My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Soos ’n padda wat stadig gaar gekook word6️⃣

close up shot of a green frog swimming in the pond

Photo by Alexas Fotos on Pexels.com

Hierdie padda raak nou heel gemaklik in die warm water wat al begin borrel in die pot. Ek lê op my rug in die water, hande agter my kop saamgevou en met my paddaboudjies uitgestrek om egalig gaar te word. Ek kan nie uit hierdie pot uit nie, dus sal ek my kok se kookkuns bewonder en geniet wat ek kan.

Ek kan nie help om te wonder of my nuutgevonde laid back reaksie op die kakkies in my lewe nie dalk iets te doen het met die medikasie wat die dokter vir my voorgeskryf het nie. Daar is baie “nie’s” in hierdie sin. Gewoonlik pla sulke twyfel oor my grammatika my vreeslik, maar vandag swem hierdie padda luilekker voort. Min gespin.

Ons selfoonsein is al twee dae af en Vodacom sê net hulle is nie bewus van probleme in hierdie area nie. As hulle so onbewus is, kan hierdie padda seker maar die feit ignoreer dat die werk agterweë bly en dat die rekeninge nie betaal word nie. Kliënte kan wag en skuldeisers ook – ek gee bewustelik nie ’n duiwel om nie.

Ons het weer nie water in die krane nie. Kan nie bad nie. Kan nie skottelgoed was nie. Dalk moet ek die Mislike Paliteit se personeel vra of hulle saam met hierdie padda in die pot wil spring. Of is hulle deel van die span wat die pot aan die kook hou? Hulle gee natuurlik vir Eskom die skuld dat die water af is – die pompe werk nie sonder elektrisiteit nie. Hulle maak ook nie ander plan nie. Ek het ten minste gesorg dat ek water kan kook op die gasstoof. As ons nou net die water in die pot kan inpomp, kan ons dalk koffie maak.

Ek het vanoggend die Brombeer in die Pandosie ingelaai (yes, I’m a sucker for punishment, ek het nie my les geleer met gister se manewales nie) en met hom kwekery toe gery. Hy soek grond vir sy potplante, beenmeel en kompos. Nee, hulle het nie daai grond nie, ook nie beenmeel nie en definitief nie kompos nie, “Oom moet dit maar by die hardware store gaan koop.”

Is daar nie iets verkeerd met hierdie prentjie nie? Of aanvaar ons deesdae swak diens as deel van ons normale lewenstyl? Raak die padda nou regtig gewoond aan die water wat stadig maar seker besig is om sy lewe weg te kook?

Ek vind dat ek deesdae dikwels verbaas is wanneer iemand my verras met goeie diens of produkte. Ek sluk en kyk twee keer wanneer iemand net vir my glimlag. Sommer net, nie omdat ek hom geld in die hand gestop het nie. Hoflikheid, respek en doodgewone vriendelikheid was tog eens op ’n tyd die norm, nie die uitsondering nie.

Wat my nóg meer ontstel, is die feit dat ek hedendaags hierdie toedrag van sake so gelate aanvaar. Dit kan regtig nie my medikasie wees nie. Dis my nuwe uitkyk op die lewe, een wat ek mettertyd aangeleer het, aan gewoond geraak het. Ek is nou daai padda. En iewers in my agterkop weet ek dis verkeerd, maar ek weet nie of ek meer lus het om te veg teen die oormag kokke wat die pot stook nie. Dis beslis makliker om net agteroor te lê met my hande agter my kop, my paddaboudjies uitgestrek, en luilekker op die heerlike warm water rond te dryf.

En ek is nie alleen nie. Ek vind meer en meer dat daar nog paddas saam met my in die pot is; dat ons almal so gelate aanvaar dat dit ál is wat die lewe nog vir ons bied.

“You can’t turn back the clock you can’t turn back the tide
Ain’t that a shame …

Sometimes it seems like lately
I just don’t know
That I sit back and go with the flow”

So sing Freddy. Só leef ek.

Follow Dis Ekke

18 Comments

  1. Ek verlekker my geensins daarin nie… maar voel nou nie alleen nie. By ons ook geen water nie, internet hop soos ‘n padda op droë grond (dan daar, dan soos ‘n platanna. Ek wens ek kan dit so gelate aanvaar. 😣 Ek staar na jou padda-foto… die blasies langs die kant. Unieke ding.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek bly nie baie lank gelate nie – soms gaan ek ook maar goed gal af, net om later sleg te voel oor my swak maniere 🙄 Die foto op die internet gekry – dis baie oulik.

  2. Ek voel nou ook nie meer alleen nie. Dis nogal waar dat ons dinge deesdae so gelate aanvaar!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit laat my terugdink aan die “goeie” ou dae toe ons ook maar aanvaar het dat mans meer as vroue betaal word, dat skottelgoed was vrouewerk is … wag, moenie dat ek afgaan nie, ek was nog altyd ‘n vurige feminis.

  3. Ja-nee, almal is hartlik aan’t instem met jou! Swak diens het ongelukkig die norm geword. Raad het ek ook nie…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit maak my regtig lam. Ek glo dis die instelling van “call centres” wat ons land so lam gelaat het – the faceless enemy.

  4. Wel moan help nie. En ek is al moeg om negatief te wees. So ek sug ook nou maar en ploeter voort

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ploeter is die regte woord. Dit voel vir my asof my voete al meer sleep. Dalk moet ek buite gaan sit en ‘n bietjie son-energie opsuig.

  5. Ai Hester, ek is ook op daardie punt. Dis ‘n gevoel van jy kan niks daaraan doen nie, so aanvaar dit maar gelate.
    Uitstekend geskryf!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Dina. Ek voel soms so magteloos as my goed beplande dag heeltemal skeefloop omdat ons dienslewering so swak is.

      • Dat kan ik me zo goed voorstellen! Ik zou er ook moedeloos van worden hoor

  6. Jislaaik Ek het sowaar die ene gemis. Maar ou matie, hierdie is die waarheid. Gekondisioneer dink ek, ons almal …
    Ek is ook daar waar ek my verwonderd aan goeie diens, mens verwag dit nie meer nie. Die standaard van Alles het geval en dis so hartseer. Hier is geen selftrots meer oor nie

  7. Hester, ik snap jou helemaal. Mooi geschreven, kikker! (Ik zie je drijven… 😉 )