Jou inspirasievonk vir vandag is “intensiewe vorme”.
Hierdie bloguitdaging handel oor die nuutskepping van woorde, idiome en gesegdes in Afrikaans wat ‘n kultuurverandering kan voortbring of sommer net die leser / aanhoorder irriteer. Die reëls verskyn onderaan die blog.
Al die bakleiery oor “wokeness” in die media is regtig besig om op my nerwe te werk. Wokeness het begin met die definisie van ‘n toestand van bewus wees, veral van sosiale probleme soos rassisme en ongelykheid. En toe het dit uitgebrei, soos vonke wat ‘n veldbrand (of ‘n argument) veroorsaak, want al die “woke” siele het, soos gewoonlik op sosiale media gebeur, nie net die pinkie gegryp nie, maar sommer die hele blêrrie arm, tot onder die oksel. Dis waar hulle nou die res van die gemeenskap beet het – aan die kort haartjies … ek bedoel daardie haartjies in die oksel wat nie behoorlik geskeer is nie.
Wokeness omvat nou enige begrip waaroor daar geweeklaag, gerou, geween, tande gekners en vuis geslaan kan word, met seks, politiek, godsdiens en rassisme bo aan die lys. Soos altyd. Voeg daarby aardverwarming, migrasie van volke, die hantering van pandemies en ander ernstige probleme. Maar dis ook uitgebrei om ons voorkeure wat betref ons ete en drinke, dit wat ons aantrek en uittrek, dit wat ons op ons lywe laat tattoeëer of aansmeer of inskiet of bylas ook in te sluit. Pasop hoe jy jou hare laat sny meneer! jy kan dalk net skuldig wees aan ‘n rasse-toeëieningsoortreding.
Wat het dit alles te doen met intensiewe vorme, vra jy? Wel, is so ‘n oordadige bewussyn nie dalk ook ‘n intensiewe vorm van iets wat meer taktvol hanteer kan word nie? In die ou dae het ons wokeness sommer net vertaal as goeie maniere. Die probleem is egter dat goeie maniere aangeleerde gedrag is en nie almal leer so maklik nie.
Maar jy is reg, soos gewoonlik spruit my hele tirade uit ‘n taalprobleem wat deesdae meer en meer sy kop uitsteek. Dit pla my geweldig dat sekere uitdrukkings en idiome wat voorheen as deel van die spreektaal aanvaar is, nou sommer gaan wegraak. Hoe gaan ons dit vervang?
Dis hierdie hierdie plasings van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVa) oor intensiewe vorme wat my diep laat nadink het:
Lees ook die blog oor intensiewe vorme: https://viva-afrikaans.org/…/309-intensiewe-vorme-noag…
Dis mos nou ‘n uitnodiging wat geen mens kan weerstaan nie. ‘n Uitnodiging om jou eie taal te skep. Sorg net dat jy dit vas skryf en dat die betekenis werk! En ja, soos wat Sophia Kapp in bostaande blog te kenne gee, is die byvoeging van die woord “kak” dalk nie die beste manier om nuwe intensiewe vorme te skep nie.
Los tog ook maar die hond ook uit – hondlelik, hondmaer, hondsleg en hondmoeilik is nie net hondvervelig nie, maar ook nie juis woke nie – honde het ook gevoelens. In my soeke na voorbeelde het ek afgekom op “hondgoor” as ‘n intensiewe vorm. Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) beteken goor o.a. bedorwe, onsmaaklik, verrot, muf, walglik, onwelriekend, onsindelik, ongewas, vuil, vieslik, liederlik, onwelvoeglik, onsedelik, onfatsoenlik. Ek ken nie sulke honde nie.
So tussen hakies, onthou julle nog die vreeslike bohaai wat ek opgeskop het oor my brommergroen balrok? Mmm, ek besef nou eers dat intensiewe vorme van woorde nie noodwendig in woordeboeke sal verskyn nie. Dit kan wel deel van die spreektaal word.
Hoe het ons intensiewe vorme in die ou dae hanteer voordat ons woke geword het? Ons het ‘n ding gesê soos wat ons hom gesien het. Ek het juis gister ‘n advertensie gesien op Kakkerlakboeke se webtuiste wat my laat besef het hoe ráák die ouerwordende garde ‘n ding kon beskryf. Dis ‘n advertensie vir ‘n boek van Ben Venter getiteld Rondom-Lelik wat dateer uit 1978. ‘n Aanhaling uit die boek lees as volg:
Hy het ‘n dosyn kroontjies op sy kop. Boonop staan die meerderheid van sy hare altyd regop en ook vorentoe soos ‘n verkeerdeveerhoender s’n. Sy gesig is plat en sy agterkop ook. Sy oë is groot en vlak. Hy is nie mooi nie, dit sê nie van watter kant af jy hom beskou nie.
Watter beter beskrywing of intensiewe vorm van lelik kan jy kry as “rondomlelik”? Hoeveel meer intensief kan ‘n beskrywing van lelik wees as dit al in die rondte om, van elke hoek en rigting af lélik is. Hierdie woord moet eintlik verewig word in ‘n woordeboek. Helaas, dis nie meer woke nie.
Kan jy ‘n lekker ‘n intensiewe vorm bedink, ‘n nuutskepping wat tog asseblief nie ‘n belediging is vir ‘n snowflake nie? Vertel ons daarvan.
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laat waai en geniet dit.
Lekkervurigeaffêre
Hester Sintester weer op ‘n intensiewewoordwarrel missie. Hier kom groot pret. Weet nie of ek sneeuvlokkiesalwend of wokevry kan of gaan regkry nie.😉 sal my buffelbeste trag.
HesterLeyNel
Ja, weet wat jy meen, ek loop ook nie lekker op eiers nie. Slegte balans.
Anne
Oksel = oxter in Engels, ‘n woord wat nie baie gebruik word nie (want so baie mense lees nie meer nie) en genruik liewer ‘armpit’. Ek is bly om ‘n nuwe woord te leer. Ek wil hande klap oor hierdie meester-stuk wat jy vir ons geskryf het:Hear! Hear!
HesterLeyNel
Nou het ek sommer ook ‘n nuwe Engelse woord geleer, Anne. Baie dankie vir die kompliment, ek is bly jy het my skryfsel geniet.
Kameel
Jy is te slim vir ‘n “plain Jane” soos ek. Dis wat Ken se tannie vir die familie gesê het nadat sy my eerste keer gesien het.
HesterLeyNel
Het sy dit van jou gesê? Ek sou haar verwurg het.
Kameel
Nee sy was eerste om my te ontmoet toe ek en Ken in Durban was… en sy ons raakgeloop het. Vir die familie laat weet Ken se nuwe “meisie” is ‘n plain Jane.
woordnoot
Dis nou gatskophoendervleis lekkerte…..ou intensiewe woorde wat nog steeds lekker sê…
HesterLeyNel
Jip, en nou kan ons met hartelus nuwes byvoeg – Juffrou kan dit nie meer met haar rooi pen bykom nie 😜
scrapydo2.wordpress.com
Vandat hierdie blog van jou verskyn het broei ek oor die intesiewe nuwe uitdinksels. My kennis is maar rietskraal as dit by Afrikaans kom. Geen man of muis kyk my waterpas in die oë en praat meer met my Afrikaans nie. Ek praat selfs soms sommer Afrikaans met my Engelse vriendin. Sy lig dan haar wenkbrou en maak haar mond koëlrond van verwondering oor wat ek nou besig is om te verkondig.
HesterLeyNel
En jou kinders? Kleinkinders? Praat hulle ook Engels of val daar darem nou en dan Afrikaanse woorde tussenin?
scrapydo2.wordpress.com
Ek praat nog Afrikaans met kinders. Kleinkinders is so gewoond om hele dag by kleuterskool Engels te wees dat hul meer Engels is. Moet byvoeg, daar is heelwat sêgoed wat my kinders nie van weet nie omdat hul dit nooit gehoor het nie. Moet met tye betekenisse gee. My seun wil darem weet wat baie goet beteken.
Lekkervurigeaffêre
https://lekkervurigeaffere.blog/2021/11/27/woordwarrel-witgekneukel-en-omicronmoerig/
scrapydo2.wordpress.com
https://kreuk-els.com/2021/11/28/woordwarrel-intensiewe-vorme/
Bondelsgedagtes
https://bondelsgedagtes.wordpress.com/2021/12/02/woordwarrel/