My vreugdes en frustrasies

Woordwarrel

Woordwarrel 4/2022 – Hoop, wanhoop en moedeloosheid

black beetle on brown sand

Photo by Stef Vanbroekhoven on Pexels.com

“Die hoop beskaam nie, maar partykeer rol die miskruier die hoop weg” – so sê hulle glo in Annerlike Afrikaans daar in die Vrystaat1Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en Annerlike Afrikaans, beide beskikbaar op ViVa se webtuiste. Ekself sal liewer nie die Bybel so weerspreek nie, want ek is bang vir weerlig.

Wanneer die miskruier hierdie laakbare daad verrig, word die veronregte persoon soms moedeloos, want jy kan nie altyd teen miskruiers veg nie. Jy kan maar net aanvaar wat aan jou toebedeel word. Dis dan dat jy so ’n bietjie troos of aanmoediging nodig het, ’n skouer om op te huil en iemand wat sê “Toemaar, toemaar, daar is nog koring in Egipte”2Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) beskikbaar op ViVa se webtuiste. Hierdie uitdrukking is glo Varsgebekkig3Maroela Media, maar vir my klink dit ook maar baie Bybels – uit die tyd van groot droogtes en hongersnood toe Jacob se seuns doer van Kanaan af gereis het Egipte toe in die hoop om koring te kry in Egipte. En toe loop hulle hulself vas in Josef, die einste broer wat hulle verkoop het omdat hulle jaloers was op die mooi kleed wat hulle vader vir Josef gegee het. Hulle moes van beter geweet het – die 10de Gebod in die Bybel sê baie duidelik jy mag nie jou naaste se besittings begeer nie. Ook nie jou broer se kleed nie. Of die liefde wat hom toebedeel is nie.

Dis die heel eerste Bybelstorie wat my ma vir my vertel het. Ek hoop sy weet hoeveel ek dit tot vandag toe nog waardeer dat sy tyd afgeknyp het uit haar besige lewe om my te leer van liefde vir my medemens en van hoop. Jy weet, wanneer kinders groot word, vergeet hulle soms wat hulle ma’s vir hulle geleer het. Dan moet hulle soms in die bek geruk word, sodat hulle weer kan onthou.

Ek wonder of Wladimir Poetin se ma ook vir hom Josef se storie vertel het. Geloof, die derde teologiese deug wat Paulus in die Bybel identifideer het, het so effens krag verloor die afgelope paar dekades, so dalk het hulle nie Bybel gelees agter die Ystergordyn daardie dae toe hy grootgeword het nie. Dis hoekom hy ook nie liefde en hoop verstaan nie. En dis hoekom so baie mense van hom af wegvlug in wanhoop.

Wanhoop is baie erger as doodgewone moedeloosheid. Dis ’n hengse groot hoop wat die Miskruier besig is om weg te rol. Daarmee saam word mense se lewens, hulle bestaan, hulle vryheid, alles waarvoor hulle gewerk en gestreef het, ook weggerol. Tog is daar hoop wat groei uit hierdie situasie, want onverwags het ander lande, regerings (behalwe die draadsitters ter plaatse), volke en nasies weer onthou van liefde, die soort wat jou noop om by te staan, saam te staan en te veg vir geregtigheid. En gee aan die Miskruier die eer wat hom toekom: hy het reggekry wat twee wêreldoorloë, aardverwarming, ’n vernietigende pandemie, die swart gevaar, die rooi gevaar, die ystergordyn, die koue oorlog, die holocaust, die swart pes, die runderpes, droogtes en vloede, en ander negatiewe gebeure van die afgelope honderd+ jare nie kon regkry nie – hy het samehorigheid op groter skaal geskep as wat die Wêreld-Rugbybeker in 1995 vir Suid-Afrika gedoen het. Hy moes van beter geweet het, maar hy ken seker ook nie die 10de Gebod nie – jy mag nie jou naaste se land begeer nie,

Geregtigheid is ook ’n subjektiewe saak, nè? Want wie besluit nou eintlik wat is reg en wat is verkeerd? Die wêreld het vandag vir Salomo nodig, maar hy het ook agtergebly in die Bybelse tyd en ons moet ons kleintyd se lesse wat ma ons geleer het, self toepas. So, ek moet dit byvoeg: dankie my liewe ma, vir die storie van Josef en sy broers. Ek leef vandag in die geloof, nie die Bybelse een nie, maar die een wat vertroue aanwakker, dat sneeuvlokkies en miskruiers nie die liefde en hoop op ’n beter toekoms sal doodsmoor nie.

En ek hoop daar sal altyd koring wees in Egipte.


Hierdie skrywe vorm deel van die bloguitdaging wat gesamentlik aangebied word deur myself (Dis Ekke) en Lekkervurigeaffêre. Hierdie week se inspirasievonk is geplaas op die blogpos Woordwarrel 4/2022 deur Lekkervurigeaffêre.

Almal wat graag Afrikaans skryf is welkom om deel te neem aan hierdie uitdaging.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ’n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ’n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ’n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ’n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.

Follow Dis Ekke

Footnotes

  • 1
    Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en Annerlike Afrikaans, beide beskikbaar op ViVa se webtuiste
  • 2
    Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) beskikbaar op ViVa se webtuiste
  • 3
    Maroela Media

26 Comments

  1. Aweh, briljant Hester, briljant. Viva op ‘n puik #Woordwarrel.

  2. Jy verwoord ons almal se wroeging en hoop.

  3. Jy laat my altyd dink. Dankie!

  4. Hester, ek waardeer wat jy hier geskryf het.

  5. Mooie blogpost!

    Vredelievende groet,

  6. Baie mooi geskryf, Hester.

  7. Wauw, Hester, wat een mooie blogpost. ‘Wie bepaalt wat goed en wat fout is´… ? Inderdaad. En wat mag jij je moeder dankbaar zijn dat zij jou over liefde heeft verteld. Had Poetins moeder dat ook gedaan… dan zaten we nu niet in deze ‘shit’, denk ik. Er is altijd hoop… en dat heb jij op een heel mooie manier opgeschreven. Heel veel ‘laagjes’, prachtig!

  8. Pragtige skryfsel. Jy het die manier om duidelik by die punt uit te kom. Daardie miskruier gee hoop omdat hy voorsiening maak nie net vir vrugbare omgewing nie maar ook hoop vir aanwas van nageslag. Wyse woorde. Tien uit tien vir jou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy. Ek dink hierdie offensief gaan ons nog laat klippe kou voordat die skaal gaan swaai, maar ten minste het ons hoop.

      • Presies. Alles is maar heel duister op oomblik. Hoop maak die lewe uithoubaar. Ons is in isolasie van vandag af vir 10 dae. Beatrix het positief getoets vanoggend. Sug, nou hoop ons vir die beste uitkoms.

  9. woordnoot

    Ek hoop saam met jou dat daar koring in Egipte is…..dankie vir die hoop. Dit voel soms of daar ‘n hoop-hongersnood in ons lewens is, dan lees jy so iets raak en ta da! Hoop vlam weer op.

  10. Ai Hester Putin is ‘n hele paar jaat terug verheerlik as ‘n man van Geloof (soos in Bybelse geloof)… in ‘n Christelike tydskrif. daar is nou nog mense met wie ek te doen kry wat ek verklaar: “ek se^ nie wat hy die n is reg nie maar… Dat hy ‘n instrument in . groter Hand is. Nee ek dink nie dit is ‘n Bybele of Christelike siening nie. Ek vertou diegen wat destyds die artikel geplaas het berou dit nou. In die vurige een se warrel noem ek hoekom ek nog nie weer by skryf uitgekom het nie (werksdruk) maar ook iets van wat ek wou oor skryf. Hoop omgekeer Pooh Wou uit Winnie the pooh se oogpunt skryf. Maar die verkeerde hoop omgekeer is net poo soos in Poo-tin…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek het ook lus om hom te herdoop tot Poe-phol. Ek dink mag het na sy kop toe gegaan. Hoop ek sien jou weer, binnekort, iewers in blogland.