My vreugdes en frustrasies

Woordwarrel

Woordwarrel 3/2022 Oksimoron – waaroor ‘n renoster gesels

photo of rhinoceros

Photo by Elena Blessing on Pexels.com

Ekkenoster, ’n vry renoster, leef in bedreigde veiligheid hier in die Wille Dieretuin, ten spyte van die onsekere sekuriteit waarmee my lyfwagte my omring. Ja, ek het my eie gehuurde lyfwagte, want daar is geniale morone wat my lewe bedreig net omdat ek ’n horing het. Iets waaraan hulle oordadiglik tekortskiet, vermoed ek.

My horing bestaan hoofsaaklik uit keratien ook bekend as horingstof (die Grieks vir horing is keras). Dis ’n horingagtige eiwitstof (proteïn) waaruit skubbe/naels/vere/hare/horings/ens. ten dele bestaan sê die Handboek vir die Afrikaanse Taal (HAT) se 6de uitgawe.

Ek het al gewonder of hierdie twyfelagtige wondermiddel dan nie op natuurlike sintetiese wyse vervaardig kan word in ’n laboratorium nie. Ek meen te sê, daar is mos ’n oordaad van visskubbe in die see, hare en naels in die stede, vere wat in die lug rondvlieg en horings wat aan ander soorte gediertes behoort. Hoekom is juis ’n renoster se horing dan so gesog dat die briljante dwase bereid is om die spesie uit te roei om hulle eie ontoereikende beskeidenheid aan te vul? Is dit omdat die skerpsinnige sotte weet dat ’n renosterhoring groot, skerp, hard en aansienlik is – iets waarmee hulle nie kan kompeteer nie? Jaloesie is ’n lelike ding.

Renosters is van nature gevaarlik weerloos in sekere omstandighede. Hulle onsiende oë en langsame spoed maak van hulle ’n maklike teiken vir jagters. Wegkruip help ook nie, want die logge lyf maak hulle nie juis opvallend onsigbaar nie, nie in oop veld of in die deursigtige duisternis van die bos nie. En hulle kan ook nie om hulp roep wanneer gevaar dreig nie – het jy al hulle lawaaierige fyn tjankgeluide soos dié van ’n klein hondjie gehoor? In die bos dien dit geen beter doel as ’n geluidlose gil deur saamgeperste lippe nie. Luister hierna:

Die begaafde morone wat jag maak op renosters, weet van hierdie digte leemtes in renosters se wapenrusting en maak goed gebruik daarvan. Die gruwelike manier waarop renosters doodgemaak word, kan op geen manier as ’n barmhartige slagting beskryf word nie.

Vanaand toe Ekkenoster veilig by die toweragtig realistiese Powwow watergat aankom vir die vergadering wat Dwarsvurige Buffel belê het, sit al die diere daar en gesels oor morone. Intellektuele morone wat oksimorons genoem word. Dis ’n onderwerp wat op ’n doodgewoon eienaardige manier sin maak tussen diere wat altyd fisies in die jagter se visier is, maar teoreties effektief daarna streef om hulle gemeenskaplike taal op te hef.

Nie een van die Groot Vyf diere in Afrika is ooit regtig veilig van doodslag nie: Dwarsvurige Buffel se vleis maak glo heerlike biltong, Langtand Lantjie die olifant se ivoor is van onskatbare waarde, Byelyfie die luiperd en Sonderbondelsmaanhare die leeu se velle is altyd in aanvraag en Ekkenoster het ’n uiters begeerlike horing.

Maar dit ontmoedig hulle nie daarvan om mekaar te onderskraag en beveilig nie.

Net so moet die mense wat ons goedgesind is nie vergeet om die stryd teen wetsgeleerde onwettige jagters saam met ons te veg nie. Ondersteun die organisasies wat doelgerig probeer om die renosters van uitwissing te red.

Besoek hierdie skakel: Save the Rhino


Hierdie blogpos vorm deel van die Woordwarrel uitdagingsreeks. Verwys na die blogpos Woordwarrel 3/2022 Oksimoron – twee teenstrydige begrippe in hierdie reeks vir besonderhede van die onderwerp onder bespreking.

Voel jy lus om saam te speel? Jy’s altyd welkom.


Mens maak so:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ’n spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.

Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.

Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.

Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.

Follow Dis Ekke

16 Comments

  1. Briljant geskryf!

  2. Bravo, bravo. Ekkenoster, jou gevaarlik bevallige dier.

  3. Wow, knap gedaan. N hele bekvol soos dit n Ekkenoster betaam

  4. Briljant geskryf,Hester! Jy het die oksimorons beslis onder die knie. Net jammer die geniake morone bly steeds morone.

  5. Geniale..🙈🦏🦏

  6. Haai Hester. Baie goed geskryf en aangesluit by Erna. In graad 2 het ek Jan Pierewiet gesing en die juffrou het gesê ek het ‘n pragtige sopraan stemmetjie. Soos die Renosters! Ek is geleer (nee ek is dit definitief nie geleer nie), het iewers uitgevind dat ‘n sopraan stemmetjie behou kan word indien… eina). Wat my dan laat wonder… Met sulke stemmetjies hoe kan ‘n Renoster as die toonbeeld van manlikheid gesien word deur diegene wie se ontoereikende beskeidenheid opvallend onsigbaar is?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Vra jy nou die ding! Irrasionele logika is al wat ek kan sê. Nou, daai storie van die sopraanstemmetjie het ek ook al gehoor – toe die manlike branderryer deur ‘n haai aangeval is en in so ‘n fyn stemmetjie begin roep het om hulp. Abrie, ek en jy gaan in die moeilikheid beland as ons hierdie gesprek veel verder voer.

  7. Heerlik, dramaties en so waar vertel. Jy gooi daardie morone lekker rond. Baie interessant ook hoe jy die onderwerp getakel het. Jy en Abrie veratan mekaar baie goed. Jul is lekker pittig.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy. Ek wens ek kon daardie morone letterlik rondgooi. Ja, ek hou van woordspel, Abrie se soort humor en ons is natuurlik geïnspireer deur Lekkervurig se Powwow Watergatstories.