Lekkervurig het gevra dat ons vir hierdie week se inspirasievonk gebruik moet maak van ‘n woord/e wat eindig op -isme, of alternatiewelik, die eerste sin in die tweede paragraaf op bladsy 30 uit ‘n boek wat ons tans lees. Siende dat my OKV (OCD) weer hoogty vier hierdie week, het ek sommer besluit om die twee te kombineer.
Die probleem is egter dat die enigste beskikbare Afrikaanse boek in my huis ‘n hygroman is – ‘n biblioteekboek. Lekkervurig was baie ingenome met die idee van ‘n aanhaling uit hierdie boek, gekoppel aan die woord “optimisme” wat ek aanvanklik wou gebruik, maar ek sien die boek bevat ook daardie verbiedende gebod dat die boek of dele daarvan nie gereproduseer mag word nie … en bla-bla-bla. Ek het dus besluit om die enigste skrywer aan te haal wat my vir seker nie hof toe sal sleep weens kopieregskending nie – ek self.
My aanhaling kom dus uit die 30ste blog (hier onder geskakel) wat ek op hierdie webjoernaal gepubliseer het in 2015. Die eerste sin van die tweede paragraaf lees as volg: ‘Ek praat van hierdie aanname dat ek “minder” en “stoepid” is omdat ek ‘n vrou is.’ My -ismes is chauvinisme en feminisme.
Nou wat het verander vandat ek hierdie blog in 2015 geskryf het?
Niks nie.
Behalwe dat hierdie soort shit my deesdae uit die slaap hou wanneer my Urbanol 10mg pilletjie se smartverdowingsvermoë my in die nag in die steek laat. Dit gebeur veral gedurende daardie nagte wat Eskom se beurtkrag om twaalfuur middernag inskop. Ek is een van daardie mense wat nie in volslae donkerte of stilte kan slaap nie. Dis die flikkering van tv-skerm en / of die klank van ‘n oudioboek in my oorfone wat my aan die slaap hou. Die Urbanol is eintlik ‘n bysaak. Wanneer die ligte en die internet gelyktydig afgaan, is ek wakker, en ek bly wakker totdat Eskom die “aan”-knoppie druk.
Dit beteken dat ek sowat 2 tot 2½ ure tot my beskikking het om te tob oor al die onregte wat my regdeur my lewensbaan aangedoen is deur elke man waarmee ek al paaie gekruis het. Ek vergeet niks en twee ure is genoeg om elke grief uit te pak, te beskou, te herkou, nat te lek en soos ‘n sticky note iewers op my lyf vas te plak. Hoe klink dit vir ‘n hygroman, Lekkervurig? Titel: Die letsels van chauvinisme op my lyf.
Vir wie word ek kwaad? Wel, daar is die predikant wat my een Sondag sommer van die preekstoel af voor die hele gemeente uitgetrap het omdat ek gegaap het gedurende sy preek; die skoolhoof wat die interkomstelsel aangeskakel het sodat die hele skool kon inluister toe hy my ‘n paar plathandhoue op die sitvlak gegee het oor my parmantigheid; die bankbestuurder wat vir my vertel het ek is nie Van Gogh nie, net omdat ek verkeerde bedrae doodgetrek en oorgeskryf het in sy overdraft register. Ensovoorts en so aan.
Maak dit van my ‘n ondersteuner van feminisme? Nee. Wel, miskien. Ek weet nie eintlik nie. Ek dring wel daarop aan om my eie bankrekening te hê, en my eie motor, en dat geen man in my handsak of klerekas moet krap nie, maar ek het darem nog nooit my bra’s verbrand nie. Nie in die openbaar nie. Besluit jy maar self.
Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.
Hoe dit werk:
Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.
Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.
Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.
Oopbek en loshande is die enigste reël.
- Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
- Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
- Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
- Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
- Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans
Laai waai en geniet dit.
Die plasing Woordwarrel: Donderdag inspirasievonk 21 Okt 2021 het eerste verskyn in die blog Lekkervurigeaffere. Gaan skakel jou #Woordwarrel in die kommentare.
Lekkervurigeaffêre
Hygend, Hester. Ons het groot ooreenkomste oor chauviniste! Daai boek klink na ‘n wenner! Ek hou nie van bra dra nie, maar dit maak dit my nie ‘n über-feminis nie. Moet net nie vir my vertel wat om te doen as jy my iets gevra het nie…daai moet manne met omsigtigheid hanteer. Maak my sommer vurig moerig!
scrapydo2.wordpress.com
Nou moes ek eers opsoek wat chauviniste beteken. Die onderwys het baie gevalle van chauvinisme gehad veral vroëer jare toe ek nog ‘n jonge juffrou was. My altyd hoog de hoenders in gemaak as mens as vrou so verkleineer word. Daardie klomp notatjies wat jy op jou lyf plak klink vir my na n goeie plan maar ai mens kan dit darem nie elke aand doen nie.
HesterLeyNel
Nee, spaar dit vir die slapelose nagte. Ek raak darem nie elke nag so oproerig nie 🤣
scrapydo2.wordpress.com
Bly om te hoor.
Tannie Frannie
Hierdie Woordwarrels van julle is ‘n fees.
HesterLeyNel
Dit is Frannie, om met taal en woorde te speel was van toeka af my gunstelingtydverdryf. Dis lekker om jou hier te sien. Speel gerus saam as die muse jou oorweldig – ek weet jy is self ‘n woordmeester.
Kameel
Nou wat dal ek van al hierdie dinge sê Hester? Om ‘n mens so te verneder vergeet mens nie sommer nie. Kom ons laat dit daar.
HesterLeyNel
Is, nè Kameel? Selfs waar sulke mense later om verskoning vra, bly daar tog maar ‘n swak smaak in die mond agter.
Kameel
Jip. Wanneer jy ‘n spyker in ‘n tafel inslaan maak dit ‘n gat. Kan toegestop word maar daar bly metke agter.
HesterLeyNel
Net so