My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Ouderdom is nie ’n lisensie vir stilsit nie – ek leer koskook

Foto geleen op die internet

Koskook, jy?! sê die man in huis onthuts, en sy dogter kyk my wantrouig aan.

Nie sonder rede nie, want hulle weet dat ek my hele lewe lank die kombuis gesystap het. My liewe ma, wat self nooit ’n wafferse kok was nie, het my met moeite so ver gekry om skottelgoed te was en die kombuisvloer te mop ná aandete, maar om my te leer koskook was ’n onbegonne taak. Onthou, ek het op die platteland grootgeword in die dae van koolstowe en praaimus stoufies. Eers teen my hoërskooljare het ek kennis gemaak met gas- en elektriese stowe en toe was dit reeds te laat om ’n liefde vir koskook in my wakker te maak. Ek het botweg geweier om vuur te maak in die houtstoof, die praaimus stoufie te pomp, broodpanne rond te skuif in ’n warm oond, en swaar ysterpotte op warm stoofplate rond te skuif. Selfs die miniatuur potjies en pannetjies, ’n speelgoedstelletjie wat my ma uit die Kaap vir my bestel het om speel-speel te leer, het geen aftrek gekry nie.

Wat my aanbetref, was die warm kombuis ’n gevaarlike omgewing wat ek ten alle koste moes vermy. Daardie dae het ons natuurlik ook huishulpe gehad, want in alle regverdigheid teenoor my ma moet ons onthou sy was ook ’n werkende vrou wat moes help om die ekonomiese las van die huishouding te dra. Dora het die septer geswaai het in ons kombuis, maar Dora het net gewerk van Maandag tot Vrydag. Naweke het my ma gekook in haar ou Presto stoompot met sy dansende indicator valve wat gelyk en geklink het soos ’n miniatuur stoomlokomotief. Daai stomende, fluitende pot het my vreesbevange in my klerekas laat wegkruip totdat die kos gaar en eetbaar verklaar is.

 As jongmeisie het ek in losieshuise gewoon en in eetsale geëet, totdat ek getroud is. Skielik is ek gekonfronteer met die idee dat ek nou moes huishou en koskook en al daardie dinge wat ek verpes het. Ten spyte van die feit dat ek ook voldag gewerk het, was waarneming van die huishouding nie ’n probleem as dit net by wasgoed en huis skoonmaak en babas versorg gebly het nie. Koskook sou problematies gewees het indien ek nie heel per ongeluk getroud is met ’n man wat by sy ma geleer kook het nie. Voila! Geen bekommernis oor koskook nie.

Toe skei ons en drie honger kinders verwag dat ek kos moet kook. Ek het geleer, maar het nooit regtig die kuns bemeester nie. Dis ’n taak wat ek mettertyd meer en meer aan Karen oorgelaat het, hoewel sy ook ’n doodse vrees vir ’n stoompot opgedoen het. Ek dink mens dra onbewustelik hierdie vrese aan jou kinders oor. Gelukkig was my stoompot meer modern as my ma s’n, dus minder skrikwekkend, en die mikrogolfoond was ’n seën. Dit het egter nie beteken dat ek ooit ’n liefde vir koskook aangeleer het nie.

Tot onlangs. Ons tien-jaaroue stoompot wat ons op die gasstoof gebruik het, het kennis gegee. Die stoom wou nie opbou in die pot nie en die vensters is so bewasem dat die waterdruppels teen die ruite sou afdrup teen die tyd wat die kos gaar was. Soos dit altyd met sulke dinge gaan, speel hierdie tragedie af oor ’n naweek. Natuurlik. En dis winter en Karen besluit sy het nou onmiddellik ’n nuwe stoompot nodig. In die winkel kyk sy na stoompotte wat op die stoofplaat kan kook en besluit summier hulle is deesdae almal van blik gemaak.

My oog vang een van daai nuwerwetse elektriese stoompotte op die rak. Die paneel met die knoppies fassineer my. Die ding lyk nes ’n rekenaar en ’n rekenaar is ’n ding wat ek goed kan bestuur. Karen wil nog by ’n ander winkel gaan kyk, maar ek knyp die rekenaar-pot onder my arm vas en op pad na die kassier toe, pak ons ’n pasklaar middagete in die mandjie. Net vir ingeval.

By die huis pak ek uit, sit die pot aanmekaar en vroetel aan die knoppies. Hy maak sulke lekkerkry bliep-bliep geluide elke keer as ek ’n knoppie druk. Karen kry die pot se handleiding en resepteboek op Google, stuur vir my die skakels en ek begin dit opswot.

Maskas Pot, sê ek in my pa se bewonderende stemtoon, jy lyk soos ’n rekenaar, jy klink soos ’n rekenaar en jy dink soos ’n rekenaar! Jy weet hoe om sop en bredies te kook. En eiers. Jy kan jogurt maak en jy weet hoe lank boontjies moet kook. Jy kan slow cook en jy kan blêrrie vinnig kook. En jy kan pap maak! En ek, ek kan met ‘n rekenaar werk. Ek reken ek ons twee gaan oor die weg kom.

Ek gaan leer koskook, kondig ek die volgende oggend aan. Dis toe dat my huismense my aankyk asof ek effens ghagha geword het. Kyk maar, hoor? Kyk is vry.

Nou wat gaan jy nogal kook? vra die man wat nooit weet wanneer om stil te bly nie.

Mieliepap, sê ek, en twee paar bruin oë kyk my aan asof ek nie al my varkies op hok het nie.

Kyk maar, kyk is vry. Ek vertel later van die mieliepap.

Follow Dis Ekke

42 Comments

  1. Bhahahaaaa, ek hou hiervan. Wys hulle ‘n ding Hester, wys hulle… uuuhm en vir ons hoor…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja nee, ons sal maar sien. In hierdie huis waar daar gewoonlik net drie mense woon, is dit nogal ‘n uitdaging om die kok te wees, want elkeen het sy voorkeure en opinie oor kos.

  2. Lekker gelag. Hats off to you. Ek is ook nie wafers in n kombuis nie

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek moet sê, koskook het ‘n groot evolusie ondergaan sedert my kinderdae. Ek haal my hoed af vir die vroue van oudsher wat nie soveel hulpmiddels (en Google) tot hulle beskikking gehad het nie.

      • Ek het als tot my beskikking en vermy dit steeds so ver moontlik

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Haha, dit was altyd my houding ook. Ek sou nou nie hierdie saak in die somer aangepak het wanneer die son skyn en die see lok nie, maar dit behoort my aandag te hou totdat die winter verby is.

        • Voorspoed. 🤗

  3. Ek het ook een vd fancy stoompotte… maar moet na 6 maande nog die lus bymekaarskraap om die mieliepap, rys, yoghurt ens te maak. Tot nou toe werk hy goed vir vrugte en vleis. Sê my as jy dit uitgefigure het… ek sal by jou kookklasse vat 😀

  4. Met plezier gelezen.
    Een keukenprins ben ik niet, maar mijn eigen potje klaar maken lukt mij wel.

    Al kijken anderen soms raar naar mijn inkopen en/of menu’s.

    Ach, zolang mijn buikje te rond blijft ben ik redelijk tevreden over mijn eigen kookkunsten.

    PS: Ik kijk wel uit naar jouw volgende kookblog.

    Smakelijke groet,

  5. Ek kan heel vereenselwig met jou vrees vir ń stoompot. Ek kook maar veiliger langer. Sal graag vd mieliepap wil hoor.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek gebruik ‘n gasstoof, want elektriese stowe hou nie hier by die kus nie. Daar is niks wat so maklik kos aanbrand as ‘n gasstoof nie en ek haat dit om ure lank om die stoof rond te dans.

  6. Kan nie wag nie

  7. woordnoot

    Ek moes kook om aan die lewe te bly…toe hou ek op toe dit nie meer nodig is en my disse bevat 3 bestanddele en moet binne 5 min gaar wees. Daai potrekenaar klink na n wenner. Wag in spanning vir verdere inligting..

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek hou ook van die vinnige moer-by of roer-braai metodes. Wie wil nou deeldag in die kombuis ronddans. Maar dis die lekkerte van hierdie pot – hy werk op sy eie bliep wanneer die kos reg is.

      • woordnoot

        Jy voel nou oor hom soos ek oor die airfryer voel…absolute wonderwerk

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het ook al die airfryer so geoog, en ek is eintlik vies vir myself, want jy kry die Instant Pot wat jy kan gebruik as aifryer of as drukkoker – het dit op Google gesien – en ek wens ek het vroeër daarvan geweet.

        • woordnoot

          Ek het een vir my bday gekry. Het Des laas my oond gebruik. Die Instant Pot is op my wenslys.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Gelukkige jy!

        • woordnoot

          😁😁

  8. Nou het ek lekker gelees oor die primus en die drukkoker. Gelukkig was my ma ook bang vir ‘n drukkoker en het ons nooit een gehad nie. Nou nog het ek nie behoefte om een te wil toets nie. My skoondogter het so n gerekenariseerde pot. Ek bly steeds ver weg as sy met hom begin vroetel. Sal ook graag die uitslag van die mieliepap wil hoor. Mag ek maar sê- lekker kook?

  9. Ek het ook ‘n heilige vrees vir ‘n stoompot en ‘n kombuis. Daardie plek is nié my forté nie! Ek is bly jy kon ‘n kookkentering (is daar ooit so ‘n woord?) ondergaan! Glo nie dit sal met my gebeur nie.😀🥹

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis lekker net wanneer dit nie ‘n werk is wat van jou verwag word nie. Glo my, ek sal nog steeds nie kans sien vir werk, kinders grootmaak en aandete kook vir n gesin nie.

  10. Lekker gelees! Daai ou Presto stoompotte het my ook met ‘n heilige vrees gevul. Dit was ‘n genade dat ons s’n die gees gegee het, en die komputer pot is net die ding! Selfs ekkan hom suksesvol opereer en aptytlike kod optower!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nou sien jy! Dis ons geslag en die een voor ons wat daardie toerusting verfyn het tot so ‘n mate dat ons minder begaafde kokke ook n ordentlike pot kos kan optower.

  11. Ek was – en is – altyd te bang om ‘n stoompot (pressure cooker) te gebruik! Hierdie nuwe een van jou klink meer vriendelik.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Definitief verbruikersvriendelik. Dit laat nie reg stoom vry gedurende die kookproses nie, en jy kan maar alles gelyk in die pot pak – die groente kook nie pap terwyl die pot swoeg om die vleis gaar te kry nie. Dit verkort die kooktyd en spaar elektriese krag.

  12. Ek isen was ook so bang vir stoompot. Mos altyd gehoor van so-en-so se pot het ontplof of so iets. Net besluit daai is nie vir my nie dankie. Lekker kook:)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, daar was destyds baie stories van die deksel wat afgeskiet en ‘n gat in die plafon gemaak het, beetsous of ertjiesop die hele kombuis vol 🤣 stel jou voor wat ‘n lekker gemors dit is.

      • Almal lyk so 😳😳, omtrent soos as jy nou nies inni winkel. Weet tannie van my het so gem-squash gekook (nie stoompot nie) en vergeet om gate te druk of in helfte te sny. Blykbaar was dit ‘n mooi sagte geel teen die plafon😂😂😂😂

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          🤣 haai, mens mag nie lag oor sulke goed nie. En ek weet wat jy bedoel met die genies en geproes in die winkels – ek voek ook hoe my ruggraat styf word van skok as iemand in my rigting nies.

  13. Haha, dit is so oulik. Ek moet sê ek het darem nog nooit my mense voedselvergifting gegee nie en het al baie gehoor my kos is lekker. As ek vir basare of so iets moes maak, was ek altyd in ‘n stres toestand. Ek voel my beslis nie so kundig op daardie gebied soos my skoonma en my uiters bekwame skoonsusters nie. Nou bly ons in ‘n nuwe huis met ‘n nuwe gasplaat elektriese oond stoof. Man, vir gas was ek nog altyd bang, maar Eskom het my nou al geleer om met ‘n vuurhoutjie die plate aan te steek as ek moet kosmaak. Waar ek altyd doodbang was om dit te doen. Die oond is egter potent, baie meer as my vorige oonde. So, ek moet my grade laer stel en my tyd minder maak, anders brand my geregte. So, ek en dit stoof is nog nie lekker maats nie.