My vreugdes en frustrasies

Ouderdom

Op hogere ouderdom leer ons ordentlike mieliepap kook

Photo obtained from Pixabay

Pa wat mieliepap maak vroeg in die oggend, bly nog een van my mooiste herinneringe aan hierdie eerste man in my lewe. Mieliepap en Nestlé Klim poeiermelk wat aangemaak is met kookwater. Dis waarmee ek grootgeword het.

Pa het die mieliemeel eers aangemaak met ’n bietjie koue water wat hy dan by die kokende pot water op die stoof gevoeg het. Om en om het hy die mieliemeel geroer totdat hy seker was al die klonte is opgelos, voordat hy die pot se deksel opgesit het om die pap te laat gaar stoom. Wanneer die pap gaar was, het hy poeiermelk aangemaak om saam met die pap te eet – nooit vars melk nie, want Ma kon nie die reuk van melk verdra nie.

Ma het so ’n blink maatbeker gehad, seker maar van aluminium gemaak, waarop die inhoudsmate aangedui is as 2 pinte. Rofweg dieselfde grootte as die oranje plastiekbeker wat nog deser dae langs my elektriese ketel staan. Ons het altyd gepraat van die “blinkbeker”, nooit blikbeker nie. Wanneer die pap gaar was, het Pa ’n paar lepels poeiermelk in die blikbeker gegooi en aangemaak met koue water. Dis die geur van stomende pap en die geluid van Pa wat daardie poeiermelk roer en met ’n lepel klits in die blinkbeker totdat dit klink soos die gebeier van klokke wat my wakker gemaak het elke oggend. Het die poeiermelk baie klonte gemaak of was dit sy manier om ons uit die bed te kry?

Ek het probeer om pap op die stoof te maak, regtig ek het hard probeer, maar die vervlakste pap het alewig oorgekook en aangebrand. My kinders het grootgeword op Post Toasties en Weetbix. Hulle pa het soms mieliepap of Maltabella-pap gekook, maar dit was steeds ’n onheilige gemors van aangebrande potte en vuil stoofplate. Eendag het die Maltabella-pap so oorgekook dat die bietjie pap wat oorgebly het soos saagsels gelyk en gesmaak het. Ag nee wat, sê hierdie pa, al die lekker jêm wat die pap bind het nou uitgekook. Dis nou ’n sêding in hierdie huis – moenie die kos se jêm uitkook nie.

Toe kry ons ’n mikrogolf-oond en mieliepap was een van die eerste, en die min suksesvolle disse, wat ek in hierdie wonderlike ontdekking gaar gemaak het. Maar die man des huises het geweier om mieliepap uit die mikrogolf-oond te eet, want dit smaak nie reg nie. Onsin. Glo my asseblief, daar is geen verskil in smaak nie, tensy jy spesifiek hou van die reuk en smaak van aangebrande pap.

Toe kry ek nou die dag die elektriese stoompot en kondig aan dat ek gaan leer koskook.

Nou wat gaan jy nogal kook? vra die man wat nooit weet wanneer om stil te bly nie.

Mieliepap, sê ek, en twee paar bruin oë kyk my aan asof ek nie al my varkies op hok het nie.

Karen moet kom help om die pap aan te maak met koue water en die mengsel in te roer in die glasbak met kookwater. Ons meet en pas om die glasbak op die stoomrak in die Pot te sit en Karen moet help om die regte opsie op die knoppies-paneel te kies (want my nuwe bril sou eers twee weke later arriveer). Die Pot is ’n ware staatmaker – toe Karen die “porridge” opsie kies, gaan hy voort en programeer die regte hittegraad en tyd. Presies 25 minute later bliep-bliep hy om te sê die pap is gaar, en ons laat nog 10 minute toe vir die stoom om af te blaas. En toe ons die deksel oopmaak – perfek gekookte mieliepap. Tot die man wat so baie praat, is in sy skik met die tekstuur en smaak.

Om die mieliepapstorie af te sluit:

’n Paar dae later seg ek vir Karen ek het so lus vir krummelpap en gebraaide wors met chakalaka. Die man trek ’n gesig – hy meen dis net Trônsvôlers wat pap saam met vleis eet. Ek ignoreer hom en ons kook die krummelpap. Tot perfeksie. Hy eet toebroodjies; ek en Karen eet heerlike pap en wors met chakalaka.

Nog ’n week later val iets my by en ek vra vir hom of hy nog die geel mieliepap onthou wat ons jare gelede geëet het? Die witmielie-oeste het misluk en geel mieliepap was aan die orde van die dag.

Ja, knik hy geesdriftig, dit was die lekkerste mieliemeel ooit, ek sal elke dag daarvan kan eet. Ek knipoog vir Karen ek ons koop ’n pak polenta in die dorp. Daardie dag maak ek osso buco (kruisgesnyde kalf- of beesskenkel) en bedien dit op ’n bed van polenta wat ons ook in die pot kook. Heerlik ryk en romerig, gemaak met melk en botter soos wat ons chef-seun beduie het. Ek weet baie goed dis iets wat die man nie ken nie en ek lig hom nie vooraf in wat hy eet nie. Eers toe hy die murg met smaak uit die laaste beentjie gesuig het, vertel ek hom dis fyngemaalde geel mieliemeel. En ek wag vir die oorval wat gaan kom, maar hy smak sy lippe en sê dis heerlik. Die volgende oggend dring hy aan op polenta vir ontbyt, maar eerlikwaar, só vriendelik was ek nog nooit, nie teen die prys wat ons hier aan die kus vir polenta betaal nie.

Follow Dis Ekke

27 Comments

  1. Ons het geel miliepap op ons plaas vir ontbyt gekry – die enigste pap waarvan ek hou 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Geel mieliepap het ‘n fantastiese smaak, baie beter as wit meel. Dis nou soos mense wat wit brood eet – ek verstaan dit glad nie, want bruin brood, veral wholewheat, het soveel meer smaak.

  2. Jy het my nou skoon honger geskryf!

  3. Mmmm lekker darem om so te lees van lekker mieliepap. My man was die baas mieliepap koker. Dan daardie lekker chakalaka en geurige stuk boerewors, lippe lêk lekker. Selfs my man se slappap vir ontbyt was ook heerlik.

  4. Hierdie Trônsvôler hou ook nie van microgolf pap nie. En ja, ek hou van die reuk van gaar pap en bransels. Microgolf pap ruik nie dieselfde nie.
    Knap gedaan met al jou gekokery, dit klink ongelooflik lekker. Miskien moet ek ook maar so pot kry….

  5. Ek het gelukkig ‘n man wat pap kan maak, net nie krummelpap nie. En ai, ek is so lief daarvoor. Well done… jy doen goed met jou nuwe nuwe stoompot!

  6. Hester, ek gaan uit jou kombuis praat – weet van heerlike beesstert, Thai kerrie wat ook deur jou vlytige handewerk opgetower is. Dis nou buiten daai bakke mieliepap. Wat kan ek persoonlik oor mieliepap sê? Ek is gelukkig ook met ‘n pap-grootmeester getroud. Maak dit self onder geweldige druk en as die kalf in die put is. Dis ‘n lewe se lekker en onthou in daai reuk, en brandsel met dik botter. Wie kommer oor cholesterol!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daar is sekere disse wat ek deur die jare en met groot moeite leer kook het. Nou is dit net soveel vinniger en makliker. Maar daar is ook die kosse wat ek tot dusver geweier het om gaar te maak.

  7. Mielies sit pit in pap, mieliepap sit pit in jou.

  8. Nee hoor, jy kan mos nie so kos-kos praat nie. Hier sit ek nou inni middel van die sand met ‘n kwyl bek en dink aan pap. Dit klink heeeeeeeeeeeerlik.

  9. Aitsa, jy wen daardie pot. Heerlik voortkook en eksperimenteer.

  10. woordnoot

    Nee hoor, daai pot klink na die wenner! Ek maak self pap soos jou Pa gemaak het, maar dis brêkvis pap. Bietjie stywer vir aandete. Maar nou moet ek op ‘n gasstofie werk en sukkel ek my jis af. Want dit brand voor dit gaar is! En dis nie die fancy gasstoof wat mens mooi kan beheer nie.Pap is nou n tameletjie in die huis waar ons maklik tweekeer per week pap gehad het….

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja toemaar, ek het vanoggend (weer eens!) die rys laat aanbrand op die gasstoof. Ek het ‘n klein pannetjie gekoop wat ek binne-in die pot kan sit om die rys saam met die vleisgereg te kook, maar ek moet eers uitfigure hoe dit werk.

    • Anonymous

      Jy moet uit kyk by sekere winkels kry jy nog geelmeel te koop, ons is ook liewer vir die geel mieliepap. Ek bely my sond teenoor pap kenners ek kook my pap in die mikrogolf, behalwe krummelpap, hy moet op die stoof gemaak word. Lekker voort kook in jou wonderpot

  11. Weet nie hoekom ek nou skielik anonymous geword het nie. Dis Tommeltjie