My vreugdes en frustrasies

Woordwarrel

#Woordwarrel vonk 1/2022 – die kat kom weer

Wanneer ek op my stoel by my lessenaar gaan sit en my kop net effens regs draai, sien ek … ‘n kat. ‘n Kat wat op my lessenaar lê en slaap. So in sy slaap, kruip hy voetjie vir voetjie nader aan my skootrekenaar, totdat hy bo-op die sleutelbord lê, reg voor die skerm. “Cat spreading”, noem Karen die gelydelike oorname van my werkplek.

Die enigste teenvoeter vir hierdie kruipende organisme is om maar ‘n tweede skerm aan te skakel en met ‘n aparte sleutelbord op my skoot te probeer werk. Wanneer ek te geesdriftig na sy smaak tik, gaan maak hy hom tuis op my bed in die voue van my snoesige faux-mink-kombers, waar ek net my kop effe meer na regs moet draai om hom in die oog te hou.

Noudat dit regtig warm begin word en die faux-mink-kombers gebêre is, slaap hy op die houtvloer van die balkon voor my kamerdeur. As ek nou my nek ver genoeg na regs kan draai (moeilik op my ouderdom), en mits ek deur die hoek van ‘n baksteenmuur kan kyk (wat ek kán doen, want ek is ‘n ma), sal ek hom sien waar hy opgekrul lê tot namiddag-tee-en-tv-tyd, wanneer hy sy plek op die rusbank gaan inneem.

Dis net ‘n skrale paar maande gelede wat die kleine kat deur sy ouers, ons bure, huis toe gebring is van daar iewers in Durban se hawe waar hy eens ‘n weggooikat was. Die babakatjie het sommer uit die bloute eendag by ons voordeur ingestap en homself tuisgemaak.

Ons is gewoond aan vreemde besoekers aan huis – voorbarige ooievaars, wilde-eende, kwikstertjies, reënpaddas, en selfs ‘n paar slymerige reuseslakke – want ons maak selde ons deure toe. Ons het voorheen al ‘n kuierkat hier in die kompleks gehad en die gemis was groot toe sy ouers getrek het.

Ons eie huisdiere is almal reeds oor die reënboogbrug en ná die dood van die geliefde kantoorkat het ons ‘n eenparige besluit geneem om nie weer troeteldiere aan te skaf nie. Ons wou nie weer sukkel met dierehare, skerp katnaels, modderspore, sandbakke, piepieroetines, keffende brakkies en die verantwoordelikheid vir ‘n ander lewe nie. En die leemte wat hulle weggaan veroorsaak nie.

Tog, ten spyte van die hare en die naels is die nuwe kuierkat entoesiasties verwelkom, want die verantwoordelikheid, die veearts-onkostes en enige ander uitgawe, is immers nie ons s’n nie. Ons enigste “werk” is om hom te bederf, te geniet en veilig te hou wanneer sy ouers uitgaan om te gaan werk. Dis ‘n gevaarlike wêreld daarbuite. “Ag, en hy is tog so cu-u-ute, Ma”. En skielik was daar weer ‘n kat in ons huis en ons harte: ‘n leenkat, kuierkat, troetelkat, beurtkat.

Sy ouers het hom vernoem na die leeu van Narnia, Karen noem hom Asjas, haar pa kry dit verkeerd en noem hom Asgat. Ek noem hom Timeshare. Tyddeelkat. Hy antwoord op enige naam en verstaan Afrikaans en Engels ewe goed. Sy ouers is Engels. Soms gesels hy lang stories met die vriendelike man wat in die tuin werk en dan hoor hy net Zoeloe. ‘n Wel ter tale kat, dus.

Hy is ook ‘n vegetariër soos sy ouers en verstaan nie die neiging van die beurtouers om rooivleis te eet nie. Hy speel net met die rooivleis asof dit ‘n muis is, selfs al is dit fyngesny, of “pre-chewed” soos Karen hom belowe. Gelukkig eet ons dikwels hoender en daarmee kan hy saamleef. Ons voer hom egter as ‘n reël nie, tensy hy regtig voor die yskas gaan staan en kla. Sy ouers sit elke dag vir hom kos uit, maar daar is ‘n paar rondswerwende wilde katte wat die kompleks besoek en soms sy kos opeet.

Hy het gou sy eie roetines ontwikkel. Vroeg soggens, nog voordat sy ouers gaan werk, kom groet hy al die beurtouers. Dan gaan sit hy in die deur of op die houttrap by die venster en wag vir sy mense om by die hek uit te ry. “Kyk mooi,” sê ek vir Karen, “een oggend wanneer hulle vir hom waai en koebaai sê, gaan hy nog sy poot oplig om vir hulle die Royal Wave te gee.” Wanneer hulle weg is, kom hy in om saam met ons tv te kyk en ‘n middagslapie te vang. Agtermiddag is hy weer buite die voordeur of op die trap om die hek dop te hou. Sy ouers kom nie elke dag op dieselfde tyd nie, want soms gaan hulle gimnasium toe ná werk, of hulle gaan dadelik weer uit om fiets te ry of te draf. Sy roetine is dus om hulle net te gaan groet wanneer hulle tuiskom, dalk iets te eet en dan kom hy terug totdat die vroeë skemer toesak. Dan eers gaan hy huis toe vir die nag. Naweke kom hy net nou en dan inloer.

Soms gebeur dit egter dat sy ouers vir die naweek weggaan om aan sportbyeenkomste deel te neem en dan kom hy na ons toe om oor te slaap. Hy is nie baie mal daaroor as sy roetine so onderbreek word nie, maar hy kom ewe gedwee aangestap wanneer hy sien sy sandbak en kosbakke word aangedra. Dan gedra hy hom soos ‘n welopgevoede oorslaapkat. Maar hy hou die hele naweek die hek dop om te sien wanneer hulle weer terugkom.

Hy word nou ‘n tipiese rebelse tiener en die lekkerste speletjie is om by die groot hek uit te gaan om te gaan kyk wat oorkant in die bos aangaan. Dit maak ons almal bang, want hierdie is slangwêreld en daar skuil giftige slange soos mambas en nagadders tussen die bome. Soms, wanneer sy ouers by die hek uitddraf of wegry met hulle fietse, probeer hy hulle volg. Hy word met valkoë deur al die inwoners dopgehou en teruggebring na ons huis toe waar hy vir ‘n wyle in kwarantyn geplaas word agter die veiligheidshekke, totdat hy afstand doen van sy rondloopplanne.

Soms ontsnap hy wel en dis wat eendag gebeur het toe ek en Karen winkel toe was. Met die terugkomslag sien ons hom in die teerpad buite die kompleks waar hy probeer speel met ‘n likkewaan wat in die klofie langs die kompleks hou. Karen het haastig uit die kar gespring om hom te gaan optel en huis toe te vat. “Daai is nie ‘n lekkewaan nie, dis ‘n boos akkedoos!” word hy geleer.

Vir oefening loop hy elke dag saam met ons binne die kompleks tussen die huise deur. Hy weet goed waar die gevare skuil en loop waaksaam voor ons uit. Ons “security detail”, noem Karen hom. Sodra hy besef daar is gevaar, draai hy stomp in sy spore om en storm na Karen toe met ‘n gesig wat duidelik sê: “Tel my op! Tel my op!” As sy nie vinnig genoeg reageer nie, byt hy haar aan die enkels. Dan word hy opgetel en gedra totdat die gevaar verby is. Dit gebeur gereeld daar onder by die rivier wanneer hy die gevaarlike swart kat gewaar, of by die oop erf waar die wilde-eende smiddags onder die skadubome rus, of om die draai waar die hond met die slap ore vir hom blaf. Hy is immers nog net ‘n klein leeutjie.

Die ooievare het hom eendag in die straat voor ons huis bestorm en met hulle lang snawels aan sy poot gepik. Heel onverwags. Hulle het seker gedink hy ding mee om hulle kos. Die mense-inwoners het summier besluit dat ooievaars ‘n gevaarlike diersoort is en hulle is verban. Niemand mag hulle voer nie en hulle word verwilder wanneer hulle tussen die huise gewaar word. Selfs die blouapies wat hom in die begin met groot belangstelling dopgehou het, het besef dat hulle nie kat haaraf gaan maak in hierdie kompleks nie.

Hy begin nou sosiaal verkeer met baie van die ander mense-inwoners. Hy weet by watter huise hy sonder gevaar kan kuier en soek heel dikwels vir homself ‘n slaapplekkie uit. Wanneer sy pa dan begin navraag doen om te hoor waar hy is, WhatsApp hy eerste vir Karen. As die rondloopkat nie hier is nie, kontak hy almal op die WhatsApp “call tree” so op ‘n ry. Iemand weet gewoonlik presies waar hy is.

Sy pa sê hy dink hy is ‘n mens. Die enigste ander dier in die kompleks waarmee hy vriende gemaak het, is ‘n klein wollerige hondjie wat oorkant ons woon. Daar is ‘n kampie om hulle huis en die twee speel heerlik deur die draad. Wanneer die wolhondjie ontsnap, soos wat hy wel soms doen, spring sy katmaatjie by ons huis in deur ‘n oop venster, ook maar versigtig. Hy hou hom nie op met die ander katte nie, want veral die wilde katte speel speletjies waarvan hy niks verstaan nie – hy het immers Die Operasie gehad.

Wat gaan gebeur wanneer ons trek? Wanneer sy ouers trek? Hopelik sal daar weer ‘n diertjie wees wat ons op tyddeel kan leen om die leemte te vul.


Hierdie skrywe vorm deel van die bloguitdaging wat gesamentlik aangebied word deur myself en Lekkervurigeaffêre. Almal wat wil deelneem, is welkom. Hierdie week se inspirasievonk is geplaas op die blogpos https://lekkervurigeaffere.blog/2022/01/20/woordwarrel-inspirasievonk-1-2022/

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

19 Comments

  1. Ag hoe bly is ek Timeshare is regs….kosbaar het jy nou sy intog en tuiskoms by julle vertel. 💖💖

  2. Voorwaar ‘n kat met ‘n vrymoedige persoonlikheid, mens kry hom sommer lief deur jou vertelling. Katte geniet die warmte van ‘n rekenaar – maar Lelik veroorsaak soms chaos in ‘n oop dokument!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, hulle kan nogal hulle eie storie intik. Ek hou nie van die hare tussen my sleutels nie, want dit kan chaos veroorsaak aan ‘n rekenaar se binnegoed.

  3. Kostelik vertel! Timeshare het nou diep in my hart ingekruip, Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      🤣 ja, hulle is sulke diep denkers. My seun het altyd van ons ou kat gesê: “Ollie knows the cure for cancer, but she’s not telling”. Dis ‘n baie oulike webtuiste hierdie – dankie vir die skakel, Frannie.

  4. Dis darem so lekker om ‘n kat te hê wat so rustig is as hy kuier. Ook eintlik lekker om nie regtig verantwoordelik te wees vir al die fynere dingetjies nie. Klink of jy beslis ‘n heerlike blyplek het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink diere voel aan wanneer hulle welkom en veilig is in ‘n huis.

      • Beslis, hul sal ook beslis ‘n diere “hater”uitken en spesifiek nader gaan om so iemand te verpes. My vriendin is een wat van geen diere hou. Ek het haar al bietjie gewys met Trompie en my huis oppas diere dat dit nie nodig is om so te voel nie.

  5. Ek het die nou met ‘n lekker hart gelees. Ek koop sommer tyddeel by Timeshare.

  6. Het hierdie vertelling van Timeshare nou gate uit genièt Hester. Hy het voorwaar in die paradys beland!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Hy is ‘n dierbare ou dingetjie, Kameel. Het vandag homself aangemeld by ons braai toe hy die hoender geruik het. Net klaar geëet en huis toe gegaan – I feel so used, sê Karen 🤣

  7. woordnoot

    Ag Hester ..ons het n oorgeërfde kat Rolene wat nes Timeshare lyk. Sy is net ouer maar dit klink of jy haar beskryf. Sy loop net nêrens heen nie maar sit so van 5h00 af by die heining en gesels met al haar ou vriende wat haar langer as ons ken. Ek dink die tortoise shell katte het almal daai laid back karakterstreke…. geniet!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Rolene is mos die een wat by die Oom op die bed slaap? 😀 Ek onthou so iets van een van jou voroge blogs. Hulle is net ‘n plesier.

      • woordnoot

        Jip….en hy is mos nie n kat mens maar ek sê jou…sy het hom in die sak. Hy liefie en skattie en oupa se nooientjie….ek lag maar net.