seker nie by die weduwee nie – is daar dalk ‘n geskikte wewenaar?
HesterLeyNel
Nee, hulle leef mos gewoonlik nie so lank soos die weduwees nie 😏
Kameel
Sou mens ‘n fliek daarvan kon maak sou dit as komedie deurgaan. Maar in die werklike lewe is dit ‘n nagmerrie. Hoop julle dag verloop beter op hierdie Sondag.
HesterLeyNel
Beurtkrag op fase 4 nè? En ons is nog op tenkwater. Ons probeer lag deur hierdie situasie, humor is al wat ons red, en die wete dat ons oor ‘n maand trek.
Lekkervurigeaffêre
Ag genade liewe Hester dit sal my stofpad af laat jakkalsdraf. Ek is bly julle lag en humor is nie afgetrap nie
HesterLeyNel
Dankie mater, maar jy weet mos, as ek nie lag sal ek wraggies begin huil tot my siel heeltemal droog is.
Lekkervurigeaffêre
🤗🌻💝😘
daisyopdiestoep
Haha, dit was nou iets om te geniet. Alhoewel ek jou dilemma en frustrasies verstaan. Sulke tye voel mens mos om weg te hol of om kop onder die komberse te gaan lê tot alles oor is. Dit klink egter of jy die ellendes vrou alleen (of sal ek sê man alleen) moes uitsorteer. Peskom, dis nou ‘n mooi en baie ware benaming. Dalk moet ons hul vra om hul naam daarnatoe te verander.
HesterLeyNel
My dogter is darem van groot hulp. Ja, tussen Peskom en Helkom het ons swaar gely hierdie maand, maar humor help altyd.
daisyopdiestoep
Nes jy sê. Humor en ‘n positiewe uitkyk help so baie.
Anne
Jy is reg:humor is die enigste manier om met hierdie goed oor die weg te kom. One disaster after the next! I hear you, Hester, I hear you!
HesterLeyNel
Ons kom darem heel altyd daar deur 😁
elsabeskryf
Ek hou vd woord Peskom. Ons SA-ners het die vermoë om met ‘n giggel en humor na ‘n Helkom situasie te kyk. 😁
HesterLeyNel
Ja, ek dink galfehumor is in ons gene ingebrand Elsabé.
Anuscka
Oooooo Hester wat een verhaal! Ik heb diepe bewondering voor je dat je de humor kunt bewaren. Mijn ziel was allang kurkdroog geweest van alle tranen… en nu ga ik snel eens even ‘teruglezen’ in jouw dagboek hier. Ik vind het heerlijk geschrijf (ook al is alles begrijpen in het Afrikaans niet altijd even makkelijk… maar wat zeur ik… ik heb twee geschoren benen… 😉 )
HesterLeyNel
Ja, die beenhare is belangrik om jou goed te laat voel! 😁
Aletta - nowathome
O my genade! Sterkte daar!
HesterLeyNel
Wasgoed! Ons het nie gister water gehad nie. Vandag het ons ‘n berg nat handdoeke gewas en buite opgehang 🙄
Aletta - nowathome
🙄🤔
Positief
Mens kan net jou kop skud, sug en dan maar weer lag. Soms histeries giggel…
HesterLeyNel
Sê jy wat lippe het.
Bondelsgedagtes
Oh my soul, dit Klink soos my kaperjolle, ai mater so jammer oor Al die peskomme dinge
HesterLeyNel
Ons het darem nog die swemhanddoeke gehad wat droog was … ek meen, hier bly dit so koud dat ons nou nog nie kon gaan swem nie 😔
Bondelsgedagtes
Ek het gister vir die eerste keer geswem in ons swembad, dit was tot nou toe te koud
HesterLeyNel
Ek is jaloers!
Bondelsgedagtes
Jy gaan binne Paar dae in die see swem, Dan is ek jaloers💓