My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Op watter ouderdom leer jy om dik ertjiesop te kook [en reg te spel]?

close up shot of pea soup

Photo by Farhad Ibrahimzade on Pexels.com

Dik ertjiesop en ewe dik boontjiesop was beide groot gunstelinge in my grootwordhuis daar in Namakwaland, veral op die winterdae wanneer so ’n fyn motreëntjie val. My ma het dikwels sop gekook in haar ou Presto stoompot, eers op die ou koolstoof en later op die gasstoof, om die koue te verjaag.

Ons het dit “boontjieslop” en “dikkerkiesop”genoem. “Slop” omdat my broer wat ’n duidelike lispel in sy spraak gehad het homself eendag verspreek het en nie sy tong so lekker om die “s” kon vou nie. “Dikkerkie” het deel van ons woordeskat geword nadat my ma en pa een jaar in Amanzimtoti gaan vakansie hou het en die restaurant by hulle hotel die item verkeerd gespel het – dikertjiesop. Nee, daar bestaan nie so ’n woord nie – gaan soek maar in die woordeboeke – mens spel dit dik ertjiesop, twee woorde 📚

“Dikkerkiesop?” het my pa fronsend die menu probeer ontsyfer. “Bokkie, wat op aarde is dit?”   

Die tradisie van boontjieslop en dikkertjiesop is voortgesit in my eie huis, maar dit het nooit weer so lekker gesmaak soos my ma s’n nie en ons het later ander, meer fênsie sop begin eet. Dalk was dit die kok se skuld, want die ertjies het nooit behoorlik deurgekook nie (swak gehalte droë ertjies was my verweer) en die boontjiesop was net eenvoudig melerig – vol poep en niks meer nie. Tot onlangs, toe ek die nuwe fênsie elektriese stoompot gekoop het. En toe die winter hierdie jaar met mening kloue ingeslaan het, verlang die man in die huis ook terug na die trooskos van sy eie kinderdae.

“Kan ons nie probeer om ertjiesop of boontjiesop te maak nie?” Hy is duidelik nie beïndruk met ons geurige pampoensop, of die heerlike aroma van ons aartappel-en-preisop nie. Die idee van die beetsop wat ek beplan, laat sy mondhoeke val – wie wil nou rooi sop eet? Dik ertjiesop dalk? En hy wil vleis in sy sop hê. Regte sopvleis. Kalfsvleisskenkel met ander woorde. Haikona wena. Daardie vleis is deesdae te duur vir sop – ons gebruik dit om osso buco te maak saam met polenta, soos die Italjaner-sjef ons geleer het. Varkvleis dalk? Die Engelse eet graag ham and pea soup. Hier rondom ons is dit varkplaaswêreld en ons kry varkvleis teen redelike pryse, en om die waarheid te sê, ek verkies dit bo bees- of skaapvleis waarvoor ons ’n plaas se prys betaal hier ter plaatse. Makliker verteerbaar ook op hierdie ouderdom.

So gesê, so gedaan en ons pak die stryd met die ertjies in die stoompot aan. Varkvleis in repies gesny. Gerookte varkbeen wat in pakkies verkoop word vir ekstra geur. Wortels, uie, ’n aartappel, seldery en ’n lepel gerasperde suurlemoenskil. (Karen rasper sommer ’n hele suurlemoen wat vooraf gevries is en pak dit in plastieksakkies in die vrieskas – dit verleen ’n heerlike geur aan alle groente- en vleisgeregte.) Drie koppies hoenderaftreksel en die pot se deksel toe. Niks ekstra kruie of geurmiddels bygevoeg nie.

’n Halfuur later eet ons stomende geurige dik ertjiesop saam met heelgraanbrood. Gekook tot perfeksie.

Pa, dikkerkiesop was nog nooit so lekker nie!

Ps. Karen het nou kom vertel dat die gerookte varkbeen in die sop haar jodium-toleransievlak oorskry het. Sy en haar pa ly albei aan hierdie probleem en hulle het verlede week reeds les opgesê nadat ek ’n lekker windgat Thai green curry visbredie gemaak het, soveel so dat haar pa medikasie moes kry om die nagevolge te bekamp 🤢 Nou voel hulle alweer siek!

Sug 😔 Dalk moet ons eers ’n wyle terugkeer na beesveis- en hoendergeregte. Ek het anderdag by die winkel gesien toe ’n man hoenderpote (“run-ways”) gekoop het en op die ingewing van die oomblik het ek ook ’n kilogram in my mandjie gepak. Ek gaan googleloer vir resepte.

Follow Dis Ekke

47 Comments

  1. Anonymous

    Die beste ertjie sop wat ek ooit geproe het was op ‘n baie koue aand in Amsterdam, Nederland. Ek het soveel keer probeer om dit tuis te maak voor ek opgegee het. Meskien is dit omdat ek die vleis uit laat – alhoewel ek het gisteraand ‘n lekker tamatie sop gemaak waarin ek ook hoenderaftreksel gemeng het.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek hou ook van die smaak van vleis in my sop, en gebruik dikwels tuisgemaakte aftreksel (of sommer die sous wat oorgebly het van ‘n vorige maaltyd wat ek gevries het) as ek nie die vleis self wil gebruik nie. Ek is baie lief vir tamatiesop, maar die sooibrand … 🔥

  2. woordnoot

    Die lekkerste sop (behalwe my eie groentesop) wat ek nog geëet het, was geel beetsop in Edenburghb in Skotland. O my soul….dit was hemels. En beslis op my te-doen lysie as ek Des weer gaan. Geluk met jou sop! Dit lyk vrek lekker!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Geel beet Ek ken dit nie. Bring die resep saam wanneer jy terugkom. Groentesop en hoendersop is altyd lekker! Ek dink as ek elke dag kan sop eet, sal ek nooit vra vir ander kos nie.

      • woordnoot

        Ek wil n geel beet saad koop. Hoop ek kry!! Ek is ook dol oor sop. Trooskos second to none!!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis waar. Deesdae gryp almal mos na pasta wanneer die lewe druk, maar ek het nie ‘n pastapersoonlikheid nie.

        • woordnoot

          Pastapersoonlikheid!! Dis snaaks. 🤣

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek is oortuig daarvan dat mens nie soseer geken word aan jou vriende nie, as aan die soort kos wat jy eet.

        • woordnoot

          My oorlede man en ek het so verlief geraak op die Franse kookkuns…

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek is nie baie bekend daarmee nie. Ek neig meer na die “warmer” geure en smaak van Indië, Marocco en natuurlik Mexiko – ek het gister gesit en dink ek het darem lanklaas enchiladas gemaak.

        • woordnoot

          Oooo…ek lief eintlik enige kos. Enchiladas klink nou so lekker en opwindend

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          En dis so maklik om te maak. Met gekoopte tortillas natuurlik. Ek slaan nie maklik my hande aan deeg nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O die prentjie is nie myne nie, dit kom van die internet af – ek is deesdae te lui om ‘n kamera op te tel en neem selde foto’s van kos, of enigiets anders.

      • woordnoot

        Makliker om te leen…ek stem

  3. Snert. Dis nou hoe die Hollanders dit noem. Hier in onse huishouding kook die uwe snert en my huisgenoot lensiesop. Die ertjiesop baie soos jou resep. Daar moet darem ‘n stukkie gerookte vark in wees!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Snert – nou toe, ek het dit nie geweet nie. Google vertaal dit nogal soewe as Dutch Pea Soup. Ek het nog nooit lensiesop gekook nie, omrede ek Jacob en Esau se verhaal so traumaties gevind het … dalk moet ek tog daarna kyk.

  4. “Ek het nie ‘n pastapersoonlikheid nie” – 😄

  5. Liewe antipasta, jou ertjiesoep laat my propasta bek water. ‘n Gunsteling in my huis is ertjies met aartappel en seldery lank gekook met gerookte been otter en aan die einde ‘n skeutjie witsuiker, asyn en ‘n ingelse dollop dijon mostert. Og, as dikkertjie sop koud geword het en jy hap so skelm lepel. Njam.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Mostert? Mmm, dankie vir die tip. Dit klink na ‘n interessante happie en ek is altyd reg om iets nuuts te probeer. Jy weet – ek is nog op die wat-kan-ek-vandag-kook🤩-stadium. Nog nie die ag-hel-wat-kook-ek-tog-vandag-😞-vlak bereik nie, hahaha.

  6. Ek is ook baie lief vir sop en maak meestal groentesoppe! Die ertjiesop klink heerlik!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie. Groentesop is lekker, ja, maar Jac dink groente is bokkos. So wat ek doen, is om by elke sop (of bredie) soveel groente in te gooi as wat ek kan wegsteek onder die ertjies, boontjies of watter soort kos ek ookal kook.😁sy groente sal hy teen wil en dank eet. Wat lekker is van hierdie stoompot, is die kort kookperiode, wat beteken dat die meeste van die voedingstowwe behoue bly.

  7. Dit klink heerlik, ek is mal oor sop en ja, so dik jy moet amper vurk gebruik. Was so koud in daai kliniek met die AC aan, dink as ek die moes lees toe het ek iemand se arm afgekou. En 😂😂😂😂😂 oor pastapersoonlikheid

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😂 snaaks hoe net die gedagte aan kos jou kan laat honger voel. En en my broer het altyd met smaak Heinz Konsalik se boeke gelees, van die arme soldate in strafkampe wat net waterige koolsop gekry het om te eet in Siberië se sneeubedekte landskap. Dan het ek en broer met komberse om ons gesit (in die somer!) en dik snye brood geëet.

  8. Ja jong, Hollandse ertjiesop het ‘n lekker varkpootjie daarin. Was altyd Sondae sopdag in ons huis. Die ertjiesop was altyd baie spesiaal omdat varkpootjie ook maar duur was vir mense wat nie geld gehad het nie. Yummy ryk en lekker. Boontjiesop en lensiesop is ook heerlike soppe. Gort maak ook die sop lekker dik.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons het ook boontjiesop gekook nou onlangs, maar ek gaan beslis die lensiesop probeer. Lekkervurig het ook gesê ek moet gort byvoeg.

  9. Ek is mal oor sop. Dit kan net na reën lyk, dan wil ek sop maak.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Trooskos. Ons het almal so ‘n behoefte daaraan om iets in ons mond te druk wanneer die weer goor is of as die lewe druk.

  10. Snert kook ek ook, ek kroek ‘n bietjie en gooi bacon en vark in. Jou man en dogter klink soos gewillige proefkonyne