Om voetstoeltjies oor te trek is wat jy doen wanneer die reën dreigend bly en die koue jou uit die strate hou. Gelukkig staan ons hande nie verkeerd vir die soort gereedskap wat die Brombeer in die motorhuis aanhou nie. Dis net, ons rolle is deesdae ’n bietjie omgeruil. Waar ek in die verlede die boor, hamer, skroewedraaier en ander gereedskap soos ‘n pro hanteer het, speel ek deesdae afrigter en Karen doen die werk.
Die voetstoeltjies / voetbankie of wat hulle regte naam ook al is, is belangrike meubelstukkies in die woonkamer. Ons gebruik die kubusvorms om ’n skinkbord op neer te sit wanneer nodig, om die TV-afstandbeheerders bymekaar te hou, om die Nintendo konsole op neer te sit wanneer ons speel, as ekstra sitplek wanneer daar nie genoeg plek op die sitkamerstel is nie, dis hoog genoeg om by die tafel te gebruik sodat almal kan saam eet, en die Beurtkat lê daarop en slaap wanneer hy in die geselskap wil wees. Maar boweal is dit sommer net ’n lekker rusplek vir moeë voete wanneer ons TV kyk of speletjies speel op die groot skerm. Dus noem ons dit voetstoeltjies.
Veelsydig en maklik om te stoor. Dis veral handig wanneer jy nie baie oop spasie in die woonkamer het vir ’n koffietafel en / of sytafels nie, want die man met die krukke moet ruimte hê om in te loop sonder onnodige ongelukke.
Die kubus kos sowat R200 een en met ’n mooi bont lappie daaroor, verleen dit sommer kleur ook aan ’n andersins valerige dekor. Strooikussings en gedrapeerde lapgoed is nie welkom wanneer dit los rondlê en ’n man laat val nie. Ornamente en ander soortgelyke versierings is gewoonlik in die pad en vergader stof ook. Aldus die Brombeer.
Al gereedskap wat jy nodig het is ’n skroewedraaier om die pootjies af te skroef, ’n stewig krammasjien om die materiaal vas te kram aan die houtraam van die kubus, ’n hamer om wederstrewige krammetjies plat te slaan en, naald en gare om die laaste naat toe te werk. Dis sommer tjop-tjop om die voetstoeltjies sommer weer nuut te laat lyk, veral as jy sommer die kuiermense ook in die werk kan steek. En gelukkig pas die kleure baie mooi in by huidige skewe lappe van die sitkamerstel en ook die taankleurige oortreksels wat ons gister gesny het (die some moet nog ingesit word, maar dit kan rustig wag tot die naweek toe) wanneer ons tyd sal hê om die naaldwerkmasjien op te slaan.
Hierdie wil-wil reënerige dag het dus nie verlore gegaan nie – ons het die ure goed benut. ’n Bietjie son en wind vir die gordyne wat gewas en omgesoom moet word, sal darem ook welkom wees 😮💨
Soos gewoonlik bly die ander probleme ook nie uit nie. Die oorloop van die reënwater deur die stormwaterdreine het veroorsaak dat ons nie water kan tap om te bad nie, want die dreine is oorvol en verstop. Ons wag vir die loodgieter om te kom kyk of die boomwortels weer in die dreinpype groei. Ons gebruik nog ’n septiese-tenkstelsel in hierdie omstreke. Nie dat daar water in die krane is om mee te bad nie, want die pompstasie is oorstroom en die reservoir is gesluit. Vir hoe lank weet ons nie, maar intussen spat ons maar net ’n paar druppels oor onsself om skoon te kom.
Hier is ’n ander raaisel wat my kop laat draai: hoe gaan ek maak met die gasstoof wat volstrek nie in die kombuis gaan pas nie. Daar is ’n elektriese stoof wat ek nie kan verwyder nie en ’n ekstra yskas wat so maer is dat die gasstoof nie in daardie gangetjie gaan inpas nie. Gasstoof verkoop en ’n tweebrander gasstofie op die werksblad installeer? Ek gebruik in elk geval die lugbraaier se konveksoondjie as ek wil bak en braai. Tsk. Hierdie klein pophuisies …
My oor is nog steeds vol water en ek alle klanke eggo in my kop soos in ‘n spelonk. My ONK (oor, neus en keel spesialis) is by ’n konferensie (op ’n ander planeet?) tot die 19de Desember.
Genoeg van hierdie dag se probleme. Ek gaan my voetstoeltjie uitpluk en iets soek waarna ek op TV kan kyk.
Bondelsgedagtes
Jislaaik julle is oulik. Ek het twee wingback stoele wat oortreksel kort maar ek het Nie tools Nie…
HesterLeyNel
Ja, jy het mos daardie kursus gedoen. Jy moet maar die tools so stuk vir stuk aankoop soos wat jy dit kan bekostig. Jac het oor die jare al sy gereedskap so stuk-stuk bymekaar gemaak.
Bondelsgedagtes
Dink jy is reg. Dit is dalk die moeite of geld werd
perdebytjie
Dis pragtig… welgedaan julle twee! Klink of julle nuwe blyplek so mooi ingerig gaan wees.
HesterLeyNel
Ek hoop so, want ons leef darem nou al ‘n ruk lank in hierdie ongemak. Gemak is eintlik my hoofdoel, maar as gemak wil mooi wees is dit ‘n bonus.
Anne
I empathise with your lack of piped water – an ongoing problem here! Today we have …. wait for it … sunshine AND electricity AND water! A backlog of laundry will be dealt with 🙂 🙂
HesterLeyNel
Carpe diem! Tomorrow you might not be so lucky.
Aletta - nowathome
Ons het verlede week ‘n kopstuk vir ons spaarkamer oorgetrek en dit het ook sommer goed gegaan! Sterkte met die reen!
HesterLeyNel
Wys jou net waartoe ‘n mens in staat is as bereid is om te probeer. Ek is altyd sku vir handwerk, want ek verbeel my ek is ietwat onhandig. Dankie, ons het darem sonskyn vandag en kan ‘n bietjie uitdroog.
Aletta - nowathome
Bly vir n julle so skyn dag, bewolk hier.
HesterLeyNel
Die sonskyn gaan nie lank hou nie – die wind waai verwoed en die reënwolke kom aangewaai. Teen Saterdag gaan ons weer sopnat wees.
Positief
Jou plan met die 2 plaat gasstoof + Lugbraaier (is dit die woord vir Airfryer?) het ons vir die Moz huis geimplimenteer en dit werk lekker
HesterLeyNel
Jip, dis die air fryer. Dan moet ek maar begin rondkyk vir ‘n ordentlike gasbrander, want ek het geen geduld met die elektriese stoof nie wat standaard in hierdie eenhede is nie. Die plate roes nog voordat jy begin kook het en dis so staaadig! Ek wil vinnig kook en braai, of net water kook wanneer Eskom ons straf vir ons voorvaders se sondes. Ek sit ‘n houtdeksel bo-oor die elektriese plate en die air fryer staan bo-op.
Anuscka
Prachtige voetenbankjes zijn dat geworden! Hier hebben we ook twee van die (holle) kubussen, in ons poppenhuisje… eentje bewaar ik mijn to-do-naai-dingen (sokken die gestopt moeten worden) in en de andere heb ik gordijnen in. En ik begrijp nu uit de commentaren waarom jij niet elektrisch wilt koken. Helemaal eens. So staaaadig! 😉 (en dit lijkt wel Deens!)
HesterLeyNel
Dis ‘n oulike idee, die hol kubusse. Ons s’n kan jy nie gebruik vir bêreplek nie.