My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Inkopies is uitstekende terapie5️⃣

Daai massiewe pynappel!

Inkopies is die beste moontlike teenvoeter vir frustrasie, selfs wanneer jy 99% van die dinge wat jy raaksien nie kan bekostig nie of jou dieet nie toelaat dat jy dit eet nie. Doen net inkopies met jou oë, hande en neus – dit doen jou die wêreld se goed om nuwe en mooi dinge te sien, daaraan te raak en die heerlike geure in te asem.

Ek het reeds gister al die inhoud van my yskas so staan en bekyk, en besluit daar is niks om te eet nie. Niks behalwe groen en rooi appels, kaas, koue vleis, oorskiet kos, souse en groente wat nog gekook moet word nie. Iewers in my onderbewussyn speel daar ‘n refrein oor mense wat regtig niks het om te eet nie, maar ek is ‘n vrugtevraat (net nie appels nie asseblief!) en my brein gil dat dit tyd is vir inkopies. Deel van die probleem is dat ek moeg is daarvan om in die huis te bly, en ek kan nie buite rondloop nie, want die wind waai en ek het water agter my oordrom en my ONK is uitstedig. En die duiweltjie op my skouer sê daar is lekker bargain specials by Food Lovers Market – appelkose, druiwe, perskes, dalk mangoes en botter. Botter is gewoonlik buitensporig duur in hierdie geweste.

Vanoggend kon ek dit nie meer hou nie en ons was vroegoggend op die tolpad. Die sentrum waar ons inkopies doen is in Shelly Beach, tien minute se ry. Natuurlik het dit ontaard in ‘n inkopietog van formaat, want Karen doen inkopies soos wat my ma vakansietasse gepak het: sy prop in met mening. Eers gaan soek ons vir ‘n drie-punt ster-skroewedraaier by Builders Express – sonder enige sukses. Daarna besoek ons Food Lovers Market, ‘n Lottomasjien, ‘n OTM vir “just in case” kontantgeldjies, Checkers, twee apteke, een sportwinkel (vir ‘n swempet), Milky Lane vir die verpligte roomys en drie ure later is ons in later is ons terug in Pandosie. Ek is nou moeg en dankbaar om op wiele te sit. Op pad huis toe doen ons aan by die Spar in Port Shepstone vir bruinbrood en my voorkeur-sjokolade en dan sit ons die soektog voort na die skroewedraaier by ‘n plek wat selfone regmaak, twee winkels wat motor-onderdele verkoop en ‘n plek wat alles-en-nog-wat verkoop. Teen hierdie tyd weier ek om ‘n tree verder te loop en wag in Pandosie vir die ontwykende skroewedraaier – wat ons nog steeds nie het nie.

Huis toe. Ek is nou moeg en honger. Die tyd vir my middagete het gekom en gegaan en ek wil net eet en in my bed klim vir ‘n middagslapie. Ons eet gister se oorskiet-roerbraai wat in die yskas was (want ons moet plek maak vir die vrugte). Jy kan niks buite die yskas los met hierdie plaag van vrugtevliegies nie. Ek neem gou ‘n foto terwyl Karen die aankope uitpak. DAAI PYNAPPEL!

Dan sluip ek op bed toe met ‘n stel nuwe oorfone in my hand. Toevallig raakgesien en ek is iemand wat blitsvinnig kan inkopies doen wanneer nodig. Hierdie oorfone het ‘n mikrofoon by en word gebruik deur mense wat met mekaar praat wanneer hulle internetspeletjies speel. Nou kan ek ook van my rekenaar af gesels, en ek is besig om uit te kyk vir ‘n goeie speech-to-text program wat ek kan gebruik om blog te skryf. Hierdie oorfone gaan leer om Afrikaans te praat.

Wat die onsuksesvolle inkopies aanbetref: daar is ‘n rede waarom ons die driepunt-skroewedraaier met so ‘n seer hart soek. By die nuwe eenheid waarheen ons trek, sal daar ‘n bietjie meer ruimte beskikbaar wees in die woonkamer en ek kan nie wag om my WII uit te pak nie. Oudste het dit baie jare gelede vir my gekoop en dis een van die beste geskenke ooit. Jy kan die programme gebruik om aan sport “deel te neem”, allerhande speletjies te speel en ‘n oefen- / fiksheidprogram te volg. Ek het spasie nodig vir die bord waarop jy moet staan en om die afstandbeheerders rond te swaai. Die probleem wat deur die skroewedraaier opgelos moet word, is dat die afstandbeheerders oopgemaak moet word vir ‘n skoonmaak, uitdroog en algemene instandhouding. WAAR KRY EK DAAI SKROEWEDRAAIER MET DRIE PUNTE? Ai tog.

Ek en Karen het die WII en ons Nintendospeletjies uitgepak om te toets op die nuwe TV wat ons noodgedwonge moes koop toe ons ou Sony Bravia na menige jare van goeie diens boedel oorgegee en afgesterf het. Gepraat van inkopies. Daardie was nou ‘n inkopietog om oor huis toe skryf, want die Brombeer het saamgegaan om die TV te help kies.

Die Brombeer gaan nooit saam vir die inkopietogte nie, wat julle seker kan verstaan noudat julle weet hoe my dogter inkopies doen. Ons is reguit na Game toe, in dieselfde sentrum waar ons vandag was) en het Pandosie in die parkeerplek vir gestremde persone vlakby die ingang ingetrek (ons het al die nodige permitte hiervoor). Telefoon teen die oor om Oudste te raadpleeg met die voorgenome koop het ons heel gou op die regte TV besluit, en toe ek weer sien word my kredietkaart geflits. Die doel van die uittog was eintlik om ‘n TV uit te soek, nie om sommer een te koop nie, maar hierdie een is op spesiale aanbieding, ek kry 10% pensioenaris-afslag en die TV gaan NOU saam huis toe. Onthou nou, ek ry met ‘n Fiat Panda …

Maar my dogter is heilig oortuig daarvan dat daai groot doos in die klein Pandosie gaan inpas. Ek is ook oortuig daarvan, want ons het al wasmasjiene en tuimeldroërs so vervoer, maar dan is daar gewoonlik net twee mense in Pandosie. Sitplekke afgeslaan en eers het die karwagte gelag vir die groot boks en die klein karretjie, maar tot hulle verbasing (en nadat Karen die head rests ook afgehaal het) pas ek, die Brombeer en die TV in binneste ruimte. Karen staan buite en sy gluur vir die karwagte wat nou met hulle hande op hulle knieë staan en lag omdat daar nie plek is vir haar nie. Ek en die Brombeer sit vooroor gebuig met die boks wat ons in die nek kielie en Karen beduie ons ry, sy gaan nog inkopies doen. Ek trek net my wenkbroue op en laat wiel met die tolpad terug, al biddende dat die verkeerspolisie iewers onder ‘n skaduboom sit en rus. En dat ek nie gaan ontplof voordat ons die huis haal nie, want ek weet dit gaan ‘n laaaang rit wees.

En die Brombeer doen sy naam gestand: waar is die huis se sleutels? hoe gaan ons by die hek en die huis inkom? hoe gaan ons die groot boks uithaal? hoe werk hierdie verdomde selfoon sodat hy iemand in die kompleks kan bel vir hulp? Die stemtoon styg al hoër, en ek weet die vulkaan gaan enige oomblik uitbars. Ek kry nie kans om ‘n antwoord uit te dink of uit te spreek nie. Voor die kompleks gryp ek die selfoon om die hek se kode te bel en toe ons indraai sien ons twee buurmense wat voor ons deur staan en wag. Die boodskap op my Whatsapp sê die huis se sleutels is in die vakkie van die sitplek reg agter my. Heel gou is beide TV en die Brombeer in die huis en ek op pad terug na die sentrum toe om Karen te gaan oplaai, baie verlig om weer uit die gelaaide atmosfeer te kom.

Ek moes geweet het ek kan op my dogter vertrou om die nodige reëlings te tref om die Brombeer se aanslag teen te werk. Sy ken haar pa. Maar of ek en hy ooit weer saam gaan inkopies doen, is ‘n ope vraag. Hy moet nuwe somersklere kry, maar sy dogter kan maar haar pa neem vir daardie uitstappie, haar ma sal by die huis bly en TV kyk.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

9 Comments

  1. Hester ek sien daai pakkaas in die klei karrekie. Bhahahaàa skies ek lag….Bly jy is nog in een stuk en jou yskas is vol vrugte

  2. Amanda

    Was ek maar n vlieg aan die muur… Of eerder in die kar!

  3. Groot doos in die klein Pandosie, lol en daar lag ek weer vir hierdie stelling

  4. Ek hoop ‘n paar happie uit daai lekker vrugte maak op…

  5. Ah, nu snap ik jouw geschrijf! (ik vroeg me al af: hoe doe jij dit, zoveel schrijven, elke dag? Dat lukt kij niet…) Maar jij praat in jouw oorfone…