Ek is hewig ontsteld oor die geld wat ek uitgegee het op my brommergroen balrok en bykomstighede vir die Rebusfontein sirkus. En ek wás só trots op my pragtige uitrusting. Ek het in my verbeelding al gesien dat die ander Towerinne GRASGROEN is van jaloesie op my uitrusting. Hierdie balrok is spesiaal gemaak met ‘n nousluitende lyfie en ‘n los romp. Laasgenoemde sou ek kon uittrek om die lyndans te doen. Of die twist, afhangende van wat Seegogga besluit. Kyk hoe mooi:
Ek het sommer die balrok, skoene en masker aanlyn gekoop en my kredietkaart het nog nie eens afgekoel nie, toe het Facebook al klaar agtergekom waarmee ek besig is en een van hulle voorstelle vir my voorgelê:
Waddehel? Probeer hulle my iets vertel? Daai wit gewaad lyk asof dit in ‘n klooster hoort.
Dit was die eerste teken dat my keuse dalk nie die regte een was nie. Die tweede teken het gevolg toe ek Vrydagoggend my Beter Afrikaans-toets met lof gedop het. Ek kon nie ‘n enkele vraag regkry nie – 0% vir my Afrikaanse toets. Ek speel op Vlak 3 en kry gewoonlik darem die meeste vrae reg. Nie hierdie keer nie. Ek het terselfdertyd uitgevind dat die uitdrukking “grasgroen van jaloesie” nie aanvaarbare Afrikaans is nie. Sien my lamentasie op Facebook hier onder:
Ek soek nou al vir twee dae lank in die kuberruim vir ‘n betroubare bron wat hierdie woord “brommergroen” vir my kan uitklaar. Soos altyd, het ek eerste op Viva se webtuiste gaan kyk. Soos wat ek verstaan, het hulle tans ± 58 bronne op hulle webtuiste. Nie eens één van hierdie bronne ken die woord brommergroen nie. Beter Afrikaans het Wikipedia as hulle bron aangehaal. !! Wikipedia self het twee artikels van Joan Hambidge (LITNET en Beeld) aangehaal. Brommergroen is wat my aanbetref dus nie ‘n amptelike woord nie en my “grasgroen” moes aan my ‘n volle 25% besorg het. Met 25% kan jy dalk deesdae jou matriek-Afrikaans in die eindeksamen slaag. So my bek is dik.
Die ergste van alles is egter die groen balrok wat in my kas hang. En elke keer as ek my kas oopmaak, word ek naar. Brommergroen. Ek gaan sirkus toe met ‘n brommergroen rok, brommergroen skoene en ‘n brommergroen masker op my gesig 🤢🤮 Ek gaan as die Groen Brommer bekendstaan.
Lees die ander bloggers se bydraes by https://fresh.inlinkz.com/party/556868f82eae403d9143258e74ee97b1
Tannie Frannie
Waddehel, Hester, ek’t ook nog NOOIT van “brommergroen” gehoor nie! “Grasgroen” is ‘n eerbiedwaardige woord – dink bv. aan die ou kinderraaiseltjie uit die vroee vyftigerjare vd vorige eeu: “So groen soos gras…”, d.w.s. GRASGROEN !Dis nou sommer simpel van daardie lot! (My rok is ook groen – smaraggroen.)
HesterLeyNel
Jy moet kom wys Frannie! Brommergroen – watwou.
woordnoot
Ek weet nie van brommergroen nie maar ek is GRASGROEN oor jou groen keuse!!! Dit is vrek mooi…oe la la!!! Maar dan weet almal mis ek is so groen bedot!!
HesterLeyNel
Ek onthou jy is ‘n groene – dis waarom jou huisie op Rebusfontein ook ‘n groen deur het. Dit is ‘n mooi rok nè? Ek is sommer net boosaardig oor die brommergroen idee.
woordnoot
Groenie die drakie..dis ekke daai! Ja dis nou nie die mooiste beskrywing van groen nie!!!
Kameel
Jou grasgroen rok is pragtig…. en die bybehore beautiful. Nee wat vergeet van die brommery…. dink dis ‘n spul brommers wat dit uitgedink het.
HesterLeyNel
😀
Toortsie
Hestertjie, Hestertjie, Hestertjie, haal dieppp asem. Asem in … en uit … en in … en uit.
Mag ek jou iets vertel? Hoekom mag ons nie nuwe woorde in Afrikaans skep nie, soos ‘brommergroen’? Wie op aarde het gesê net GRAS mag groen wees?
Maar ek wil jou nóg iets vertel. Google het agtergekom jy soek ‘n rok en wou jou net help om nóg ’n paar skeppings aan te skaf.
Maar wat ek jou eintlik wil vertel, is dat jy ‘n pragtige groen rok met bykomstighede in jou kas het en ek is bottelgroen van jaloesie, want ek het steeds NIKS! Ek is nog nie reg vir die storie nie. 😳
HesterLeyNel
Nou maar toe! Jy sal moet begin rondkyk, want die Towerinne gaan uithang.
Toortsie
Oelala
rondomtaliedraai
Ek moet bietjie tussen my vriende kyk want die opsteller het my sowaar eendag geantwoord … ek het nou sy naam vergeet. Ek kom terug na jou toe
Jy is dapper vir vlak 3 …
HesterLeyNel
Ek duik mos altyd aan die diep kant in …
Una
Die rok, die masker, die skoene, dis droommooi, Hester, en ek is brommergroen van jaloesie.
HesterLeyNel
Una! 🤢🤮
trommeltjies
Jy skiet uit Hester, lyk vir my na ń glimmer groen, jy gaan glim. Daai skoene😱👏, self sal ek nie op die hakke waag nie, maar vrede dis mooi.
HesterLeyNel
Ja, die skoene is die rede waarom ek en Kameel vir Lorenzo nodig het om ons regop te hou.
trommeltjies
Hahaha
VirgoC
Hester, ek is nie ‘n groen mens nie, weet nie van brommergroen nie, maar dit is beautiful die rok en kleur en ek is mallllll oor die skoene🌻
HesterLeyNel
Die skoene ja … in my wildest dreams. Hoe hard kan ‘n mens val?
scrapydo2.wordpress.com
Mooi rok en bybehore. Weet darem nie van die hoge skoene nie. Brommerbroen laat my te veel aan daardie groenes dink wat so op die welruikende hope sit! Nou gril ek sommer.
HesterLeyNel
Nou sien jy? Die kleur groen is nou vir altyd bederf deur ‘n gedagte aan groen brommers. Ek dink ek moet ‘n uitrusting in ‘n ander kleur gaan soek. Dalk geel. Dan kan die Towerinne goudgeel raak van jaloesie – ietwat anglisisties, ek weet.
scrapydo2.wordpress.com
Ek het ook nogal n oog op n geel rok maar geel is gladnie my kleur nie.
Kameel
Scrapy geel is ook nie my kleur nie… het na ‘n rooi rok gesoek maar toe het hulle net geel in die een waarvan ek hou. Watwou dis sirkus en hoe kleurvoller hoe mooier.
scrapydo2.wordpress.com
Dis hy. Geel is ook nie my keuse nie maar dit was net iets anders. Ek gaan nog n opvolg rok storietjie maak.
perdebytjie
Ook nooit gehoor van brommergroen nie. Dit klink my na bog.Dis grasgroen en klaar! Nietemin, jou rok is pragtig en ek stem saam met Vuurvliegie dat dit smaraggroen is.
HesterLeyNel
Dankie Bytjie, ek voel al beter oor my Afrikaanse stryd. En ek hou van my rok.
Positief
Brommers en gras doen altwee beter met bietjie kompos en goeie kompos is mos maar mis. Hulle het die pot mis gesit met brommergroen, maar jou rok en skoene is stunning
HesterLeyNel
Jy’s reg, dis alles net ‘n klomp mis. Dis ‘n mooi uitrusting en dis al wat tel.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Julle. Haal nou asem oor brommergroen. As dit by jaloesie kom, reken ek dis die perfekte beskrywing, want jaloesie is lelik, brommers ook. Die ou woordeboeke beskrywe brommers as blou/groen gedoentes. En konteks. Daai rok van Hester so lieflik smaraggroen laat my aan die grasgroen velde van my jeug dink. Ek raak brommergroen omdat ek die pret van die sirkus misloop! Sien…. 😉 Hester jou rok is wragtig pragtig smarag-smarag-smaraggroen!
HesterLeyNel
Dankie Vuurvliegie, jy weet hoe om my te laat beter voel. As beter Afrikaans nou my antwoord (grasgroen) ook as korrek wil aanvaar, sal my dag gemaak wees. want hoe kan GRASGROEN verkeerd wees???
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Grasgroen is vir my so mooi en vars…ek sê jou wat, meerderheid konsensus het op Vuisboek en hier jou korrek bewys, en ons taal is ons s’n om te pleeg, solank ons mooi spel. Waddehel. Grasgroen is reg. 😉
Kameel
Hoekom skryf jy nie Vuurvliegie. Het al gewonder hoekom so stil. Jy is sekerlik al met ons na jou wegbreek.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
My koppie is vol goete en soms is net asemhaal goed. Ek het die sirkusbus verpas, hou julle van die kant dop hierdie rondte.😉📚
Kameel
Ag nee gedog jy gaan die grand finalé vir ons skryf. Ons maak nog reg… giggelgroen bus staan nog op sy plek op Rebusfontein.