Femel en femelaar is die woorde wat ek gekies het vir hierdie uitdaging, op aanbeveling van Lekkervurigeaffêre. Die inspirasievonk is enige woord wat met ’n “f” begin, maar tog net nie fokkit, fokkietog of enige ander f-bom nie.

Hoe femel ’n mens? het ek gewonder oor dié nuwe woord wat my vriendin in my mond kom plaas het, en ek het terstond ’n woordeboek bespring. Jy femel (of fymel) wanneer jy op ’n vrome, soetsappige en vervelende manier gesels1bron Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), beskikbaar op ViVa se webtuiste, vind ek uit. Nou kyk, jy kan my weliswaar daarvan beskuldig dat ek vervelig is, maar ek is nie ’n femelaar nie. Vroomheid en soetsappigheid is nie deel van my samestelling nie. Ek weet nie eens hoe om taktvol te wees nie.
My dierbare pa het seker ook nie geweet wat ’n femelaar is nie, want hy het altyd na sulke persone verwys as vrome fariseërs. Nie in hulle teenwoordigheid nie, want anders as sy dogter was hy nogal taktvol, maar van die preekstoel af het hy dikwels hierdie verskynsel aangespreek. Ek het dus van kleins af presies geweet hoe om te onderskei tussen opregte christene en fariseërs, klipchristene, geveinsdes, huigelaars, kweselaars, en heiligeboontjies. My pa het ’n goeie woordeskat gehad waar dit by sondes gekom het.
Deesdae se mense het mos nie eintlik ’n woordeskat van formaat nie, of dalk is hulle net te lui om dit te gebruik. Dis mos makliker om van die effen poephol te praat, maar f-bomme is ongelukkig (gelukkig?) verbode in hierdie uitdaging. My pa sou dit gelaaik het om femelaar by sy sonde-woordeskat te voeg.
So op my eie, sonder die hulp van my pa se preke en my vriendin se Woordwarrel-inspirasievonke, het ek op nog ’n lekker verwante woord afgekom. Pilaarheiliges. Histories het dit verwys na persone wat ’n gedeelte van hulle lewens in boetedoening of ter wille van van geestelike verdieping bo-op ’n pilaar deurgebring het. Gaan lees gerus die storie van die Heilige Simeon2bron Simeon Stylites op Wikipedia wat 37 jaar lank op ’n pilaar deurgebring het, vanwaar hy sy leerstellinge aan pelgrims verkondig en ’n groot aantal volgelinge verwerf het. Maar ek verwys nou meer spesifiek hier na persone met ’n oordrewe of verwronge strewe na heiligheid wat so hard besig is om splinters in hulle medemense se oë te soek dat hulle die balke in hulle eie oë nie raaksien nie. Ook een van my pa se predikasies. Hy sou daarvan gehou het om die woord pilaarheiliges ook by sy sonde-woordeskat te voeg.
Vir diésulkes wil ek dikwels graag vertel om te f-of en terug te klim op hulle pilare, maar ek mag nie die f-bomme hier gebruik nie. Ek sal my dus maar onttrek en op my eie klippilaar daar by die see my eie sondes gaan bedink.
Footnotes
- 1bron Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), beskikbaar op ViVa se webtuiste
- 2bron Simeon Stylites op Wikipedia
Lekkervurigeaffêre
Jy is my onfemelste mens. Hoop jou seepilaar gee jou groot vreugde. Dankie vir woordwarrel pret en waarhede.
HesterLeyNel
😘🤗
Lewies Mymer
Lekker gelees hieraan! En mens kan, sonder om te femel, regkom sonder die f-bomme!
HesterLeyNel
Ek reken ook so, hoewel my humeur my soms laat struikel.
perdebytjie
Dis ‘n baie interessante woord, lê so lekker op die tong, kom nogal naby die gevoel wat die ander f-woord my gee.😄
Was jou pa ‘n predikant?
Pilaarheiliges… gister dit in ‘n ou blokkiesraaisel raakgelees en gewonder wat dit is en daar het jy dit… Hester gee die oplossing!!
Uitstekend geskryf en heerlik om te lees.
HesterLeyNel
Dankie Bytjie. Nee, maar my pa was die hoofouderling en moes die kerkdienste waarneem wanneer daar nie ‘n pastoor (AGS) beskikbaar was nie.
perdebytjie
Geen wonder hy was so streng nie!
HesterLeyNel
Ja, hy het sy plig as ouderling en pa van vele kinders baie ernstig opgeneem.
Anuscka
Hier ook heerlik gelees! Prachtig! Ik kende het woord niet, maar het ‘zegt’ wat het betekent. Mooie woorden vind ik dat. En nee: vroomheid en zoetsappigheid zit niet in jouw ontwerp – en ook niet in het mijne 🙂
HesterLeyNel
Dankie Anuscka, ek is bly jy het dit geniet.
Bondelsgedagtes
Hester, jy het my nou lekker laat lag. Ek het ‘n hele klomp nuwe woorde hier by jou geleer. Ek hou sommer van jou pa. En die foto, jy lyk so femmelloos haha
HesterLeyNel
Dink jy nie ek hoort eerder op ‘n seepkis nie? Ek dink dis tyd dat ek toetree tot die politiek en my mening in die openbaar begin uitspreek.
Bondelsgedagtes
https://bondelsgedagtes.wordpress.com/2022/04/12/foei/
woordnoot
Pilaarheilige…wat ‘n onbeskryflike beskrywende woord! Daar is nogal ‘n paar in my kring. WOnder of ek die pilare kan name gee!
HesterLeyNel
Ja, ek is seker daar is ‘n paar pilare in elke kring. Ek gee myne byname en dan skinder ook oor hulle so by myself.
woordnoot
Ek het nou ook al n paar benoem🤣🤣🤣🤣
HesterLeyNel
🤣🤣🤣
Bondelsgedagtes
Ek sal jou cheerleader wees, hahaha