Jip, ons trek alweer, sommer so tussen Kersfees en Nuwe Jaar hierdie keer.
Ons het lanklaas gesels, nè Dagboek? In 2019 laas, nog voor die covid-ellende ons getref het. Ek het in my laaste dagboekinskrywings ’n vreeslike jeremiade aangehef oor die ellendige grasdak wat so gelek het, en wat toe “reggemaak” is, ten koste van ons sielerus. Natuurlik het Murphy’s Law in werking getree net nadat die dakwerkers vertrek het. Die dak het weer begin lek, en die probleem is nou baie erger as vantevore. Deesdae leef ons in die reënseisoen onder plastiekbedekking. Elke elektroniese apparaat in die huis het sy eie plastiekkappie. Plastiekemmers staan rond in elke kamer. En hier rond gaan dit aan die reën as iemand net hard hoes.
Vandaar die besluit om te trek. Ons trek net na ’n ander wooneenheid (met ’n heel dak) in dieselfde kompleks. Nie ’n groot trek nie, net so ’n paar meters weg. Om die waarheid te sê, ons gaan sommer die inhoud van die huidige eenheid by die agterdeur uit dra, ongeveer vyf treë oor plaveisel loop en dit dan indra by die agterdeur van die eenheid met die heel dak. En ja, daardie dak is baie heel, daarvan het ons baie seker gemaak hierdie keer. Die oorspronklike grasdak is waterdig gemaak en toe bedek met teëls. Die reën loop weg na die tuin toe, soos wat dit veronderstel is om te doen. Ons het geleer uit al die oordeelsfoutefoute wat ons begaan het met ons vorige trek
’n Kleiner trek is ook maar baie werk, want mens kan so ’n onsinnige klomp goedere versamel, selfs diegene (soos ek) wat hulle daarop roem dat hulle ’n minimalistiese lewenswyse nastreef. Presies hoe ver jy van hierdie doelwit af is, kom jy eers agter wanneer jy moet trek. Maar ons sal positief bly en die voordele van ontrommeling voorop stel in ons gedagtes. Ontklottering, noem my Mater dit. Ons gaan ons lewens weer ’n slag ontklotter.
Waar begin ’n mens met hierdie enorme taak? By jou mede-huisbewoners (die opgaarders!) se besittings natuurlik. Met goeie beplanning wat almal se belange in ag neem, natuurlik. Dit kos samewerking, oorreding, debattering en ignorering, veral as jy te doen het met ’n Brombeer in die huis. In die Brombeer se geval werk omkopery en korrupsie meer doeltreffend as logiese beredenering, dit weet ek uit dure ondervinding. Kompromieë moet gemaak word.
Die onderskeie wooneenhede is min of meer op dieselfde patroon gebou, met hier en daar ’n byvoeging of weglating. Die huidige een het drie slaapkamers, twee bo en een onder, twee badkamers, ’n woonkamer(tjie), kombuisie(kie) en ’n motorhuis cum waskamer, met ekstra vloerspasie vir ’n studeerkamer / kantoor op die boonste vloer. Dit pas goed by ons leefstyl wat nie voorsiening maak vir kuiermense wat ’n slaapplekkie soek om ook by die see te kom uitspan nie. Ons kuiergaste word in ’n gastehuis of in een van die ander leë wooneenhede ingeboek (op eie onkoste), want jy weet natuurlik, wanneer jy by die see woon …
Die nuwe woonplek lyk presies dieselfde wat die trek makliker behoort te maak, met die regte beplanning!). Die enigste verskil is dat die tweede slaapkamer bo nie toegebou is nie – die ruimte vir die volledige toegeruste studeerkamer met ingeboude lessenaar en bêrekaste plus die slaapkamer, is een groot oop spasie wat twee derdes van die boonste vloer beslaan. Steeds baie privaat solank jy net jou besoekers kan oplei om soos goed opgevoede besoekers onder in die oopplan woonarea te bly en nie met die trappe op te storm enige tyd van die dag nie. Ek oorweeg ’n houthek onder die trap wat jy net met ’n geheime kode kan oopmaak. Hierdie gedeelte sal Karen se domein wees waar sy haar aanlyn internetbesigheid kan bedryf. Ek het die slaapkamer (met ’n deur) in die ander hoek van die tweede vloer vir myself toegeëien en daar is genoeg spasie om met my lessenaar en rekenaartoerusting in te trek. Ons deel ’n badkamer.
Die Brombeer het sy eie kamer en badkamer op die onderste vloer, want hy kan nie trappe klim nie. In die huidige woning staan sy rekenaar op ’n klein lessenaar reg by die voordeur. Hy kan heeldag dophou wat voor in die straat gebeur en wie by die hek inkom. Dis hoe hy al die mense in die kompleks leer ken het. As hy sy kop draai, kan hy televisie kyk én gesels. Net buite die voordeur staan sy tuinbankie waar almal vergader om saam te gesels. Daar is nog ’n tuinbankie agter op die patio, asook ’n tuintafel en stoele. Om te kuier is een van die groot plesiere in hierdie kompleks. Hierdie keer gaan sy lessenaar in sy kamer wees, en sy kleiner televisie wat ek hom belowe het ook (omkopery). Hy ken mos nou reeds al die mense in die kompleks en almal is mak genoeg om net by die voordeur te roep of buite op die bankies te kom saamkuier. Dit sal ons meer spasie gee in die woonkamer
Want …
Ek wil hierdie keer my hele sitkamerstel in die sitkamer hê, albei banke en die stoel. Dis ’n bonkige stel, met opgepofte kussings en armleunings soos wat 20 jaar gelede die mode was. Nie gemaak vir hierdie pophuise nie, maar so gerieflik vir televisie kyk of ’n middagslapie. Op die oomblik is die 3-sitplekbank en ’n stoel in die woonkamer en die 2-sitplekbank in Karen se kamer. Die rede hiervoor is die ekstra (groot / swaar) dagbed wat ook dien as pakplek in die woonkamer. Dis veronderstel om bedags sitplek te verskaf en snags te dien as bed. Veronderstel. Niemand sit ooit daar nie en niemand slaap ooit daar nie, want wanneer Ouboet kom kuier, slaap hy op my 3-sitplekbank. “Dis so lekker snoesig en gerieflik, Ma”. Ja, ek weet, dis reg voor die televisiestel en ek slaap net so lekker daar.
Ons sal moet ontslae raak van die dagbed, want dit is te swaar om teen die trap op te dra, maar sê nou maar net ons kry ’n ekstra slaapplek nodig? Jy weet nooit wanneer kom Oom Cyril dalk kuier nie – kyk dan nou hoe lekker kuier hy saam met Koning Charles. En Karen het mos haar bed weggegee, want sy slaap op ’n joga-mat. Sy het ook rugprobleme en is geriefliker op ’n harde oppervlak. Daar waar haar bed moet staan, is daar ’n statiese oefenfiets. Die fiets is ook haar geliefkoosde televisiestoel – sy kyk Netflix of Prime Video op haar selfoon terwyl sy die fiets trap om haar rugspiere te oefen. Ek wonder wie gaan daai fiets afslaan en dra wanneer ons trek …
Dis hoekom sy haar bed weggegee het – om plek te maak vir die fiets. Toe ek weer een dag die mis uit my oë gevee het, het ek net gesien hoe verdwyn haar bed by die voordeur uit. Nou moet ek prakseer vir ’n ander bed wat sy in haar spasie moet akkommodeer as ’n dagbed wat die plek sal inneem van die sitbank wat nou genadiglik sitkamer toe gaan verskuif. Laat dit nou ’n les wees: moenie jou ma se meubels sommer net weggee nie, want ons kan dit dal nodig hê vir die volgende trek (samewerking, oorreding, debattering).
Ek hoop ek het my spasie en die grootte van my meubels goed beplan vir hierdie trek, want ek moet natuurlik ook nog sorg dat die Brombeer op krukke gemaklik tussen die meubels deur kan beweeg. Gelukkig gaan dit nie vir ons so ’n groot omwenteling wees soos vir vorige inwoner in die huis wat ook nou besig is om op te pak nie – daar is baie goed versamel in daardie plek oor ’n groot aantal jare. Sy trek Gauteng toe.
Intussen gaan die lewe steeds sy normale gang en ons moet afsprake nakom, kliënte tevrede hou, inkopies doen, wasgoed was en kos maak vir die hongeres. Ek is nog steeds besig met my gunsteling stokperdjie van die afgelope paar maande – om myself te leer kook (met behulp van Mev. Google). Dit veroorsaak probleme in my klerekas, want die wintersklere begin nou regtig knap raak en die somer het nog nie arriveer nie. Ek dink die probleem is nie die kook van die kos nie, maar die feit dat ek dit moet eet ook. So, vandag het ek net hoenderborsies gaargemaak in die lugbraaier, en daarmee saam gestoomde groente met vars heel gekookte bete. Koningskos. Vir môre beplan ek ’n heerlike kerrie-afval met droëvrugte. Ons kan oormôre weer die dieet heroorweeg.
Ons beurtkat het natuurlik saam met ons die nuwe woonplek gaan besigtig en hy het agtergekom dat die meubels rondgeskuif word. In die foto bo klou hy verbete aan die kombuisstoel vas. As hierdie stoel trek, gaan hy saam! 😁 Natuurlik gaan hy ook saam, want hy bly bedags by ons wanneer sy ouers werk.
Anne
I don’t envy you the packing and moving, but I hope you will all feel happier in your new abode. It is good to read a post from you again 🙂 🙂
HesterLeyNel
Thank you Anne, it is good of you to come visiting. I miss blogging, but my muse has gone on holiday. I hope to get back into the writing groove with my new Dear Diary series.
mijnnikonenik
Hey Hester, long time. Nice to read you. You are going to move in a new place? A lot of success!
HesterLeyNel
Hallo Joke, it’s been long indeed. Yes, we are moving house but still within the same security complex that we have been living for the past three years. Our place needs rethatching and extensive renovating on the inside, and at the rate that these changes are normally done in our region, we decided to take another rental for a year.
Aletta - nowathome
Sterkte met die trek Hester!
HesterLeyNel
Dankie Aletta
scrapydo2.wordpress.com
Eintlik lekker om nie regtig vervoer onkoste te hê nie. Tog is so trekkery ook maar ‘n uitputtende gedoente. Hoop jul gaan nou rustiger bly.
HesterLeyNel
Maar dis darem ook ‘n geleentheid vir vernuwing Ineke. Nou gaan al die oortollige opgaarsels weer uitgenooi en alles kraakskoon en vars wees. Ek sien nogal uit na die trek.
scrapydo2.wordpress.com
Ken van daardie vernuwe. My trek is al so uitgedun dat ek op oomblik nuwe aankope doen. Probleem met nuwe goed hul is ook geneig om ongediertes aan te dra. Winkels is nie te skoon van peste nie. Dis lekker om weer skoonskip te maak van alles. Dan kan dit vir ‘n rukkie weer lekker gebruik word sonder onwelkome gaste. Geniet dit.
HesterLeyNel
Dankie Scrapy, ek sal laat weet hoe gaan dit in die nuwe plek.
Amanda
beurtkat! Hoe verkneukel ek my nou 😅. Hoop die nuwe plek geval hom, en vir julle
HesterLeyNel
Die kat ja, hy loop nou elke dag saam na die huis toe om te gaan kyk hoe vorder die skoonmakery daar. Dankie Amanda, ek glo ons gaan baie gemaklik wees daar.
Anuscka
Nu snap ik waarom het hier zo stil was zo lang! Succes met de verhuis. ‘Ontklottering’, wat een mooi woord. Dat ga ik onthouden!
HesterLeyNel
🤩Hallo Anuscka. Ag ja, ek was so ‘n bietjie lui ook vir skryf. Mens raak so besig met die alledaagse dingetjies dat jy vergeet om te kuier.
Bondelsgedagtes
Lekker om ‘n kykie te kry in jou wereld. Ek is bly jou trek is Nie so groot gedoente nie maar dis nietemin harde werk. Dankbaar myne is agter die rug. Jammer jy is so vêr anders het ek jou kom help
HesterLeyNel
Dankie Bondeltjies, ek kry darem baie hulp hier uit die gemeenskap. Hier doen ‘n mens eintlik niks alleen nie. Ek sien uit na die nuwe woonplek.
seegogga
Ek glo julle gaan lekkerder( en droër) bly!
HesterLeyNel
Dankie Seegogga, ek hoop jou woorde kry vleuels.
Kameel
Is jy seker julle gaan nie as julle net mooi in nuwe huis gesettle is België toe immigreer nie? Ek vra maar net.
HesterLeyNel
Die moontlikheid is natuurlik daar 😂 maar die mikpunt is eintlik nog steeds om Gauteng toe te trek. Ons stel nou net weer so ‘n bietjie uit.
woordnoot
O wee… ek kan maar net sê…..sterkte!
HesterLeyNel
Ag, kon ek maar liewer saam met jou gaan vakansie hou het daar in Skotland totdat al die werk agter die rug is!
woordnoot
Jy het 7 dae dan kry ek jou op lORT. Net 4 stelle undies Die res koop ons by die thriftshopps
HesterLeyNel
Ek kan eintlik aanvoel hoe opgewonde jy al is! Ek gun jou die vakansie met my hele hart.
woordnoot
Dankie! Jip, die tyd kom nou vinnig nader
Abrie Joubert
Aggenee Hester, ek was nou juis van plan om daar in jou omgewing te kom vakansie en nou trek jy. Maar dis nie ‘n probleem nie ons maak sommer nou ‘n plan (jy hey my geleer hoe). Ek sal in ‘n lee vertrek in die nuwe eenheid bly en wanneer julle daar intrek gaan woon ek net in ‘n lee vertrek in ou eenheid. Sal my opblaasmatras (het Karen nie dalk 2 joga-matte nie) en kampstoel saambring (en my poncho vir die deel wat ek in ou eenheid bly). En natuurlik sal ek jou betaal, met ‘n paar Kaapse avo’s hier uit ons tuin… Dalk moet jy tog daardie bed hou. Ek is nou nie Cyril nie maar ek is darem ‘n Toweraar met Krugerskatte konneksies 🙂 🙂 😉
HesterLeyNel
Ek sien jou nou hier voor my geestesoog in jou poncho op ‘n kampstoeltjie onder hierdie lekkende dak 😁😁
Tannie Frannie
Aww, ek is so bly julle beurtkat kan nog steeds by julle kuier!
HesterLeyNel
Hy het ‘n groot aandeel gehad in ons besluit om “nog ‘n jaar” te bly Frannie 😊
Tannie Frannie
😻