Die woord verslawing bring onwillekeurig die prentjie op van ’n persoon wat verslaaf is aan verdowingsmiddels, alkohol of nikotien. Verslawing strek egter wyer as dit en word tans ook uitgebrei om byvoorbeeld verslawing aan rekenaars en selfone (skermverslawing) in te sluit1bron ViVa vertaal op ViVa se webtuiste. My beskeie mening is dat die definisie “toestand van verslaaf wees, jou aan iets oor te gee”2bron Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) (6de uitgawe) ook beskikbaar op ViVa se webtuistemet gemak toegepas kan word op enige situasie waarin jy jouself so kan oorgee aan ’n tydrowende bedrywigheid dat die werklike lewe so ongesiens by jou verbyglip.
Dis wat tans met my die geval is. Ek was nog altyd verslaaf aan speletjies soos wat ek ruiterlik erken het in hierdie blog wat dateer uit 2014:
Ek speel nog steeds, maar deesdae speel ek met woorde. Op ’n goeie dag iewers in Februarie 2022 het ek die woordspeletjie Wortel ontdek en dis net daar waar die spreekwoordelike paw-paw die fan geslaat het. Heel gou het ek tot die besef gekom dat Wortel ontwikkel is nadat die Engelse speletjie Wordle oorgewaai het van oorsee af. Wordle het baie kort daarna ander uitvloeisels gebaar soos Quordle en Dordle. In Suid-Afrika is WATSE bekend gestel (Afrikaans en Nederlands) en ook Woordmal (Afrikaans en Engels). Ek het ’n paar vriende oorgehaal om saam te speel en daagliks hulle suksesse te publiseer.
Woordverslawing. Gekoppel met skermverslawing. Op groot skaal. Ek het die laaste maand spandeer op woordspeletjies en met my neus in die woordeboeke wat aanlyn beskikbaar is. Nie hééltemal ’n slegte ding nie, dink jy, want ’n mens leer darem iets? Maar dit raak ’n probleem wanneer jy niks anders wil doen nie en kwaad raak omdat jy tyd moet afstaan om te eet en te bad en al daardie nare dinge wat jou tyd vreet.
Mettertyd kompeteer jy nie net met jou vriende nie, maar met jouself ook en jy raak bitterlik ontsteld wanneer die lyntjies vol raak en jy nog nie die oplossing gevind het nie. My naels is voos gekou van spanning, my middagslapie is daarmee heen en my ooglede hang slap van moegheid, my oë is vierkantig van heeldag teen ’n skerm vaskyk, my boude is deurgesit en my rug protesteer.
Dis wat teleurstelling aan jou doen as jy nie die raaisel suksesvol kan oplos nie:
- Dis pynliker as die maagkrampe vroegoggend nadat jy die vorige dag al die groen appelkose aan die boom in die agtertuin verorber het
- Dis ’n groter foltering as die lang plat nimmereindigende strook teer wat liniaal-reguit voor jou uitstrek as jy deur die Knersvlakte ry
- Dis misliker as die brandende suur wat oorkook in jou keel wanneer jy jouself te buite gaan met twee liter roomys en brandewynsous
- Dis meer brutaal as die gesuis in jou ore nadat jy twee ure lank na ’n Queen-musiekkonsert met oorfone op vol volume geluister het
- Dis smartliker as die straf wat jou tandvleis verduur as jy ’n bak vol grondboontjies verorber terwyl jy ’n seisoen van Dallas vraatkyk
Dis hoe verslawing lyk.
Ek kan nie so aanhou nie en sal móét briek aandraai. Verslawing in enige vorm is ongesond. Ek gaan dus stappe neem om te rehabiliteer. Dalk moet ek voorlopig terugkeer na Candy Crush toe? 🤔 Ek trek nou op vlak 3179 🤪 Die voordeel is dat ek net vyf “lewens” op ’n slag kry en dus noodgedwonge my tyd moet spandeer aan ander bedrywighede 😉
Wil jy ons vertel van die uitwerking van verslawing op jou lewe? Ernstig of tong in die kies, ware feite of uit jou duim gesuig, dit maak nie saak nie, neem gerus deel. Almal wat graag Afrikaans skryf is welkom om deel te neem aan hierdie uitdaging. Doen ‘n “pingback” na hierdie blog of plaas die skakel vir jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”).
Sien die reëls vir deelname hier onder.

Hierdie skrywe vorm deel van die bloguitdaging wat gesamentlik aangebied word deur myself (Dis Ekke) en Lekkervurigeaffêre.
Jou inspirasievonk vir hierdie Woordwarrel is verslawing.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Doen ‘n “pingback” of plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
Footnotes
- 1bron ViVa vertaal op ViVa se webtuiste
- 2bron Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) (6de uitgawe) ook beskikbaar op ViVa se webtuiste
Lekkervurigeaffêre
Woordverslawing….wortelverslawing…uitsteltaktiek…tyddiewe….oukei ek gaan warrel.
HesterLeyNel
Wharra wharra wharra. Ek speel met woorde in my drome deesdae. Ek het gisteraand op Woordmal gesukkel met die woorde “nosie” (soos in die Engelse notion natuurlik – begrip of idee) en “isone” (spiersuiker – iets waarvan ek nog nooit voorheen gehoor het nie). Vanoggend douvoordag was ek op ViVa se webtuiste besig om die twee woorde te bestudeer. Dit kan nie so voortgaan nie 🤔
Aletta - nowathome
Ek is saam met jou! Wordle is verslawend. 😀 moet nog Wortel probeer!
HesterLeyNel
Wordle het noual soveel knock-offs en ek kan mos nie ‘n versoeking weerstaan nie.
Aletta - nowathome
Ek ook nie😊 ek speel ook die nytimes een. Slegs 1 woord n dag☺️
HesterLeyNel
Ek het nie soveel wilsvermoë nie – ek speel sommer almal.
Aletta - nowathome
🤔😀
Anne
Wordle is deel van my oggend: lees blogs en dan Wordle voor die dag kan regtig begin 🙂
HesterLeyNel
Ek het ook in die roetine verval om eers te speel en dan te gaan stort sodat my dag kan begin.
scrapydo2.wordpress.com
Ek is seduko mal. Koop n dik boek met baie in en doen dan sommer klomp na mekaar voordat ek my daaglikse doen Het toe ook met watse begin en is spyt mens kan net een pet dag doen. Meestal derde woord regte woord en dit bevredig nie. Probeer engelse blokraaisel doen maar my kennis is te min. Soek al die woorde op. Ai en dis tydrowend.
HesterLeyNel
Ek het voorheen Sudoku gespeel tot my kop so vol syfertjies was dat dit by my ore uitgeval het. Ek het verkies om online te speel. Maar nou is ek so vies vir al die syfertjies dat ek jare laas daaraan geraak het. Dis my probleem – ek raak gou verveeld.
scrapydo2.wordpress.com
Ek doen dit ook aanlyn want daar kan mens net een maklik, mild, en difficult doen. Ek maak legkaarte ook waar mens self hoeveelheid stukke kan kies en daar is drie per dag om te doen. Lekker om aanlyn te doen.
HesterLeyNel
Ja, ek is definitief klaar met papier, boeke en potlode. Hierdie rekenaar-era val reg in my kraal.
scrapydo2.wordpress.com
Lekker man, geniet dit. Eks te rusteloos van aard om so lank voor die rekenaar te sit en lees en werk.
scrapydo2.wordpress.com
Mooi man. Eks ook nogal mal oor die aanlyn goete. Mens kry baie bevredigende gevoelens as mens so produktief sit en breinwerk doen.
Tannie Frannie
Hoe hou jou mense met jou huis?? Ek vermoed dis omdat jy so vermaaklik is.
HesterLeyNel
Ons hele gesin het so ‘n klap van die windmeul weg – ek dink dis aansteeklik. Soos wat my een seun dit aan sy vriende verduidelik: “For a dysfunctional family unit we actually function very well.”
Tannie Frannie
Bwahahaaa, dis soos die meme wat my seun vir ons gesinsgroepie op WhatsApp gekies het: ‘n groot banier met “Adult Children of Normal Parents Annual Convention” en twee gretige teenwoordiges in die hele grote saal…
HesterLeyNel
🤣🤣
perdebytjie
Sjoe Hester, nie geweet mens kan soveel verslawings hê nie! Gelukkig beweeg julle darem elke keer aan na ‘n volgende een, wat beteken julle is nie té verslaaf nie. Ek het dit nou baie geniet!
HesterLeyNel
Ek dink die verslawingsgeneigdheid het ‘n oorsprong gehad in die dae toe ek gewerk het. Dit was dringend noodsaaklik om ‘n ander uitlaatklep te hê. So ‘n bietjie ontsnapping van die alledaagse sleur. Toe word dit gewoonte.
scrapydo2.wordpress.com
Hier is my verslawing https://kreuk-els.com/2022/03/20/woordwarrel-verslawing-2022/
HesterLeyNel
Ek gaan kyk …