My vreugdes en frustrasies

Dagboek

Liewe Dagboek, Ons doen naaldwerk, alweer 3️⃣

Dis net reën wat my so desperaat kan maak dat ek ‘n hele dag lank in die huis kan sit en naaldwerk doen. Oftewel, voorman speel terwyl Karen die grootste deel van die werk doen. Ek het doer ver in my verlede, toe my seuns nog klein was (in die vroeë ’80s), ’n Knitwit naaldwerkkursus geloop. Wie onthou nog daardie klasse? Ons het met ’n lekker rekbare materiaal gewerk wat ingevoer is uit Australië, as ek reg onthou, en ek het geleer om sweetpakke en kinderklere te maak. Die rekbare materiaal het gesorg dat die klere altyd pas, want as dit te kort of skeef gesny is, kon jy die pant net so effens rek en dan vas stik om perfek te pas. Teen die einde van die kursus het ek vir die seuns sulke blou ferweelpakkies gemaak om Sondagskool toe te dra. Te oulik, maar my geesdrif vir naaldwerk het gou getaan. Dis harde werk man! en ’n naald is ’n gevaarlike wapen.

Ons het darem nog altyd self ons gordyne en so aan gemaak, en weet hoe om te stik en some in te sit. Karen doen deesdae die meeste van die werk en ek speel voorman. Dis dag drie van aanhoudende, nimmereindigende reën en ’n dak wat lek asof lek uit die mode gaan, dus hou ons onsself besig met die maak van die skewe lappe terwyl dit nog so lekker sous daar buite.

Die skewe lappe het nie hulle naam gekry omdat hulle van rekbare materiaal gemaak word nie; ons gebruik duursame lakenstof hiervoor en dit hou jare lank. Nee, die naam kom van die ongewone vorm waarin die lappe gesny word. Ons gebruik dit as los oortreksels oor ons horingoue sitkamerstel, om die stof en spore (van honde en kinders) weg te weer van die geweefde materiaal van die stel. Dis lig, wasbaar, hoef nie gestryk te word nie en dien hulle doel vir jare lank. Jy moet net weet hoe om die ietwat ongewone vorm mooi oor die bank se sitplekke en armleunings te vou, dan bly jou meubels mooi skoon. Dis die Brombeer wat dit skewe lappe begin noem het, omdat hy slegs met groot moeite op wasgoeddag die lappe kon dubbeld vou sodat die langer punte nie op die grond sleep nie.

Ons het gewoonlik twee stelle van die skewe lappe wat gereeld omgeruil word, maar die gelerige stel (watter kleur was dit oorspronklik?) is nou so dun en deurgesit dat ons die naaldwerkstel maar moes uitpak. Ons het ’n ligblou stel gemaak toe ons see toe getrek het en daardie een is ook al dun en verslete maar hou nog, nou amper agt jaar later. Die gele is nou poegaai. Vandag doen ons dus naaldwerk.

Siende dat die boonste vloer onder water is (want die dak lek!), het ons die materiaal onder op die teëls oopgegooi. As jy nie ’n lekker groot tafel het nie, is skoon teëls die naasbeste uitweg. Jy het ’n groot oppervlakte nodig vir hierdie lappe wat tot 3,5 m lank is (die driesitplekbank se oortreksel). Die Beurtkat het gedink dis ’n heerlike nuwe speletjie en het met sy volle gewig aan die oortreksel kom hang terwyl ons besig was om die materiaal te vou vir die sny, en toe met sy nat pootjies spore oor die teëls kom trap. Hy is summier verban en ons het die venster toegemaak waar hy gewoonlik inkom. Hy het aanhoudend die klokkie gelui, maar ons was horende doof. Net tien minute later het sy pa aan die deur kom klop om te hoor wat verkeerd is. Daar staan die pa toe met ’n grootoog verontwaardigde kat in sy arms en ’n vraende uitdrukking op sy gesig – seker gewonder wat sy spruit dan gesondig het. Kan jy nou meer? Hy gaan klik sowaar by sy pa omdat hy in die reën uitgesit word. Hy is ’n halfuur later weer ingelaat en hou nou die doenighede dop van die trap af.

Wel, die lappe is nou gemeet en geknip en Karen kan op haar tyd die stikwerk doen. Dit vat ’n dag-en-’n-half te perd om al daardie bane om te soom. Wanneer dit klaar is, gaan ons ’n ander soort naaldwerk aanpak – as dit aanhou met reën gaan ons die voetstoeltjies nuut oortrek; as die son kop uitsteek, gaan ons begin om die gordyne vir die nuwe huis te was en some in te sit. Gordyne is mos nooit die regte lengte nie, of dalk is die probleem dat die gordynrelings nooit op dieselfde hoogte ingesit word nie. Hoe dit ook al sy, ek verpes ’n gordyn wat nie ordentlik hang nie. Noodgedwonge naaldwerk. Ons het twee weke tyd om die gordyne klaar te maak, want die huis word die laaste twee weke in Desember uitgehuur aan vakansiehouers. Hulle vertrek net voor die einde van die maand en dan word die meubels ook verwyder sodat ons kan intrek.

Dis alles deel van die vernuwing wat die trek ’n goeie idee maak, want nou word alles wat op en stukkend is reggemaak en dit wat oorbodig is, word uitgesmyt. Vernuwing.

Intussen het Karen reeds haar krismisliggies begin uitpak en inspekteer om te kyk of alles nog werk. Hierdie tyd van die jaar word alles op die lange baan geskuif om bietjie kleur in ons lewe te bring. Sy wou die liggies reeds hierdie naweek opgesit het, maar die weer het haar gekortwiek.

Ek is nou moeg en gaan ’n bietjie ontspan. Moet nog ’n draai by die vrieskas gaan maak om te kyk wat ek kan kook vir môre. Ek kook mos net al om die ander dag en op die dae wat ek nie kook nie, moet elkeen vir sy eie maag sorg.

My vrek! Ek het skoon vergeet om my bed op te maak. Wonder of ek sal inklim vir ‘n middagslapie?

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. woordnoot

    Ek onthou die Knitwit! Het ook daai een gedoen. Wat noem mens die skewe lappe se materiaal want ek sal ook daaraan moet dink om oortreksels vir my rooi bank te maak. Hy is nog nuut, maar Katkind se los hare op daai rooi lap is afgryslik! So dis of n lappie oor die bank of…..en daai of gaan nie gebeur nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Sheeting noem hulle dit by die haberdashery. Dis die mengsel van linne / katoen waarvan lakens gemaak word. Ek wil juis daarvan vir my koop om my eie lakens te maak, want dis lekker koel, dig geweef en glad genoeg dat daar nie wolletjies (of kathare) aan klou nie.

      • woordnoot

        Dankie!!! Ek gaan soek as ek terugkom. Het hoeka ook lakens nodig. My plek is net baie klein maar ek sal sommer by die praktyk werk!😅

  2. Ek besef julle het al ‘n oorskot reën gehad, maar hier reën dit by liggies en dit voel soos ‘n wonderwerk vir my 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek voel altyd skuldig as ek kla oor die reën, want ek het in die dorre Namakwaland grootgeword waar ons dankbaar was vir elke druppel, maar regtig, ons begin nou swaarkry. Ek hoop julle word lekker nat.

  3. “‘n Dag en ‘n half te perd”, ja. Dis omtrent die pas wat hierdie ou perd deesdae handhaaf …

  4. Eish, Ek is nie gebou vir naaldwerk nie. Daai skewe lappe klink soos iets wat ek nodig het … Sterkte met al die besig wees, ek hoop jy geniet die journey

  5. Naald en draad, het is voor mij telkens weer het gedoe om de draad door het oogje te krijgen.

    Nee, ik laat deze klussen graag aan een ander over.

    Stille groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Rob, ek kan nie eens meer die ogie van die naald raaksien nie! Gelukkig is my dogter baie jonger as ek en sy ryg die garing deur die ogie vir my.

  6. Oulike idee vir die banke. My honde dink mos dis hulle sitplekke. Ek gooi handdoeke, maar dit lyk maar oes.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het hierdie les geleer in die jare toe ons ‘n zoo in die huis gehad het – honde, katte, voëls, slange, vlermuise, reënpaddas 🙄 Kinders maak jou lewe ongerieflik met hulle troeteldiertjies.

  7. Klink na harde werk ! Ek het ook altyd gordyne gemaak! Deesdae het ons net blinders voor die vensters! Wrk baie goed hier aan Weskus!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Lekker! Ons het dit ook hier probeer, maar hierdie eenheid waarin ons woon is baie donker binne. Dis die hoë bome en die gewels van die ander huise wat die son blok. Deesdae trek ons net eenvoudig die gordyne oop in die dag en dié wat wil inkyk is welkom.

  8. Jullie zijn er maar druk mee! Maar alles sal reg kom. Toch? In het nieuwe huis